thumb|320px|Skade aan bome wat deur die Toengoeska-voorval aangerig is. Die voorwerp, wat 'n deursnee van net 50-80 meter gehad het, het 6-10 km bo die oppervlak ontplof.

'n Ruimtebotsing is 'n impak tussen hemelliggame wat 'n groot uitwerking het. Botsings kom gereeld in planeetstelsels voor, hoewel asteroïede, komete en meteoroïede in die meeste gevalle betrokke is en 'n klein uitwerking het.

Wanneer groot voorwerpe planete soos die Aarde tref, kan daar aansienlike fisiese en biosferiese gevolge wees, want die voorwerp wat bots, trek gewoonlik teen verskeie kilometers per sekonde ('n minimum van 11,2 km/s vir 'n voorwerp wat teen die Aarde bots). Atmosfere versag egter baie impakte. Slagkraters en is dominante landvorme op baie van die Sonnestelsel se soliede voorwerpe.

Dit lyk of botsings 'n groot rol in die evolusie van die Sonnestelsel gespeel het sedert dit gevorm het. Groot impakvoorvalle het die Aarde se geskiedenis aansienlik help vorm, vermoedelik ook die ontstaan van die Aarde-Maan-stelsel. Impakte kon ook 'n aansienlike rol gespeel het in die evolusiegeskiedenis van lewe. Botsings het dalk die boustene help bring vir lewe (volgens die panspermieteorie) en was moontlik die oorsprong van water op Aarde. Verder het hulle help lei tot verskeie uitsterwingsvoorvalle. Die prehistoriese Chicxulub-impak 66 miljoen jaar gelede het waarskynlik nie net die nievlieënde dinosourusse laat uitsterf nie, maar ook die evolusie van soogdiere help versnel, wat gelei het tot hulle oorheersing en eindelik die ontstaan van die mens.

Deur die aangetekende geskiedenis is honderde botsings met die Aarde (en ontploffende boliede) gerapporteer, waarvan sommige beserings of skade veroorsaak het. Een van die bekendste aangetekende voorvalle in moderne tye was die Toengoeska-voorval, wat in 1908 in Siberië, Rusland, plaagevind het. Die Tsjeljabinsk-meteoorvoorval van 2013 is die enigste moderne sodanige gebeurtenis wat tot talle beserings gelei het. Sy meteoor is die grootste aangetekende voorwerp wat die atmosfeer binnegekom het sedert die Toengoeska-voorval.

Die komeet Shoemaker-Levy 9 het die eerste geleentheid gebied om te sien hoe 'n voorwerp in die Sonnestelsel getref word toe dit opbreek en in Julie 1994 teen Jupiter bots. 'n Ekstrasolêre impak is in 2013 waargeneem toe 'n groot planeetbotsing om die ster ID8 in die sterreswerm NGC 2547 deur Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop gesien en deur grondwaarnemings bevestig is.

In April 2018 het die Amerikaanse B612-stigting berig: "Dit is 100 persent seker dat ons deur 'n verwoestende asteroïed getref sal word, maar ons is nie 100 persent seker wanneer nie." Die fisikus Stephen Hawking het ook in 2018 in sy laaste boek, Brief Answers to the Big Questions, gesê 'n asteroïedbotsing is die grootste bedreiging vir die Aarde.

In Junie 2018 het die Amerikaanse National Science and Technology Council gewaarsku Amerika is onvoorbereid vir 'n asteroïedbotsing. Dit het die "National Near-Earth Object Preparedness Strategy Action Plan" daargestel om beter daarop voor te berei. Volgens die getuienis van kenners in die Amerikaanse Kongres in 2013 sou Nasa minstens vyf jaar nodig hê vir 'n sending om 'n asteroïed weg te keer. Op 26 September 2022 het die Double Asteroid Redirection Test die afkering van 'n asteroïed gedemonstreer. Dit was die eerste sodanige eksperiment deur die mens en is as hoogs suksesvol beskou. Die wentelperiode van die asteroïedmaan Dimorfos is met 32 minute verander. Die kriterium vir sukses was 73 sekondes.

Impakvoorvalle en die Aarde

Groot botsings het die Aarde se geskiedenis help vorm. Dit het waarskynlik gelei tot die ontstaan van die Aarde-Maan-stelsel, die evolusionêre geskiedenis van lewe, die oorsprong van water en verskeie groot uitsterwingsvoorvalle.

Impakstrukture is die gevolg van impakvoorvalle op soliede voorwerpe. As die oorheersende landvorme op baie van die Sonnestelsel se soliede voorwerpe, verteenwoordig dit die beste bewyse van prehistoriese gebeure.

Noemenswaardige botsings sluit in die Groot Bombardement, wat vroeg in die geskiedenis van die Aarde-Maan-stelsel voorgekom het, en die bevestigde Chicxulub-impak van 66 miljoen jaar gelede wat waarskynlik die Kryt-Paleogeen-uitwissingsvoorval veroorsaak het.

Frekwensie en risiko 500px|senter|Die frekwensie van klein asteroïede van rofweg 1 tot 20 meter breed wat die Aarde se atmosfeer tref.

Klein voorwerpe bots gereeld teen die Aarde. Daar is 'n omgekeerde verhouding tussen die grootte van die voorwerp en die frekwensie van sulke voorvalle. Asteroïede met 'n deursnee van 1 km tref die Aarde gemiddeld elke 500 000 jaar. Groot botsings van voorwerpe met 'n deursnee van 5 km gebeur sowat elke 20 miljoen jaar. Die laaste bekende impak van 'n voorwerp van 10 km of groter was met die Kryt-Paleogeen-uitsterwing 66 miljoen jaar gelede.

thumb|220px|'n Bolied wat die atmosfeer binnedring. Die energie-opwekking van 'n voorwerp wat bots, hang af van die deursnee, digtheid, snelheid en hoek. Die deursnee van die meeste nabyaardevoorwerpe wat nie deur radar of infrarooi bestudeer is nie, kan gewoonlik net geraam word aan die hand van die helderheid daarvan. Die digtheid word gewoonlik aangeneem, want die deursnee en massa, waarvan die digtheid bereken word, word ook gewoonlik geraam. Vanweë die Aarde se ontsnappingsnelheid (net meer as 11 km/s) is die minimum impaksnelheid op die Aarde sowat 11 km/s. Die waarskynlikste hoek is 45 grade. (solution using 2600kg/m^3, 17km/s, 45 degrees)

Die grootte, snelheid, digtheid en impakhoek bepaal ook die kinetiese energie wat met 'n botsing opgewek word. Hoe groter die energie, hoe meer skade vind waarskynlik op die grond plaas. Sulke effekte kan skokgolwe, hitte-uitstraling en die vorming van kraters en gevolglike aardbewings wees, asook tsoenami's as die voorwerp die water tref. Menslike bevolkings is kwesbaar vir dié effekte as hulle binne die sone woon wat getref word. Groot staande golwe binne ingeperkte waterliggame weens aardbewings en die grootskaalse neerdaling van puin kan ook binne minute van die botsing voorkom, duisende kiolometers daarvandaan.A seismically induced onshore surge deposit at the KPg boundary, North Dakota – Proceedings of the National Academy of Sciences – Robert DePalma et al., gepubliseer op 1 April 2019.(PDF direct link, Supplementary published information)

Geologiese belangrikheid Impakvoorvalle het gedurende die geskiedenis van die Aarde 'n belangrike geologies en klimatologiese uitwerking gehad.French, B. M. (1998). Traces of catastrophe: A handbook of shock-metamorphic effects in terrestrial meteorite impact structures. Die Maan se bestaan word algemeen toegeskryf aan 'n groot botsing vroeg in die Aarde se geskiedenis. Impakvoorvalle vroeër in die Aarde se geskiedenis het skeppende sowel as verwoestende gevolge gehad; daar is voorgestel dat botsende komete die Aarde se water hierheen gebring het en dat die oorsprong van lewe beïnvloed is deur botsende voowerpe wat organiese chemikalieë na die Aarde se oppervlak gebring het.

thumb|180px|Eugene Merle Shoemaker het eerste bewys dat meteorietbotsings die Aarde beïnvloed het. Dié veranderde sienings van die Aarde se geskiedenis het eers relatief onlangs ontstaan, hoofsaaklik omdat daar vroeër 'n gebrek aan regstreekse waarnemings was en dit moeilik was om die tekens van impakvoorvalle te herken weens erosie en weerverskynsels. Grootskaalse meteorietbotsings wat byvoorbeeld die Barringer-krater in Arizona geskep het, is skaars. Eers is geglo kraters ontstaan as gevolg van vulkanisme: Die Barringer-krater is byvoorbeeld toegeskryf aan 'n vulkaanuitbarsting. Ook die kraters op die Maan se oppervlak is aan vulkanisme toegeskryf.

Eers in 1903-'05 is die Barringer-krater korrek as 'n slagkrater herken en eers in 1963 het navorsing deur Eugene Merle Shoemaker dié hipotese onteenseglik bewys. Die bevindings van die laat 20ste-eeuse ruimteverkenning en die werk van wetenskaplikes soos Shoemaker het gedemonstreer dat slagkraters verreweg die algemeenste geologiese proses was op die Sonnestelsel se soliede liggame. Daar is bevind elke soliede liggaam in die Sonnestelsel wat ondersoek is, is vol kraters, en daar was geen rede om te glo die Aarde is nie ook uit die ruimte gebombardeer nie. In die laaste paar dekades van die 20ste eeu is begin om 'n groot getal impakkraters te identifiseer. Die eerste groot regstreekse waarneming van 'n groot impakvoorval was in 1994: die botsing van die komeet Shoemaker-Levy 9 teen Jupiter.

Geskoei op kratervorming op die Maan, is bepaal die Aarde is die afgelope 600 miljoen jaar deur 60 voorwerpe getref met 'n deursnee van 5 km of meer. Die kleinste een sou 'n krater van byna 100 km breed gelaat het. Net drie bevestigde kraters uit dié tyd met dié grootte of groter is gevind: Chicxulub, Popigai en Manicouagan, en daar is vermoed al drie het met uitsterwingsvoorvalle te doen gehad. Net die grootste een, Chicxulub, word steeds oorweeg. Die impak wat die Mistastin-krater gevorm het, het temperature van meer as 2 370 °C laat ontstaan. Dit was sover bekend die hoogste temperature nog op die oppervlak van die Aarde.

Benewens die regstreekse uitwerking van 'n asteroïedimpak op 'n planeet se topografie, klimaat en lewe, het onlangse studies gewys verskeie opeenvolgende impakvoorvalle kan 'n invloed hê op die dinamomeganisme by 'n planeet se kern wat verantwoordelik is vir die planeet se magneetveld, en dat dit kon bygedra het tot die huidige afwesigheid van Mars se magneetveld.

Biosferiese uitwerking Oor die uitwerking van impakvoorvalle op die biosfeer debatteer wetenskaplikes. Verskeie teorieë oor impakverwante massauitsterwings is ontwikkel. In die afgelope 500 miljoen jaar was daar sowat vyf groot massauitsterwings wat saam gemiddeld die helfte van alle spesies uitgewis het. Een van die grootstes wat lewe op Aarde geraak het, was die Perm-Trias-uitwissing, wat die Perm-tydperk sowat 250 miljoen jaar gelede beëindig en 90% van alle spesies laat uitsterf het; dit het 30 miljoen jaar geduur voordat lewe op Aarde herstel het. Die rede vir die uitsterwing is steeds 'n saak waaroor gedebatteer word; die ouderdom en oorsprong van impakkraters wat dit volgens hipoteses veroorsaak het, is steeds omstrede.

Die laaste sodanige massauitsterwing het gelei tot die dood van alle nievlieënde dinosourusse en het ooreengestem met 'n groot meteorietimpak; dit is die Kryt-Paleogeen-uitsterwing (ook genoem die K-T-uitsterwing) wat 66 miljoen jaar gelede voorgekom het. Daar is geen definitiewe bewyse dat impakvoorvalle tot die drie ander groot massauitsterwings gelei het nie.

In 1980 het die fisikus Luis Alvarez; sy seun, die geoloog Walter Alvarez; en die kernchemici Frank Asaro en Helen V. Michael van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley ongewoon hoë konsentrasies iridium ontdek in 'n rotslaag in die aardkors. Iridium is 'n element wat seldsaam op die Aarde is, maar redelik volop in baie meteoriete voorkom. Uit die hoeveelheid en verspreiding van iridium in die rotslaag van 65 miljoen jaar oud het die Alvarez-span later geraam 'n asteroïed van 10 tot 14 km breed moes teen die Aarde gebots het. Dié iridiumlaag by die Kryt-Paleogeen-grens is wêreldwyd op 100 verskillende terreine gevind. Op meer as 30 terreine is skokkwarts wat in verskeie rigtings versprei het, ook gevind. Dit word gewoonlik verbind met groot impakvoorvalle of atoombomontploffings. Daarmee saam is roet en as gevind van tienduisende kere die normale vlakke.

duimnael|260px|links|Beelde van Nasa se Shuttle Radar Topography Mission STS-99 wys ’n deel van die 180 km wye ring van die Chicxulub-krater.