The End of the F***ing World is 'n Britse swartkomedie-dramareeks vir televisie. Die eerste seisoen van agt episodes het op 24 Oktober 2017 die eerste keer op Channel 4 in Brittanje verskyn. Netflix het die internasionale verspreiding hanteer en dit op 5 Januarie 2018 internasionaal uitgereik.

Die reeks gaan oor James (Alex Lawther), 'n 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat, en Alyssa Foley (Jessica Barden), 'n klasmaat wat altyd kwaad is en in James die kans sien om van haar onstuimige huislewe te ontsnap. Gemma Whelan, Wunmi Mosaku, Steve Oram, Christine Bottomley, Navin Chowdhry, Barry Ward en Naomi Ackie verskyn in byrolle.

Die reeks is gebaseer op Charles Forsman se ministrokiesboek The End of the Fucking World, wat in 2013 in 'n boek saamgevat is. 'n Kortfilm is in 2014 gemaak, maar dit word nou as verlore beskou. 'n Reeks met agt dele is in April 2017 begin skiet. Dit is geskryf deur Charlie Covell, en die episodes is geregisseer deur Entwistle en Lucy Tcherniak. In Augustus 2018 is die reeks vir 'n tweede seisoen hernu. Al agt episodes is op 5 November 2019 internasionaal op Netflix uitgereik nadat die première die vorige dag plaasgevind het.

Die reeks is geprys vir die uitvoering daarvan, die skryfwerk en die onderwerp, sowel as vir Lawther en Barden se toneelspel. Albei seisoene is benoem vir 'n Bafta vir beste dramareeks; die tweede seisoen het dit in 2020 gewen.

Storielyn James is 'n 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat. Hy maak diere dood as 'n stokperdjie, maar raak verveeld daarmee en besluit hy wil 'n mens probeer vermoor. Hy besluit dit sal Alyssa wees; sy is 'n bekkige, rebelse 17-jarige klasmaat met haar eie probleme. Sy stel voor hulle loop saam weg, want sy wil 'n avontuur buite haar onstuimige huislewe ervaar. James stem in en dink hy sal op die regte geleentheid wag om haar te vermoor. Hulle vat die pad deur Engeland en begin 'n verhouding ontwikkel ná 'n paar ongelukkige voorvalle.

Rolverdeling Hoofkarakters Alex Lawther is James, 'n onstabiele 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat; die liefdesbelangstelling van Alyssa. Jack Veal speel 'n jong James. Jessica Barden is Alyssa, 'n rebelse tienermeisie; James se voorgenome slagoffer. Holly Beechey is 'n jong Alyssa. Naomi Ackie is Bonnie, 'n jong vrou wat op 'n reis gaan om haar minnaar se dood te wreek (seisoen 2).

Byrolle Jonathan Aris is Clive Koch, 'n skrywer, professor, reeksmoordenaar en verkragter. Gemma Whelan en Wunmi Mosaku is twee polisievroue wat Koch se dood ondersoek. Steve Oram is Phil, James se pa. Christine Bottomley is Gwen, Alyssa se ma. Barry Ward is Leslie Foley, Alyssa se vervreemde pa, 'n dwelmhandelaar (seisoen 1).

Seisoene       Seisoen   Episodes  Uitgereik 1 8 2 8

Episodes Seisoen 1 1 Episode 1 Jonathan Entwistle Charlie Covell James is 'n 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat. Hy het eenkeer sy hand in olie gebrand net om iets te kan voel en maak diere dood sedert hy 15 is. Op skool ontmoet hy Alyssa, 'n rebelse nuwe skoolmaat, en hy besluit om haar volgende dood te maak. Toe sy belangstelling in hom toon, feins hy 'n romantiese belangstelling en die twee begin uitgaan. Toe Alyssa James vra om die volgende dag seks te hê, begin hy sy mes voorberei en uitwerk hoe hy haar gaan vermoor. Sy is laat omdat sy gedwing is om 'n tuinparty by haar huis by te woon, waar haar stiefpa vir haar sê dit sal beter wees as sy weggaan. Daarna besoek sy James en sê sy wil die dorp verlaat, saam met of sonder hom. Sy vra of hy wil saamgaan. Hy aanvaar haar aanbod en besluit om haar later te vermoor. Hy slaan sy pa, Phil, in die gesig en steel sy Mercedes-Benz, iets wat hy nog altyd wou doen.

2 Episode 2 Jonathan Entwistle Charlie Covell Met hulle nuutgevonde vryheid gaan speel hulle 'n laserspeletjie, maar gee al hulle geld uit. Hy gaan eet in 'n restaurant en hardloop weg. Alyssa stel voor hulle probeer seks hê terwyl hulle ry, maar terwyl hulle uittrek, ry hulle van die pad af en in 'n boom vas. Hulle ryloop en word deur 'n middeljarige man, Martin, opgelaai van wie Alyssa dadelik niks hou nie. By 'n restaurant waar hulle stilhou vir kos, volg Martin vir James in die toilet in en vra hom uit oor sy verbrande hand. Hy ruik daaraan en sit dit op sy penis. James laat dit toe, al walg dit hom. Alyssa sien dit en pers Martin af om sy beursie vir haar te gee. Nadat hulle in 'n hotel ingeboek het, gaan Alyssa na die badkamer en huil, terwyl James huiwerig met sy mes by die deur wag. Sy hart word sag toe hy hoor sy huil en hy sit die mes weg. Alyssa bel huis toe en haar stiefpa, Tony, antwoord. Hy sê sy kan nie met haar ma, Gwen, praat nie en wys hoe hy haar ma oorheers. Alyssa vra James of hy haar wil hê en of hy net met haar saamgaan, en hy antwoord hy wil haar hê. Sy besluit om haar biologiese pa, Leslie, te besoek wat sy laas gesien het toe sy agt jaar oud was. James stem in om saam met haar te gaan.

3 Episode 3 Jonathan Entwistle Charlie Covell Alyssa is bang haar pa wil haar nie sien nie en die twee breek by die ruim, leë huis in van die skrywer Clive Koch. Later dié dag misluk 'n seksdaad toe 'n foto van Koch James afsit. Alyssa gaan stap en ontmoet Topher. Sy bring hom huis toe en sê leedvermakerig vir James sy gaan met hom seks hê. Hy is ontsteld en kyk in die huis rond. Hy kom af op Polaroids en 'n videokamera met tonele van slagoffers. Dit toon Kock is 'n reeksverkragter. Alyssa verloor belangstelling in Topher en het nie met hom seks nie; Topher word kwaad en gaan weg. Terwyl Alyssa slaap, probeer James haar vermoor, maar hy kan nie, want hy besef hy is besig om op haar verlief te raak. Koch keer terug huis toe. James kruip onder die bed weg. Toe Koch vir Alyssa in sy bed kry, vra hy haar uit. Sy is doodbang en sê sy is alleen. Koch probeer haar verkrag. James steek hom met sy mes in die nek. Hy maak Koch dood en red Alyssa. James en Alyssa vertel vir mekaar hulle is maagde.

4 Episode 4 Jonathan Entwistle Charlie Covell Toe hulle nie Koch se liggaam kan verwyder nie, maak James en Alyssa die huis skoon en verwyder bewyse dat hulle daar was. James wys vir Alyssa die Polaroids en videomateriaal wat bewys Koch sou haar seergemaak het, en hulle besluit om bewyse van sy dade om sy liggaam te los. James steek die mes in die swembad se drein weg. Toe Alyssa vra hoekom hy 'n mes het, antwoord hy haar nie. Koch se ma, Flora, kom by die huis aan en ontdek die lyk. Sy vernietig die Polaroids, maar nie die videomateriaal nie. Die polisie, onder leiding van konstabels Eunice Noon en Teri Darego, ondersoek die moord en ontdek Topher se beursie in die slaapkamer. Toe hulle hom ondervra, onthul hy Alyssa en James se identiteit en dat hulle in die huis was. Alyssa en James word op die lys van vermiste persone geplaas en 'n versoek word uitgestuur in verband met misdade waarby twee tieners bestrokke was. Alyssa begin James wantrou en los hom agter terwyl hy in 'n kafee wag. Hy begin besef hy het emosies en vra drie tieners om hom te slaan sodat hy iets kan voel. Hy besef ook hy voel iets vir Alyssa en hou op om haar dood te beplan. Hy besluit om 'n moord aan die polisie te rapporteer en besef hy is nie 'n psigopaat nie.

5 Episode 5 Jonathan Entwistle, Lucy Tcherniak Charlie Covell By die polisiekantoor besluit James om nie meer Koch se moord te rapporteer nie. Hy beskryf sy ma se selfmoord en sê dit is die "moord" waarvan hy gepraat het. In 'n terugflits word gewys hoe sy ma, Vanessa, 11 jaar tevore voor hom selfmoord gepleeg het deur met haar motor in 'n dam in te ry. James vlug uit die polisiekantoor en keer terug na die kafee. Phil word deur Noon en Darego oor James ondervra. Hulle vertel hom dat sy motor gevind is. Hy bevestig dat Alyssa by James is. Hulle ondervra Tony – wat nie vir Alyssa omgee nie – voordat hulle Gwen oor Alyssa uitvra. Hulle vertel vir haar hulle ondersoek 'n moord. Alyssa word deur Emil, 'n sekuriteitswag, betrap terwyl sy skoon onderklere steel, maar hy laat haar 'n paar minute later vry. Sy keer terug na die kafee en kry James daar. Hoewel hulle geen geld het nie, raak hulle versoen en besluit hulle om na Leslie te gaan. Die polisie ontdek James se mes by Koch se huis.

6 Episode 6 Lucy Tcherniak Charlie Covell James steel 'n motor en die twee begin na die huis van Alyssa se pa ry. Hulle stop by 'n vulstatsie toe hulle petrol min raak. Toe Jocelyn, die bestuurder van die vulstasie, begin vermoed hulle het die motor gesteel en het nie geld nie, sluit James haar in die toilet toe deur voor te gee hy het 'n wapen. Haar medewerker, Frodo, help hom. Noon en Donaghue ondervra Flora weer oor Koch, dié keer weens jare lange beskuldigings van seksuele aanranding teen hom. Sy verwerp die bewerings as leuens en dring daarop aan dat hulle haar huis verlaat. Op pad na Leslie bel Alyssa vir Gwen en sê vir haar sy gaan nooit weer terugkom huis toe nie. By die polisiekantoor gee Flora vir Noon die videokamera nadat sy van plan verander het. Toe Noon die moontlikheid noem dat Koch uit selfverdediging vermoor is, sê Darego dan sal die twee skuldig wees aan manslag. Toe hulle by Leslie se huis aankom, sê sy eksmeisie, Debbie, hy het na 'n mobiele huis aan die kus getrek, en James en Alyssa gaan hom daar soek.

7 Episode 7 Lucy Tcherniak Charlie Covell James en Alyssa kom goed met Leslie oor die weg. Dit word egter duidelik Leslie is 'n dwelmhandelaar, en James stem nie met Alyssa saam dat hulle daar moet bly nie. Tony, Gwen en Phil is geskok toe die polisie aan hulle materiaal van 'n geslotekringtelevisie wys van die diefstal by die vulstasie. Darego en Noon weet nie die twee het al by Leslie se voormalige huis aangekom nie en besluit om daar vir hulle te gaan wag. Op die reis daarheen word dit duidelik Darego se wetsgehoorsaamheid en hardkoppigheid bots met Noon se simpatieke ingesteldheid. By 'n nabygeleë kroeg leer Alyssa en Leslie mekaar weer ken en James begin afgetrokke teenoor Alyssa voel. By Lesie se vorige huis ontken Debbie teenoor Noon en Darego dat sy die twee gesien het of weet waar Leslie is. Sy gaan kroeg toe om onderhoud vir Milton, haar seun by Leslie, te eis. Toe Alyssa hom vra hoekom hy nie vir haar vertel het hy het 'n seun nie, jaag Leslie in sy trok weg, ry oor 'n hond en beseer hom. Hoewel James al baie diere doodgemaak het, kan hy nie die beseerde hond doodmaak nie en Alyssa doen dit met 'n klip. 'n Bitter Debbie laat weet vir Noon waar Leslie nou woon en sy ry sonder Darego daarheen.

8 Episode 8 Lucy Tcherniak Charlie Covell James en Alyssa begrawe die hond op die strand en maak dan passievol uit. Teen dagbreek besluit hulle om Leslie se boot te vat en die land te verlaat. Toe hulle vir Leslie die boot se sleutel vra, sê hy hy het op TV gesien hulle word gesoek. Hy bel in die geheim die noodnommer 999 en wil hê hulle moet hulle misdaad beken. James neem self die blaam. Noon, wat afluister, probeer hulle oortuig om vir manslag in hegtenis geneem te word, terwyl Leslie Alyssa probeer oortuig dat James alleen die blaam moet dra. Alyssa slaan Noon egter katswink met Leslie se geweer, neem die bootsleutel en hardloop saam met James na die boot. Dit is egter laagwater en hulle kan nie wegkom nie. Toe die gewapende polisie daar aankom, slaan James Alyssa katswink met die geweer sodat hy alleen die blaam kan kry en hardloop weg. 'n Geweerskoot word gehoor terwyl die toneel uitdoof.

Seisoen 2 1 Episode 1 Lucy Forbes Charlie Covell