Marius Ivanovich Petipa (), gebore as Victor Marius Alphonse PetipaAbout Petipa, Biografie van Marius Petipa by die webtuiste Marius Petipa Society (Engels; opgespoor en besoek op 1 Maart 2023)Petipa se grafsteen by die Tichvin-begraafplaas in Sint PetersburgGisela Sonnenburg: Petipa goes on and on! Artikel oor die 200ste herdenking van Petip se geboorte by ballett-journal.de opgespoor en besoek op 8 Maart 2018 (11 Maart 181814 Julie (1 Julie) 1910) was 'n Russiese en Franse balletdanser, -pedagoog en -choreograaf. Petipa was een van die invloedrykste balletmeesters en choreograwe in die geskiedenis van ballet.
Petipa is veral bekend as die destydse Premier maître de ballet (Eerste Balletmeester) van die Sint Petersburg Keiserlike Teaters, waar hy 'n lang loopbaan geniet het. Hy was balletmeester en hoofchoreograaf van die Keiserlike-ballet (op hede die Mariinskiballet), 'n pos wat hy vanaf 1871 tot 1903 beklee het. Petipa het meer as vyftig ballette geskep, waarvan sommige as óf oorspronklike weergawes, óf weergawes wat geïnspireer is deur die oorspronklike, óf weergawes wat gerekonstrueer is uit die oorspronklike, oorleef het. Onder die werke tel veral Die Farao se Dogter (1862); Don Quijote (1869); La Bayadère (1877); Die Talisman (1889); Doringrosie (1890); Die Neutekraker (gechoreografeer saam met Lev Ivanov) (1892); Le Réveil de Flore (1894); La Halte de cavalerie (1896); Raymonda (1898); Les Saisons (1900) en Les Millions d'Arlequin (1900).
Petipa het 'n aansienlike aantal werke wat deur ander choreograwe geskep is laat herleef. Baie van hierdie herlewings sou uiteindelik die definitiewe weergawes word waarop alle daaropvolgende produksies gebaseer is. Die bekendste van hierdie herlewings is Le Corsaire, Giselle, La Esmeralda, Coppélia, La Fille Mal Gardée (saam met Lev Ivanov), Die Klein Boggelrugperdjie en Swanemeer (saam met Lev Ivanov).
Baie stukke oorleef in onafhanklike vorm van Petipa se oorspronklike werke en die verwerkings daarvan, ten spyte daarvan dat die vollengte ballette waarop dit gebaseer is, verdwyn het uit die Keiserlike-ballet se repertorium. Baie van hierdie stukke leef voort in weergawes wat gebaseer is op die oorspronklike of wat opnuut gechoreografeer is deur andere – die Grand Pas classique, Pas de trois en Mazurka des enfants uit Paquita; Le Carnaval de Venise Pas de deux uit Satanella; Die Talisman Pas de deux; La Esmeralda Pas de deux; die Diana en Actéon Pas de deux; La Halte de Cavalerie Pas de deux; die Don Quijote Pas de deux; La Fille Mal Gardée Pas de deux; en die Harlequinade Pas de deux.
Al die vollengtewerke en individuele stukke wat oorleef het en wat steeds aktief opgevoer word, word beskou as hoekstene van vandag se balletrepertorium.
Vroeë lewe en loopbaan Marius Petipa is op 11 Maart 1818 gebore as Victor Marius Alphonse Petipa in Marseille, Frankryk. Sy moeder, Victorine Morel-Grasseau, was 'n aktrise en dramaonderwyseres. Sy vader, Jean-Antoine Petipa, was een van die mees gerekende balletmeesters en pedagoë in Europa. Ten tyde van Marius se geboorte was Jean Petipa Premier danseur (Hoof mansdanser) vir die Salle Bauveau (vandag bekend as die Opéra de Marseille), en in 1819 is hy aangestel as Maître de ballet by dieselfde teater.
Marius Petipa het in sy vroeë kinderjare saam met sy gesin deur Europa gereis, aangesien sy ouers se professionele verpligtinge hulle van stad tot stad geneem het. Op 6-jarige ouderdom het sy ouers hul in Brussel gevestig in wat destyds die Verenigde Koninkryk van die Nederlande was, waar sy vader aangestel is as Maître de ballet en Premier danseur van die Théâtre de la Monnaie. Die jong Marius het sy algemene opvoeding ontvang aan die Grand College in Brussel en terselfdertyd die Brusselse Konservatorium bygewoon waar hy musiek studeer het en geleer het om die viool te speel.
duimnael|links|Portret van Marius Petipa rondom sy vyftiende lewensjaar, omstreeks 1833 Net soos hy met sy ander kinders gedoen het, het Jean Petipa vir die jong Marius op 7-jarige ouderdom lesse in ballet begin gee. Aanvanklik het die jong seun weerstand gebied en baie min vir dans omgegee. Nietemin het hy gou geleer om lief te word vir die kunsvorm, wat in 'n groot mate die lewe en identiteit van sy gesin uitgemaak het, en hy het vinnig uitgeblink. Op negejarige ouderdom het Marius vir die eerste keer in 'n balletproduksie as 'n Savoyard opgetree in sy vader se opvoering van Pierre Gardel se 1800-ballet La Dansomanie in 1827.
Op 25 Augustus 1830 het die Belgiese Revolusie uitgebreek ná 'n opvoering van Daniel Auber se opera La muette de Portici by die Théâtre de la Monnaie, waar Marius se vader aangestel was as Premier maître de ballet. Die gevolglike gewelddadige straatgevegte het veroorsaak dat alle teaters vir 'n tyd gesluit is, en gevolglik het Jean Petipa homself sonder 'n betrekking bevind. Die Petipa-gesin is vir 'n paar jaar in erge nood gelaat.
Die Petipa-gesin het in 1834 na Bordeaux, Frankryk, verhuis waar Marius se vader aangestel is as Premier maître de ballet by die Grand Théâtre de Bordeaux. Terwyl hy in Bordeaux was, het Marius sy balletopleiding onder Auguste Vestris voltooi. Teen 1838 is hy aangestel as Premier danseur by die Ballet de Nantes in Nantes, Frankryk. Gedurende sy tyd in Nantes het die jong Petipa sy hand aan choreografie probeer deur 'n aantal eenbedryf ballette en divertissements te skep.
In Julie 1839 het die 21-jarige Petipa sy vader vergesel op 'n toer deur die Verenigde State saam met 'n groep Franse dansers. Een van die vele opvoerings van die toer was 'n opvoering van Jean Coralli se La tarentule by die Nasionale Teater te Broadway. Dit was die heel eerste balletopvoering wat in New York Stad gegee is. Die toer was 'n ramp, aangesien baie mense wat deel uitgemaak het van die ongekultiveerde Amerikaanse gehore van daardie tyd nog nooit ballet gesien het nie. Tot oormaat van ramp het die Amerikaanse impresario wat die opvoerings gereël het 'n groot gedeelte van die geld wat uit die kaartjieverkope verdien is gesteel en spoorloos verdwyn.
Teen 1840 het Petipa sy buiging gemaak met die balletgeselskap van die Comédie Française in Parys. Sy eerste opvoering saam met hierdie groep was 'n benefietkonsert vir die aktrise Rachel Félix waartydens hy saam met die legendariese ballerina Carlotta Grisi gedans het. Petipa het ook deelgeneem aan opvoerings by die Paris Opéra waar sy broer Lucien Petipa Premier danseur was.
Bordeaux duimnael|Die Grand Théâtre in Bordeaux (omstreeks 1850) In 1841 is Petipa die pos van Premier danseur by die Grand Théâtre in Bordeaux aangebied. Hier het hy verder onder Vestris gestudeer, terwyl hy die hoofrolle in ballette soos La Fille Mal Gardée, La Péri en Giselle gedans het. Terwyl hy saam met die geselskap gedans het, het hy baie lof ontvang vir sy vaardighede as danser sowel as dansvennoot. Sy vennootskap met Carlotta Grisi tydens 'n uitvoering van La Péri het hoë lof ontvang. Die gehoor het na hul asem gesnak toe hy die ballerina menigte kere opgelig en weer gevang het. Terwyl hy in Bordeaux was, het Petipa sy eie oorspronklike vollengte-opvoerings saamgestel. Onder hierdie werke tel La Jolie Bordelaise (Die skoonheid van Bordeaux), La Vendange (Die Druiweplukker), L'Intrigue Amoureuse (Die Intriges van Liefde) en Le Langage des Fleurs (Die Stem van die Blomme).
Spanje duimnael|Marie Guy-Stéphan in 'n Spaanse dans, rondom 1845 Petipa is hierna na Madrid waar hy in 1843 aangestel is as hoofdanser by die plaaslike Teatro del Circo, aanvanklik onder leiding van Jean Baptiste Barrez, en vanaf 1845 onder leiding van sy eie vader, Jean-Antoine Petipa. Vir die volgende drie jaar sou hy 'n diep kennis van tradisionele Spaanse danse opdoen, terwyl hy nuwe werke opgevoer het, gebaseer op Spaanse temas, soos Carmen et son toréro (Carmen en die stiervegter), La Perle de Séville (Die Pêrel van Sevilla), L'Aventure d'une fille de Madrid (Die avonture van 'n Madrileña), La Fleur de Grenade ( Die blom van Granada) en Départ pour la course des taureaux (Vertrek vir die Stiergevegte).
As dansvennoot van die bekende Franse ballerina Marie Guy-Stéphan het hy sukses behaal in die manlike hoofrolle in ballette soos Giselle, Jean Coralli se La Tarentule, Joseph Mazilier se Le Diable amoureux, en veral in Perrot se La Esmeralda en Ondine. In die lente van 1846 het Petipa en Guy-Stéphan 'n uitnodiging van Fernando Millet, die impresario van die Teatro Principal van Sevilla, Andalusië, aanvaar en op toer gegaan saam met Millet se geselskap, wat hulle na onder andere Cádiz, Málaga en Granada geneem het. In Sanlúcar de Barrameda het hulle nie net 'n jaarlikse fees met stiergevegte bygewoon nie, maar ook egte Spaanse volksdanse gesien. Ervarings soos hierdie het Petipa se lewe beïnvloed en aanleiding gegee tot sy liefde vir Spaanse musiek en tradisionele danse.
Sy verblyf het egter in 1847 dramaties tot 'n einde gekom toe hy verlief geraak het op Carmen Mendoza y Castro, die dogter van 'n Spaanse Markies, wie se familie egter glad nie gelukkig was daarmee nie en stappe geneem het om die verhouding stop te sit. Uiteindelik het die egpaar saam probeer ontsnap, eers na Engeland, en vandaar na Frankryk. Hulle is egter op 13 Maart 1847 naby Rouen deur die polisie opgespoor. Carmen moes na Spanje terugkeer en Petipa na sy familie in Parys; en Petipa sou Spanje trouens nooit weer besoek nie. Terwyl hy in Parys was het hy deelgeneem aan 'n opvoering by die Théâtre de l'Académie Royale de Musique, waar hy saam met die ballerina Thérèse Elssler, suster van Fanny Elssler, gedans het.
Sint Petersburg, Rusland In 1847 het Petipa nog 'n man se vrou verlei, en dié het weer aangedring op 'n tweegeveg. Tweegevegte was egter verbode, en die wolk van die dreigende hofgeding het dus oor Petipa gehang. Die gesin het derhalwe besluit dat dit beter vir hom sou wees om Frankryk te verlaat. Marius se broer, Lucien Petipa, wat bekend was met Rusland, het 'n navraag gerig aan Antoine Titus in St. Petersburg.
Die versoek het, gelukkig vir Petipa, saamgeval met 'n behoefte om 'n sterk manlike hoofdanser te vind vir die Russiese Ballet se prima ballerina, Yelena Andreyanova. (sy was die minnares van die bestuurder van die Keiserlike Teaters, Alexandr Gedeonov). Antoine Titus kon sodoende beide partye se probleme oplos, en die twee is aan mekaar voorgestel, waarna Petipa en sy vader na Rusland genooi is.
Marius Petipa het hom dus aan die einde van 1847 in Sint Petersburg bevind. Derhalwe het sy ongelooflike opgang begin, waartydens hy een van die mees invloedryke choreograwe in die geskiedenis sou word.
Vroeë loopbaan
In 1847 is Petipa aangestel as premier danseur by die Keiserlike Teaters van Sint Petersburg, wat toe die hoofstad van die Russiese Ryk was. Die pos van premier danseur het vakant geword toe die Franse danser Emile Gredlu die pos ontruim het, en Petipa het kort hierna na Rusland geëmigreer. Hy het op 5 Junie (24 Mei) 1847 as nege-en-twintigjarige in die keiserlike hoofstad gearriveer. In 1848 het Petipa se vader ook na Sint Petersburg verhuis, waar hy van 1855 tot sy dood onderrig gegee het in die Classe de perfection aan die Keiserlike Balletskool.
Vir sy debuut is Petipa deur die bestuurder van die Keiserlike Teaters, Alexander Gedeonov, en die balletmeester Pierre-Frédéric Malevergne, versoek om die eerste Russiese opvoering van Joseph Mazilier se gevierde ballet, Paquita, aan te bied. Die ballet is die eerste keer opgevoer in 1846 by die Paris Opéra. Die ballet het op 8 Oktober (26 September) 1847 sy première ontvang met die Prima ballerina Yelena Andreyanova in die titelrol, en met Petipa wat die rol vertolk het van Lucien d’Hervilly, merendeels 'n mimiekrol.
duimnael|Portret van Marius Petipa by sy aankoms in Rusland. Sint Petersburg, omstreeks 1855.