Clara Josephine Schumann (née Wieck; 13 September 1819 – 20 Mei 1896) was 'n Duitse pianis, komponis en klavieronderwyseres. Sy word beskou as een van die beste pianiste van die Romantiese era. Sy het stukke vir soloklavier, 'n klavierconcerto (Opus 7), kamermusiek, koorstukke en liedere gekomponeer.

Sy het grootgeword in Leipzig waar beide haar vader, Friedrich Wieck, en haar moeder Mariane Bargiel, pianiste en klavieronderwysers was. Haar moeder was ook 'n sanger. Clara was 'n wonderkind en is opgelei deur haar vader. Sy het op 11-jarige ouderdom begin toer, en was suksesvol in Parys en Wene en ander stede. Sy is na 'n uitgerekte stryd uiteindelik getroud met Robert Schumann, saam met wie sy agt kinders gehad het. Sy en Schumann het vir Brahms aangespoor en 'n noue verhouding met hom gehad. Sy het verskeie premières van haar man en Brahms se werke opgevoer.

Na Robert Schumann se vroeë dood het sy voortgegaan om konserte regoor Europa te gee, en sy het dikwels saam met die violis Joseph Joachim en ander kamermusici opgetree. Sy was 'n invloedryke klavierpedagoog aan die Hoch Konservatorium in Frankfurt. Sy het Robert se werke geredigeer. Sy is oorlede in Frankfurt, maar is ingevolge haar eie versoek langs haar man in Bonn begrawe.

Haar lewe is die onderwerp van verskeie rolprente soos Träumerei (Drome) van 1944. 'n Rolprent uit 2008 getiteld Geliebte Clara is geregisseer deur Helma Sanders-Brahms. 'n Beeld van Clara Schumann ná 'n 1835 litograaf deur Andreas Staub het van 1989 tot 2002 op die 100 Duitse Mark banknoot gepryk. Aan die einde van die twintigste eeu het belangstelling in haar werk herleef, en die 200ste herdenking van haar geboorte in 2019 het aanleiding gegee tot nuwe boeke oor haar lewe en verskeie uitstallings.

Lewe Vroeë Lewe Familie Clara Josephine Wieck is op 13 September 1819 gebore in Leipzig as die dogter van Friedrich Wieck en Mariane Bargiel (née Tromlitz). Haar moeder was 'n bekende sangeres in Leipzig en het klavier gespeel en gesing (sopraan) by die Gewandhaus. Clara se ouers het egter onversoenbare verskille gehad, deels as gevolg van haar vader se onwrikbare aard. Haar ouers het, aangespoor deur 'n liefdesverhouding tussen haar moeder en Adolph Bargiel ('n vriend van haar vader) in 1825 geskei. Mariane is later getroud met Bargiel. Die vyfjarige Clara het saam met haar vader gewoon terwyl haar moeder en Bargiel later na Berlyn verhuis het, wat kontak met haar moeder beperk het, sodat hulle meesal by wyse van briefwisseling kontak behou het.

Wonderkind Clara se vader het haar loopbaan en lewe in fyn detail beplan. Sy het vanaf 4-jarige ouderdom basiese klavierlesse van haar moeder ontvang. Na haar moeder die huis verlaat het, het sy daaglikse lesse van 1 uur van haar vader begin ontvang. Die lesse het ingesluit klavier, viool, sang, teorie, harmonie, komposisie en kontrapunt. Sy moes elke dag na die lesse vir twee ure oefen. Haar vader het die metodes gevolg soos uiteengesit in sy eie boek, Wiecks pianistische Erziehung zum schönen Anschlag und zum singenden Ton ("Wieck se klavieronderrig vir 'n fyn Aanslag en 'n singende Toon.") Haar musikale studies het egter plaasgevind ten koste van haar algemene opvoeding, alhoewel sy steeds vakke soos religie en tale bestudeer het.

duimnael|links|upright|Clara Wieck, soos uitgebeeld in 'n litograaf uit 1835

Clara Wieck het haar amptelike debuut op 28 Oktober 1828 op 9-jarige ouderdom gemaak by die Gewandhaus in Leipzig. In dieselfde jaar het sy 'n opvoering gegee by die huis van Ernst Carus in Leipzig. Carus was die direkteur van die psigiatriese hospitaal by Colditz-kasteel. Hier het sy 'n jong begaafde pianis genaamd Robert Schumann ontmoet, wat uitgenooi is na die musiekaand, en wat nege jaar haar senior was. Schumann het Clara se speelwerk soveel bewonder dat hy permissie gevra het by sy moeder om sy regstudies, wat hom nooit veel geïnteresseer het nie, te staak en instede hiervan lesse by Clara se vader te neem. Vir doeleindes van sy studie het hy 'n kamer in die Wieck-huishouding gehuur en omtrent 'n jaar aangebly.

Clara het, begelei van haar vader, van September 1831 tot April 1832 in Parys en ander Europese stede getoer. In Weimar het sy 'n bravurastuk deur Henri Herz vir Goethe gespeel, wat haar met 'n medalje met sy portret en 'n geskrewe nota voorsien het, wat soos volg gelees het: "Vir die begaafde kunstenares Clara Wieck". Gedurende die toer het die violis Niccolò Paganini, wat ook in Parys was, aangebied om saam met haar 'n opvoering te gee. Haar Paryse voordrag is swak bygewoon aangesien baie mense die stad ontvlug het weens 'n uitbreek van cholera. Die toer was 'n mylpaal vir haar; sy was nie meer 'n wonderkind nie, maar 'n jong vroulike pianis.

Sukses in Wene Wieck het op 18-jarige leeftyd van Desember 1837 tot April 1838 'n reeks voordragte gegee in Wene. Franz Grillparzer, een van Oostenryk se voorste digters, het 'n gedig getiteld "Clara Wieck en Beethoven" geskryf, nadat hy haar Beethoven se "Appassionata" sonate hoor speel het tydens een van die voordragte. Kaartjies vir haar voordragte was uitverkoop en sy het kritiese lof ontvang; Benedict Randhartinger, een van Schubert se vriende, het haar 'n getekende afskrif van Schubert se Erlkönig gegee, met die inskrywing "Aan die gevierde kunstenares, Clara Wieck." Chopin het haar klaviertegniek aan Franz Liszt beskryf, wat een van Wieck se konserte bygewoon het en haar op uitbundige wyse geprys het in 'n brief wat gepubliseer is in die Paryse Revue et Gazette Musicale en later, in vertaalde vorm, in die Leipzigse tydskrifjoernaal Neue Zeitschrift für Musik. Op 15 Maart het sy die titel Königliche und Kaiserliche Österreichische Kammer-virtuosin ("Koninklike Kamervirtuoos van die Oostenrykse Ryk") ontvang, Oostenryk se hoogste musikale eerbewys.

'n Anonieme musiekkritikus het haar voordragte in Wene soos volg beskryf: "Die verskyning van hierdie kunstenares kan beskou word as epogmakend... In haar kreatiewe hande verkry die mees ordinêre passasie, die mees geroetineerde motief, 'n veelseggende betekenis, 'n kleur, wat slegs die wat oor die mees volmaakte kunstenaarskap beskik, kan gee."

Verhoudings Robert Schumann duimnael|upright|Gedächtniskirche Schönefeld, waar die Schumanns getroud is op 12 September 1840 Robert Schumann was 'n rapsie meer as nege jaar ouer as Clara. In 1837, toe sy agtien was, het hy haar gevra om met haar te trou en sy het ja geantwoord. Robert het hierna haar vader gevra of hy met haar mag trou. Friedrich was egter sterk gekant teen die huwelik en het geweier om sy toestemming te gee. Robert en Clara het toe besluit om haar vader te dagvaar. 'n Regter het uiteindelik, na 'n uitgerekte stryd, die huwelik toegelaat, wat plaasgevind het in Gedächtniskirche Schönefeld op 12 September 1840, die dag voor Clara se 21ste verjaardag en meerderjarigwording. Die paartjie het van die dag af 'n gesamentlike musikale en persoonlike dagboek gehou van hul lewens.

In Februarie 1854 het Robert Schumann 'n geestelike ineenstorting gehad en selfmoord probeer pleeg. Hy is op sy eie versoek opgeneem in 'n sanatorium in die dorpie Endenich naby Bonn, waar hy vir die laaste twee jaar van sy lewe gewoon het. In Maart 1854 het Brahms, Joachim, Albert Dietrich en Julius Otto Grimm vir Clara gaan kuier en musiek vir haar en saam met haar gespeel, ten einde haar op te beur. Brahms het 'n paar private klavierstukke vir haar gekomponeer om haar te troos: vier klavierstukke en 'n stel variasies op 'n tema deur Robert Schumann, waarvoor sy ook 'n jaar tevore variasies voor geskryf het (haar Opus 20). Brahms se musiek was nie bedoel vir publikasie nie, maar vir Clara alleen. Brahms het later daaraan gedink om die stukke anoniem te publiseer, maar die stukke is eventueel gepubliseer as sy Ballades, Opus 10, en sy "Variasies op 'n Tema deur Robert Schumann", Opus 9. Brahms het die variasies opgedra aan beide Clara en Robert, met die hoop dat Robert spoedig sou herstel en ontslaan sou word en sou aansluit by sy gesin.

Clara is vir die volle twee jaar van Robert Schumann se opname by die instituut nie toegelaat om hom te besoek nie, terwyl Brahms hom gereeld besoek het. Toe dit duidelik geword het dat Robert aan't sterwe was, is sy uiteindelik toegelaat om hom te sien. Dit het voorgekom asof hy haar herken, maar hy kon slegs 'n paar woorde uiter. Robert Schumann is twee dae later oorlede, op 29 Julie 1856.

Joseph Joachim Die Schumanns het die eerste keer in November 1844 kennis gemaak met die violis Joseph Joachim, toe hy 14 jaar was. 'n Jaar later het Clara Schumann soos volg in haar dagboek geskryf oor die jong Joachim se spel en tegniek tydens 'n konsert van 11 November 1845: "Die mense het baie van die klein Joachim gehou. Hy het 'n nuwe vioolconcerto deur Felix Mendelssohn gespeel." In Mei 1853 het hulle vir Joachim aangehoor toe hy die solodeel in Beethoven se Vioolconcerto gespeel het. Sy het geskryf dat hy gespeel het "met 'n afronding, 'n diep poëtiese gevoel, met sy siel in elke noot, so ideaal, dat ek nooit iemand so hoor speel het nie, en ek kan werklik sê dat ek nog nooit so 'n onuitwisbare indruk van enige virtuoos gekry het nie." 'n Blywende vriendskap het tussen Clara en Joachim ontwikkel, wat haar vir meer as veertig jaar nooit teleurgestel het nie en nooit gewankel het wat betref sy lojaliteit nie.

Schumann het deur die loop van haar loopbaan 238 konserte saam met Joachim in Duitsland en Groot-Brittanje gegee, meer as saam met enige ander kunstenaar. Die twee was veral bekend vir hul opvoerings van Beethoven se vioolsonates.

Johannes Brahms duimnael|upright|Clara Schumann in 1853

Aan die begin van 1853 het die destyds onbekende 20-jarige Johannes Brahms Joachim ontmoet en 'n baie gunstige indruk gemaak. Brahms het van hom 'n bekendstellingsbrief ontvang wat aan Robert Schumann geadresseer is, en Joachim het Brahms by die Schumanns se huis in Düsseldorf bekendgestel. Brahms het sommige van sy werke vir klavier vir die Schumanns gespeel, en hulle was diep beïndruk. Robert het 'n artikel gepubliseer wat Brahms hoog aangeslaan het, en Clara het in die dagboek geskryf dat Brahms "lyk asof hy reguit gestuur is van God".

Gedurende Robert Schumann se laaste jare was Brahms 'n sterk steunpilaar vir die Schumann-gesin. Sy briewe dui op sterk gevoelens vir Clara. Hul verhouding word dikwels geïnterpreteer as iets behorende tussen vriendskap en liefde, en Brahms het altyd die grootste respek vir haar gehandhaaf, as vrou en talentvolle musikant.

Brahms het sy Eerste Simfonie aan haar gespeel voor die première daarvan. Sy het raad verskaf oor die Adagio, wat hy ter harte geneem het. Sy het haar waardering vir die Simfonie as geheel uitgespreek, maar was ontevrede met die afsluitings van die derde en vierde bewegings. Sy het verskeie van sy werke die eerste keer in die openbaar uitgevoer, insluitend sy Variasies en Fuga op 'n tema deur Händel, 'n solo-klavierwerk wat Brahms in 1861 geskryf het.

Konserttoere