Spider-Man is 'n superheld in Amerikaanse strokiesverhale van Marvel Comics. Die karakter is deur die skrywer-redakteur Stan Lee en kunstenaar Steve Ditko geskep en verskyn die eerste keer in Amazing Fantasy #15 (Augustus 1962). Hy is te sien in onder andere strokiesverhale, rolprente, televisieprente en videospeletjies.
Spider-Man se geheime identiteit is Peter Benjamin Parker, 'n tienderjarige hoërskoolleerling. Hy is 'n weeskind wat deur sy tante May en oom Ben in New York grootgemaak word nadat sy ouers, Richard en Mary Parker, in 'n vliegongeluk omgekom het. Lee en Ditko laat die karakter sukkel met adolessensie- en finansiële probleme, en hy het baie ondersteunende karakters soos Flash Thompson, J. Jonah Jameson en Harry Osborn. Onder sy romantiese verbintenisse tel Gwen Stacy, Mary Jane Watson en Black Cat, en sy vyande sluit in die Green Goblin, Doctor Octopus en Venom.
Inleiding In die oorspronklike storie kry Spider-Man sy superkragte nadat hy deur 'n radioaktiewe spinnekop gebyt is; dié kragte sluit in bomenslike krag, ratsheid, reflekse, stamina, 'n uithouvermoë, koördinasie en balans, om soos 'n spinnekop aan oppervlakke en plafonne te klou en gevaar aan te voel met sy "spider-sense". Hy bou ook uit sy polse kunsmatige spinnerakke wat hy gebruik om te veg en oor die stad te swaai. Peter Parker het aanvanklik sy magte vir eie gewin gebruik, maar nadat sy oom Ben vermoor is deur 'n dief wat Peter nie gekeer het nie, begin hy sy magte gebruik om misdaad te beveg deur die superheld Spider-Man te word.
Toe Spider-Man in die vroeë 1960's die eerste keer verskyn, het tieners in superheldboeke gewoonlik die taak gehad om die hoofkarakter te help. Die Spider-Man-strokiesreeks het die voortou geneem deur Peter Parker, 'n leerling van Queens, New York, te gebruik as Spider-Man se geheime identiteit – sy obsessie met verwerping, onbekwaamheid en eensaamheid was sake waarby jong lesers aansluiting kon vind. Spider-Man het nie soos vorige tienerhelde 'n superheldmentor soos Captain America en Batman gehad nie; hy het self geleer met groot mag kom groot verantwoordelikheid – dit was 'n reël in die laaste paneel van Spider-Man se oorspronklike storie, maar later het sy oom Ben terugwerkend die krediet daarvoor gekry.
Marvel het Spider-Man in verskeie strokiesreekse gebruik. Die eerste een, wat ook die langste voortduur, is The Amazing Spider-Man. Deur die jare het Peter Parker se karakter ontwikkel van 'n skaam bleeksiel tot 'n gekwelde, maar uitgaande leerling, 'n getroude hoërskoolonderwyser en, in die 2000's, 'n enkellopende vryskutfotograaf. In die 2000's sluit hy by die Avengers aan.
Marvel het ook strokiesverhale gepubliseer met alternatiewe weergawes van Spider-Man, insluitende Spider-Man 2099, met die avonture van Miguel O'Hara, die Spider-Man van die toekoms; Ultimate Spider-Man, met die avonture van 'n tienderjarige Peter Parker in 'n ander heelal; en Ultimate Comics: Spider-Man, met die tiener Miles Morales wat Spider-Man se skoene vol staan ná Ultimate Peter Parker se skynbare dood. Miles het later 'n superheld uit eie reg geword en werk nou soms saam met Peter.
Spider-Man is een van die gewildste en kommersieel suksesvolste superhelde. Hy het al in talle verskillende media verskyn. Spider-Man is van 1974 tot 1977 die eerste keer deur Danny Seagren uitgebeeld in die skets Spidey Super Stories in die TV-reeks The Electric Company. Ander akteurs wat die rol van die karakter vertolk het, is Tobey Maguire, Andrew Garfield en Tom Holland.
Kragte, vermoëns en toerusting Peter Parker het bomenslike spinnekopkragte en gekry nadat 'n radioaktiewe spinnekop hom gebyt het.Gresh, Lois H., and Robert Weinberg. "The Science of Superheroes" (John Wiley & Sons, Inc., 2002) (preview ) Sedert die oorspronklike karakter deur Lee en Ditko geskep is, het Spider-Man die vermoë ontwikkel om teen mure te klou. Daar is gespekuleer dit is vanweë 'n afstandafhanklike wisselwerking tussen sy liggaam en oppervlakke, bekend as Van der Waals se krag, maar in die rolprent Spider-Man van 2002 was sy hande en voete uitgevoer met fyn haartjies soos dié van 'n regte spinnekop. Spider-Man se ander kragte sluit in bomenslike krag, ratsheid en balans, asook 'n "spider-sense" wat hom teen gevaar waarsku.
Spider-Man het ook 'n helende faktor wat hom in staat stel om te herstel van beserings wat hy tydens gevegte opdoen. Ná die storielyn van 1989 se Acts of Vengeance is gesê Spider-Man het "bomenslike herstelvermoëns" wat sy herstel bespoedig het nadat hy die Tri-Sentinel verslaan het.
Die karakter wat Lee en Ditko aanvanklik geskep het, was intellektueel begaaf, maar latere skrywers het sy intellek uitgebeeld as op die vlak van 'n genie. Ná jare van veg het Parker sy bekwaamheid uitgebrei tot op 'n vlak gelykstaande aan 'n vegkuns wat uitstekend by sy kragte pas. Die akademies briljante Parker het kennis op die gebied van toegepaste wetenskap, chemie, fisika, biologie, ingenieurswese, wiskunde en meganika.
Hy gebruik sy talent om sy eie kostuum te maak om sy identiteit te verbloem. Hy maak ook baie toestelle wat sy kragte komplementeer, veral die meganiese toestel waarmee hy spinnerakdrade uit sy polse skiet om teen hoë snelhede oor die stad te swaai, om hom te help navigeer en sy vyande in sy spinnerakke vas te vang. Die wetenskaplike Thomas Fireheart se span, wat van die bestes in die wêreld is, kon nie die vloeistof namaak wat Peter gemaak het terwyl hy op hoërskool was nie.
Publikasiegeskiedenis Skepping en ontwikkeling thumb|200px|Richard Wentworth, ook bekend as The Spider in die pulptydskrif met dieselfde naam. Volgens Stan Lee was Spider 'n invloed toe Spider-Man geskep is.
In 1962, ná die sukses van die Fantastic Four, het Marvel Comics se redakteur en hoofskrywer, Stan Lee, besluit om die idee van 'n superheld verder te voer. Volgens hom het die idee vir Spider-Man gekom van die toename in die gewildheid van strokiesverhale onder tieners en sy begeerte om 'n karakter te skep waarmee tieners hulle kon vereenselwig. Nes met die Fantastic Four, het Lee Spider-Man beskou as 'n geleentheid om dit wat hy gevoel het kortkom in strokiesverhale, "uit sy gestel te kry". In sy outobiografie sê Lee die niesupermens-misdaadvegter Spider in 'n pulptydskrif was 'n groot invloed. In talle onderhoude het hy ook gesê hy is verder geïnspireer deurdat hy gesien het hoe 'n spinnekop teen 'n muur opklim. Volgens hom het hy dié storie so baie vertel dat hy onseker was of dit waar is of nie. Benewens sy naam is die Spider gesoek deur die polisie én die misdaadonderwêreld ('n kenmerkende tema in Spider-Man se vroeë jare), en hy het ná jare van 'n eindelose stryd 'n "sesde sintuig" ontwikkel wat hom teen gevaar waarsku: die skynbare inspirasie vir Spider-Man se "spider-sense".
Hoewel tienerhelde in dié jare gewoonlik 'n naam gehad het wat met "boy" eindig, het Lee die naam "Spider-Man" gekies omdat hy wou hê die karakter moet ouer word namate die reeks vorder. Hy het verder gevoel die naam "Spider-Boy" sou die karakter minderwaardig teenoor ander superhelde maak. Hy het die koppelteken in die naam gesit omdat hy gevoel het "Spiderman" lyk te veel soos Superman, 'n ander superheld in 'n rooi-en-blou kostuum wat met 'n "S" begin en met "man" eindig (hoewel die kunstenaar, Steve Ditko, aanvanklik beplan het om Spider-Man 'n oranje-en-pers kostuum te gee).
In dié stadium moes Lee net die toestemming van die Marvel-uitgewer, Martin Goodman, kry vir die skep van die karakter. Hoewel Goodman aanvanklik skepties was, het hy eindelik ingestem en die kunstenaar Jack Kirby genader. Hy het Lee vertel van 'n ongepubliseerde karakter waaraan hy in 1950 gewerk het: 'n weeskind wat saam met 'n bejaarde egpaar woon en 'n towerring ontdek wat hom superkragte gee. Die twee het ooreengekom dat Kitby die karakter sou teken. Steve Ditko sou die inkleurwerk doen. Toe Kirby aan Lee die eerste ses velle van sy tekeninge wys, het Lee nie daarvan gehou nie omdat dit nie die karakter was wat hy in gedagte gehad het nie. "Hy was te heldagtig." Lee het hom tot Ditko gewend, wie se visuele styl hom tevrede gestel het.
Hoewel Ditko alleen die tekenwerk gedoen het, het Lee Kirby gevra om die voorblad te teken wat Ditko toe ingekleur het.Amazing Fantasy (Marvel, 1962 series)
Met die skepping van die karakter het Ditko 'n ateljee in Manhattan gedeel met die bekende fetisjkunstenaar Eric Stanton, 'n medestudent op kunsskool. In 'n onderhoud het Stanton gesê hy en Ditko het saamgewerk aan 'n paar idees, hoewel hy feitlik niks tot Spider-Man bygedra het nie. "Ek dink ek het die besigheid bygevoeg waar spinnerakdrade uit sy hande kom."
Kommersiële sukses 'n Paar maande ná Spider-Man se bekendstelling het Goodman, die uitgewer, na die verkoopsyfers van Amazing Fantasy gekyk en tot sy verbasing gesien dit was een van die wordende Marvel Comics se beste verkope. 'n Volgende reeks met net dié karakter en die titel The Amazing Spider-Man #1 (Maart 1963) is uitgegee. Dit het eindelik Marvel se topreeks geword en Spider-Man was gou 'n kultuurikoon. 'n Meningspeiling in 1965 deur die tydskrif Esquire op universiteitskampusse het aan die lig gebring studente lys Spider-Man en 'n ander Marvel-superheld, die Hulk, saam met Bob Dylan en Che Guevara as hulle gunsteling- revolusionêre ikone. Een deelnemer het Spider-Man gekies omdat hy "geteister word deur elendes, geldprobleme en bestaansvrae. Kortom, hy is een van ons." Nadat Ditko ná uitgawe #38 (Julie 1966) by Marvel weg is, het John Romita sr. hom as tekenaar vervang en hy sou die reeks 'n paar jaar lank teken.
In die vroeë 1970's het Spider-Man eindelik gehelp om die gesagskode vir strokiesverhale te verander. Voorheen het die kode die uitbeelding van die gebruik van dwelms verbied, selfs op 'n negatiewe manier. In 1970 het die Nixon-administrasie se departement van gesondheid, opvoeding en welsyn Stan Lee gevra om 'n boodskap teen die gebruik van dwelms in een van Marvel se toverkopers te publiseer. Lee het The Amazing Spider-Man, uitgawes #96-98 (Mei-Julie 1971) gekies om die negatiewe gevolge van dwelmmisbruik uit te beeld. In die storie raak Peter Parker se vriend Harry Osborn verslaaf aan pille. Toe Spider-Man teen die Green Goblin (Norman Osborn, Harry se pa) veg, klop Spider-Man hom deur aan hom Harry se dwelmmisbruik te openbaar. Hoewel die storie 'n duidelike boodskap teen dwemmisbruik gehad het, het die Comics Code Authority geweier om dit sy stempel van goedkeuring te gee. Marvel het nogtans die drie uitgawes gepubliseer. Dit het so goed gevaar dat die nywerheid se selfopgelegde sensuur geboemerang het en die kode is daarna hersien.
duimnael|links|200px|'n Beeld van Spider-Man wat teen 'n muur af klouter in Tornesch, Duitsland. In 1972 het 'n tweede maandelikse reeks met Spider-Man begin: Marvel Team-Up, waarin Spider-Man saam met ander superhelde en -skurke verskyn. Van toe af was daar op enige gegewe tydstip minstens twee aaneenlopende Spider-Man-reekse. In 1976 het 'n tweede soloreeks, Peter Parker, the Spectacular Spider-Man begin samelopend met die hoofreeks. 'n Derde reeks met Spider-Man, Web of Spider-Man, het in 1985 begin om Marvel Team-Up te vervang. 'n Vierde maandelikse reeks, Peter Parker: Spider-Man, het sy debuut in 1990 gemaak met verskeie verskillende voorblaaie, maar dieselfde inhoud. Van die verskeie weergawes is altesaam meer as 3 miljoen eksemplare verkoop: Dit was toe 'n rekord in die nywerheid. Verskeie minireekse, solo-uitgawes en losweg verwante strokiesverhale is ook al gepubliseer. Spider-Man maak ook dikwels kamee- en gasverskynings in ander reekse. In 1996 is The Sensational Spider-Man geskep om Web of Spider-Man te vervang.