Hoërskool Zwaanswyk is 'n voormalige Afrikaansmedium hoërskool in die Kaapstadse voorstad Retreat.
Die skool bied onderrig in Engels aan 'n multikulturele leerdergemeenskap, waarvan driekwart uit die voorstede Retreat, Steenberg en Lavender Hill kom. Die skool se verwante laerskool is Zwaanswyk Akademie, hoewel sommige leerders van Laerskool Paul Greyling in Vishoek tradisioneel ook die skool bygewoon het.
Die leerdertal was 461 in 2008, 'n drastiese toename sedert die invoer van Engels as onderrigmedium. In daardie jaar was daar van gr. 10 tot 12 179 leerders, almal Afrikaans, maar in graad agt en nege, waarin Engels trapsgewys ingevoer word, altesaam 282, van wie na raming tweederdes Engels was. Teen 2011 het die totale leerdertal tot 557 toegeneem. In die hoogste drie grade het 98 leerders Afrikaans as huistaal geneem vergeleke met 183 Engels-huistaal. In 2012 het die totale leerders toegeneem tot 566 en in 2013 tot 600.
In die drie hoogste grade het 222 leerders in 2012 Engels as huistaal geneem, vergeleke met 89 Afrikaans. In 2013 was dit 264 Engels-huistaal vergeleke met 41 Afrikaans-huistaal, van wie 38 in gr. 12 was, 3 in gr. 11 en geen in gr. 10 nie. Einde 2015 het was daar 64 leerders in gr. 11 en 12 wat Afrikaans as huistaal geneem het, maar weereens geen gr. 10's nie. Die totale leerdertal was toe 532.
In 2016 was die leerdertal 610. Van hulle het in die hoogste drie grade 100 Afrikaanse Huistaal geneem en 233 Afrikaans Eerste Addisionele Taal.
Geskiedenis Die geskiedenis van Zwaanswyk Academy en Hoërskool Zwaanswyk gaan terug tot omstreeks 1896, toe die Retreat Public School met 67 leerlinge begin het. Die presiese stigtingsdatum is onbekend. Die skool was tot 1925 in Tokai geleë. In 1926 het die skool die Retreat Sekondêre Skool geword en ’n nuwe skoolgebou in Stasieweg, Retreat, betrek. Die gebou was tussen Retreat-stasie en die terrein van die huidige hoërskool geleë. Teen dié tyd het die skool 347 leerlinge gehad.
Die naam is in 1945 na Hoërskool Retreat verander. Die skool het toe leerlinge van Sub. A tot St. 10 gehuisves. ’n Belangrike verandering het in 1953 gekom toe ’n nuwe hoërskoolgebou in Hoofweg, Retreat, opgerig is. Die nuwe skool het die naam Hoërskool Zwaanswyk gekry. Die gebou is op 29 September 1953 ingewy, waarna die hoërskoolleerlinge van die ou Retreatskool na die nuwe gebou verhuis het. Die ou skoolgebou is daarna net vir primêre klasse gebruik en het as Laerskool Retreat bekend gestaan.
Vanaf 1954 het die laerskool die naam Laerskool Zwaanswyk gedra. In dié oorgangsjaar het die leerlinge nog die das van Laerskool Retreat gedra, asook die skoolwapen van Retreat op hul baadjies en pette. Op 30 Junie 1976 het die laerskool ’n nuwe gebou langs die hoërskool betrek.
In Augustus 2007 is Laerskool Zwaanswyk, ook bekend as Zwaanswyk Primary School (omdat dit toe reeds dubbelmedium was), hernoem tot Zwaanswyk Academy. Die naam is gekies omdat “Academy” as ’n beter beskrywing beskou is vir ’n skool met klasse van Graad 1 tot Graad 9. In 2011 het Zwaanswyk Academy weer ’n laerskool geword, met klasse van Graad 1 tot Graad 7. Daar is egter besluit om die naam Zwaanswyk Academy te behou.
Die skool se naamsveranderinge weerspieël die ontwikkeling van ’n enkele skoolinstelling oor meer as ’n eeu: van Retreat Public School tot Retreat Sekondêre Skool, daarna Hoërskool Retreat, Laerskool Retreat, Laerskool Zwaanswyk en uiteindelik Zwaanswyk Academy. Die geskiedenis van Hoërskool Zwaanswyk het in 1953 as afsonderlike hoërskool voortgegaan.
Oudleerders Rachelle Greeff, skrywer Deon Lotz, hoofseun 1982, akteur
Bronne Die Wes-Kaapse onderwysdepartement se Find A School-soekgerief.
Eksterne skakel 'n Facebook-groep vir huidige en oudleerders Die Burger gee in 1989 'n oorsig van die skool se prestasies.
Kategorie:Skole in die Wes-Kaap