Elsabé Antoinette Murray Joubert (Paarl, 19 Oktober 1922 – 14 Junie 2020) was 'n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse skrywer. Joubert het beroemdheid verwerf met haar novelle Die swerfjare van Poppie Nongena, wat in 13 tale vertaal is, en wat ook as 'n drama op die planke gebring is.Vogel, Wanja Noordwes-Universiteit: http://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/188Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/jouberte.html Sy was die niggie van die Afrikaanse skrywer Gideon Joubert. Sy is op 14 Junie 2020 aan Covid-19 oorlede.
Lewe en werk Vroeë lewe en opleiding Elsabé Antoinette Murray Joubert is op Saterdag 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Haar ouers stam albei van die Franse Hugenote af. Haar pa, Willem Adolf Joubert, is die seun van ’n wynboer en vir 32 jaar hoof van die Paarl Onderwyskollege, terwyl haar ma, die predikantsdogter Elsabé de Villiers, onderwyseres was by die Skool vir Dowes op Worcester. Haar ouers is in 1916 met mekaar getroud. Haar jonger suster Isabeau is jonk dood aan leukemie, maar sy het nog ’n ouer broer, Gideon.Nie te verwar met die Afrikaanse skrywer Gideon Joubert nie. Elsa Joubert en die skrywer Gideon Joubert is wel nig en neef. Hul gemeenskaplike oupa is Gideon Johannes Joubert (1858–1910).
Sy gaan van sub A tot matriek skool aan die Laerskool en Hoërskool La Rochelle in die Paarl en matrikuleer in 1939.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Elsa_Joubert In standerd agt behaal sy die tweede beste punte in die Kaapprovinsie en kom eerste in die Geskiedenis Taalbond. Ná hoërskool studeer sy van 1940 af verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in die Harmonie-koshuis inwoon. In 1942 verwerf sy ’n B.A.-graad en in 1943 ’n Sekondêre Onderwysdiploma. Op universiteit is sy Die Matie-korrespondent vir die vroueblad van Die Burger.
In 1945 behaal sy ’n M.A.-graad in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad met ’n verhandeling oor J. van Melle se werk
Loopbaan as onderwyser, akademikus en joernalis Sy gee dan 'n jaar lank in 1944 onderwys aan die Hoër Meisieskool Cradock, waar sy in die skoolkoshuis inwoon. Tydens die wintervakansie los sy ’n maand af as onderwyseres by ’n skooltjie op die eilande by Keimoes in die Garieprivier. Sy is ook die Afrikaanse redaktrise van die universiteitsblad Groote Schuur. Van 3 Januarie 1946 tot einde Februarie 1948 is sy as vroueredakteur verbonde aan Die Huisgenoot.
Werk in die buiteland Sy onderneem in 1948 ’n omvattende reis deur Afrika, wat in Tafelbaai aan boord van die City of London begin, al met die ooskus van Afrika langs. By Mombasa klim sy af en gaan oot land na die Victoriameer, van waar sy op ’n rivierboot al met die Nyl op tot in Kaïro vaar. Hiervandaan reis sy deur Europa, waar sy twee jaar agterbly. Sy werk onder andere vir die Verenigde Volke in Genève in Switserland en die Suid-Afrikaanse Ambassade in Lissabon in Portugal. In Parys bestee sy tyd saam met Jan Rabie en Klaas Steytler sluit hier ook vanuit Amerika by haar aan. Saam reis hulle dan met rugsakke verder. Om ekstra geld te verdien om aan die lewe te bly, doen sy van tyd tot tyd vryskutwerk as joernalis, onder andere deur ’n onderhoud te voer met die burgemeesteres van Berlyn, waarvoor dié haar £25 betaal. Sy stuur ook gereelde bydraes vir Die Burger, Sarie Marais en Die Huisvrou, waar Audrey Blignault destyds die redakteur was en ook van haar werk vir haar radioprogramme gebruik.
Terugkeer na Suid-Afrika Ná haar huwelik in April 1950 in die Paarl met Klaas Steytler, wat sy tydens haar studies by die Universiteit van Kaapstad ontmoet het, vestig sy haar in Johannesburg, waar sy eers Afrikaans gee vir diplomastudente by die Tegniese Kollege in Eloffstraat en later sewe jaar lank verbonde is aan die redaksie van Die Transvaler. Periodiek gee sy ook klasse in Afrikaans aan individue en by kolleges. Hier word drie kinders (twee dogters, Elsabé Antoinette en Henriëtte, en ’n seun, Nicolaas Christiaan) vir haar en Klaas gebore. In Johannesburg begin Elsa saam met Klaas, Jan Rabie, Abraham de Vries en Rita Elferink die Excelsior Groep, waarmee hulle oor die rassegrense heen kultuuraande hou.
Verdere reise Nadat hulle eers ’n woonstel huur en daarna ’n huis in Melville, koop hulle ’n huis in Aucklandpark. In 1955 neem die gesin, Elsa en Klaas en twee klein kinders, ’n reis deur Njassaland (vandag Malawi). Nadat sy op haar eie ’n reis na Madagaskar, Mauritius en Reunion onderneem, gaan sy later saam met Klaas op ’n reis deur Mosambiek. Beide laasgenoemde reise word in reisverhale beskryf.
Van 1965 af bly die gesin in Oranjezicht in Kaapstad, terwyl sy steeds by herhaling reise deur Europa, Afrika en die Verre Ooste onderneem. Hierdie reise vind neerslag in talle reisboeke.
In 1967 word Klaas en Elsa uitgenooi na Duitsland en bly in Berlyn van waar hulle van plan was om Oos-Europa te besoek, maar ’n dringende telegram van Suid-Afrika waarsku hulle daarteen. Die Russiese spioen Juri Loginof is pas in Suid-Afrika gearresteer en enige verhandelbare Suid-Afrikaners agter die Ystergordyn kon gevange geneem word met die oog op ’n ruilooreenkoms. Hulle reis dan na Turkye en Griekeland, waar hulle onder andere vir Jan Rabie en Marjorie Wallace gaan kuier in die dorpie Eloúnda op die Griekse eiland Kreta.
Van September tot middel Oktober 1973 onderneem sy ’n uitgebreide reis deur Angola. Sy onderneem ook ’n reis deur Suid-Afrika waar sy al die tuislande besoek om haar te vergewis van die toestande daar, as voorbereidingswerk vir die draaiboek van ’n dokumentêre rolprent. Die rolprent word egter nooit gemaak nie. Saam met Klaas besoek sy op uitnodiging van Al J. Venter ook die militêre basisse op die grens van Suidwes-Afrika, insluitende Ondangwa.
In 1985 besoek sy en Klaas die elfde Internasionale Boekeskou in Buenos Aires in Argentinië, ’n besoek wat saamval met die Spaanse vertaling van Die swerfjare van Poppie Nongena. Daarna besoek hulle ook die Boerenasate in Argentinië en ontmoet die wêreldbekende Argentynse skrywer Jorge Luis Borges, van waar hulle ook deur Chili reis.
In die negentigerjare onderneem hulle ’n reis deur Indonesië, wat aansluit by Leipoldt se reis in Uit my Oosterse dagboek. Elsa beskryf hierdie reis in Gordel van smarag.
Persoonlike lewe In April 1973 koop hulle ’n vakansiehuis in Onrus, waar Elsa aan huis van Jan Rabie bevriend raak met die skrywer Richard Rive. Richard stel haar bekend aan die Afrikaliteratuur en -werke van swart skrywers wat in Suid-Afrika verbode was, wat haar blootstelling aan en begrip van die kontinent verder verbreed. Hierdie kennis en begrip gee sy terug aan die gemeenskap in verskeie openbare optredes, waar sy lesings lewer oor Afrika en sy ontluikende skrywers. Saam met Klaas is sy in 1975 ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde en van 1984 tot 1985 dien sy ook as voorsitter. Ná die dood van Klaas in 1998 vestig sy haar in ’n woonstel in die aftreeoord Berghof in Tuine, Kaapstad. Wanneer nog ’n woonstel in die oord ’n jaar later vakant word, koop sy dit ook om ’n studeerkamer te kry waarin sy haar boeke en ’n lessenaar kan huisves. Sy ondergaan in Oktober 2002 ’n heupvervangingsoperasie nadat sy val en haar heup beseer. Later ondergaan sy ’n verdere heupvervanging, wat haar beweging baie bemoeilik.
Skryfwerk Sy skryf reeds van kleintyd af. In standerd drie gee sy haar eerste koerant uit en skryf gedigte. Net nâ die herdenking van die Groot Trek skryf sy ’n essay vir Die Burger oor My grootste oomblik in die Ossewatrek, waarvoor sy ’n tweede prys kry. Nadat sy haar meestersgraad behaal het, skryf sy ’n artikel oor die eilandmense naby Keimoes, wat in Die Huisgenoot verskyn en haar ook help om ’n pos as joernalis by hierdie tydskrif te kry. In 1947 skryf sy onder die skuilnaam W. Prinsloo ’n kortverhaal, Marynatjie, wat in Die Huisgenoot gepubliseer word.
Reisverhale Sy maak haar eerste impak met haar reisverhale, waarin sy nuwe wêrelde open vir Afrikaanses in ’n tyd wat meeste Suid-Afrikaners deur die isolasie van die apartheidsjare dit moeilik vind om vreemde lande te besoek. In haar reisverhale fokus sy die aandag benewens die geskiedenis van die streek veral op die sosio-politieke toestande en die volkeverhoudinge. Met fyn waarneming stel sy ook die gewone mense aan die leser voor, wat dan benewens die indrukwekkende feitestruktuur ook ’n besondere menslikheid aan die verhale verleen.
Water en woestyn is ’n reisverhaal oor haar eerste reis al met die Nyl op in Afrika, vanaf die oorsprong in hierdie rivier in Uganda tot in Egipte, waar dit in die see uitmond. Sy beskryf die natuur, mere en riviere van Afrika en sy verskeidenheid mense. Onderweg doen sy baie besienswaardighede aan, met veral die Egiptiese oudhede by Luksor (begraafplaas van die Farao’s) en Karnak wat ’n groot indruk op haar maak. Hierdie boek word ook in Braille oorgesit.
Die verste reis beskryf haar reis deur verskeie lande van Wes-Europa kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog, waar sy eerstehands die nagevolge en puin van hierdie mensgemaakte ramp deurleef. Sy besoek Italië, Duitsland, Switserland, Frankryk, Luxemburg, Nederland, Spanje en Portugal. Die boek kry sy titel van die aangrypende slotsin, “die verste reis wat ’n mens kan maak, is van mens tot mens, deur die hart”.
Gedeeltes van Oos-Europa is die onderwerp in Swerwer in die herfsland. Hierdie reis begin in Berlyn in Duitsland en gaan dan deur Oostenryk na Turkye en Griekeland, waar sy ook die eiland Kreta aandoen.
Gordel van smarag skryf sy nadat sy en haar man Klaas in 1995 op die spore van C. Louis Leipoldt na Sumatra en Djakarta in Indonesië was en hierdie verhaal sluit nou aan by Leipoldt se reisweergawe in Uit my Oosterse dagboek. Die boek openbaar ook verskuilde fasette van Leipoldt se persoonlikheid en werp lig op sy Oosterse gedigte.Burger, Willem. Beeld, 22 Desember 1997.Kannemeyer, J.C. Rapport, 1 Februarie 1998.Kannemeyer, J.C. Op weg na 2000. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Eerste uitgawe, 1998.Viljoen, Deon. Insig, April 1998.
Sy reis ook wyd in Afrika in ’n tyd toe dit ongewoon en moeilik was vir wit Suid-Afrikaners, laat staan nog ’n vrou, om sulke reise aan te pak. Die onderliggende fokus van hierdie reise is veral om die wyses waar te neem hoe mense van verskillende kulture, rasse en etnisiteit ’n weg vind om vreedsaam en voorspoedig saam te leef.
Suid van die wind handel oor die eilande Madagaskar, Mauritius en Reunion, met die menslikheid en beelding van die relaas wat ’n sterk indruk maak. Die enigste manier om hierdie reis te onderneem is met die vliegtuig na Mauritius, destyds nog voor hierdie eiland se onafhanklikheid, waar Joubert se beskrywing van die maatskaplik-sosiale toestande dus ’n waardevolle kultuurhistoriese dokument is. Hiervandaan reis sy per boot verder na Reunion en Madagaskar. Dit is veral die reis in Madagaskar wat sy met ’n oorvol bus saam met arm plaaslike inwoners onderneem, wat ’n keerpunt in haar siening van die Afrikane meebring. ’n Klein swart kind raak met sy kop op haar skouer aan die slaap. Die onderliggende besef dring tot haar deur dat dit agting vir lewe is wat mense moet leer en ondervind en ander mense moet gesien word as mense, nie as iets om te verduur nie. Hierdie insig het daarna ’n bepalende invloed op al haar skryfwerk. A.P. Grové neem Die woud wat sterwe uit hierdie boek op in Trekvoëls ’n versamelbundel van reissketse.