James Patrick Bulger (16 Maart 1990 - 12 Februarie 1993) was 'n tweejarige seun van Kirkby, Merseyside, Engeland, wat op 12 Februarie 1993 deur twee 10-jarige seuns – Robert Thompson (gebore 23 Augustus 1982) en Jon Venables (gebore 13 Augustus 1982) – ontvoer, gemartel en vermoor is. Thompson en Venables het Bulger van die New Strand-winkelsentrum in Bootle weggelei toe sy ma vir 'n oomblik van haar seun wegkyk. Sy verminkte liggaam is twee dae ná sy ontvoering op 'n treinspoor 4 km van daar in Walton, Liverpool, ontdek.

Thompson en Venables is op 20 Februarie 1993 aangekla van ontvoering en moord. Hulle is op 24 November skuldig bevind en was die jongste veroordeelde moordenaars in die moderne Britse geskiedenis. Hulle is lewenslange tronkstraf opgelê en het in aanhouding gebly totdat 'n paroolraad in Junie 2001 aanbeveel het dat hulle op 18-jarige ouderdom op parool vrygelaat word. Venables is in 2010 tronk toe gestuur vir die verbreking van sy parool, is in 2013 weer op parool vrygelaat en is in November 2017 weer tronk toe gestuur vir die besit van foto's met seksuele kindermisbruik op sy rekenaar.

Die Bulgersaak het 'n wydverspreide debat ontlok oor hoe om jong oortreders te hanteer wanneer hulle gevonnis of vrygelaat word.

Moord 'n Kringtelevisie-opname in die New Strand-winkelsentrum in Bootle op 12 Februarie 1993 wys hoe Thompson en Venables kinders rustig dophou en blykbaar 'n teiken kies. Die seuns het stokkiesgedraai van hulle plaaslike laerskool, iets wat hulle gereeld gedoen het. Thompson en Venables is deur die dag afgeneem waar hulle verskeie items steel, insluitende lekkergoed, batterye en 'n kannetjie blou verf. Een van die seuns het later onthul hulle het beplan om 'n kind te ontvoer, hom na 'n besige straat buite die winkelsentrum te neem en hom voor die aankomende verkeer in te stamp.

Dieselfde middag is James Bulger van Kirkby saam met sy ma, Denise, na die New Strand-winkelsentrum. Terwyl Denise omstreeks 15:40 in die A.R. Tym-slaghuis op die laagste verdieping van die sentrum was, het sy besef James is weg nadat sy haar seun se hand gelos het om vir haar inkopies te betaal. Thompson en Venables het na Bulger geloop, sy hand gevat en met hom uit die winkelsentrum geloop.

Die twee seuns het Bulger na die Leeds-en-Liverpool-kanaal, 'n entjie van die sentrum af, geneem en hom op sy kop gegooi. Bulger het beserings aan sy gesig opgedoen. Die seuns het toe gespot hulle gaan Bulger in die kanaal stamp. 'n Ooggetuie het vertel dat die seuntjie vreeslik gehuil het toe hy hom by die kanaal sien. Die seuns het toe 4 km ver deur Liverpool geloop; hulle is deur sowat 38 mense gesien, maar die meeste het niks gedoen nie. Twee mense het Thompson en Venables uitgevra, maar hulle het gesê Bulger was hulle boetie, of dat hy verdwaal het en hulle met hom na 'n polisiekantoor op pad was. In 'n stadium het die seuns Bulger by 'n troeteldierwinkel ingvat, maar hulle is uitgeskop.

Eindelik het die seuns in Walton aangekom. Hulle het Bulger verby 'n polisiekantoor na 'n spoorlyn naby die voormalige Walton & Anfield-stasie geneem. Een van die seuns het die blou verf wat hulle gesteel het in Bulger se linkeroog gegooi. Hulle het hom geskop, op hom getrap en klippe na hom gegooi. Hulle het batterye in Bulger se mond geprop en dalk ook in sy anus, hoewel geen daar gevind is nie. Eindelik het die seuns 'n spoorlyndwarsbalk van 10 kg op Bulger gegooi. Hy het 10 skedelbreuke daarvan opgedoen. Volgens die patoloog Alan Williams het Bulger so baie beserings opgedoen (altesaam 42) dat enigeen as die noodlottige besering beskou kon word.

Thompson en Venables het Bulger oor die treinspoor neergelê en sy kop met rommel toegepak in die hoop dat 'n trein hom sou tref en sy dood as 'n ongeluk beskou sou word. Nadat hulle die toneel verlaat het, het 'n trein Bulger se lyf middeldeur getrap. Dit is twee dae later deur 'n groep kinders ontdek. 'n Forensiese patoloog het getuig Bulger was reeds dood toe die trein hom tref.

Die polisie het vermoed die twee seuns het Bulger seksueel aangerand, want sy skoene, kouse, broek en onderbroek is uitgetrek. Volgens die patoloog se verslag wat in die hof voorgelees is, is Bulger se voorhuid met geweld teruggedwing. Die seuns wou nie besonderhede daaroor gee toe hulle uitgevra is nie. Toe Venables op parool vrygelaat is, het sy sielkundige, Susan Bailey, in haar verslag geskryf Jon het "nie as kind of nou as adolessent" iets gesê oor 'n seksuele element van die oortreding nie.

Die polisie het gou laeresolusie-TV-materiaal gekry van twee ongeïdentifiseerde seuns wat James Bulger uit die winkelsentrum ontvoer. Die deurbraak het gekom toe 'n vrou wat effens verbeterde beelde van die seuns op nasionale televisie gesien het, Venables herken en onthou het sy het hom dié dag in die Bootle-gebied sien stokkiesdraai saam met Thompson. Sy het die polisie gekontak en die seuns is in hegtenis geneem.

Strafregtelike verloop Arres Die verdagtes se ouderdom het ondersoekbeamptes onder leiding van speurdersuperintendent Albert Kirby van die Merseyside-polisiekantoor geskok. Volgens vroeë persberigte en polisieverslae is Bulger saam met twee "jeugdiges" gesien, wat dit laat klink het asof hulle tieners was, en dit was moeilik om hulle ouderdom vas te stel op grond van die kringtelevisiebeelde.

Forensiese toetse het bewys albei seuns het dieselfde blou verf aan hulle klere gehad wat aan Bulger se lyf gevind is. Albei het bloed aan hulle skoene gehad en die bloed aan Thompson se skoen is met DNS-toetse as Bulger se bloed uitgewys. 'n Patroon van kneusplekke aan Bulger se regterwang het ooreengestem met die boonste deel van 'n skoen wat Thompson gedra het; 'n verfmerk in die toongedeelte van een van Venables se skoene het aangedui hy moes "aansienlike krag' gebruik het om Bulger te skop. Thompson het glo die polisie gevra of Bulger hospitaal toe geneem is "om hom weer lewend te kry".

Die seuns is albei op 20 Februarie 1993 aangekla van die moord op James Bulger. Ná hulle inhegtenisneming en deur die beriggewing oor die saak is na hulle verwys as "Kind A" (Thompson) en "Kind B" (Venables).

Verhoor Tot 500 betogers het by die magistraatshof in Sefton saamgedrom tydens die seuns se aanvanklike verskynings. Hulle ouers is na ander dele van die land geskuif en het nuwe identiteite aangeneem ná doodsdreigemente deur vigilantes. Die volle verhoor het op 1 November 1993 in Preston begin as 'n volwasseneverhoor. Die seuns het skuld ontken. Tydens die verhoor het dit bekend geraak hulle het op dieselfde dag ook 'n ander tweejarige seun probeer ontvoer, maar is deur sy ma gekeer.

Die Europese Menseregtehof het die verhoor gekritiseer en het in 1999 uitsluitsel gegee dat die seuns nie 'n regverdige verhoor in die openbaar as volwassenes gehad het nie. Tydens die verhoor het die hoofaanklaer, Richard Henriques, die beginsel van doli incapax suksesvol bestry. Daarvolgens kan kinders nie wetlik vir hulle dade aanspreeklik gehou word nie.

Die hof het Thompson en Venables as aanspreeklik vir hulle dade beskou omdat hulle oud genoeg was om te verstaan dat hulle iets erg verkeerds gedoen het. 'n Kindersielkundige, Eileen Vizard, wat voor die verhoor 'n onderhoud met Thompson gevoer het, het getuig sy kan met redelike sekerheid sê hulle het geweet dit is verkeerd om 'n kind van sy ma weg te neem en hom ernstig te beseer. Sy het ook gesê Thompson ly aan posttraumatiese stressteuring ná die aanval. Susan Bailey, die forensiese sielkundige wat 'n onderhoud met Venables gevoer het, het onomwonde gesê hy het die verskil tussen reg en verkeerd verstaan.

Thompson en Venables het nie tydens die verhoor gepraat nie en die saak teen hulle is grootliks gebaseer op meer as 20 uur se opgeneemde polisie-onderhoude met die seuns wat in die hof teruggespeel is. Thompson is beskou as die leier in die ontvoering, hoewel dit Venables was wat die besluit geïnisieer het om Bulger na die treinspoor te neem. Venables het later beskryf hoe Bulger skynbaar van hom gehou en hom toegelaat het om sy hand vas te hou en hom op te tel op hulle staptog. Laurence Lee, Venables se advokaat, het later gesê Thompson was een van die skrikaanjaendste kinders wat hy al gesien het en het hom vergelyk met die Rottevanger van Hameln.

Ná sy verskynings in die hof het Venables sy klere uitgetrek en gesê : "Ek kan James ruik soos 'n baba ruik." 'n Paar bewysstukke is by die hof ingedien, soos 'n boks met 27 stene, 'n klip vol bloed, Bulger se onderboek en die geroeste spoorlyndwarsbalk. Die patolog het 33 minute lank Bulger se beserings uitgelê; baie daarvan was aan sy bene nadat die klere onder sy middellyf uitgetrek was. Breinskade was groot en het bloeding ingesluit.

Die seuns, wat toe 11 jaar oud was, is op 24 November 1993 aan die moord skuldig bevind en is die jongste veroordeelde moordenaars van die 20ste eeu."James Bulger case: timeline of key quotations". The Daily Telegraph. 4 March 2010. . Besoek op 29 Mei 2022. Regter Morland het aan Thompson en Venables gesê hulle het 'n misdaad "van ongeëwenaarde boosheid en barbaarsheid gepleeg". Morland het hulle lewenslange tronkstraf opgelê en het aanbeveel hulle word "vir baie, baie jare" toegesluit. Hy het 'n minimum tydperk van agt jaar aanbeveel. Aan die einde van die verhoor het die regter die beperkings op verslaggewing opgehef en toegelaat dat die kinders se name gepubliseer word. Hy het gesê: "Ek het dit gedoen omdat die openbare belang groter was as die belang van die beskuldigdes... Daar was 'n behoefte aan ingeligte openbare dabatvoering oor misdade wat deur jong kinders gepleeg word."

Ná die verhoor In Junie 2001, ná 'n ses maande lange beraadslaging, het die paroolraad beslis die seuns is nie meer 'n bedreiging vir die openbare veiligheid nie en kan vrygelaat word omdat hulle minimum straf in Februarie daardie jaar uitgedien sou wees. Die minister van binnelandse sake het die beslissing goedgekeur en hulle is 'n paar weke later vrygelaat nadat hulle agt jaar van hulle vonnis uitgedien het.Bulger statement in full at news.bbc.co.uk (besoek op 23 April 2005)Bulger killers 'face danger' at news.bbc.co.uk (besoek op 23 April 2005) Daar is berig die seuns het nuwe identiteite gekry en was deel van 'n soort getuiebeskermingsprogram.

Die voorwaardes van die vrylating het ingesluit: Hulle is nie toegelaat om mekaar of Bulger se familie te kontak nie; hulle is verbied om die Merseyside-streek te besoek; hulle kon onderhewig gemaak word aan 'n aandklokreël en hulle moes by borgtogbeampteas aanmeld. As hulle die voorwaardes oortree het of 'n openbare bedreiging sou word, sou hulle teruggestuur word tronk toe. Die media mag nie oor hulle nuwe identeit of ander besonderhede oor hulle berig nie.Young men, full of remorse , The Guardian, 27 October 2000

In die maande ná die verhoor en ná die geboorte van hulle tweede seun het die huwelik van Bulger se ouers skipbreuk gely; hulle is in 1995 geskei. Denise is daarna met Stuart Fergus getroud en hulle het twee seuns. Ralph is ook weer getroud en het drie dogters by sy tweede vrou.

Op 14 Maart 2008 het Denise Fergus en die Engelse joernalis Esther Rantzen aansoek gedoen om 'n leerlingsentrum in Merseyside op te rig ter herinnering aan James Bulger. 'n Herinneringstuin vir hom is opgerig in die Primêre Skool Sacred Heart in Kirkby, die skool wat hy sou bygewoon het as hy nie vermoor is nie.

Op 25 Februarie 2013 het die prokureurgeneraal se kantoor aangekondig dit oorweeg verskeie sake teen mense wat foto's aanlyn gepubliseer het wat hulle beweer Thompson of Venables as volwassenes wys. Volgens 'n woordvoerder plaas dit moontlik onskuldige individue se lewe in gevaar om verkeerdelik as een van die twee mans geïdentifiseer te word. Die sake is dus nie net bedoel om Venables en Thompson te beskerm nie, maar ook ander lede van die publiek. Verskeie mense is sedertdien gevonnis op aanklag van minagting van die hof.

Latere lewe van Jon Venables Verhoudings en ander oortredings