Die Rugbywêreldbeker 2003 (Engels: 2003 Rugby World Cup) is van 10 Oktober tot 22 November 2003 in Australië beslis. Oorspronklik was ook wedstryde in Nieu-Seeland beplan, maar ná ’n dispuut tussen die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) is dié plan laat vaar. Dit was die vyfde rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die IRR aangebied word en die derde in die Suidelike Halfrond. Australië het met Nieu-Seeland die eerste Rugbywêreldbeker 1987 saam gehuisves.
duimnael|links|upright|Die Webb Ellis-beker waarom meegeding is 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2003 deelgeneem: die agt regstreekse kwalifiseerders van die 1999-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die twaalf beste spanne van die kwalifisering (Fidji, Georgië, Ierland, Italië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Samoa, Tonga, Uruguay en die Verenigde State). Georgië het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.
Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het (altesaam agt spanne), het ook regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk gekwalifiseer.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2003 is Engeland, Nieu-Seeland, Frankryk, Australië en Suid-Afrika as gunstelinge op die titel beskou. Engeland het die eindstryd op Telstra-stadion in Sydney teen die verdedigende kampioen en gasheer Australië met 20–17 gewen, nadat ’n bykomende tien minute ekstra tyd toegestaan is toe die telling 17–17 was, en sodoende sy eerste wêreldtitel ingepalm. Engeland het daarmee die eerste nasionale rugbyspan van die Noordelike Halfrond geword om die toernooi te wen. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 die tweede wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het; in 2019 het ook die krieketwêreldbekertitel gevolg. Nieu-Seeland het in die derde en Frankryk in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig. Suid-Afrika is in die kwarteindrondte deur Nieu-Seeland met 9–29 uitgeskakel; Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Rudie van Vuuren, wat vir Namibië gespeel het, het voorheen met dié land se nasionale krieketspan ook aan die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika deelgeneem, waardeur hy die eerste sportlui geword het wat in dieselfde jaar in twee verskillende sportkodes aan wêreldbekertoernooie deelgeneem het.
Die Rugbywêreldbeker 2003 het om verskeie redes geskiedenis gemaak: nadat die Rugbywêreldbeker 1999 se ingewikkelde formaat met vyf groepe van vier spanne elk en die uitspeelrondte gekritiseer is, is vir die Rugbywêreldbeker 2003 ’n eenvoudiger formaat gebruik, waarvolgens die 20 spanne in vier groepe van vyf elk verdeel is. Vervolgens was dit die eerste rugbywêreldbekertoernooi waartydens 48 wedstryde gespeel is. Daarbenewens is vir die eerste keer in die groepfase die bonuspuntstelsel gebruik vir die druk van vier of meer drieë of ’n nederlaag met sewe of minder punte. Die toernooi was volgens die ekonomiese impak die naasgrootste sportgebeurtenis wat in dié tyd in Australië aangebied is ná die Olimpiese Somerspele 2000, groter as die Melbourne Lentewedrenkarnaval 2002, die Australiese Grand Prix en die Australiese Ope. Die organiseerders het 65 000 oorsese besoekers verwag wat na Australië vir die aangeleentheid sou reis. Die gasheer en verdedigende kampioen Australië het die eerste span geword wat daarin geslaag het om vir ’n derde keer in ’n eindstryd te verskyn. Die Rugbywêreldbeker 2003 het ook die opkoms van Georgië, wat sedertdien vir elke rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer het, gesien. Die Rugbywêreldbeker 2003 was in dié tyd die enigste toernooi waartydens geen speler ’n rooikaart ontvang het nie.
Toewysing duimnael|links|Die Sydneyhawebrug tydens die Rugbywêreldbeker 2003 duimnael|400px|Kaart van die kandidaatlande vir die Rugbywêreldbeker 2003 Die Rugbywêreldbeker 2003 is oorspronklik aan beide Australië en Nieu-Seeland toegewys. Ná ’n kontraktuele dispuut oor grondtekenregte tussen die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die IRR is aan Australië die alleenlike gasheerreg vir die Rugbywêreldbeker 2003 toegestaan. Nieu-Seeland sou oorspronklik 23 van die 48 wedstryde huisves, maar Nieu-Seeland se aandringing op die wysiging van die bepalings rakende stadionadvertensies was onaanvaarbaar vir die IRR. Daarmee het dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika die tweede rugbywêreldbekertoernooi geword wat geheel en al in een land aangebied is.
Deelnemers Kwalifisering 20 spanne het vir die Rugbywêreldbeker 2003 gekwalifiseer. Die agt kwarteindstrydfinaliste van die Rugbywêreldbeker 1999 – Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis – het almal regstreeks gekwalifiseer, terwyl die res van die spanne moes kwalifiseer tydens ’n reeks kompetisies wat regoor die wêreld gehou is. Tien van die twintig posisies wat in die toernooi beskikbaar was, is gevul deur streekskwalifiseerders, terwyl die oorblywende twee posisies deur heruitdunning gevul is. Die kwalifiseringstoernooi is in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Noord-Amerika saam met Suid-Amerika, Asië, Europa en Oseanië. Vier plekke is vir die nasionale spanne van Europa gereserveer, twee plekke elk vir die Amerikas en Oseanië en een elk vir Afrika en Asië. Die twee oorblywende plekke is tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte beslis. As die regstreekse klassifiseerders getel word, het 88 spanne in aanmerking gekom vir kwalifisering vir die finale toernooi in Australië.
In Julie 2002 is Fidji en Samoa bevestig as kwalifiseerders van Oseanië, as onderskeidelik Oseanië 1 en 2. In dieselfde maand het Japan die enigste Asiatiese toekenning gewen nadat hulle die Republiek China met 120–3 in Tainan verslaan het. In Augustus van dieselfde jaar het Kanada as Amerikas 1 gekwalifiseer toe hulle Chili met 27–6 in Calgary verslaan het. Amerikas 2 is in September gevul toe Uruguay Chili met 34–23 in Montevideo geklop het. In daardie maand het Italië in die Europese kwalifisering se Groep A as Europa 2 gekwalifiseer toe hulle Roemenië met 25–17 in Parma geklop het; Roemenië het Spanje met 67–6 in Iași geklop en daarmee ook vir die Rugbywêreldbeker 2003 gekwalifiseer as Europa 3. In Groep B het Ierland Georgië met 63–14 in Dublin verslaan om eerste plek in die land se kwalifiseringsgroep te behaal en gekwalifiseer as Europa 1; Georgië het Rusland met 17–13 in Tbilisi geklop en as Europa 4 gekwalifiseer. Namibië het vir sy tweede agtereenvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer toe die span Tunisië oor twee seksies in November geklop het.
Aanvanklik het Rusland die Europese uitspeelwedstryd teen Spanje met ’n algehele telling van 58–41 gewen, maar omdat die Russe drie uitgeslote Suid-Afrikaanse spelers ingespan het, is hulle van die kwalifisering uitgesluit en Spanje het pleks van Rusland gevorder. Die Verenigde State het deur heruitdunning gekwalifiseer nadat die span Spanje geklop het. Die finale plek in Groep C het na Tonga gegaan nadat die span Korea in twee wedstryde gemaklik met 194–0 geklop het.
Kwalifiserende spanne Die volgende 20 spanne het vir die finale toernooi gekwalifiseer. Georgië, wat Spanje vervang het, is die enigste verandering in die 20-span-lys van die Rugbywêreldbeker 1999. Georgië het ook vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.
duimnael|400px|Spanne wat aan die kwalifiseringstoernooi deelgeneem en die wat regstreeks gekwalifiseer het; altesaam 88 spanne het deelgeneem. duimnael|400px|Uitslag van die kwalifisering: SpanKwalifiseringmetodeVerskynings by eindstrydeLaaste verskyningVorige beste prestasieGroepGasheerVyfde1999Kampioen (1991, 1999)ARegstreeksVyfde1999Kwarteindrondte (1999)AVyfde1999Naaswenner (1991)CVyfde1999Naaswenner (1987, 1999)BVyfde1999Kampioen (1987)DVyfde1999Vierde plek (1991)BDerde1999Kampioen (1995)CVyfde1999Derde plek (1987)DOseanië 1Vierde1999Kwarteindrondte (1987)BEuropa 4Eerste –DebuutCEuropa 1Vyfde1999Kwarteindrondte (1987, 1991, 1995)AEuropa 2Vyfde1999Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999)DAsië 1Vyfde1999Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999)BAmerikas 1Vyfde1999Kwarteindrondte (1991)DAfrika 1Tweede1999Groepfase (1999)AEuropa 1Vyfde1999Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999)AOseanië 2Vierde1999Kwarteindrondte (1991, 1995)CUitspeelwenner 2Vierde1999Groepfase (1987, 1995, 1999)DAmerikas 2Tweede1999Groepfase (1999)CUitspeelwenner 1Vierde1999Groepfase (1987, 1991, 1999)B
Stadions Die 48 wedstryde is op elf verskillende stadions dwarsdeur Australië aangebied, waarvan die meeste langs die ooskus. Die algehele stadionkapasiteit was 421 311, ’n vermindering teenoor die Rugbywêreldbeker 1999 in Wallis (met wedstryde wat ook in Engeland, Frankryk, Ierland en Skotland gehou is) met ’n algehele kapasiteit van 654 677 oor 18 plekke.
Adelaide-ovaal, weliswaar ’n krieketstadion, is met die oog op die Rugbywêreldbeker 2003 opgeknap en twee pawiljoene langsaan die Victor Richardson-hekke is bygevoeg. Die koste van AU$ 20 miljoen is deur die Suid-Australiese Krieketvereniging gedra. Langpark in Brisbane is nuut opgerig en op rugby- asook sokkerwedstryde gespesialiseer. Die boukoste het sowat AU$ 280 miljoen beloop en dié stadion is enkele dae voor die begin van die toernooi ingewy. Die nuwe stadion se kapasiteit van 52 000 was 12 000 meer as dié van die ou Langpark. Die Central Coast-stadion in Gosford is in Februarie 2000 ingewy en ook op rugby en sokker gespesialiseer; die boukoste het sowat 30 miljoen AUD beloop.
Sydney se wedstryde is in twee stadions aangebied. Die Aussiestadion het tydens die Olimpiese Somerspele 2000 se sokkertoernooi as hoofstadion gedien. Die Telstrastadion in die Olimpiese Park in Sydney was die Olimpiese Stadion tydens die Olimpiese Spele. Die boukoste het sowat AU$ 690 miljoen beloop; die stadion is die tweede grootste in Australië, net ná die Melbourne-krieketveld. Met ’n kapasiteit van 83 500 was dit die grootste stadion gedurende die Rugbywêreldbeker 2003 (dié stadion het ’n oorspronklike kapasiteit van 110 000 gehad en ná die Olimpiese Spele ’n herontwikkeling van 2001 tot 2003 ondergaan). Die Telstrastadion in Melbourne is die enigste stadion met ’n sondak. Hoewel die Telstrastadion oor beweegbare sitplekke beskik wat vier dele van die onderste bak met 18 meter vorentoe kan beweeg om die veld ’n meer reghoekige omringing te gee, is dit nie tydens die Rugbywêreldbeker 2003 gebruik nie, aangesien dit die stadion se kapasiteit met sowat 3 500 verminder.
Sydney, Nieu-Suid-Wallis Melbourne, Victoria Brisbane, Queensland ANZ-stadion Sydney Voetbalstadion Docklands-stadion Langpark Kapasiteit: 83 500 Kapasiteit: 42 500 Kapasiteit: 56 347 Kapasiteit: 52 500 185px 185px 185px 185px Perth, Wes-Australië</div> Adelaide, Suid-Australië Subiaco Ovaal Adelaide-ovaal Kapasiteit: 42 922 Kapasiteit: 33 597 185px 185px Townsville, Queensland Canberra, Australiese Hoofstadgebied Willows Sportkompleks Canberrastadion Kapasiteit: 26 500 Kapasiteit: 25 011 185px 185px Gosford, Nieu-Suid-Wallis Launceston, Tasmanië Wollongong, Nieu-Suid-Wallis Central Coast-stadion Yorkpark Wollongong Showground Kapasiteit: 20 059 Kapasiteit: 19 891 Kapasiteit: 18 484 185px 185px 185px
Formaat