Die Rugbywêreldbeker 2011 (Engels: 2011 Rugby World Cup; Maori: Ipu o te Ao Whutupōro 2011) is van 9 September tot 23 Oktober 2011 in Nieu-Seeland beslis. Dit was die sewende rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die vierde in die Suidelike Halfrond. Nieu-Seeland het saam met Australië die eerste Rugbywêreldbeker 1987 gehuisves. Nieu-Seeland se bod om die toernooi aan te bied is in 2005 bo Japan en Suid-Afrika s’n verkies.

duimnael|links|upright|Die Webb Ellis-beker waarom meegeding is Die toernooi se formaat van 2003 en 2007 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2011 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2007-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Georgië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Rusland, Samoa en die Verenigde State). Rusland het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland en Wallis gekwalifiseer het.

Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2011 is Nieu-Seeland, Australië, Suid-Afrika, Engeland en Frankryk as gunstelinge op die titel beskou. Die gasheer Nieu-Seeland het die eindstryd op Edenpark in Auckland teen Frankryk met 8–7 gewen en sodoende sy tweede wêreldtitel ná 1987 ingepalm. Dit is die derde keer wat die gasheer die rugbywêreldbekertoernooi kon wen, ná Nieu-Seeland in 1987 en Suid-Afrika in 1995. Daarbenewens het Nieu-Seeland die eerste rugbyland geword wat die rugbywêreldbekertitel vir beide mans en vroue op dieselfde tydstip gehou het, nadat die vrouespan die 2010-wêreldbekertoernooi kon wen. Edenpark het die eerste rugbystadion geword wat die rugbywêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 1987-toernooi – gehuisves het. Australië het in die derde en Wallis in die vierde plek geëindig. Interessant genoeg het in die laaste vier wedstryde – die bronseindstryd en die eindstryd – dieselfde vier lande verskyn as tydens die erste Rugbywêreldbeker 1987, wat ook in Nieu-Seeland beslis is. Die verdedigende kampioen Suid-Afrika is in die kwarteindrondte deur Australië met 11–9 uitgeskakel. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel.

Die toernooi was die grootste sportgebeurtenis wat in dié tyd in Nieu-Seeland aangebied is, groter as die Rugbywêreldbeker 1987, Statebondspele 1990, Krieketwêreldbeker 1992, America's Cup 2003 en die toer van die Britse en Ierse Leeus na Nieu-Seeland in 2005. Die organiseerders het 95 000 oorsese besoekers verwag wat na Nieu-Seeland vir die aangeleentheid sou reis. Ná die toernooi is beraam dat sowat 133 200 toeriste Nieu-Seeland ten einde van die 2011-toernooi besoek het. Met sowat 3,9 miljard televisiekykers wêreldwyd was die Rugbywêreldbeker 2011 een van die mees gesiene rugbywêreldbekertoernooi in dié tyd. Altesaam is daar amper 1,5 miljoen kaartjies vir die 48 wedstryde verkoop, waarmee elke wedstryd gemiddeld 30 777 toeskouers gelok het; die wedstryde het ’n bywoning van 87% gehad.

Die wedstryde het op 9 September 2011 begin en is oor sewe weke geskeduleer. Die eindstryd het op Sondag, 23 Oktober 2011 op Edenpark in Auckland plaasgevind. Dié dag is gekies omdat dit op ’n lang naweek in Nieu-Seeland geval het (24 Oktober is werkersdag in Nieu-Seeland). Daar is ’n 10-ure verskil in tyd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika, gevolglik is al die wedstryde vroegoggend in Suid-Afrika gebeeldsend. Die Rugbywêreldbeker 2011 was in dié tyd die toernooi met die minste geelkaarte sedert die instelling van die 10-minuut-tydstraf.

Toewysing duimnael|400px|Kaart van die kandidaatlande vir die Rugbywêreldbeker 2011 duimnael|Vlae in die strate van Nieu-Seeland tydens die Rugbywêreldbeker 2011. Van links na regs: Die vlag van Skotland, ’n swart vlag met die silwervaring (kenteken van die Nieu-Seelandse nasionale span), die vlag van Australië en die vlag van die Ierse nasionale rugbyspan Die wêreldbeheerliggaam Internasionale Rugbyraad het tot op 31 Januarie 2005 vir botte van belangstellende lande wat die Rugbywêreldbeker 2011 wou aanbied tyd gegee. Tot op hierdie datum was slegs ’n formele verklaring sonder gedetailleerde planne voldoende. Die tenderdokument vir die 2005-aansoekproses moes teen 13 Mei 2005 ingedien word. Drie lande het aangebied om die Rugbywêreldbeker 2011 te huisves: Nieu-Seeland, Japan en Suid-Afrika.

Nieu-Seeland het saam met Australië die eerste Rugbywêreldbeker 1987 aangebied en is oorspronklik saam met Australië as medegasheer van die Rugbywêreldbeker 2003 aangewys, maar ’n kontraktuele dispuut oor grondtekenregte tussen die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die IRR het tot gevolg gehad dat Nieu-Seeland van sy gasheerregte ontneem en Australië as alleenlike gasheer aangewys is. Nieu-Seeland sou oorspronklik 23 van die 48 wedstryde huisves, maar Nieu-Seeland se aandringing op die wysiging van die bepalings rakende stadionadvertensies was onaanvaarbaar vir die IRR. Die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie het die bod in 2005 saam met die Nieu-Seelandse regering ingedien en onder andere beklemtoon dat Nieu-Seeland een van die min lande wêreldwyd is waar rugby die hoofsport is. Nieu-Seeland se bod vir 2011 het planne ingesluit om Edenpark en ander stadions uit te brei en sodoende die kommersiële lewensvatbaarheid van die toernooi te verhoog. Vir Edenpark se opknapping is ook fasiliteite beplan vir ’n moontlike toekomstige Statebondspelebod deur Auckland.

Japan wou die eerste Asiatiese land en daarmee buite die “tradisionele tuiste” van rugby word om ’n rugbywêreldbekertoernooi aan te bied. Al die vorige rugbywêreldbekertoernooie is afwisselend in lande van óf die destydse Drienasiesreeks (nou die Rugbykampioenskap) of die Sesnasiestoernooi gehou. Japan het al oor die nodige infrastruktuur beskik, nadat dié land saam met Suid-Korea as gashere van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 opgetree het. In sy bod het die Japannese Rugbyvoetbalunie ook op Japan se ervaring as gasheer van groot toernooie soos die Olimpiese Somerspele 1964, Olimpiese Winterspele 1972 en Olimpiese Winterspele 1998 verwys. Die Internasionale Rugbyraad was egter van mening dat Japan nie volle stadions sou kon waarborg nie. Japan het later wel die Rugbywêreldbeker 2019 aangebied en kon met ’n 99% bywoning spog, die hoogste in die rugbywêreldbekergeskiedenis.

Suid-Afrika het die Rugbywêreldbeker 1995 gehuisves en voor sy bodindiening die Krieketwêreldbeker 2003 aangebied. Die Suid-Afrikaanse bod vir 2011, gelei deur die voormalige Springbokkaptein Francois Pienaar, het ’n sterk ondersteuning deur die nasionale regering geniet. Intussen is die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 aan Suid-Afrika toegewys. Tydens ’n parlementêre komitee op 19 Januarie 2005 het die South African Rugby Union hulle voorneme aangekondig om stadions van die sokktertoernooi ook tydens die rugbytoernooi een jaar later te gebruik.

Tydens die IRR-raadsvergadering op 17 November 2005 in Dublin is die Rugbywêreldbeker 2011 ná die IRR-inspeksies van elke gasheerland van die botte gedurende Junie en Julie 2005 aan Nieu-Seeland toegeken, bo Japan en Suid-Afrika. Daarmee het dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika en die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië die derde rugbywêreldbekertoernooi geword wat geheel en al in een land aangebied is. Daarbenewens het Nieu-Seeland in terme van bevolking die kleinste land in dié tyd geword wat ’n rugbywêreldbekertoernooi aangebied het. Die koste vir die aanbieding van die toernooi het sowat 310 miljoen NZD beloop. Die inkomste is op sowat 280 miljoen NZD beraam, met die Nieu-Seelandse regering en die Nieu-Seelandse rugbybeheerliggaam wat die tekort vergoed het.

Deelnemers Kwalifisering Die IRR het dit aanvanklik oorweeg om die aantal spanne op 16 nasionale spanne (en daarmee 32 wedstryde) te reduseer, soos dit in 1995 laas die geval was. Die hoofrede was om ’n wanverhouding tussen die spanne met professionele en amateurspelers, waarvan party nie hulle spelers kon betaal nie, te vermy. Die wêreldbeheerliggaam wou ná die Rugbywêreldbeker 2007 oor dié kwessie vergader en het ’n deeglike hersiening van die toernooi aangekondig. In November 2008 is eindelik op 20 deelnemende spanne besluit. Die IRR se verteenwoordigers het agtergekom, dat baie van die spanne wat tydens die 2007-toernooi aanvanklik as “aanvullers” beskou is, die grootste entoesiasme onder die toeskouers ontketen het en dat baie wedstryde nie so eensydig was as wat dit eers gevrees is nie.

Die drie beste spanne in elke groep van die Rugbywêreldbeker 2007 – Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis – het almal regstreeks gekwalifiseer terwyl die res van die spanne moes kwalifiseer tydens ’n reeks kompetisies wat regoor die wêreld gehou is. Sewe van die twintig posisies wat in die toernooi beskikbaar was, is gevul deur streekskwalifiseerders, terwyl die oorblywende posisie deur heruitdunning gevul is. Die kwalifiseringstoernooi is in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Noord-Amerika saam met Suid-Amerika, Asië, Europa en Oseanië. Twee plekke elk is vir die nasionale spanne van die Amerikas en Europa gereserveer en een elk vir Afrika, Asië en Oseanië. Die oorblywende plek is tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte beslis. As die regstreekse klassifiseerders getel word, het 92 spanne in aanmerking gekom vir kwalifisering vir die finale toernooi in Nieu-Seeland.

In Julie 2009 het Kanada as Amerikas 1 gekwalifiseer toe hulle die Verenigde State met ’n algehele telling van 47–30 verslaan het. Een week later is Samoa bevestig as kwalifiseerder van Oseanië as Oseanië 1. Amerikas 2 is in November gevul toe die Verenigde State Uruguay met ’n algehele telling van 54–28 geklop het. In dieselfde maand het Namibië vir sy vierde agtereenvolgende rugbyêreldbekertoernooi gekwalifiseer toe die span Tunisië oor twee seksies geklop het. In Maart 2010 het Georgië as Europa 1 gekwalifiseer en Rusland as Europa 2. Twee maande later het Japan die enigste Asiatiese toekenning gewen. Roemenië het deur heruitdunning gekwalifiseer nadat die span Uruguay met ’n algehele telling van 60–33 geklop het.

Kwalifiserende spanne Die volgende 20 spanne het vir die finale toernooi gekwalifiseer. Rusland, wat Portugal vervang het, is die enigste verandering in die 20-span-lys van die Rugbywêreldbeker 2007.

duimnael|400px|Spanne wat aan die kwalifiseringstoernooi deelgeneem en die wat regstreeks gekwalifiseer het; altesaam 92 spanne het deelgeneem. duimnael|400px|Uitslag van die kwalifisering: