Charlbi Dean Kriek ( SHARL -bee ; 5 Februarie 1990 – 29 Augustus 2022) was 'n Suid-Afrikaanse aktrise en model. Sy was veral bekend vir haar rolle in die Spud-films (2010–2013), die superheld-dramareeks Black Lightning (2018) en die Palme d'Or- wenner, Triangle of Sadness (2022).

Vroeë lewe en loopbaan Kriek is gebore op 5 Februarie 1990 en het in Kaapstad grootgeword. Haar ouers was Joanne Muller en Johan Kriek. Sy het 'n broer, Alex Jacobs, gehad. Sy het op die ouderdom van 6 begin modelwerk doen en in advertensies en katalogusse verskyn. Sy het op 12-jarige ouderdom 'n betrekking by Alfa Model Management aanvaar en van 14-jarige ouderdom tuisonderrig ontvang. Tydens haar loopbaan het sy gereeld rondgerits tussen Kaapstad; waar sy Waterfront Theatre School bygewoon het; en bestemmings soos Tokio, New York en Londen.

In Oktober 2008 het Kriek en medemodel Ashton Schnehage 'n motorongeluk oorleef. Haar beserings het 'n gebreekte pols, vier gebreekte ribbes en 'n ineengestorte long ingesluit. Sy is gehospitaliseer by Medi-Clinic, Milnerton, waar sy lewensbelangrike chirurgie ondergaan het. Sy het ná die ongeluk 'n blaaskans geneem.

In 2010 het Kriek haar rolprentbuiging gemaak as Amanda in die rolprentverwerking van Spud , welke rol sy in die opvolgverhaal Spud 2: The Madness Continues ook gespeel het. Sy het voortgegaan om in die rolprente Don't Sleep in 2017 en An Interview with God in 2018 te speel In dieselfde jaar het sy die rol van Syonide losgeslaan, 'n karakter wat sy tydens twee seisoene van die Arrowverse-reeks Black Lightning vertolk het. In Februarie 2020 is aangekondig dat Kriek by die rolverdeling van Ruben Östlund se satiriese rolprent Triangle of Sadness aangesluit het, wat tydens die 2022 Cannes-rolprentfees vertoon is en die Palme d'Or gewen het.

Persoonlike lewe en dood Kriek was verloof aan 'n mede-Suid-Afrikaanse model genaamd Luke Volker.

Op 29 Augustus 2022 is Dean in 'n hospitaal in New York opgeneem nadat sy olik begin voel het. Haar aanvanklike simptome was lig, maar haar toestand het vinnig versleg, en sy is etlike ure later op 32-jarige ouderdom oorlede. Die finale oorsaak van haar dood is steeds onbekend, hangende die uitslag van 'n lykskouing, alhoewel daar reeds bevind is dat sy 'n virusinfeksie in haar longe gehad het. Haar milt is ná die motorongeluk in 2008 verwyder, wat die risiko van ernstige infeksies verhoog het.

Kriek is kort voor die internasionale vrystelling van Triangle of Sadness oorlede. Peter Bradshaw van The Guardian het geskryf dat “sy ’n ware ster-in-wording was. Haar verlies is 'n groot een ... [sy] het 'n unieke styl en enorme belofte gehad."

Filmografie Film Jaar Film Rol Notas 2010 Spud Amanda 2012 Illusive Fields Nadia Kortfilm 2013 Death Race 3: Inferno Calamity J Spud 2: The Madness Continues Amanda 2016Blood in the water Pheebee 2017Don't Sleep Shawn Edmon 2018An Interview with GodGrace Porthole Jennifer / Kassidy Kubrick 2022Triangle of SadnessYaya

Televisie Jaar TV-reeks Rol Notas2017ElementaryBeautiful WomanEpisode: "High Heat" 2018Black Lightning Syonide Herhalende rol, 9 episodes

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises van die 21ste eeu Kategorie:Afrikaners Kategorie:Sterftes in 2022 Kategorie:Geboortes in 1990