Rudolf Eric Koertzen (26 Maart 1949 – 9 Augustus 2022) was 'n internasionale krieketskeidsregter. Hy was sedert sy jeug 'n krieketentoesias en het aan krieketkompetisies deelgeneem terwyl hy werksaam was by die Suid-Afrikaanse Spoorweg en Hawens. Hy het in 1981 begin optree as skeidsregter, en elf jaar later voltyds as skeidsregter begin optree. Hy het uiteindelik meer as 300 internasionale krieketwedstryde behartig.

Vroeë lewe Koertzen is op 26 Maart 1949 gebore in Knysna, Kaapprovinsie, Suid-Afrika. Hy het as bouler gespeel vir 'n topvlak-krieketklub in Kimberley, Noord-Kaap. Hy was aanvanklik werksaam as spoorwegklerk in Port Elizabeth, voordat hy 'n betrekking ontvang het in die bouindustrie. Hy het in 1981 begin optree as skeidsregter, en elf jaar later in 1992 op 43-jarige ouderdom was hy 'n voltydse skeidsregter. Hy het uiteindelik 331 internasionale krieketwedstryde behartig, die tweede meeste na Aleem Dar.

Skeidsregterloopbaan Koertzen het sy eerste Internasionale eendagwedstryd op 9 Desember 1992 behartig, en sy eerste Toetskrieketwedstryd vanaf 26 tot 29 Desember 1992. Beide wedstryde is tussen Suid-Afrika en Indië in Port Elizabeth gespeel. Dit was die eerste reeks waartydens televisie-herhalings gebruik is om uithardloopkanse te beslis. Hy het in die sportwêreld bekend gestaan as die "stadige vinger van die dood" omdat hy sy vinger baie stadig opgelig het wanneer hy aangedui het dat 'n kolwer uit is. Koertzen het in 1997 'n voltydse skeidsregter van die IKR geword. Hy was een van die oorspronklike lede van die Elitepaneel van IKR-skeidsregters, toe die paneel in 2002 op die been gebring is. Hy het uiteindelik in 'n rekord 209 EDI-wedstryde beslis – en slegs die tweede skeidsregter na David Shepherd geword om meer as 150 EDI-wedstryde te beslis, in die wedstryd tussen Indië en Pakistan in Aboe Dhabi op 19 April 2006. Hy het Shepherd se rekord van 172 EDI-wedstryde verbygesteek toe hy die 2007 wêreldbekerwedstryd tussen Wes-Indië en Engeland in Barbados op 21 April 2007 besleg het. Hy het op 11 Julie 2009 in Dublin in sy 200ste EDI-wedstryd opgetree in die wedstryd tussen Ierland en Kenia. Hy het ook slegs die tweede skeidsregter na Steve Bucknor geword om in 100 toetswedstryde te staan tydens die tweede wedstryd om die As tussen Engeland en Australië by Lord’s op 16 Julie 2009. Hy het uiteindelik 108 toetswedstryde beheer.

Koertzen is gedurende sy loopbaan as skeidsregter aangestel in verskeie hoëprofielwedstryde, insluitende die Indië-Pakistan-reeks, en die reeks om die As (hy was een van die skeidsregters tydens die bekende reeks om die As van 2005). Hy het in die 1999-, 2003- en 2007-Krieketwêreldbekertoernooie opgetree. Hy was ook een van die skeidsregters tydens die eindwedstryde van die Kampioenetrofee in 2004 en 2006, en is gekies om die IKR SuperSeries (Australië v Wêreld XI) in 2005 te besleg, saam met Simon Taufel, Aleem Dar en Darrell Hair.

Koertzen se professionalisme het voorkom dat hy in die moeilikheid beland het tydens 'n paar kontroversiële oomblikke: in September 1999 het hy omkoopgeld geweier om die uitslag van die eindstryd van die Coca-Cola Singapore Challenge tussen die Wes-Indië en Indië te bepaal, en in Januarie 2000 het hy as skeidsregter waargeneem tydens die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland by SuperSport-park in Centurion, waartydens albei spanne 'n kolfbeurt verbeur het om 'n uitslag af te dwing nadat die Suid-Afrikaanse kaptein, Hansie Cronje, deur 'n beroepswedder genader is. Hy is ook hoog aangeslaan deur spelers: in 2002 is hy as die topskeidsregter aangewys, en in 2005 en 2006 benoem vir die IKR-skeidsregter van die jaar-toekenning. Hy het by albei geleenthede derde geëindig agter Taufel en Dar. Hy het egter ook 'n aantal hoëprofielfoute gemaak – veral in die toets tussen Sri Lanka en Engeland in Kandy, Sri Lanka in Maart 2001, en tydens die eindwedstryd van die Krieketwêreldbeker 2007, waartydens sy wanvertolking van die reëls oor swak lig daartoe gelei het dat hy verbied is om waar te neem tydens die eerste T20I-wêreldbekertoernooi wat later die jaar plaasgevind het (alhoewel hy gekies is vir die volgende T20I-wêreldbeker 2009 en T20I-wêreldbeker 2010).

Koertzen het op 4 Junie 2010 sy uittrede aangekondig. Hy het op 9 Junie 2010 in sy laaste EDI-wedstryd tussen Zimbabwe en Sri Lanka in Harare opgetree, en in sy laaste toets vanaf 21 tot 24 Julie 2010, tydens die wedstryd tussen Pakistan en Australië in Leeds.

Dood Koertzen sterf op 9 Augustus 2022 tydens 'n motorongeluk, toe hy op pad terug was na sy gesinswoning in Despatch, Oos-Kaap, na 'n gholfnaweek in Kaapstad. Hy was 73 jaar oud.

Toekennings IKR Brons Dwarsbalkie-prys vir 100 EDI-wedstryde IKR Silwer Dwarsbalkie-prys vir 200 EDI-wedstryde IKR Goue Dwarsbalkie-prys vir 100 toetswedstryde

Koertzen was die eerste skeidsregter om al drie toekennings te ontvang. Slegs Aleem Dar kon sedertdien dié prestasie behaal.

Verwysings

Eksterne skakels

Rudi Koertzen se profiel op ESPNcricinfo

Kategorie:Geboortes in 1949 Kategorie:Sterftes in 2022 Kategorie:Afrikaners Kategorie:Krieketskeidsregters Kategorie:Suid-Afrikaanse krieketspelers