Toks van der Linde (gebore as Albert van der Linde op 30 Desember 1969) is 'n voormalige Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
Spelerloopbaan Van der Linde het in Senekal in die Vrystaat skoolgegaan en die Oos-Vrystaat in 1986 en 1987 by die jaarlikse Cravenweek-toernooi verteenwoordig. Nadat hy skool voltooi het, het hy by die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer en in 1992 sy provinsiale debuut vir Vrystaat gemaak. Van der Linde het ook vir Natal gespeel en daarna na die Westelike Provinsie verhuis. Hy het in 133 wedstryde vir hul gespeel.
Van der Linde het op 12 November 1995 sy toetsdebuut vir die Springbokke teen Italië gemaak in die Stadio Olimpico in Rome. In 1996 het hy saam met die Springbokke na Argentinië, Frankryk en Wallis getoer en in vier van die vyf toetswedstryde gespeel, elke keer as 'n plaasvervanger. Sy volgende en laaste toetswedstryd was vyf jaar later teen Frankryk in Parys. Hy het ook in elf toerwedstryde gespeel en twee drieë vir die Springbokke gedruk.
Van der Linde was voorheen 'n bekende gesig op TV, as ankeraanbieder van die sportgeselsprogram Toks & Tjops op kykNET.
Verwysings
Kategorie:Geboortes in 1969 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Springbokrugbyspelers Kategorie:Stormers rugbyspelers