Het van Verlangekraal is 'n roman geskryf deur Johann Bekker, wat handel oor Het Heiberg, 'n bywoner se dogter, wat aanvanklik bitter selfbejammerende gedragsprobleme toon, maar deur die liefdevolle bearbeiding van haar klasonderwyser Doep (meneer Du Plessis) vir haar medemens begin omgee. Soos die verhaal vorder, draai die verhaal al hoe meer om haar as die twispunt tussen Doep en meneer Erlank se botsende filosofiese benaderings rakende die onderwys en opvoeding. Sowel die skoolhoof as die onderhoof kan mekaar nie vind nie, en omdat 'n onsekere Erlank te trots is om sy fout te erken of bes te gee, kom dit hom duur te staan.
Die roman is verwerk tot 'n rolprent in 1963 (Gee my jou hand). In die vroeë 1980's was dit 'n televisiereeks op SAUK TV met Sally Esterhuizen (néé Campher) in die hoofrol. In 2022 is dit as middagvervolgverhaal op Radio Sonder Grense uitgesaai.
Karakters Het Heiberg – die hoofkarakter wat die meeste en duidelikste ontwikkeling ondergaan. Sy het vaal hare en is in Standerd 5.
Meneer Doep du Plessis – onderhoof, wat 17 jaar lank onderwys gee, maar ook klasonderwyser van die Standerd 5-klas, van so 40 leerlinge. Vroeër waarnemende hoof van Verlangekraal. Die ouers en inspekteurs wou hom as die nuwe hoof gehad het, maar die onderwysdepartement het anders besluit.
Meneer Jan Erlank – skoolhoof wat die jaar vars by Verlangekraal begin.
Oom Christiaan Brits – voorsitter van die skoolkomitee, vriend en raadgewer van Doep. Die skool se voortbestaan is sy absolute erns.
Floors Heiberg – vader van Het.
Anna Heiberg – moeder van Het.
Meneer Redelinghuys – skoolinspekteur wat Doep besonder goedgesind is.
Mart du Plessis – ondersteunende eggenote van Doep; is Het ook baie goedgesind.
Meneer Scheepers – 27-jarige “geharde oujongkêrel” en onderwyser, wat Doep en sy besluite ondersteun.
Doorsie Brits – 'n kind met leerprobleme, en Oom Christiaan is besonder besorg oor hom. Sy seun is 'n Bantoetaal magtig, en sy deelname en Doep se aanslag met die kind in sy klas, dien as ook as klinkklare bewys dat Du Plessis se opvoedkundige filosofie korrek is – naamlik om kinders se selfvertroue te bou, deur te fokus op hul sterkpunte.
Vele ander name van kinders en volwassenes word ook vermeld wat op 'n manier 'n karaktertrek of twee van Het, Doep of meneer Erlank openbaar.
Milieu Verlangekraal se skool en omgewing staan sentraal in die verhaalgegewe. Verlangekraal is iewers geleë in Transvaal (soos onder andere afgelei kan word tydens die woordewisseling tussen Floors en meneer Erlank en Doep; die eerste lentereën ná 'n droë winter, wat beduidend is van 'n somerreënvalstreek; Doorsie se gebruik van die Bantoetaal op die plaas; plekname soos Makok, dat 'n spesiale geleentheid vir skoolkinders gebied word wat nog nooit die see besoek het nie, ens. ) in die 1950’s (die skool is kort na die Tweede Vryheidsoorlog gebou, en staan al 50 jaar; ook die geldstelsel is nog Britse pennies, sjielings en ponde, wat voor 1961 moet wees).
Intrige
Hoofstuk 1 Oom Christiaan Brits kom bedank Doep omdat sy seun, Doorsie, in sy klas ingedeel is. Brits wil uitvind hoe die nuwe hoof is. Doep sê heel diplomaties hy ken hom al 'n week, en van sien is hy beslis, netjies, deeglik en streng.
Oom Christiaan vind dit wel jammer dat die Departement nie op die skoolkomitee se aanbeveling ag geslaan het nie. Doep het die vorige jaar as hoof waargeneem en het gewys wat in hom steek. Niemand ken dié nuwe vreemdeling nie.
Doep vertrou egter dat die Departement nie 'n swak man sou aangestel het nie. Die tyd sal wel leer hoe hy met die onderwysers en die kinders oor die weg kom.
Doep word deur Erlank, nog vars in die tuig, meegedeel van 'n brief van ene mevrou Potgieter wat kla dat haar dogter, Mathilda, deur Het Heiberg getreiter word. Die kind is nou bang om skool toe te kom.
Doep skets net in die breë Het se agtergrond, dat daar niks met haar intelligensie kortkom nie, maar dat haar sosiale vorming en emosionele ontwikkeling nie tred gehou het met haar verstandelike ontwikkeling nie. Sy is 'n probleemkind wat die gevaar loop dat sy op die ou einde so gaan ontaard dat die hulp van die Departement se sielkundige diens ingeroep gaan word. Haar gedrag en houding kan wel verbeter, mits sy deur die regte hantering en haar huislike omstandighede verbeter word.
Op Erlank se vraag, word geantwoord Het is al drie jaar in die skool op Verlangekraal.
Erlank is glad nie veel beïndruk dat hul niks die afgelope drie jaar kon vermag het nie. Doep het glad nie van die hoof se toon gehou nie en wys op die 40 tot 35 kinders per klas, maar bowenal dat wat mens in die skool probeer regmaak, weer tuis ongedaan gemaak word. Doep is wel bereid om, in Het se geval, omdat sy in Doep se klas is, meer aandag aan haar te gee.
Erlank laat roep Het. Hy sal, in sy eie woorde “hierdie dogtertjie so gou soos nou mak hê”. Al klink die hoof hoe selfversekerd, selfgenoegsaam, selfvoldaan en selftevrede, twyfel Doep baie sterk of sy benadering van “dissipline” met Het sal werk.
Blykbaar sukkel Mathilda altyd met Het se boeties en sussies, sy koggel hulle uit oor hul arm is, vertel Het. Tranerig breek sy die mooiste glimlag deur, wat die nuwe hoof se hart skoon vermurwe. 'n Gesig wat Doep alte goed ken. Erlank laat Het met 'n waarskuwing gaan.
Vir Erlank was die probleem nie te moeilik nie. Doep lag oor die naïwiteit van die hoof, en sê Het het bloot haar sin gekry: naamlik dat die saak nie opgelos is nie en tans bloot in die lug bly hang. Ook is Mathilda Potgieter nie ingeroep om haar kant van die saak te stel nie.
Volgens Erlank is sy eie mensekennis goed genoeg; met een oogopslag weet hy Het praat die waarheid, dat sy deur mense vertrap en verskop is, en sommer ook dat Mathilda Potgieter 'n bedorwe brokkie is. Hy het Het laat gaan met 'n waarskuwing. En hy glo “sy en ek het mekaar uit die staanspoor uit gevind.”
Doep bly oor die aangeleentheid lag, ongeag die wenresepte wat Erlank kwytraak oor liefde en beslistheid.
Hoofstuk 2 Doep is daarvan bewus dat Het Heiberg se gedrag op sy allerbeste is in die eerste kwartaal. Op die atletiekbaan is sy dan die heldin, en die puik prestasies laat haar 'n oomblik vergeet van haar minderwaardigheidsgevoel. Ná afloop van die atletiekseisoen versleg haar gedrag aansienlik, net om tydens die korfbalseisoen 'n plato te bereik; daarna daal die kurwe op die spreekwoordelike gedragsgrafiek baie skerp; teen die jaareinde is dit power.
Erlank vryf egter nou Het se goeie gedrag onder die onderhoof se neus, onwetend van die neiging wat hom gaan herhaal in die toekoms.
Die leser raak ook bewus van die wedywering tussen die vyf skole, en die interne politiek. Riaslaagte is die grootste skool, en sluk, deur sy hoë inskrywing en prestasies al hoe meer kleiner skole in. Dit gaan dus hier ook oor die heil van Verlangekraal. Verlangekraal loop die gevaar dat een van die busroetes afgeskaf word, wat in Riaslaagte se guns tel.
Het wen die afloswedstryd net-net. En die puntetelling is een punt voor in Verlangekraal se guns. Floors Heiberg is ook daar met sy wynasem, en het nou net komplimente vir sy dogter en spog by almal; hy sal haar nie vir 'n honderd pond verkoop nie. Verlangekraal wen ook die toutrek, danksy Doorsie.
En wéér vryf Erlank die sukses van Het onder Doep se neus. Doep verstaan nie hierdie teenstand wat tussen hom en die hoof aan die ontwikkel is nie: draai dit alles regtig net omdat die een in strengheid glo, en hý, Doep, in liefde en begrip?
Hoofstuk 3 Het se gedrag bly oor die algemeen onberispelik, soos Doep voorspel het, en Erlank vind dit so omdat hy, as buitestaander, 'n “objektiewe waarnemer”, sonder vooroordeel kyk, en omdat hy sy vertroue in haar gestel het. Hy behandel haar streng, maar met liefde.
Doep glo Erlank is gans te optimisties; haar sportprestasies voed haar selfvertroue. Sodra die glans verdwyn, en haar huislike omstandighede en die spot van die kinders (soos sy dit ervaar) weer die botoon voer, dan kom die dierlike in haar weer uit. Sagte hande maak stinkende wonde: dit help nie, soos Doep stel, mens smeer net salfies aan nie, daar moet tot by die sweer gedelf word. Maar aan Erlank is daar geen salf te smeer nie.
Maryna is daarvan beskuldig, deur Het, dat sy Het se poppie gesteel het. Albei se broers en susters beaam dat hul suster 'n soortgelyke pop gehad het. Maryna, sagmoedig, toeskietlik en moederlik wat sy is, met 'n jammer hart vir sukkelaars, gee maar bes.
Doep wil later by Het 'n tweede maal weet waar sy die poppie gekry het. By haar niggie wat op Verloredal skoolgaan. Doep skakel daar en dan meneer Hennop van Verloredal en Ansie Niemand word oordeelkundige vrae gestel. Dit was toe heeltyd Het wat die poppie by Maryna gesteel het, en toe is dit maar “aanval is die beste verweer”.
Het voer aan sy het niks nie, haar pa sê altyd hoe sy die “slegste dêm kind” is wat lewe, sy wil goed wees, maar as sy haar kon kry, doen sy iets slegs. Doep wys weer dat alle diewe so redeneer – sy is tog in heelwat opsigte ryk: sy het boeties en sussies om mee te speel, sy geniet goeie gesondheid en sy is 'n atleet wat die skool se trots is.
Aanvanklik is Doep nie lus om Het se wandaad aan Erlank te noem nie, maar toe die hoof Maryna Stander vergelyk met Agab wat Nabot se enigste wingerd begeer het, sê Doep Maryna was die verontregte. Erlank is woedend nadat hy die waarheid later uit Het se eie mond gehoor het. Het bied natuurlik aan om die poppie terug te gee, maar vir Erlank is dit darem te maklik. As straf, omdat hy nie lyfstraf kan toedien aan 'n dogter nie, moet Het eenduisend keer uitskryf “Ek moet my hande van ander se goed afhou.” Pouses is vir haar tot die einde van die daaropvolgende week verbode.
Erlank het, volgens Doep, nie begryp nie, en om te begryp is om te vergewe. Daar is van geen vergifnis sprake nie.
Maryna het nietemin vir Het die poppie agterna terug as geskenk gegee, as vertroosting.
Hoofstuk 4 Die hoofstuk toon weer Erlank se wanbegrip. 'n Grietjie Swiegers in graad 1, wou sonder toestemming ( 'n vrywaringsbriefie geskryf deur die ouer) winkel toe gaan. Haar mamma was die oggend te besig om 'n brief skryf, maar sy het darem 'n trippens vir die lekkergoed gekry as bewyse. Sy wou toe by Doep weet waarom sy nie winkels toe mag gaan nie, sy het mos die tiekie. Doep verduidelik vir die kind baie mooi van die gevare van motors, en Grietjie vra toe of die onderwyser dan nie maar vir haar die lekkergoed kan gaan koop nie, as dit dan verbode is. Maar hand aan hand is hulle twee oor die pad, en Grietjie het ook een lekker vir Doep gegee, uit dank.
By die hoor van die nuus in die personeelkamer, is die briefie vir Erlank 'n onontbeerlike saak, want dit vrywaar die skool van verantwoordelikheid in geval van 'n ongeluk.
Doep kan nie insien hoe 'n brief 'n kind se veiligheid kan verseker nie; en Doep self was nou die briefie, omdat hy haar vergesel het.
In die klas is Het maar nors oor haar opgelegde straf. Om haar van haar venyn te laat ontslae raak, bied hy Het die kans om haar gedig eerste op te sê, want gewoonlik leef sy haar intens in haar voordrag in. Maar nou is dit sonder vuur en passie.
Het vra ná afloop van haar snedige opmerking in die Aardrykskundeklas teenoor 'n klasmaat of sy die klas kan verlaat. Sy bly besonder lank weg, en toe sy terugkeer, is daar 'n vonkeling in haar oë.
'n Vrugtekassie se plank met 'n spyker na bo, is begrawe reg by die hoof se voertuig se agterwiel. Die band sou eenvoudig net moes begin lek het. Die busbestuurder, Oelofse, het haar doen en late opgemerk en aan die hoof gerapporteer. Vir Erlank het hul hier met 'n geharde jeugmisdadiger te doen.
Erlank laat Het se pa haal. Dié daag soos 'n verskrikte muisie op. Volgens Doep sou dieselfde pa wat nie sy dogter vir “honderd pond” sou verkoop nie, haar nou vir 'n sikspens laat gaan. Floors se verweer oor sy kind se gedrag is dat hy 'n sieklike mens is; sy dogter is van die duiwel besete.