Die seekoei (Hippopotamus amphibius) is 'n groot, oorwegend plantetende Afrika-soogdier, een van slegs twee bestaande spesies in die familie Hippopotamidae (vanaf Grieks: ἱπποπόταμος hippopotamos, waar hippos "perd" en potamos "rivier" beteken). Die naam "seekoei" was reeds by die Nederlandse volksplanting in Suid-Afrika deel van die Koloniaal-Nederlandse taalskat, soos opgeneem in die Daghregister van Jan van Riebeeck etymologiebank.nl s.v. zeekoe (as zeekoe op 26 Oktober 1652) en die Duitse snydokter Johann Schreyer se reisverhaal, Neue Ost-Indianische Reisz-Beschreibung (1681). bl. 80 Das Wasser-Pferd / welches hier unrecht eine Seekuh genennet wird / ist auch ein sehr groß und schweres Thier... Die ander spesie is die dwergseekoei.

Die seekoei is halfwaterliewend en woon in groepe van vyf tot veertig diere in riviere en mere in Afrika suid van die Sahara. Bedags verkoel hy homself deur in die water of modder te bly. Voortplanting en geboorte gebeur ook hier; met territoriale bulle wat waghou oor hulle stukkie water. Die diere verskyn teen skemer aan wal om gras te vreet. Hoewel groepsverband en -gebied in die water geld, wei seekoeie alleen op land, sonder beskerming van grondgebied.

Alhoewel hulle op varke en ander gelyktonige hoefdiere lyk, is hul naaste bestaande familie die setaseë (walvisagtiges, soos tornyne, bruinvisse, walvisse, ensovoorts). Die gedeelde voorvader van die walvisse en seekoeie het ongeveer sestig miljoen jaar gelede van die ander gelyktonige hoefdiere afgeskei. Die vroegste bekende seeikoeifossiele, van die genus Kenyapotamus in Afrika, dateer terug na ongeveer 16 miljoen jaar gelede.

Die seekoei is herkenbaar aan sy vaatjievormige borskas, enorme bek en tande, haarlose liggaam, stompiebene en geweldige grootte. Dit is ongeveer dieselfde grootte as die witrenoster; slegs olifante is deurgaans swaarder. Ten spyte van die bonkige vorm en kort bene kan 'n seekoei maklik vir 'n mens weghardloop (of stormloop). Teen kort afstande is 'n snelheid van 48 km per uur aangeteken, veel vinniger as 'n olimpiese naelloper. Die seekoei word beskou as Afrika se gevaarlikste soogdier en is van die wêreld se aggressiefste diere. Daar is nog 'n geskatte 125 000 tot 150 000 seekoeie regdeur Afrika (suid van die Sahara) oor, met die grootste bevolkings in Zambië (40 000) en Tanzanië (20 000–30 000). Hulle bly bedreig as gevolg van wildstropery, vir hul vleis en ivoorslagtande, en as gevolg van die verlies van hul habitat. Hulle word deur die IUBN geklassifiseer as 'n kwesbare spesie.

Taksonomie en oorspronge duimnael|links|'n Seekoei in die ISimangaliso-vleilandpark, Suid-Afrika Seekoeie is kuddediere, en leef in groepe van tot veertig diere saam; so 'n groep word 'n trop genoem. 'n Manlike seekoei staan as "bul" bekend, 'n vroulike dier as 'n "koei" en 'n kleintjie as 'n "kalf".

Die seekoei is die voorbeeldgenus van die familie "Hippopotamidae". Die dwergseekoei is van 'n ander genus, óf Choeropsis óf Hexaprotodon. Sommige taksonome groepeer die seekoei en die anthracotheres of "steenkoolgediertes" ('n familie uitgestorwe seekoei-agtige hoefdiere) saam in die superfamilie Anthracotheroidea of Hippopotamoidea.

Daar blyk vyf subspesies van seekoeie te bestaan, wat onderskei word deur die morfologiese verskille tussen hulle skedels en die geografiese verskille tussen hulle habitats. H. a. amphibius – (die benoemde subspesie) wat voorkom of voorgekom het vanaf Egipte, waar hulle tans uitgesterf is, af met die Nylrivier langs tot by Tanzanië en Mosambiek. H. a. kiboko – wat voorkom in die Horing van Afrika, in Kenia en Somalië. Kiboko is die Swahili-woord vir seekoei. Hulle het breër neusvleuels en 'n holler gebied tussen die oogkaste. H. a. capensis – wat voorkom vanaf Zambië tot by Suid-Afrika. Hulle het die platste skedel van die spesie. H. a. tschadensis – wat dwarsdeur Wes-Afrika tot by, soos die naam suggereer, Tsjad voorkom. Hulle het 'n gering korter en wyer gesig, met prominente oogkaste. H. a. constrictus – wat voorkom in Angola, die suidelike gedeelte van die Demokratiese Republiek van die Kongo en Namibië. Hulle is vernoem na die dieper vernouing reg voor die oogkas.

Hierdie voorgestelde subspesiebenaming is nog nooit wyd gebruik nie of bekragtig deur bioloë wat op grondvlak daarmee werk nie; die morfologiese verskille soos beskryf is só klein dat dit die resultaat kan wees van eenvoudige verskille in onverteenwoordigende monsters. Daar is egter nou genetiese analise op die voorkoms van drie van hierdie beweerde subspesies gedoen. In 'n studie wat die mitokondriale DNS van velbiopsies vanuit 13 verskillende steekproefnemingsplekke ondersoek het, is die genetiese diversiteit en struktuur tussen seekoeibevolkings dwarsoor die kontinent oorweeg. Die skrywers van die studie het lae, maar statisties betekenisvolle genetiese differensiasie gevind tussen H. a. amphibius, H. a. capensis, en H. a. kiboko. H.a.constrictus en H.a.tschadensis is nie soortgelyk ondersoek nie.

Klassifikasie duimnael|Die skedel van 'n seekoei. Let op die groot slagtande wat gebruik word om te veg Seekoeie word tesame met ander gelyktonige hoefdiere geklassifiseer tot die orde Artiodactyla. Ander lede van hierdie orde sluit kamele, beeste, takbokke en varke in, alhoewel die seekoeie nie naby verwant is aan die ander spesies nie. (Die ou Grieke het die seekoei as verwant aan die perd beskou.) Tot en met 1985 het natuurkenners die seekoei geskakel met die vark, omdat hulle soortgelyke kiestandpatrone het. Nuwe getuienis, aanvanklik eers vanaf bloedproteïene en toe vanaf die gebied van molekulêre filogenie (die bestudering van molekules om 'n dier se evolusionele verwantskappe te identifiseer) DNS en die fossielgeskiedenis toon aan dat die seekoei se naaste bestaande verwantskap met die setaseë (walvisagtiges) is. Seekoeie het meer in gemeen met die walvis as met ander gelyktonige hoefdiere soos die vark, omdat die gesamentlike voorvader van die seekoei en die walvis afgeskei het van die herkouers en die ander gelyktonige hoefdiere. Alhoewel die twee dus mekaar se naaste bestaande naasverwante is, het hul stamlyne van mekaar afgeskei kort nadat hulle gesamentlike voorvader van die res van die gelyktonige hoefdiere afgeskei het.

Evolusie duimnael|links|Anthracotherium magnus en Elomeryx armatus, twee "steenkoolgediertes" (na aanleiding van die steenkoollaag waarin fossieloorblyfsels gevind is) van die Oligoseen-era het reeds ooreenkomste met die hedendaagse seekoei gehad Die mees onlangse teorie aangaande die oorsprong van die seekoeifamilie postuleer dat seekoeie en walvisse 'n gemeenskaplike halfwaterliewende voorsaat gehad het wat ongeveer 60 miljoen jaar gelede afgeskei het van die ander gelyktonige hoefdiere. Hierdie veronderstelde voorsaat het waarskynlik ongeveer 54 miljoen jaar gelede in twee verskillende takke vertak. Een vertakking sou ontwikkel in setaseë en het waarskynlik ongeveer 52 miljoen jaar gelede begin met die eerste oerwalvis, die Pakicetus, asook ander vroeë walvisvoorsate, bekend as die "Archaeoceti", wat op sy beurt uiteindelik sodanig by water aangepas het dat die setaseë feitlik volledig-waterliewend geword het.

Die ander vertakking het die "anthracotheriidae" geword, 'n groot familie diere met vier pote, waarvan die vroegste, gedurende die laat-Eoseen-epog, sou gelyk het na maer seekoeie met relatief klein, nou koppe. Al die vertakkings van die "anthracotheriidae", behalwe die seekoei, het uitgesterf sonder om nasate voort te bring.

'n Rowwe evolusie kan egter nagespoor word vanaf die Eoseen- en Oligoseenspesies, Anthracotherium en Elomeryx, na die Mioseen-"steenkooldiere" Merycopotamus ("rivierherkouer") en Libycosaurus ("akkedis van Libië"). Merycopotamus, Libycosaurus en al die ander seekoeiagtiges het waarskynlik 'n enkele voorvader gehad en Libycosaurus was die naaste verwant aan die seekoei. Hul voorsaat sou ongeveer 20 miljoen jaar gelede in die Mioseen-epog geleef het. Die laaste "steenkooldier"-spesie het tydens die Plioseen-epog uitgesterf. Die seekoeigroep is dus diep binne-in die familie Anthracotheriidae ingebed. Die oudsbekende seekoeiagtige dier is die genus Kenyapotamus wat 16 tot 8 miljoen jaar gelede in Afrika voorgekom het. Dié seekoei het waarskynlik in Afrika ontspring en alhoewel die spesie op een tydstip verspreid oor Asië en Europa voorgekom het, is daar nog nooit enige seekoeioorblyfsels in die Amerikas ontdek nie. ('n Hele paar steenkoolgedierte-genera het wel na Noord-Amerika geëmigreer tydens die vroeë Oligoseen-epog.) 'n Voorsaat van die hedendaagse seekoei, die Archaeopotamus, het ongeveer 7,5 tot 1,8 miljoen jaar gelede in Afrika en die Midde-Ooste voorgekom.

Alhoewel die fossielrekord van die seekoei nog nie duidelik is nie, het die twee hedendaagse genera Hippopotamus en Choeropsis (Grieks: "varkagtig") (soms bekend as Hexaprotodon) (Grieks: "ses voortande") dalk so lank gelede as 8 miljoen jaar gelede uiteengeloop.

Uitgestorwe spesies duimnael|Hippopotamus gorgops ("Gorgoonse oog-rivierperd") het besondere hoë oogkaste gehad. Hulle het in Europa voorgekom, maar het uitgesterf voor die laaste Ystydperk Tot drie spesies van die Malgassiese seekoei het op Madagaskar uitgestorwe geraak gedurende die Holoseen-epog, waarvan een binne die laaste millennium. Die Malgassiese seekoei was kleiner as die hedendaagse seekoei, waarskynlik as gevolg van insulêre dwerggroei (die proses en toestand van grootteverkleining van groot soogdiere wanneer die geenpoel beperk is tot 'n baie klein omgewing, soos 'n eiland.) Fossielgetuienis bewys dat vele van die Malgassiese seekoeie gejag is deur die mens en dat dit waarskynlik 'n rol gespeel het in hul uiteindelike uitsterwing. In 1976 het inwoners van 'n dorpie in Madagaskar 'n lewende dier beskryf wat 'n Malgassiese seekoei kon wees; geïsoleerde diere van die spesies oorleef dus dalk nog in afgeleë plekke op die eiland.

Twee ander spesies seekoei, die "Europese seekoei" (H. antiquus) en die Hippopotamus gorgops, het dwarsdeur kontinentale Europa en die Britse Eilande voorgekom. Altwee spesies het voor die laaste Ystydperk uitgesterf. Voorsate van die Europese seekoei het op talle eilande van die Mediterreense See beland tydens die Pleistoseen-epog en insulêre dwerggroei ondergaan. PDF fulltext Petronio, C. (1995): Note on the taxonomy of Pleistocene hippopotamuses. Ibex 3: 53–55.

Dié dwergseekoeie was te vind op Kreta ("Hippopotamus creutzburgi"), Siprus, (H. minor), Malta (H. melitensis) en Sisilië (H. pentlandi). Die dwergseekoei van Siprus het die langste oorleef, tot die einde van die Pleistoseen- of vroeë Holoseen-epog. Die argeologiese bevindings van die opgrawings by "Aetokremnos" op Kreta veroorsaak steeds volgehoue debat of die spesie die mens raakgeloop het en of die mens tot hul uitsterwing bygedra het.

Beskrywing duimnael|links|'n Seekoei in Lissabon se dieretuin Seekoeie is van die grootste bestaande soogdiere in die wêreld. Omdat hulle so enorm groot is, is dit moeilik om seekoeie in die natuur te weeg. Die meeste massaskattings spruit vanaf uitskietveldtogte wat in die 1960s plaasgevind het. Die gemiddelde massa vir bulle is tussen 1500–1800 kg. Koeie is kleiner as bulle, met 'n gemiddelde massa van tussen 1300–1500 kg. Ouer bulle weeg nog swaarder, met massas van 3200 kg en soms 3600 kg.http://whozoo.org/Intro98/herrick/sethherr.htm Seekoeibulle hou aan met groei dwarsdeur hul lewens, terwyl koeie hul maksimum massa teen ouderdom 25 bereik.

Die lengte van seekoeie is gemiddeld 3,5 meter en hulle het 'n skouerhoogte van 1,5 meter. Die reikwydte van seekoeigroottes oorvleuel met dié van die witrenoster en aangesien verskillende metingstelsels gebruik word, is dit nie duidelik watter een van die twee die naasgrootste landdier (ná die olifant) is nie. Ten spyte van hul grootte kan seekoeie vir 'n paar honderd meter lank snelhede van tussen 30 km/uur tot 50 km/uur bereik.

duimnael|links|'n Seekoeibul op land in die Ngorongoro-krater, Tanzanië