Die Centurion was die hooftenk van die Britse Leër na die Tweede Wêreldoorlog. Dit is in diens gestel in 1945 en word allerweë beskou as die beste na-oorlogse tenkontwerp en was geproduseer tot in die 1960's. Die tenk het in die voorste linies gedien tot in die 1980's. Die onderstel was aangepas om in verskeie ander rolle aangewend te word en van dié voertuie is nog steeds in gebruik. Dit was 'n baie goeie tenk, goed gepantser, beweeglik en toegerus met 'n bruikbare kanon.
Die ontwikkeling van die Centurion het in 1943 en produksie in Januarie 1945 begin. Daar is ses prototipes in België afgelewer minder as 'n maand nadat die oorlog in Europa in Mei 1945 beëindig is. Die Centurion is vir die eerste keer in oorlogvoering deur die Britse Leër in die Koreaanse oorlog in 1950 gebruik waar dit deel van VN-magte was. Dit is ook later in die Indies-Pakistanse Oorlog van 1965 gebruik waar dit teen die VSA-verskafde M47 Patton en M48 Patton-tenks te staan gekom het. Dit is deur die Koninklike Australiese Pantserkorps in die Viëtnamoorlog gebruik.
Die Israeli-magte het die Centurion tydens die Sesdaagse Oorlog in 1967, die Jom Kippoeroorlog, in 1973, die Libanonkonflik in 1978 en die Libanonoorlog in 1982 gebruik. Hulle het ook veranderde Centurions as troepedraers gebruik in Gasa, die Wesoewer en op die Libanese grens. Die Koninklike Jordaniese Landmagte het Centurions gebruik, eerstens in 1970 teen Sirië se indringingmagte gedurende die Swart September gebeure en later op die Golanhoogland in 1973. Die Suid-Afrikaanse Weermag het Centurions ontplooi in Angola tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog in die 1980's, waar dit as die Olifant bekend gestaan het.
Die Centurion het een van die mees gebruikte tenks geword, dit is deur dosyne weermagte wêreldwyd gebruik met sommiges wat in die 1990's nog steeds in gebruik was. So onlangs as die 2006 Israeli-Libanonkonflik het die Israelse Weermag gemodifiseerde Centurions gebruik as pantsertroepedraers en geniekorpsvoertuie.
Die Suid-Afrikaanse Weermag gebruik tans nog oor die 200 Centurions, wat hulle in die 1980's en 2000's gemoderniseer en dit as die Olifant bemark het.
Tussen 1946 en 1962 is 4 423 Centurion tenks gebou, wat uit dertien basismodelle en verskeie variante bestaan het. Die Britse Leër het hulle tenks vervang met die Chieftain.
Ontwikkeling In 1943 het die Direktoraat van Tenkontwerp, onder bevel van Sir Claude Gibb, opdrag gekry om 'n nuwe swaartenk te ontwerp op versoek van Generale Staf Memorandum A41. Na 'n reeks middelmatige ontwerpe in die A-reeks en die besef wat die bedreiging van die Duitse 88mm kanonne inhou, het die Oorlogskantoor versoek dat die ontwerpe hersien moet word. Meer spesifiek, uithouvermoë en betroubaarheid, die vermoë om voltreffers van die Duitse 88mm-kanon te weerstaan en groter beskerming teen landmyne was die grootste vereistes.
Aanvanklik, in September 1943, was die vereiste dat die A41 nie meer as 40 langton moes weeg nie; dit was die beperking van die bestaande Merk I en Merk II vervoersleepwaens asook diė van 'n Baileybrug met 'n spanlengte van 24 m. Die Britse spoorweglaaimaat het bepaal dat die wydte nie meer as 3,25 m en die optimum wydte nie meer as 3,12 m. moet wees nie, maar belangrik is die feit dat dié beperkings vir tenks deur die Oorlogskantoor, onder druk van die Direktoraat van Tenkontwerp, opgehef is. 'n Hoë topsnelhied was nie 'n vereiste nie, terwyl beweeglikheid dié van die Comettenk moes ewenaar. 'n Hoë trusnelheid was 'n vereiste, na aanleiding van die insident in Suid-Italië, toe Geallieerde tenks in nou versonke paaie vasgekeer is deur die Duitse Leër. Die veranderde ratkas het oor 'n tweespoedfasiliteit beskik, met die hoër trurat wat gelyk aan tweede rat was.
Die Departement van Tenkontwerp het die romp verleng deur 'n sesde wiel by te voeg in die bestaande 5-wiellangstrek Christie-suspensie, soos gebruik is op die Comet, en die ruimte tussen die tweede en derde wiele te vergroot. Die Christie-suspensie, met vertikale spiraalvere tussen die kantpantserplate, is vervang met Horstmann-suspensie met drie horisontale vere, en eksterngemonteerde dubbelboegie aan elke kant. Die Horstmann ontwerp het nie dieselfde rykwaliteit gebied as die Christie-stelsel nie maar was kleiner en makliker om te onderhou. In geval van skade deur landmyne kon individuele suspensie- en wieleenhede maklik vervang word. Die romp is herontwerp met gesweiste, skuins pantser en 'n skiettoring wat gedeeltelik gegiet was en toegerus met die kwaliteit 76.2 mm kanon as die primêre wapen en 'n 20 mm Polsten kanon links daarvan. Dit is toegerus met 'n Rolls-Royce Meteor-enjin, soos gebruik in die Comet en Cromwell-tenks. Die hele nuwe ontwerp het uitstekend vertoon.
Die ontwerpbeperkings is egter verslap nog voordat die konsepspesifikasie van die A41 vrygestel is gedurende Oktober 1943 en die massabeperking was verhoog van 40 na 45 langton omrede die pantserbehoefte groter was en die skiettoring ook wyer was (die tenk kon gevolglik nie per trein vervoer word nie) om 'n kragtiger kanon te kon huisves. Die nuwe weergawe se pantser was gelykstaande aan dié van die swaarste infanterietenk, terwyl verbeterde suspensie en enjins die veldryvermoë van die tenk aansienlik verbeter het. Dit was selfs beter as dié van die vroeëre kruisertenks. Die Oorlogskantoor het ook besluit dat dit beter sal wees om nuwe sleepwaens te ontwikkel eerder as om 'n oënskynlike goeie ontwerp te verswak. Die historikus David Fletcher het die bewering gemaak: "Maar was die Centurion, na alles, 'n universele tenk? Die antwoord is ongetwyfeld nee".Associated Equipment Company het in Mei 1944 'n grootskaalmodel beskikbaar gemaak. Daarna is twintig proefeenhede bestel met 'n verskeidenheid wapenkombinasies: tien met 'n 17-pond kanon en 'n 20 mm Polsten masjiengeweer toegerus is (met die helfte met Besa masjiengewere op die agterkant van die skiettoring en halwe ontsnapdeur), vyf met 'n 17-pond kanon, 'n Besa-masjiengeweer wat verder vorentoe is en 'n ontsnapdeur en vyf met 'n QF 77 mm kanon en masjiengeweer in die romp wat deur die drywer beheer word.Norman, p. 2.
Die prototipes van die oorspronklike 40-ton ontwerp, die Centurion-Merk I, het 76 mm pantser aan die voorkant gehad; wat dunner was as die 101 mm pantser van die Churchill of die 152 mm van die Churchill Mk VII en VIII infanterietenks wat ook op daardie stadium in produksie was. Die voorkant van die Centurion het 'n steil helling gehad wat die effektiewe dikte van die pantser verhoog het. Dit was soortgelyk aan die hellings van die Duitse Panther-tenk en die Sowjet T-34 tenk. Die skiettoring se pantser was 152 mm dik. Die tenk was beweegliker en ratser as die Comet-tenk. Die verbeterde Centurion Merk II model het kort daarna verskyn, die voorste pantser was 118 mm en die pantser aan die kante en agterkant is vergroot van 38 mm na 51 mm. Net 'n klein aantal Merk I Centurions is gebou, die meeste is op die produksielyn na Merk II opgegradeer. Daar is met volle produksie in November 1945 begin by aanlegte van Leyland Motors, Lancashire, Leeds, Royal Arsenal en Vickers te Elswick nadat 'n bestelling vir 800 eenhede ontvang is. Die Centurion is in Desember 1946 in diens gestel nadat die 5de Koninklike Tenkregiment reeds van die tenks ontvang het.
duimnael|Centurion Mk 3 te Eastbourne Redoubt Kort nadat die Centurion in diens gestel is, het die Royal Ordnance hul 84 mm kaliber (20-ponder) tenkkanon voltooi. Op hierdie stadium was die bruikbaarheid van die 20 mm Polsten-masjiengeweer ook in twyfel getrek, die kaliber was te groot vir gebruik teen troepe en is vervang met 'n Besa-masjiengeweer in 'n eenstuk-gegote skiettoring. Die nuwe Centurion Merk III het ook oor 'n ten volle outomatiese stabiliseerstelsel vir die masjiengeweer beskik. Dit het die masjiengeweer veel akkurater gemaak terwyl die tenk beweeg het, wat sy vermoë op die slagveld aansienlik verbeter het. Produksie van die Merk III het in 1948 begin. Die Merk III se vermoë was soveel beter dat die Merk I en II's onttrek is sodra die Merk III beskikbaar was. Die ouer tenks is omgeskakel na Centurion gepantserde herwinningsvoertuie Merk I vir gebruik deur die geniekorps of opgradeer na die Merk III-standaard. Ander verbeteringe aan die Merk III was 'n kragtiger enjin, verbeterde versier en 'n stabiliseerder vir die kanon.
Die 20-ponder kanon is in 1959 deur die 105 mm L7 kanon vervang. Alle latere weergawes van die Centurion, vanaf Merk 5/2, is met die L7 toegerus.
Die ontwerp van die Merk 7 is in 1953 voltooi en daar is net daarna met produksie begin. Een van die nadele van die vroeëre weergawes was die beperkte togafstand van 105 km op harde paaie; om die probleem te bowe te kom is eksterne tenks aangeheg en later is 'n eenwielsleepwa gebruik. Die Merk 7 het egter oor 'n derde tenk in die romp beskik wat dit 'n togafstand van 163 km gegee het. Dit was ook moontlik om die Centurion op Europese spoorweë te vervoer weens hulle breër spoorwydte. duimnael|Nederlandse Centurions op 'n pad in 1963, met 'n eenwiel sleepwa.
Die Centurion is ook gebruik as die basis vir 'n reeks spesialiteitstoerusting, insluitende gevegsingenieurs variante met 'n 165 mm kanon vir die Royal Engineers-pantservoertuig (REPV). Die ontwerp van die tenk het die langste gedien, dit was gebruik as die gevegstenk vir die Britse Leër en Australiese Weermag vanaf die Korea-oorlog (1950–1953) tot die Viëtnamoorlog (1961–1972) en was ook gebruik as 'n REPV gedurende Operasie Desert Storm in Januarie-Februarie 1991.
Operasionele rekord Korea-oorlog Op 14 November 1950 het die 8th King's Royal Irish Hussars van die Britse Leër, toegerus met drie eskaders van Centurion Mk 3 tenks, in Pusan, Suid-Korea geland. Die Centurion het sy eerste tenk vernietig in Busan toe dit 'n Noord-Koreaanse Cromwell tenk buite aksie gestel het. Die tenks is in sub-zero temperature gebruik en die 8th Hussars moes daarby aanpas. Die tenks is oornag op strooi parkeer om te verhoed dat die staal rusperbande aan die grond vasvries. Die enjin moes elke 30 minute aangeskakel word en dan moes elke rat geskakel word om te verhoed dat dit vasvries. Gedurende die Slag van Imjinrivier het die Centurions blywende roem verwerf toe hulle die onttrekking van die 29ste Brigade gedek het met slegs vyf tenks wat uit aksie gestel is. Dié vyf tenks is later herwin en herstel. Gedurende 1952 het Centurions van die 5th Royal Inniskilling Dragoon Guards deelgeneem aan die Tweede Slag van die Hook waar hulle 'n beduidende rol gespeel het om Chinese aanvalle af te weer. Centurions van die 1ste Koninklike Tenkregiment het aan die Derde Slag van die Hook deelgeneem en aanvalle van die Volksbevrydingsleër afgeslaan. Hulle het in 1953 ook aan die Slag van Samichonrivier deelgeneem. In 'n huldeblyk aan die 8th Hussars het generaal John O'Daniel, bevelvoerder van die VSA 1ste Korps gesê: In their Centurions, the 8th Hussars have evolved a new type of tank warfare. They taught us that anywhere a tank can go, is tank country: even the tops of mountains. Die afwesigheid van 'n masjiengeweer op die skiettoring wat in 360° kon skiet was 'n nadeel, die masjiengeweer aan boord kon slegs in een rigting vuur. Dus was die tenk kwesbaar vir infanterie-aanvalle.
Ontplooiing in Wes-Europa