Vilnius

Europese Kultuurhoofstad 2009Europos Kultūros Sostinė 2009

280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land  Administratiewe gewes Vilnius Koördinate  Stigting (eerste verwysing) 1323 Stadstatus 1387 Oppervlakte:    - Totaal 401 vk km  Hoogte bo seevlak 112 m Bevolking:    - Totaal (2024) 602 430  - Bevolkingsdigtheid 1 560/vk km Tydsone UTC +2 (OET)  - Somertyd UTC +3 (OEST) Klimaat    - Tipe Kontinentaal-gematig  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 6,0 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie −6,1 / 16,9 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslae 653,5 mm Burgemeester Valdas Benkunskas Amptelike webwerf www.vilnius.lt

Vilnius (Litaus: [ˈvʲɪlʲnʲʊs], ; Duits ook Wilna; Russies: Вильнюс of Вильна; Pools: Wilno; Jiddisj: ווילנע, Wilne) is die hoofstad van Litaue en die administratiewe gewes Vilnius (Litaus: Vilniaus Apskritis). Vilnius, wat in die suidooste van die land aan die monding van die Vilnia-rivier in die Neris en net sowat veertig kilometer van die Belarussiese grens af geleë is, is ook die grootste stad van Litaue met 'n bevolking van 602 430.

duimnael|links|Die moderne stadsilhoeët teen sononder, soos gesien vanaf die Gediminas-toring Vilnius het in die 13de eeu rondom 'n ou vesting ontstaan en is deur grootvors Gediminas in 1322/1323 tot die hoofstad van Litaue verklaar. Vilnius het hierdie funksie tot in die jaar 1795 vervul. Die Rooms-Katolieke bisdom Vilnius is in 1387 gestig, en in dieselfde jaar het Vilnius stadstatus volgens die Maagdenburgse Reg gekry. Die stadsmuur is in die vroeë 16de eeu voltooi.

In die tydperk tussen 1794 en 1915 het Vilnius onder Russiese heerskappy gestaan en het vervolgens tot in 1939 deel van Pole uitgemaak. In die periodes tussen 1915 en 1918 en tussen 1941 en 1944 is Vilnius deur Duitse troepe beset. Ná 'n kortstondige periode as administratiewe sentrum in 1940/1941 is Vilnius sedert 1945 die hoofstad van Litaue.

Vilnius is die kulturele en ekonomiese sentrum van Litaue met beduidende nywerhede soos masjienbou, voedsel-, hout- en leerverwerking, asook chemiese, elektrotegniese, elektroniese en boubedrywe. Die stad beskik daarnaas oor 'n termiese kragsentrale, 'n see- en 'n lughawe. Nogtans word meer as die helfte van die stadsgebied deur parke en ander groen gebiede beslaan. Twee natuurbewaringsgebiede is net buite Vilnius geleë, en die stad word deur golwende heuwellande omsluit.

Vilnius is die setel van 'n Rooms-Katolieke aartsbiskop en sedert 1578/1579, toe 'n Jesuïete-akademie gestig is, wat vanaf 1803 as Poolse universiteit gefungeer het en in die periode tussen 1832 en 1919 gesluit was, 'n beduidende opvoedkundige sentrum. Naas die universiteit is daar tersiêre opvoedkundige instellings en 'n kunsskool.

Vilnius beskik oor drie teaters en belangrike musea. Die stad het saam met die Oostenrykse Linz die titel Europese Kultuurhoofstad van die jaar 2009 gedra, terwyl die historiese stadskern – die grootste in Oos-Europa – reeds in 1994 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys is.

Beduidende besienswaardighede sluit die 13de eeuse torings van die Laer en Hoër Vesting, die Anne-kerk uit die 16de eeu, die 15de eeuse Sint Nikolai- en die Bernhardyne-kerk uit die vroeë 16de eeu asook 'n aantal sakrale geboue in die barokstyl in. Die kloktorings van sowat dertig Rooms-Katolieke kerke, veertig kloosters en die uietorings van Ortodokse kerkgeboue gee aan Vilnius nie net sy kenmerkende stadshorison nie, maar versinnebeeld ook Vilnius se geskiedenis van religieuse verdraagsaamheid. Vilnius dra dan ook byname soos "Rome van die Ooste", die "Nuwe Praag", "Pêrel van die Barokstyl" of "Stad van Kerke". Vroeër is die stad as 'n beduidende Joodse sentrum en die bakermat van die Joodse Verligting ook die "Jerusalem van die Noorde" genoem.

Vilnius was daarnaas reeds sedert die 15de eeu 'n kulturele smeltpot tussen die ooste en weste en word vandag vanweë sy ryk kulturele lewe, sy naglewe en die groot aantal feeste dikwels as die mees kosmopolitiese stad in die Baltiese lande beskryf.

Stadsnaam duimnael|Die Vilnelė-rivier in die winter As gevolg van sy multi-etniese en multikulturele karakter staan Vilnius onder verskillende name bekend. Die Litauers – die meerderheid van die bevolking – noem hul stad Vilnius, en hierdie naam word in toenemende mate ook in ander tale gebruik.

Die woorde Vilnis en Vilnelė beteken in Litaus letterlik "klein golf" – 'n verwysing na die klein Vilnia-rivier wat deur die stad vloei en naby die historiese stadskern (met die Gediminas-berg) in die groter Neris-rivier, wat met sy drie kronkels deur Vilnius vloei, uitmond. Vilnelė is 'n diminutief.

'n Ander etimologie baseer op die alternatiewe naam vir die Neris-rivier, *Velija, wat as Велья vir die eerste keer in historiese dokumente uit die tydperk omstreeks 1230 voorkom. 14de eeuse tekste bevat onder meer verwysings soos vor die Wilne (Duits) en ante Vilnam (Latyn). Die stadsnaam Vilnius kom eers in dokumente voor wat omtrent 1600 ontstaan het.

In Pools staan Vilnius as Wilno bekend, in Belarussies as Вільня (Wilnja), in Jiddisj as Wilne en in Russies oorspronklik as Вильна (Wilna) – in die Sowjettydperk is na die stad nogtans uitsluitlik as Вильнюс (Wilnjus) verwys. Die vroeëre Duitse benaming Wilna is van die oorspronklike Russiese naam afgelei.

Geografie duimnael|Moderne boukuns langs die oewer van die Neris-rivier Vilnius is slegs 35 kilometer vanaf die grens met Belarus in die suidooste van Litaue by die samevloeiing van die Vilnia- en Neris-riviere geleë. Die stad is vernoem na die Vilnia-rivier. Slegs twintig persent van die stadsgebied is bebou, terwyl veertig persent deur parke en ander groen ruimtes beslaan word.

Vilnius lê temidde van golwende heuwellande wat net oos van die stad hul grootste hoogtes bereik en verder ooswaarts geleidelik na die Belarussiese en Russiese Vlaktes oorgaan wat tot by Siberië en die Gobi-woestyn van Mongolië strek.

Volgens metings, wat in 1989 deur wetenskaplikes van die Franse Nasionale Instituut vir Geografie gedoen is, is Vilnius 26 kilometer noord van die geografiese sentrum van Europa in die dorp Purnuškės geleë. Kort nadat hier 'n monument by die kruispunt van die geografiese lyne tussen Gibraltar en die Oeralgebergte en die Noorse Noord-Kaap en die Griekse eiland Kreta opgerig is, het die Franse navorsers hul metings in 2004 verbeter en die geografiese middelpunt ietwat in suidoostelike rigting verskuif – dit is nou temidde van 'n bosgebied geleë.

Klimaat duimnael|Sononder op 'n koue winterdag

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|Die Gediminas-toring is vernoem na die Litause grootvors en stadstigter duimnael|Die oudste bekende kaart van Vilnius dateer uit die vroeë 14de eeu duimnael|Argeologiese vondse wat in die Gediminas-toring vertoon word Volgens ou legendes het grootvors Gediminas (1316–1341) Vilnius na aanleiding van sy droom oor die "ysterwolf" gestig. Argeologiese opgrawings aan die voet van die Gediminas-berg het egter getoon dat Vilnius se geskiedenis tot in die 4de millennium v.C. terugdateer. Baltiese stamme het hulle omstreeks 2500 v.C. in die gebied van Vilnius gevestig. In die 5de eeu v.C. het die bewoners reeds handelsbetrekkinge met Mediterreense lande aangeknoop en goedere soos barnsteen (amber), velle en wasprodukte teen metale en werktuie verruil. Ook voorheen onbekende tegnologieë soos byvoorbeeld metaalbewerking is danksy die handel na die noorde uitgevoer. In die volgende eeue het die Litauers tot 'n relatief gevorderde samelewing met 'n aristokratiese heersersklas ontwikkel.

Die huidige stad het in die 7de eeu uit 'n aantal kleiner nedersettings in die gebied ontstaan en tussen die 9de en 13de eeu tot 'n beduidende handelstad ontwikkel. Tussen die 10de en 13de eeu is Vilnius deur 'n houtvesting op die Gediminas-berg beskerm, en die eerste kerk is in 1251 deur koning Mindaugas op die perseel van die huidige katedraal opgerig – 'n plek waar vroeër een van die beduidendste Litause heiligdomme geleë was.

Die eerste historiese verwysing na Vilnius is 'n Latyns-geskrewe brief van grootvors Gediminas wat op 25 Januarie 1323 aan die destydse hoof- en Hansestede, kloosters, talle Europese vorste en selfs die pous in Rome gerig is en waarin koopmans, wetenskaplikes en klerici uitgenooi word om hulle in die Litause hoofstad te vestig ("in civitate nostra regia Vilna"). Kenmerkend is die religieuse verdraagsaamheid van Litaue se oorspronklike heidense godsdiens – Gediminas verwys in sy brief na twee Christelike kerke – een van die Fransiskaanse en een van die Dominikaanse orde – en waarborg sodoende geloofsvryheid vir die nuwe immigrante. Hierdie houding teenoor ander gelowe het Vilnius se ontwikkeling nog oor 'n lang tydperk oorheers. Nogtans was Vilnius verskeie kere aan aanvalle van die Duitse Ridderorde blootgestel.

Die Pools-Litause dubbelmonargie duimnael|Tussen die 13de en 15de eeu was Vilnius die hoofstad van 'n uitgestrekte Litause ryk Met dinastiese huwelike, sy liberale houding en 'n magtige leër het Gediminas van Litaue 'n Europese groot moondheid gemaak, en die heersershuis, wat hy gestig het, het byna 200 jaar lank oor Litaue geregeer. Sy seuns en opvolgers Algirdas en Kęstutis het gemeenskaplik oor die land geheers. Algirdas het met sy leër drie keer tot by die poorte van die Moskouse Kremlin opgetrek, maar het uiteindelik nie daarin geslaag om dit in te neem nie.

Ná Algirdas se afsterwe het sy seun Jogaila Kęstutis met sy seun Vytautas laat inkerker. Kęstutis is vervolgens vermoor, terwyl Vytautas uit die tronk kon vlug en 'n kort tyd later met gewapende magte van die Duitse Orde na Vilnius opgetrek. Jogaila en Vytautus het 'n ongewone ooreenkoms gesluit: Jogaila het die Rooms-Katolieke geloof aangeneem en met die jong dogter van die Poolse koning, Jadwiga (Hedwig van Pole), getrou om sodoende die Poolse troon te kan bestyg. In 1386 is hy as die heerser van Litaue se westelike buurland gekroon. Vytautas het oor Litaue geheers en die grense van die land tot by die Swart See verskuif. Litaue het sodoende ook oor 'n groot aantal Russiese nedersettings geheers.

Vytautas en Jogaila het met hul kompromis die weg vir die ontstaan van die Pools-Litause dubbelmonargie gebaan wat vervolgens 'n politieke teengewig teen die Duitse Orde gevorm het. In 1410 het die Duitse Ridders in die Slag van Žalgiris (Tannenberg) dan ook 'n verpletterende nederlaag teen Pools-Litause magte gely.

Alhoewel Vilnius ná die stigting van die Pools-Litause Gemenebes in 1386 aan belangrikheid verloor en die politieke en maatskaplike magsentrum van die nuwe ryk het na Kraków verskuif het, word die tydperk tussen 1400 en 1600 as die Goue Era van Vilnius beskou waartydens 'n omvangryke bouprogram van stapel gestuur is. En ofskoon die polonisering van die heersende Litause elites vinnig gevorder het, het die personele unie met Pole ook die weg vir nuwe handelsbande met Wene, Moskou en Venesië gebaan.

Kerstening Met Jogaila se bekering tot die Christendom in 1387 is die vuur in Vilnius se heidense tempel vir goed geblus, en die heiligdom moes plek maak vir die eerste katedraal wat destyds nog in die Gotiese styl uitgevoer is. Vilnius het tydens die regentskap van Vytautas tot die multikulturele hoofstad van Europa se liberaalste groot moondheid ontwikkel waar mense van verskillende nasies – naas Litauers veral Pole, Belarusse, Italianers en Tartare – en gelowe vreedsaam saamgeleef het.