Damaskus (Arabies: دمشق Dimashq, Frans: Damas) is die hoofstad en die grootste stad van Sirië met 'n bevolking van sowat 1 834 741 in 2010 en 'n oppervlakte van 105 km². Damaskus is die oudste steedsbewoonde hoofstad ter wêreld en word as Unesco-Wêrelderfenisgebied gelys.unesco.orgMoore, A.M.T. The Neolithic of the Levant. Oxford, UK: Oxford University, 1978. 192–198. Print.
Die stad vorm sy eie plaaslike regering en is ook die hoofstad van Rif Dimashq distrik. Die stad is die tuiste van sowat 1,8 miljoen mense; volgens die ranglys van Siriese stede is dit die grootste stad van die land, met Aleppo tweede. Die stad word in die volksmond Sham genoem. Die Arameese vorm van die naam, Darmsûq, beteken "'n goed bewaterde land".
Die stad staan in Sirië in die volksmond as aš-Šām bekend en word poëties die "Stad van Jasmyn" (مَدِيْنَةُ الْيَاسْمِينِ, Madīnat al-Yāsmīn) genoem. Damaskus is 'n belangrike kulturele middelpunt van die Levant en die Arabiese wêreld.
Damaskus lê in die suidweste van Sirië en is die middelpunt van 'n groot metropolitaanse gebied. Dit is teen die oostelike voetheuwels van die Anti-Libanongebergte geleë, 80 km binneland vanaf die oostelike kus van die Middellandse See, op 'n plato 680 m bo seevlak. Die stad het 'n dor klimaat weens die reënskadu-effek, en die Baradarivier vloei daardeur.
Damaskus is een van die oudste steedsbewoonde stede ter wêreld. Dit is die eerste keer in die 3de millennium v.C. bewoon en is van 661 tot 750 as die hoofstad van die Ommajade-kalifaat gekies. Ná die oorwinning van die Abbasidiese dinastie is die setel van Islamitiese mag na Bagdad verskuif. Volgens sommige is Damaskus die vierde heiligste stad in die Islam. Die stad se belang het deur die Abbasidiese era afgeneem, maar dit het weer beduidende belang in die Ajjubidiese, Mamelukke- en Ottomaanse tydperke verkry.
Vandag is dit die setel van die sentrale regering van Sirië. Tydens die Siriese Burgeroorlog is Damaskus as die minste bewoonbare stad van 140 wêreldstede in die Global Liveability Ranking aangewys; vanaf Junie 2023 was dit die minste bewoonbare van 173 wêreldstede in dieselfde ranglys. In 2017 is twee ontwikkelingsprojekte in Damaskus van stapel gestuur om nuwe woonwyke te bou, Marota City en Basillia City, om die naoorlogse heropbou te simboliseer.
Naam en etimologie Die naam van Damaskus verskyn die eerste keer in die geografiese lys van Toetmoses III as tjmsqw in die 15de eeu v.C. Die etimologie van die antieke naam tjmsqw (T-ms-q.w) is onseker. 'n Aantal Akkadiese spellings kom in die Amarna-briewe uit die 14de eeu v.C. voor: Dimašqa en Dimašqì.
In die Nieu-Assiriese Akkadies is dit as Ša-imerišu opgeteken. Later kom die Arameese Damašq in Ou-Aramees en Dammeśeq in Bybelse Hebreeus voor; spellings van die naam sluit dikwels 'n indringende resh (die letter r) in, moontlik onder invloed van die stam dr, wat "woning" beteken. Vandaar die Qumraniese Darmeśeq en die Siriese Darmsûq, wat "'n goed bewaterde land" beteken.
In die Griekse mitologie is daar drie verklarings vir die stad se naam Damaskós (Δαμασκός). Volgens een is dit na die reus Askos (Ἄσκος) vernoem. 'n Ander sê dit is vernoem na Damaskos, die seun van Hermes en die nimf Alimede, wat van Arkadië na Sirië gereis het en 'n stad met sy naam gestig het. 'n Derde weergawe hou dit dat Damaskos 'n man was wat, nadat Dionusos Sirië met wingerde vrugbaar gemaak het, hulle met 'n byl afgekap het; woedend het Dionusos hom agtervolg en gevil. Sy oorspronklike naam was Darmaskos, wat later tot Damaskos ontwikkel het. Die Engelse en Latynse naam van die stad, Damascus, is dus uit die Griekse Δαμασκός oorgeneem.Stephanus van Bisantium, Ethnica, bl. 9.
In Arabies word die stad Dimashq (دمشق) genoem. Dit staan ook as aš-Šām bekend onder die inwoners van Damaskus, van Sirië en ander Arabiese buurlande, en in Turkye as Şam. Aš-Šām is 'n Arabiese term vir die "Levant" en vir "Sirië"; laasgenoemde, en veral die historiese streek Sirië, word Bilād aš-Šām (بلاد الشام, letterlik "land van die Levant") genoem. Die term beteken etimologies "land van die linkerhand" of "die noorde", aangesien iemand in die Hedjaz wat ooswaarts na die sonsopkoms kyk, die noorde aan sy linkerkant sal vind. Dit staan in teenstelling met die naam van Jemen (اَلْيَمَن, al-Yaman), wat ooreenstemmend "die regterhand" of "die suide" beteken. Die gepatroneerde Bisantynse en Chinese sy wat deur Damaskus – een van die westelike eindpunte van die Syderoete – beskikbaar was, het aan Engels die woord damask gegee.
Geografie Damaskus is op 'n strategiese plek gebou, op 'n plato 680 m bo seevlak en sowat 80 km binneland vanaf die Middellandse See, beskut deur die Anti-Libanongebergte, van water voorsien deur die Baradarivier, en op 'n kruispad tussen handelsroetes: die noord-suid-roete wat Egipte met Klein-Asië verbind, en die oos-wes-woestynroete wat Libanon met die Eufraatvallei verbind. Die Anti-Libanongebergte merk die grens tussen Sirië en Libanon. Die reeks het pieke van meer as 3 000 m en keer neerslag van die Middellandse See, sodat die Damaskus-streek soms aan droogtes onderhewig is. In antieke tye het die Baradarivier, wat uit bergstrome ontstaan wat deur smeltende sneeu gevoed word, dit egter versag. Damaskus word omring deur die Ghouta, besproeide landbougrond waar groente, graan en vrugte sedert antieke tye geboer word. Kaarte van Romeinse Sirië dui aan dat die Baradarivier in 'n meer van 'n aansienlike grootte oos van Damaskus uitgemond het. Dit word vandag Bahira Atayba, die weifelende meer, genoem, omdat dit in jare van ernstige droogte opdroog.romeartlover, "Damascus: the ancient town"
Damaskus is 15 kilometer oos van die Siries-Libanese grens geleë. Die Golanhoogtes, wat in die Sesdaagse Oorlog in 1967 deur Israel beset is, lê suidwes van Damaskus, en die grens met Jordanië loop ongeveer 100 kilometer suid van die stad. Die Groot Arabiese Woestyn strek suidoos van Damaskus, en oos van die stad strek die Siriese woestyn suidwaarts tot by die Arabiese Skiereiland. Die stadsgebied lê in die Baradavallei teen die voet van die Qasyun-bergpiek. Die Ghuta-oase is van ouds die lewensaar van Damaskus; dit kry sy water uit die Barada, 'n klein rivier sonder monding wat wes van die stad in die gebergtes van die Anti-Libanon ontspring en dwarsdeur die jaar water het.
Die moderne stad het 'n oppervlakte van 105 km², waarvan 77 km² stedelik is, terwyl die berg Qasioun die res beslaan.
Die ou stad van Damaskus, wat deur die stadsmure omsluit word, lê op die suidelike oewer van die Barada, wat byna droog is. Na die suidooste, noorde en noordooste word dit omring deur voorstedelike gebiede wie se geskiedenis tot die Middeleeue terugstrek: Midan in die suidweste, Sarouja en Imara in die noorde en noordweste. Dié buurte het oorspronklik langs paaie uit die stad ontstaan, naby die grafte van godsdienstige figure. In die 19de eeu het buitedorpies op die hange van die berg Qasioun ontwikkel, wat oor die stad uitkyk en waar die al-Salihiyah-buurt reeds om die belangrike heiligdom van die middeleeuse Andalusiese sjeik en filosoof Ibn Arabi gesentreer was. Dié buurte is aanvanklik deur Koerdiese soldate en Moslemvlugtelinge uit die Europese streke van die Ottomaanse Ryk wat onder Christelike bewind geval het, bewoon. Hulle het dus as al-Akrad ("die Koerde") en al-Muhajirin ("die migrante") bekend gestaan. Hulle lê 2 tot 3 km noord van die ou stad.
Van die laat 19de eeu af het 'n moderne administratiewe en kommersiële middelpunt wes van die ou stad, om die Barada, begin ontstaan, gesentreer om die gebied bekend as al-Marjeh ("die weiveld"). Al-Marjeh het gou die naam geword van wat aanvanklik die sentrale plein van die moderne Damaskus was, met die stadsaal daarin. Die geregshowe, poskantoor en spoorwegstasie het op hoër grond effens suidwaarts gestaan. 'n Europees geaarde woonwyk is gou langs die pad tussen al-Marjeh en al-Salihiyah gebou, en die kommersiële en administratiewe middelpunt het geleidelik noordwaarts na dié gebied verskuif.
In die 20ste eeu het voorstede noord van die Barada ontwikkel, en tot 'n mate ook in die suide. In 1956–1957 het Yarmouk die tuiste van baie Palestynse vlugtelinge geword. Stadsbeplanners het verkies om die Ghouta sover moontlik te bewaar, en in die latere 20ste eeu was sommige van die belangrikste ontwikkelingsgebiede in die noorde, in die westelike Mezzeh-buurt en meer onlangs langs die Baradavallei in Dummar in die noordweste en op die berghange by Barzeh in die noordooste. Armer gebiede, dikwels sonder amptelike goedkeuring gebou, het suid van die hoofstad ontwikkel.Hamad Said al-Mawed, The Palestinian refugees in Syria: Their past, present, and future, 1999.
Damaskus was voorheen deur 'n oase omring, die Ghouta-streek (الغوطة, al-ġūṭä), wat deur die Baradarivier bewater is. Die Fijeh-fontein, wes langs die Baradavallei, het die stad met drinkwater voorsien, en verskeie bronne in die weste is deur waterkontrakteurs aangewend. Die vloei van die Barada het met die snelle uitbreiding van behuising en industrie gedaal en dit byna droog gelaat. Die onderste grondwaterlae is besmet deur die stad se afloop van swaar gebruikte paaie, industrie en riool.
Klimaat Damaskus het 'n droë klimaat as gevolg van die reënskadu van die Anti-Libanon. Die somers is droog met amper geen neerslag nie. Winters is sag met relatief hoë neerslae en af en toe sneeuval.
Damaskus het 'n koel dor klimaat (BWk) volgens die Köppen-Geiger-klimaatklassifikasiestelsel, weens die reënskadu-effek van die Anti-Libanongebergte en die heersende seestrome. Somers is langdurig, droog en warm met min humiditeit. Winters is koel en effens reënerig; sneeuval is ongewoon. Die herfs is kort en mild, maar het die drastiesste temperatuurverandering, in teenstelling met die lente, waar die oorgang na die somer meer geleidelik en gestadig is. Die jaarlikse reënval is ongeveer 130 mm, wat van Oktober tot Mei val.
+ Klimaatdata vir Damaskus (Damaskus Internasionale Lughawe), normale 1991–2020 Maand Jan Feb Mrt Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar Rekordhoogte (°C) 23,2 28,0 34,4 37,6 41,4 45,0 45,8 44,8 44,6 38,0 31,0 25,1 45,8 Gem. maksimum (°C) 13,1 15,3 20,0 25,3 30,9 35,3 37,8 37,6 34,6 29,0 20,6 14,8 — Gem. daaglikse temp. (°C) 5,9 7,8 11,0 15,5 20,2 24,4 26,3 26,0 23,2 18,1 11,8 7,2 16,6 Gem. minimum (°C) 0,8 2,0 4,8 8,0 12,1 15,9 18,6 18,6 15,3 11,0 5,2 1,9 — Rekordlaagte (°C) −10,8 −12,0 −6,0 −7,5 1,4 6,2 10,5 9,5 3,5 −1,0 −8,6 −8,8 −12,0 Neerslag (mm) 26,0 22,4 13,9 5,6 4,8 0,3 0 0 0,3 6,3 21,4 23,6 124,7 Reëndae 4,8 4,4 2,6 1,3 1,0 0,1 0,0 0,0 0,1 1,2 3,3 4,2 23,0 Gem. relatiewe humiditeit (%) 76 69 59 50 43 41 44 48 47 52 63 75 56 Gem. sonure per maand 164,3 182,0 226,3 249,0 322,4 357,0 365,8 353,4 306,0 266,6 207,0 164,3 3 164,1 Bron: NOAA (gemiddelde temperatuur 1961–1990; humiditeit en sonskyn 1970–1990)
Geskiedenis Vroeë nedersetting Die eerste opgrawings in Damaskus dateer van ongeveer 2500 v.Chr. Die eerste vermelding van Damaskus in geskrifte dateer van ongeveer 1500 v.C. Koolstof-14-datering by Tell Ramad, aan die buitewyke van Damaskus, dui daarop dat die terrein sedert die tweede helfte van die sewende millennium v.C. bewoon kon gewees het, moontlik omstreeks 6300 v.C. Daar is egter bewyse van nedersetting in die breër Baradabekken wat tot 9000 v.C. terugdateer, hoewel daar tot in die tweede millennium v.C. geen grootskaalse nedersetting binne Damaskus se mure was nie.
Laat Bronstydperk