thumb|269px|Die Tiriese skiereiland uit die weste gesien. Tirus (Arabies: صور Ṣūr; Frans: Tyr; Grieks: Τύρος Tyros) is een van die oudste aaneenlopend bewoonde stede in die wêreld, hoewel dit ’n paar eeue in die Middeleeue net ’n klein inwonertal gehad het. Dit was een van die eerste Fenisiese stede en die legendariese geboorteplek van die Fenisiese prinses Europa, haar broers Cadmus en Phoenix, sowel as Kartago se legendariese stigter, Dido (Elissa).

Herodotos het Tirus omstreeks 450 v.C. besoek en gesê volgens die plaaslike priesters is die stad omstreeks 2750 v.C. gestig. Volgens argeologiese bewyse was egter reeds omstreeks 2900 v.C. nedersettings op die terrein. Die stad het baie antieke terreine, soos ’n hippodroom, en kom as geheel voor op Unesco se lys van wêrelderfenisgebiede. Die historikus Ernest Renan het gesê: "'n Mens kan Tirus ’n stad van ruïnes noem wat van ruïnes gebou is."

Die Bybel verwys verskeie kere na Tirus, veral in Jesaja 23, waar die stad se ondergang voorspel word. Koning Hiram I was ’n tydgenoot van Dawid en Salomo. Jesus het ook die streke Tirus en Sidon besoek.

Tirus is vandag die grootste stad in Libanon naas Beiroet, Tripoli en Sidon. Dit is sowat 80 km suid van die hoofstad, Beiroet, geleë. Dit het aanvanklik uit twee afsonderlike gebiede bestaan: 'n eiland naby die kus en ’n verwante nedersetting op die vasteland. Alexander die Grote het in 332 v.C. 'n straatweg laat bou om die eiland met die vasteland te verbind en Tirus vorm dus nou 'n skiereiland.

Tirus is die hoofstad van die Tirus-distrik in die goewernoraat Suid-Libanon. In die stedelike gebied was daar in 2006 sowat 200 000 inwoners. Dit sluit baie vlugtelinge in, omdat drie van die land se 12 Palestynse vlugtelingkampe in Tirus geleë is. Buite die moderne stad lê ’n argeologiese terrein met oorblyfsels van die antieke stad.

Tirus het ’n Mediterreense klimaat met warm somers. Dit is ses maande per jaar droog, met ’n jaarlikse gemiddelde temperatuur van 20,8 °C. Die reënval is gemiddeld 645 mm per jaar.

Omgewing thumb|links|220px|’n Kaart van Tirus.

Tirus steek ’n ent in die Middellandse See uit aan die weskus van Libanon en is sowat 80 km suid van Beiroet geleë. Dit het aanvanklik uit twee afsonderlike gebiede bestaan: Tirus self, wat op ’n eiland naby die kus geleë was, en ’n verwante nedersetting, Oesjoe, op die vasteland; dit is later Palaetyrus genoem ("Ou Tirus" in antieke Grieks).Presutta, David. The Biblical Cosmos Versus Modern Cosmology. 2007, page 225, referencing: Katzenstein, H.J., The History of Tyre, 1973, p.9

thumb|220px|'n Vrou dra water van Ras al-Ain af; 1881-houtgraveerwerk deur John Douglas Woodward. thumb|220px|links|’n Groep rotsagtige eilande naby Tirus. Deur die loop van die geskiedenis, van die voorgeskiedenis af, het nedersettings in die Tirusomgewing baat gevind by die oorvloed vars water, veral van die fonteine van die nabygeleë Rashidieh en Ras al-Ain in die suide. Daar is ook die fonteine van Al Bagbog en Ain Ebreen in die noorde en die Litanirivier.

Die hedendaagse stad dek ’n groot deel van die oorspronklike eiland, asook die grootste deel van die straatweg wat Alexander die Grote in 332 v.C. laat bou het. Dié landengte het deur die eeue aansienlik groter geword vanweë slikdeposito's aan albei kante.

Die deel van die oorspronklike eiland wat nie deur die moderne stad beslaan word nie, is grootliks ’n argeologiese terrein met oorblyfsels van die antieke stad.

Tirus, met sy oppervlakte van 16,7 km2, bestaan uit vier munisipaliteite en is op ’n vrugbare kusvlakte geleë. Daarom word interstedelike landbou op sowat 44% van die gebied beoefen. Die beboude gebiede maak net meer as 40% uit.

Tirus lê naby die Roum- en Yammoune-breuk. Hoewel dit in sy geskiedenis ’n paar vernietigende aardbewings ondervind het, is die bedreiging relatief klein op die meeste plekke en hoogstens gemiddeld op ’n paar ander plekke. ’n Tsoenami ná ’n aardbewing, en waarskynlike grondstortings en oorstromings daarna, is egter ’n groot moontlike natuurramp wat die inwoners in die gesig staar.

Klimaat thumb|220px|’n Halo van 22° oor die Al Mina-terrein, 2019.

Tirus het ’n Mediterreense klimaat met warm somers (as Csa geklassifiseer volgens die Köppen-klimaatklassifikasie). Dit beteken dit het ses maande per jaar droogte, van Mei tot Oktober. Dit het gemiddeld 300 dae per jaar met sonskyn en ’n jaarlikse temperatuur van 20,8 °C. Die gemiddelde maksimum temperatuur is tot 30,8 °C in Augustus en die gemiddelde minimum temperatuur tot sowat 10 °C in Januarie.

Die jaarlikse reënval is gemiddeld 645 mm. Die seewater se minimum temperatuur is 17 °C in Februarie en die maksimum 32 °C in Augustus. Op ’n diepte van 70 m is dit konstant 17-18 °C.

Die styging van seevlakke weens aardverwarming dra by tot die bedreiging van erosie aan die skiereiland en baaigebiede van Tirus.

Geskiedenis links|thumb|150px|'n Borsbeeld van Melqart in die Nasionale Museum van Denemarke. Stigting (2750-1700 v.C.) thumb|220px|Die Ontvoering van Europa, ’n Romeinse mosaïek uit Biblos, 200-300 n.C., Nasionale Museum van Beiroet.

Die Romeinse historikus Justinius het geskryf die oorspronklike stigters van Tirus het van die noordelike stad Sidon gekom om ’n nuwe hawe te stig. Volgens Herodotos, wat Tirus in omtrent 450 v.C. besoek het, het die plaaslike priesters gesê die stad is omstreeks 2750 v.C. gestig as ’n ommuurde plek op die vasteland wat nou as Paleotyre ("Ou Tirus") bekend is. Argeologiese bewyse het dié tyd bevestig. Uit uitgrawings is ook ontdek daar was reeds omstreeks 2900 v.C. nedersettings op die terrein, maar dat die bewoners weggetrek het.

Die Griekse geskiedkundige Eusebius het vertel van die algemene mite dat die god Melqart die stad gebou het as guns vir die meermin Tiros en dit na haar genoem het. Daar is egter ook verskeie ander legendes oor Tirus se stigting. In die Griekse mitologie het die hoofgod, Zeus, die vorm van ’n bul aangeneem om die Tiriese prinses Europa na Kreta te ontvoer. Daar het die paartjie drie seuns gehad: Minos, Radamantos en Sarpedon, wat konings van Kreta geword het en ná hulle dood regters van die onderwêreld. Die kontinent Europa is na haar genoem.

Egiptiese tydperk (1700-1200 v.C.) thumb|220px|’n Stele van Ramses II wat in Tirus ontdek is, in die Nasionale Museum van Beiroet.

In die 17de eeu v.C. het die nedersetting onder die heerskappy van die farao's van Egipte gekom. In die daaropvolgende jare het dit voordeel getrek uit die beskerming deur Egipte se 18de Dinastie en het dit kommersieel vooruitgegaan.

Volgens argeologiese bewyse het Tirus reeds teen die middel 2de millennium v.C. begin met die vervaardiging van ’n seldsame en buitengewoon duur soort pers kleurstof, Tiriese pers. Dit was bekend daarvoor dat dit mooi en ligbestand was. Dit is gemaak van ’n ekstrak van die seeslakke Murex trunculus en Murex brandaris. Die kleur is in antieke kulture uitgesonder vir gebruik deur koninklikes, of minstens adellikes.Bariaa Mourad. "Du Patrimoine à la Muséologie : Conception d'un musée sur le site archéologique de Tyr",(Tesis); Museum National d'Histoire Naturelle (MNHN), Study realised in cooperation with the Unesco, Secteur de la Culture, Division du Patrimoine Culturel, Paris, 1998

thumb|150px|links|’n Amarna-kleibrief deur die Tiriese prins Abimilku aan farao Achenaten, Metropolitaanse Kunsmuseum. thumb|220px|"Die ontdekking van pers", deur Peter Paul Rubens, omstreeks 1636. Die Tiriërs was uiters diskreet oor die bedryf om ’n absolute monopolie te verseker.

Volgens die mitologie het die god Melqart op die strand geloop saam met die nimf Tiro, vir wie hy die hof gemaak het, toe sy hond ’n seeslak byt en die weekdier sy bek pers vlek. Tiro wou ’n rok van dieselfde kleur by Melqart hê, en so het die bedryf ontstaan.

Die antieke skrywer Strabo, wat Tirus ook besoek het, het gesê die kleurstofbedryf besoedel die lug so dat die stank sy verblyf in die stad baie onaangenaam gemaak het. Kenners het bereken sowat 8 000 seeslakke sou vermorsel moes word om een gram van die kleurstof te onttrek, en dit kon dieselfde gekos het as omtrent 20 gram goud.

Die eerste duidelike verslae oor die stad word gegee deur die Amarna-briewe van omstreeks 1350 v.C. wat die prins van Tirus, Abimilku, aan farao Achenaten geskryf het. Die onderwerp is dikwels water, hout en die Habiru wat die platteland van die vasteland oorneem en hoe dit die eiland-stad beïnvloed. Egiptiese magte het eindelik ’n Hetitiese leër verslaan wat Tirus beleër het.

Hoewel die stad eers Melqart genoem is, na die stadsgod, verskyn die naam Tirus reeds van 1300 v.C. af op monumente.

In die 12de eeu v.C. het Egipte se farao's geleidelik politieke beheer oor die Levant verloor, hoewel Egiptiese kuns Tiriese kuns meer as ’n halwe millennium daarna steeds beïnvloed het.

Onafhanklike Fenisiese tydperk (1200-868 v.C.)

In die 11de eeu v.C. het die groep maritieme stadstate wat Fenisië uitgemaak het, begin met ’n kommersiële uitbreiding. Veral Tirus en Sidon het voordeel getrek uit die uitskakeling van die voormalige handelsentrums in Oegarit en Alalakh. Dus is Fenisië deur buitelanders en die Fenisiërs vereenselwig met Sidonia of Tyria. Tirus se maritieme oorheersing was so groot dat die Middellandse See bekend geraak het as die "Tiriese See".

thumb|160px|’n Stele van die Al Bass-terrein in Tirus, die grootste bekende Fenisiese nekropolis, in die Nasionale Museum van Beiroet. Daar is baie min argeologiese data oor Tirus uit dié deel van die Ystertydperk II, en daarom is dit nie bekend hoe hy sy heerskappy aan ander opgedwing het nie. Daar word egter algemeen aanvaar die stad het staatgemaak op handel en kulturele uitwisseling, eerder as op militêre oorwinnings. Tirus is veral bekend vir die verspreiding van sy alfabet en ’n telstelsel wat op 20 gebaseer was.

’n Belangrike faktor in dié globale opkoms was blykbaar die buitengewone kundigheid van Tiriese geleerdes in sterrekunde om hulle skepe te navigeer. Ook het die Tiriërs meerverdiepinggeboue opgerig vanweé die beperkte ruimte op die eiland. Hulle het dus ook die reputasie verwerf dat hulle goeie bouers en ingenieurs was, asook metaalwerkers en veral skeepsbouers.

In geskrewe tradisies word die sterk groei van Tirus se vooruitgang van die 10de eeu v.C. af veral aan een individu toegeskryf: Hiram I, wat sy pa, Abibaal, in 969 v.C. opgevolg het. Meer as ’n millennium later het Flavius Josephus die legende aangeteken dat Hiram die stedelike gebied uitgebrei het deur projekte wat twee eilande verbind het om ’n enkele eiland te vorm, waarop hy tempels laat bou het vir Melqart, Astarte en Baalsamin.

Buite sy grense het Hiram blykbaar sterk bande gevorm met die Israelitiese konings Dawid en Salomo. Hy het na berig word sederhout en geskoolde werkers gestuur om die groot Tempel in Jerusalem te help bou. Invoer van Siprus het ’n belangrike rol in dié tydperk gespeel.

Verder het Hiram se samewerking met ander lande in die streek en sy bevegting van Filistynse seerowers gehelp om handelsbande met Arabië en Noord- en Oos-Afrika aan te knoop.

Hulle het ook

<blockquote>"kolonies gestig aan die kuslyne en op naburige eilande in die Egeïese See, in Griekeland, aan die noordkus van Afrika, by Kartago en ander plekke, op Sisilië en Korsika, in Spanje by Tartessos en selfs anderkant die pilare van Hercules by Gadeira (Cádiz)."uit "Tyre" in Easton's Bible Dictionary</blockquote>

Ná Hiram se bewind van 34 jaar is verskeie Tiriese konings ná mekaar in gevegte gedood.

Nieu-Assiriese tydperk (868-612 v.C.) 180px|thumb|’n Begrafnismasker van Tirus, 7de eeu v.C., Nasionale Museum van Beiroet.

In die loop van die 9de eeu v.C. het die stad noue bande met die Israeliete bly handhaaf, soos blyk uit die troue van Isebel van Tirus se koninklike familie met Agab, koning van Israel.1 Konings 16:31