USS Maryland (BB-46), ook bekend as "Old Mary" of "Fighting Mary" onder sy bemanning, was 'n Colorado-klas slagskip van 32 693 ton van die Amerikaanse Vloot. Die skip was die derde skip van die Verenigde State wat na Maryland, die sewende deelstaat van Amerika, vernoem is. Dit is in 1921 in diens gestel en het tydens besoeke aan Australië, Nieu-Seeland en Brasilië as die vlagskip van die Vloot gedien.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit deel van die Battleship Row tydens die aanval op Pearl Harbor en die Japannese bomme het geringe skade aan die skip aangerig. Dit word herstel en keer in 1942 terug na diens, en wel in die Stille Oseaan. Eerstens het die skip 'n ondersteuningsrol gespeel tydens die Slag van Midway en later het dit verkenning gedoen by die Fidji-eilande, as voorsorg teen 'n moontlike inval van Japannese magte. Daarna het die Maryland 'n meer aanvallende rol vertolk en het dit gehelp met die bombardering van die kus tydens die Slag van Tarawa en later die Slag van Kwajalein. Tydens die Slag van Saipan is sy boeg deur 'n torpedo beskadig en die skip moes noodgedwonge herstelwerk, en daarmee saam 'n opgradering, ondergaan.

Hierna het dit deelgeneem aan die Slag van Leytegolf, waar dit beskadig is deur 'n kamikaze-vlieënier. Tydens die Slag van Okinawa is dit deur 'n tweede kamikaze-vlieënier getref en dit moes net voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog weer herstelwerk ondergaan. Nadat die herstelwerk voltooi is by Bremerton, Washington, is die skip weer na die Stille Oseaan gestuur. Terwyl dit op pad was na sy bestemming het die Maryland die nuus ontvang dat die oorlog verby is. Die skip het omgedraai en na die hawe van Long Beach, Kalifornië, teruggekeer.

Nadat dit gehelp het tydens Operasie Magic Carpet om meer as agt miljoen Amerikaanse soldate terug te neem na Amerika, is die skip in 1947 uit diens gestel en in 1959 vir skroot verkoop. Sewe Battle Stars is aan die skip toegeken vir diens gelewer tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Ontwerp In 1916 is die ontwerp van die volgende generasie slagskip van die Amerikaanse Vloot voltooi. Bouwerk aan die skepe moes in 1917 begin. Hierdie nuwe ontwerp was 'n amperse kopie van die bestaande Tennessee-klas slagskepe. Die grootste verbetering was die hoofskiettorings wat van twaalf 14-duim-kanonne na agt 16-duim-kanonne verander is. Die Colorado-klas was die laaste klas wat gebaseer was op die standaardtipe-ontwerp van die Amerikaanse Vloot.

Maryland was 190 m lank en 29,72 m breed, met 'n diepgang van 9,30 m. Die skip was ontwerp om 32 693 lang ton te verplaas en met 'n vol vrag was dit 33 590 lang ton. Die skip is deur vier General Electric turbo-elektriese eenhede aangedryf met stoom wat verskaf is deur agt dieselaangedrewe Babcock & Wilcox-stoomketels. Die skip se aandrywingstelsel was ontwerp om 28 900 as-perdekrag te lewer wat 'n topspoed van 21 knope (39 km/h) moes verseker. Tydens spoedtoetse was die uitset as 31 268 as-perdekrag gemeet en 'n topspoed van 21,09 knope is behaal. Die Maryland het 'n togafstand van 8 000 seemyl (15 000 km) gehad. Daar was ruimte vir ekstra brandstof wat sy togafstand tot 21 100 seemyl kon verbeter. Die Maryland het 'n bemanning van 64 offisiere en 1 241 matrose gedra.

Die Maryland was toegerus met vier hoofskiettorings wat agt 16-duim-/45 kaliber-45 kaliber verwys na die lengte van die kanon se loop uitgedruk in terme van die kaliber van die kanon. Die lengte van 'n 45-kaliber-kanon is 45 keer sy deursnee.kanonne gedra het, twee per skiettoring. Daar was twee skiettorings aan die voorkant en twee aan die agterkant, in 'n ry oor die middellyn van die skip. By albei pare was die agterste skiettoring hoër as die voorste een; dit staan bekend as die supervuurposisie en beteken dat albei skiettorings gelyktydig kon vuur. Die sekondêre bewapening van die skip het bestaan uit sestien 5-duim-/51-kaliber-kanonne wat in die middel van die skip op die bobou aangebring is. Die skip was ook toegerus met agt 3-duim-lugafweerkanonne wat op hoëhoekvoetstukke aangebring is en twee 21-duim-torpedobuise onder die waterlyn. Die skip se primêre pantser was 203–343 mm dik terwyl die pantserdek 89 mm dik was. Die hoofskiettorings se pantser was 457 mm dik en die basis waarop hulle gerus het, was 330 mm dik. Die beheertoring, wat die brug gehuisves het, se kante was 406 mm dik gepantser.

Diensrekord

Tussen-oorlogse periode duimnael|Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Charles Evans Hughes (links), en admiraal Hilary P. Jones, opperbevelhebber, VSA- Atlantiese Vloot aan boord van Maryland in Augustus 1922 Maryland was een van vier dreadnought-slagskepe van die Colorado-klas wat gebou moes word. Sy kiel is op 24 April 1917 deur die Newport News Shipbuilding Company te Newport News, Virginië, gelê. Die Maryland is op 20 Maart 1920 benoem en te water gelaat en op 21 Julie 1921 in diens gestel.. Dit is die derde skip wat na die deelstaat Maryland vernoem is. Die eerste Maryland was 'n sloep wat in 1799 in diens gestel is en die tweede Maryland 'n kruiser wat in 1905 in diens gestel is.

Nadat die Maryland in diens gestel is, het dit 'n proefvaart langs die ooskus van Amerika onderneem. Kort daarna het admiraal Hilary P. Jones dit sy vlagskip gemaak en Maryland was in aanvraag vir spesiale geleenthede. Die skip verskyn by Annapolis, Maryland vir 1922 se Vlootakademiegradeplegtigheid en ook by Boston, Massachusetts, vir die herdenking van die Slag van Bunker Hill en die Onafhanklikheidsdagvieringe op 4 Julie. Vanaf 18 Augustus tot 25 September het die Maryland vir die eerste keer 'n vreemde hawe besoek toe dit die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Charles Evans Hughes, na Rio de Janeiro vervoer het om die Brasiliaanse Eeufeesuitstalling by te woon. Die jaar daarna, ná vlootoefeninge in die Panamakanaalsone, het dit in Junie deur die kanaal beweeg om by die oorlogsvloot van die weskus aan te sluit. Maryland het tot in 1923 vlagskipstatus gehandhaaf, toe die funksie aan die USS Pennsylvania oorgedra is.

In 1925 het die Maryland ook oorsese hawens in Australië en Nieu-Seeland besoek. In 1929 het dit die pasverkose Amerikaanse president Herbert Hoover op die Stille Oseaan-gedeelte van sy Latyns-Amerikaanse toer vervoer. Dit is in 1928–1929 opgeknap en die agt 3-duim-lugafweerkanonne is vervang met agt 5-duim-/25-kaliber-kanonne. Dwarsdeur hierdie tydperk en die 1930's het die Maryland as 'n staatmaker gedien, dit was altyd in 'n staat van gereedheid wat bereik is deur gereelde opleidingsvaartogte. Dit het verskeie verkenningstogte in die 1930's voltooi.

Maryland en die ander oorlogskepe van sy gevegsgroep het in 1940 hul basis verander na Pearl Harbor. Die skip was teenwoordig in Battleship Row langs Ford-eiland gedurende die Japannese aanval op Pearl Harbor op 7 Desember 1941.

Aanval op Pearl Harbor duimnael|Maryland langs die USS Oklahoma, nadat dit omgekantel het, gedurende die aanval op Pearl Harbor, terwyl die USS West Virginia op die agtergrond brand. Op die oggend van 7 Desember lê Maryland voor anker langs Ford-eiland met die USS Oklahoma aan sy bakboord. Die skepe was verbind deur 'n loopplank en kabels. Aan sy voorkant was die USS California terwyl die USS Tennessee en USS West Virginia agter hom was. Verder agtertoe was die USS Nevada en USS Arizona. Die sewe slagskepe het pas teruggekom van oefeninge en het voor anker gelê in wat bekend staan as Battleship Row. Vroeg die oggend was die bemanning besig om voor te berei vir kusverlof om 09:00 of om ontbyt te nuttig toe die Japannese aanval begin. Toe die eerste Japannese vliegtuig verskyn en ontploffings die buitenste skepe skud, het die beuelblaser van die Maryland "beman aksieposisies" geblaas.

Seeman Leslie Short, wat besig was om kerskaartjies te adresseer naby sy masjiengeweerposisie, was die eerste om te reageer en het een van die twee bomwerpers neergeskiet wat so pas hulle bomme oor die USS Oklahoma losgelaat het. Die Maryland was beskerm deur die Oklahoma en dus beskut teen die aanvanklike torpedoaanvalle, en kon al sy lugafweergeskut in aksie bring. Met die aanvanklike aanval is die Oklahoma gekelder en dit het gou omgekantel. Baie van sy bemanning wat die aanval oorleef het, het aan boord van die Maryland geklim en gehelp met die lugafweerverdediging.

Twee pantserdeurdringingbomme het die Maryland laag op sy romp getref en ontplof. Die eerste het die voorkasteel se skutdak getref en 'n gat van 3,7 m by 6,1 m daarin gemaak. Die tweede bom het ontplof nadat dit die romp deurdring het op 6,7 m vanaf die watervlak by Raam 10. Die ontploffing het tot gevolg gehad dat gedeeltes van die skip met water gevul het en die diepgang aan die voorkant vergroot het met 5 voet. Die skip het egter dwarsdeur die aanval teruggevuur en ná die aanval sy brandbestrydingsbemanning gestuur om die ander skepe te help asook om oorlewendes van die Oklahoma te red. Die bemanning het aangehou om die lugafweerkanonne te beman net ingeval die Japannese terugkeer vir nog 'n aanval. Twee offisiere en twee matrose het in die aanval gesneuwel.

Die Japannese het foutiewelik aangekondig dat hulle die Maryland gesink het. Op 30 Desember het die beskadigde skip by die Puget Sound-vlootwerf gearriveer vir die nodige herstelwerk, ná die USS Tennessee. Twee van die oorspronklike twaalf 5-duim-/51-kaliber-kanonne is verwyder en die 5-duim-/25-kaliber-kanonne is vervang met 5-duim-/38-kaliber-kanonne. Gedurende die volgende twee maande is die Maryland herstel, opgeknap en nuwe gevegstoerusting is aangebring. Al die take is voltooi op 26 Februarie 1942. Dit het toe 'n paar proefvaarte langs die hawens van die Amerikaanse weskus asook Kerseiland voltooi. Dit is in Junie 1942 na die Stille Oseaan-front teruggestuur, die tweede skip wat beskadig maar weer herstel is ná die aanval op Pearl Harbor.

Ondersteuningspatrollies duimnael|Maryland in Februarie 1942, ná die voltooiing van sy herstelwerk Gedurende die Slag van Midway het Maryland 'n ondersteuningsrol gespeel. Soos die meeste ouer slagskepe was dit nie vinnig genoeg om saam met die vliegdekskepe te vaar nie en het dit deel gevorm van William S. Pye se seemag wat die weskus moes beskerm. Tydens die slag was dit op bystand en het gewag vir 'n sein van enige van die skepe om bystand te verleen. Aan die einde van die Slag van Midway is die Maryland na San Francisco gestuur.

Daarna het die Maryland aan amper elke moontlike opleidingsvaart deelgeneem saam met Slagskipdivisie 2, Slagskipdivisie 3 en Slagskipdivisie 4 tot op 1 Augustus, toe sy na Pearl Harbor gestuur is vir herstelwerk; dit was sy eerste keer terug in die hawe ná die Japannese aanval. Dit het Pearl Harbor vroeg in November verlaat saam met die USS Colorado op pad na die front.

Op 12 November is die tradisionele oorsteek-van-die-ewenaarfunksie gehou met koning Neptunus wat ook sy verskyning gemaak het. Daarna het die skip na die Fidji-eilande gevaar waar dit patrollies teen Japannese invalle gedoen het. Die twee slagskepe het as wagte gedien om Japannese invalle na Australië te verhoed. In dié tyd het die twee slagskepe voortdurend gesoek na Japannese magte.

Vroeg in 1943, ná die sukses van die Salomonseilande-veldtog, het die Geallieerdes met aanvalle en offensiewe begin. In Februarie 1943 is die Maryland en Colorado na die Nuwe Hebride geskuif, van waar dit vanaf die eiland Efata operasies uitgevoer het. Die intense hitte het dit baie moeilik vir die bemanning gemaak. Die skip is later na die eiland Espiritu Santo geskuif, maar die hitte en swaar reën het die lewe vir die bemanning bemoeilik. In Augustus het hulle buite die hawe van Aore-eiland voor anker gelê. Daarna was Maryland vyf weke lank in Pearl Harbor, waar verskeie Bofors 40 mm-lugafweerkanonne op sy boonste dekke en voormas aangebring is as beskerming teen toekomstige Japannese lugaanvalle.

Slag van Tarawa duimnael|Skoutadmiraal Harry W. Hill, wat die Maryland as sy vlagskip gebruik het gedurende die Slag van Tarawa