Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië (Engels: Board of Control of Cricket in India, afgekort “BCCI”; Hindi: भारतीय क्रिकेट नियंत्रण बोर्ड) is die bestuursliggaam wat krieket in Indië beheer. Die beheerliggaam is in 1928 gestig en by die Wankhedestadion in Mumbai gesetel. Sedert 1926 verteenwoordig dit Indië by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en sedert 1983 ook by die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC).

Geskiedenis Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië is in 1928 in in die destydse Brits-Indië gestig. Op 31 Mei 1926 het die Indiese beheerliggaam saam met sy Nieu-Seelandse en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Hulle mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. Daarbenewens was die Indiese beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).

Die BCCI is een van die rykste sportbeheerliggame wêreldwyd. Sy mediaregte-inkomste vir die Indiese toernooie vir die periode 2006–2010 het VS$ 612 000 000 beloop. Met sy sterk finansiële bande in die krieketwêreld het die BCCI al herhaaldelik weerstand ontbied teen die IKR se toerskedule, en op meer toetsreekse teen Australië en Engeland aangedring, aangesien hulle hiermee meer inkomste verdien as met ’n toetsreeks teen Bangladesj of Zimbabwe. In die verlede het die BCCI met die IKR ook oor borgskappe en die Kampioenetrofee se bestaansrede verskil.

Taak Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Indië se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Men in Blue of Team India), vroue (die Women in Blue) en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Raad vir Beheer van Krieket in Indië verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Indiese spanne.

Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Indië. Net soos ander krieketlande beskik Indië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Indië A is die tweede nasionale span van Indië en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Indië is die Ranji-trofee in eersterangse krieket (38 spanne), die Vijay Hazare-trofee in EDI-krieket (38 spanne) en die Indiese Premierliga in T20-krieket (tien spanne).

Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het reeds opgetree as gasheer van die krieketwêreldbekertoernooie in 1987 (saam met Pakistan), 1996 (saam met Pakistan en Sri Lanka), 2011 (saam met Bangladesj en Sri Lanka) en 2023 (alleenlik), die Kampioenetrofee 2006 (alleenlik), asook die T20I-wêreldbekertoernooie in 2016 (alleenlik) en 2026 (saam met Sri Lanka). Indië is ook aangewys as gasheer van die Kampioenetrofee 2029 (alleenlik) en Krieketwêreldbeker 2031 (saam met Bangladesj). In vrouekrieket was die Raad vir Beheer van Krieket in Indië reeds gasheer van vername toernooie soos die vrouekrieketwêreldbekertoernooie in 2013 en 2025 (saam met Sri Lanka), asook die T20I-vrouewêreldbeker 2016.

Verwysings

Eksterne skakels

Amptelike webwerf van die Raad vir Beheer van Krieket

Kategorie:Krieket in Indië Kategorie:Krieketbeheerliggaam Kategorie:Internasionale Krieketraad