Stoffel van der Merwe (gebore op 18 Desember 1939 te Postmasburg) is 'n afgetrede Suid-Afrikaanse diplomaat, universiteitsprofessor, politikus en Volksraadlid (1981-1992) vir die Helderkruin-kiesafdeling as lid van die Nasionale Party.

Vroeë lewe Hy is gebore as Christoffel Johannes van der Merwe, die seun van Johannes Lodewikus van der Merwe en sy vrou Christina Maria Etresia Pretorius (1910-1980). Van der Merwe het sy vroeë jare in Gobabis in Suidwes-Afrika deurgebring voordat hy in 1945 na Petrusburg in die Oranje-Vrystaat verhuis het.

Studie en professoraat Nadat hy met studie in die regte begin het in 1959 aan die Potchefstroomse Universiteit, en dit met 'n graad voltooi het aan die Universiteit van Pretoria in 1961, begin hy in 1962 'n loopbaan as diplomaat in Italië waar hy vise-konsul was in Milaan (1964-1968), in die Verenigde Koninkryk en in New York (1970).

In 1971 verlaat hy die Departement van Buitelandse Sake om professor in politieke wetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit te word, waar hy aan die hoof van die departement Politieke Wetenskap staan. Stoffel voltooi in 1980 sy DPhil-proefskrif aan die Universiteit Stellenbosch met die tema "Die rewolusionêre aanslag teen Suid-Afrika" en word tot professor bevorder.

Politieke loopbaan Hy word in 1986 die adjunkminister van Inligting, en word in 1987 aangestel as adjunkminister van grondwetlike beplanning deur president P.W. Botha. Hierna was hy Minister van Inligting, die Uitsaaiwese en Filmindustrie (1988-1989) in die regering van P.W. Botha.

Hy dien laastens as Minister van Ontwikkelingshulp (1989-1990) en Minister van Onderwys en Opleiding (1989-1991) in die kabinet van F.W. de Klerk.

Bronne Presentation at O'Malley NP Secretary-General Stoffel Van der Merwe resigns Stoffel tree einde 1992 uit politiek. Hy bedank sy amp in NP en bedank ook as LP, Beeld, 10 November 1992

Kategorie:Geboortes in 1939 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Politici van die Nasionale Party Kategorie:Suid-Afrikaanse akademici Kategorie:Suid-Afrikaanse diplomate Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van inligting Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van onderwys