Die Hassuna-beskawing was ’n Neolitiese beskawing in Noord-Mesopotamië wat dateer van die vroeë 6de millennium v.C. Dit is genoem na die tipeterrein van die tydperk, Tell Hassuna in Irak. Ander terreine waar Hassuna-materiaal ontdek is, sluit Tell Shemshara in.
Beskrywing Teen omstreeks 6000 v.C. het mense na die voorheuwels in die verre noorde van Mesopotamië getrek, waar daar op sommige plekke genoeg reënval vir landbou was. Dit was die eerste boere in die verre noorde. Hulle het pottebakkery beoefen en in klein dorpies van tot 3,2 hektaar gewoon.
By Tell Hassuna is huise met stutmure om oop sentrale pleine gebou, en fyn geverfde potte het vroeër tye se rowwe erdeware vervang. Handbyle, sekels, maalstene, bakoonde en verskeie bene van makgemaakte diere weerspieël ’n landboukultuur. Vrouefigure is met godsdiens verbind en potte wat met kos begrawe is, dui op ’n geloof in ’n hiernamaals. Die verwantskap tussen Hassuna-potte en dié van Jerigo dui daarop dat ’n dorpskultuur algemeen geraak het.
Proto-Hassuna Die terrein Umm Dabaghiyah in dieselfde streek van Irak bevat vermoedelik van die vroegste erdeware in die gebied en word soms beskryf as ’n "Proto-Hassuna-beskawing". Ander verwante terreine is Sotto, Kul Tepe en Tell Maghzaliyah.
Meer onlangs het die idee van ’n "Pre-Proto-Hassuna"-erdewaretradisie posgevat nadat nog vroeëre erdeware ontdek is. Dit het bestaan omstreeks 7000-6000 v.C., toe daar nog min keramiekartikels was. Potte van ’n soort kalksteenpleister is nog saam met erdeware gebruik.Reinhard Bernbeck en Olivier Nieuwenhuyse (2013), Established Paradigms, Current Disputes And Emerging Themes: The State Of Research On The Late Neolithic In Upper Mesopotamia Publications on Archaeology of the Leiden Museum of Archaeology (PALMA), Brepols pub. (Turnhout, België), 17-37
Artefakte
Verwysings
Skakels
Kategorie:Mesopotamië Kategorie:Argeologiese vindplekke in Irak