Die Umbeluzirivier (iMbuluzi, Mbuluzi, Umbuluzi) vloei in Eswatini en Mosambiek.
Rivierloop Hierdie standhoudende rivier ontspring noord van Mbabane op 26° 15′ suid en 31° 10′ oos en vloei deur die provinsies Hhohho, Manzini en Lubombo. Aanvanklik vloei die rivier oor verskeie kleiner stroomversnellings ooswaarts. Daarna draai dit deur die noordooste van die land deur die Hlane-, Mlawula- Mbuluzi en Shewula-natuurreservate. In hierdie deel van sy loop staan die rivier bekend as die Swart-Umbeluzi, gaan deur die Lebomboberge en steek die grens met Mosambiek oor by 26° 11′ 40″ suid en 32° 5′ 52.6″ oos. Van hier vloei die rivier ooswaarts verby Goba na die mond by 25 58 suid en 32 33 oos in die Estuário do Espírito Santo (die “riviermonding van die Heilige Gees”), die gesamentlike riviermond van die Umbeluzi-, Matola- en Temberiviere. Die rivier is vir tot 'n maksimum van 100 km stroomop met kleiner bote bevaarbaar.
Opvangsgebied Die rivier het 'n bekken van nagenoeg 5000 km². Hiervan lê 3300 km² in Eswatini, 1700 km² in Mosambiek en slegs 'n 100 km² in Suid-Afrika. By Buckham in Eswatini is die Mnjoli-dam en in Mosambiek is die Pequenos Libombos-dam. In die vallei wes van die Lebomboberge word suikerriet onder besproeiing verbou.
Trivia Die eerste Portugese reisigers het in 1544 by hierdie riviermondings aangekom en was 'n geselskap onder leiding van die skeepskaptein en ivoorhandelaar Lourenco Marques en Antonio Caldeira. Maputobaai (voorheen bekend as Delagoabaai en waarvan die Estuário do Espírito Santo deel vorm) is die beste natuurlike hawe aan die suidooskus van Afrika weens die beskutting wat Inhaca-eiland bied.
Bibliografie Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 11. Kaapstad: Nasou, 1975.
Kategorie:Riviere in Eswatini Kategorie:Riviere in Mosambiek