duimnael|Weefsel met 'n Clostridioides difficile-infeksie duimnael|Die Escherichia coli-bakterie teen 10 000x vergroting Ontlastingsmikrobiota-oorplanting, ook bekend as ontlastingoorplanting, is die proses om die bakterieë en ander mikrobes in fesies van 'n gesonde individu na 'n ander individu oor te dra. Dit is 'n effektiewe behandeling vir Clostridioides difficile-infeksie (CDI). Vir herhalende CDI is ontlastingsmikrobiota-oorplanting meer effektief as die antibiotika Vankomisien.

Newe-effekte kan die risiko van infeksies insluit, daarom moet die skenker gekeur word. Ontlastingsmikrobiota-oorplanting behels die herstel van die kolonmikroflora deur die instelling van gesonde bakteriële flora deur aftreksel van ontlasting deur middel van kolonoskopie, 'n klysma (enema), 'n buis deur die neus tot binne die maag, of eenvoudig deur die mond in die vorm van 'n kapsule wat ontlasting van 'n gesonde skenker bevat, wat in sommige gevalle gevriesdroog is.

Namate Clostridioides difficile-infeksie meer algemeen word, kry ontlastingsmikrobiota-oorplanting toenemende bekendheid, en sommige kundiges vra dat dit as die eerste behandeling vir CDI gebruik word. Ontlastingsmikrobiota-oorplanting is eksperimenteel gebruik vir die behandeling van ander gastro-intestinale siektes, insluitend kolitis, hardlywigheid, prikkelbare dermsindroom en neurologiese toestande, soos veelvuldige sklerose en Parkinson se siekte. In die Verenigde State word menslike ontlasting sedert 2013 as 'n eksperimentele geneesmiddel gereguleer. In die Verenigde Koninkryk is daar ook regulasies hiervoor.

Geskiedenis Die konsep van die behandeling van dikdermsiektes met ontlasting het sy oorsprong in Indië. Ou Ayurveda-tekste van meer as 3000 jaar gelede, beveel die inname van koeimis en koeurine aan vir verskeie maagverwante versteurings. Vierde-eeuse Chinese mediese literatuur noem ook die gebruik van ontlasting om voedselvergiftiging en ernstige diarree te behandel. Twaalfhonderd jaar later het die dokter van die Ming-dinastie Li Shizhen "geel sop" gebruik wat vars, droë of gefermenteerde ontlasting bevat om abdominale siektes te behandel. Die "geel sop" is deur die pasiënt gedrink. Die verbruik van "vars, warm kameel ontlasting" is ook deur Bedoeïene aanbeveel as 'n behandeling vir bakteriese disenterie.

Die eerste gebruik van ontlastingsmikrobiota-oorplanting in Westerse medisyne is in 1958 gepubliseer deur Ben Eiseman en kollegas uit Colorado, wat vier pasiënte wat kritiek-siek was behandel het met behulp van ontlastingsklysmas en wat tot 'n vinnige terugkeer na gesondheid gelei het.

Die eerste gerandomiseerde beheerde proef in Clostridium difficile-infeksie is in Januarie 2013 gepubliseer. Die studie is vroeg gestaak as gevolg van die effektiwiteit van ontlastingsmikrobiota-oorplanting, met 81% van die pasiënte wat genees is na 'n enkele behandeling en meer as 90% het heeltemal herstel na 'n tweede infusie.

In Suid-Afrika Dr Dave Epstein, verbonde aan die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad, is een van 'n handjievol gastro-enteroloë in Suid-Afrika wat ontlastingoorplantings uitvoer. Hy doen die oorplanting deur middel van 'n buis deur die neus tot in die maag van die pasiënt. Die oorplanting word gebruik eers nadat twee rondes antibiotika misluk het. "Meer en meer mense neem kragtige antibiotika, wat hul maag-flora uitwis en vatbaar maak vir C difficile," het Epstein gesê.

Die Kaapstadse gastro-enteroloog, dr. Shrish Budree, wat mikrobioomnavorsing aan die Massachusetts General-hospitaal in die VSA doen, het gesê dat klein studies oor ontlastingoorplanting by kinders met colitis ulcerosa 'n mate van belofte getoon het, maar dat groter studies nodig is. Anders as in die VSA het Suid-Afrika geen voorraad van bevrore ontlasting vir oorplanting nie.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Mediese prosedures Kategorie:Aansteeklike siektes Kategorie:Siektes Kategorie:Bakterieë