Die nasionale vlag van Estland (Esties: Eesti lipp) is op 7 Augustus 1990 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n horisontale driekleur in blou, swart en wit. In Esties word na die vlag ook as sinimustvalge (“blou-swart-wit”) verwys.
Toe die Republiek Estland in 1918 ’n onafhanklike land geword het, is die driekleur reeds wyd gebruik as die simbool van Estland en Estlanders. Die sinimustvalge is op 21 November 1918 amptelik in gebruik geneem kragtens ’n besluit deur die nasionale regering en op 16 Julie 1922 het die Estlandse parlement deur ’n wet die vlag se amptelike status bekragtig.
Die driekleur is tot in die eerste jaar van die Tweede Wêreldoorlog in die openbaar as die nasionale vlag gebruik totdat die Sowjetse Rooi Leër in Junie 1940 Estland binnegeval het. Ná die besetting en anneksasie van Estland deur die USSR in Augustus 1940 het die nuwe Stalinistiese regime die Estlandse vlag en sy gebruik verbied, maar ook enige gebruik van die kombinasie van sy kleure blou, swart en wit is deur Sowjetse wette verban. Die nasionale vlag is van 1940 tot 1991 voorts deur die Estlandse regering in ballingskap, sy diplomatiese diens en die Estlandse diaspora wêreldwyd gebruik. Die Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek het van 1944 tot 1990 die vlag van Sowjet-Estland gebruik bestaande uit die generiese rooi Sowjetvlag met die naam van die republiek in die skildhoek, waarna dit verander is in die rooi vlag met ’n baan blou golwe in die vlag se onderste helfte.
In Oktober 1988 is die gebruik van die blou-swart-wit-vlag opnuut amptelik verbied deur die plaaslike owerheid. Op 23 Februarie 1989 is die Sowjetse vlag permanent van die Pikk Hermann by die Toompea-kasteel (setel van die Estlandse parlement) in die hoofstad Tallinn verwyder. Op 24 Februarie, ter geleentheid van die 70ste herdenking van die Estlandse onafhanklikheidsverklaring in 1918, is dit met die blou-wit-swart-vlag vervang. Op 7 Augustus 1990, een jaar voor volle onafhanklikwording in Augustus 1991, is die nasionale vlag amptelik deur die Estlandse owerheid amptelik in hergebruik geneem.
Geskiedenis Voorgeskiedenis In 1219 is Estland deur Denemarke verower en volgens ’n legende het die vlag van Denemarke (die Dannebrog) tydens die Slag van Lyndanisse, ook bekend as die Waldemarslag (Deens: Volmerslaget) naby Lindanise (nou Tallinn) op 15 Junie 1219 uit die lug geval. Van 1219 tot 1346 was Estland ’n hertogdom binne die Deense Ryk met die Dannebrog – ’n rooi veld met ’n wit Skandinawiese kruis – as sy amptelike vlag. Ná die Estniese opstand in 1343 is Estland in 1346 deur Denemarke aan die Duitse Orde verkoop, waarmee die gebied tot in 1561 onder die vlag van die Duitse Orde, ’n swart kruis op ’n wit agtergrond, gestaan het. In 1561 is die gebied ná die Lyflandse oorlog aan die Sweedse Ryk oorhandig, waarmee die vlag van Swede – ’n blou veld met ’n geel Skandinawiese kruis – ook oor Estland gewapper het. Ná Swede se nederlaag in die Groot Nordiese Oorlog moes hulle met die Vrede van Nystad in 1721 die Baltiese gebied aan die nuutgestigte Russiese Ryk oorhandig, waarmee ook in Estland die Russiese driekleur gehys is. In dieselfde jaar is die Goewerneurskap Estland gestig met ’n driekleur in groen, violet en wit.
Oorsprong duimnael|links|Die oorspronklike vlag van die studentevereniging in 1884 duimnael|links|Vlae van Estland in Pärnu tydens die Estlandse onafhanklikheidsverklaring op 23 Februarie 1918. Dit is een van die eerste beelde van die Republiek Estland. Gedurende die vroeë 1820’s is drie gelyknamige Duitstalige studenteverenigings (een vir elke Baltiese provinsie – Estland, Lyfland en Koerland) aan die pas herstigte Universiteit van Tartu gestig. Elkeen het sy eie kleure (Duits: “Farben”, Esties: “värvid”) gekies wat op hul beurt vlae en visuele voorstellings van die ooreenstemmende hertogdom/provinsie geword het. Die Russiese Ryk het egter gereeld die openbare dra van hierdie kleure verbied (onder andere in 1821–1862 en in 1887–1904) en dit is in 1915, ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, finaal verbied tydens die anti-Duitsland veldtog. Vivat Academia. Üliõpilasseltsid ja korporatsioonid Eestis. EÜS kirjastus, 2007. bl. 80, 85–87
Op 7 April 1870 is by die Universiteit van Tartu die voorganger van die Estniese studentevereniging (Esties: Eesti Üliõpilaste Selts, EÜS), die eerste Estniestalige studentevereniging, gestig en in 1881 het dit ’n soortgelyke driekleur in die kleure blou, swart en wit goedgekeur. Teen daardie tyd is die gekose kleure egter verbind met die Finse vlag en, anders as by die korps se vroeëre kleurkombinasies, is aan elkeen van die drie kleure simboliese betekenisse toegeskryf.
Die Estniese vlag is gevolglik op 17 September 1881 in Tartu eers as ’n studenteverenigingvlag aanvaar deur die samestellende vergadering van “Vironia”, die eerste Estniese nasionale studentekorps, vandag bekend as die Estniese Studentegenootskap. Op 4 Junie 1884 is die vlag by die pastorie in Otepää geseën. In die 20ste eeu het die kleure en patroon uiteindelik dié van die nasionale vlag geword.
Onafhanklikheid Ten tyde van die uitreik van die Estniese onafhanklikheidsverklaring op 23–24 Februarie 1918 is die vlag geassosieer met Estniese nasionalisme en is toe ook gebruik as “die nasionale vlag” (riigilipp). Op 21 November 1918 het die driekleur deur ’n besluit van die Estniese voorlopige regering die amptelike nasionale vlag geword. 12 Desember 1918 was die eerste keer dat die vlag as nasionale simbool bo-aan die Pikk Hermann aan die Toompea-kasteel in Tallinn gehys is en sodoende het dit die vlag se mees simboliese vertoonplek geword. Die vlag is op 16 Julie 1922 deur die Estniese parlement amptelik goedgekeur.
Eerste Sowjetbesetting Ná die Sowjetse inval en besetting van Estland op 16–17 Junie 1940 is dié land ook geannekseer en het in Augustus 1940 ’n administratiewe onderafdeling van die USSR onder die naam Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek geword. Die Sowjetse inval het spoedig gelei tot ’n verbod op die vlag. Dit is op 21 Junie 1940 van die Pikk Hermann in Tallinn, die mees simboliese ligging van die vlag, gestryk toe Estland nog formeel onafhanklik was. Die volgende dag, 22 Junie, is dit naas die rooi vlag gehys. Die driekleur het egter op 27 Julie 1940 finaal van die toring af verdwyn en it is vervang met die rooi vlag van die Sowjetunie. Estland het op 6 Augustus 1940 amptelik deel geword van die Sowjetunie. Op 31 Oktober 1940 is die vlag van die Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek deur ’n besluit van die Opperste Sowjet van die Estniese SSR amptelik goedgekeur. Dit het ’n stel van Kommunistiese simbole uitgebeeld: ’n geel hamer en sekel op ’n rooi baan en, ná die amptelike verandering van die vlagontwerp in 1953, ook ’n omlynde geel ster bo ’n baan watergolwe naby die onderkant. Dié golwe sou die Oossee verteenwoordig.
Duitse besetting Gedurende die besetting van Duitsland van 1941 tot 1944 is die driekleur wyd en vry gebruik as die simbool van die land en die Estlanders. Nazi-Duitsland het Estland egter nooit as ’n onafhanklike land erken nie en slegs die Duitse oorlogsvaandel is op die Pikk Hermann vertoon. Nadat die Duitsers in September 1944 teruggetrek het vanuit Tallinn, is die Estniese vlag weer gehys, maar slegs vir enkele dae.
Tweede Sowjetbesetting duimnael|Jaan Künnap bo-op Leninpiek, die eerste keer wat die Estniese vlag bo 7000 m vertoon is Toe die Rooi Leër op 22 September 1944 hulle opwagting gemaak het, het die driekleur weer van die Pikk Hermann verdwyn. In plaas daarvan is van Februarie 1953 af die Estniese SSR se vlag gebruik nadat dit herontwerp is met ’n golwende blou baan met ses kruine aan die onderkant en die hamer en sekel en die rooi ster in die skildhoek. Die 1944-weergawe van die Estniese SSR-vlag het ’n goue hamer en sekel in die skildhoek vertoon met die Latynse karakters ENSV (Eesti Nõukogude Sotsialistlik Vabariik, “Estniese Sosialistiese Sowjetrepubliek”) in goud bo-op. Van 1953 tot 1989 is ’n nuwe weergawe van die vlag gebruik: die rooi vlag van die USSR gekombineer met ’n blou baan en wit seewatergolwe heel onder. In die volksmond is na dié vlag verwys as “golwevlag” (lainelipp). Die tweede vlag van die Estniese SSR is op 6 Februarie 1953 amptelik goedgekeur en in § 167 van die Estniese SSR se grondwet bekragtig. Dit was ook geskoei op die vlag van die Sowjetunie met ses stekelrige blou en wit golwende bane naby die onderkant. Dié vlag is ontwerp deur Paul Luhtein.
Tydens die besettingstyd van 1940 tot 1991 het die Estniese diaspora en Baltiese diplomatieke diens wêreldwyd voortgegaan om die vlag van Estland te gebruik, terwyl die gebruik van die nasionale driekleur en sy kleure blou, swart en wit in die Sowjetunie verbied en strafbaar was tot in 1988. 21 Oktober 1987 word onthou as die eerste keer dat Sowjettroepe nie die vlag tydens ’n openbare geleentheid gestryk het nie. Op 20 Oktober 1988 is die gebruik van die blou-swart-wit-vlag amptelik weer toegelaat deur die Estniese owerhede. Op die aand van 23 Februarie 1989 is die Sowjetse vlag permanent van die Pikk Hermann by die Toompea-kasteel verwyder. Dit is op die volgende oggend, 24 Februarie, op die 70ste herdenking van Estland se onafhanklikheidsverklaring met die nasionale blou-swart-wit-vlag vervang. Dit is op 7 Augustus 1990 weer formeel verklaar tot nasionale vlag, ’n rapsie langer as ’n jaar voordat Estland weer volle onafhanklikheid verkry het. Met die Wet op Simbole van Estland, wat op 8 Mei 1990 goedgekeur is, ’n jaar voor Estland se volle onafhanklikwording in 1991 is die gebruik van beide die Estniese SSR-vlag en embleem as staatsimbole amptelik beëindig.
Vorige vlae
Simboliek duimnael|’n Interpretatiewe weergawe vir die driekleur as verteenwoordigend van Estland se natuurtonele Daar is ’n spesiale liedjie vir die vlag van Estland: “Die Estlandse vlag" (Eesti lipp). Die liriekskrywer, Martin Lipp, het ’n gelyknamige van gehad en sy gedig is in 1922 getoonset deur die komponis Enn Võrk. ’n Simboliese interpretasie wat deur die digkuns van Martin Lipp gewildheid verwerf het, is dat die blou vir die gewelfde lug bo die Estlanders, die swart vir die gehegtheid aan die grond van hul tuisland en die wit vir reinheid, harde werk en toewyding staan.
Ontwerp duimnael|Die Estlandse vlag oor die parlementsgebou in Tallinn
Die Estlandse vlag het die volgende tegniese ontwerp:
350px|senter|Konstruksietekening
Kleure duimnael|’n Wapperende vlag van Estland Die kleure vir die vlag soos deur die vlagwet bepaal, is soos volg:
40pxKleurskema Blou Swart Wit Pantone 285 C Black White RGB 0, 114, 206 0, 0, 0 255, 255, 255 CMYK 91, 43, 0, 0 0, 0, 0, 100 0, 0, 0, 0 Heksadesimaal #0072CE #000000 #FFFFFF
Seleksies uit die Estniese Vlagwet duimnael|Die vlag van Estland bo-op die Pikk Hermann-toring, Toompea-kasteel, Tallinn duimnael|Die vlag van Estland bo-op die Suur Munamägi-uitkyktoring, die hoogste punt in Estland op 318 m bo seevlak Die onlangste Estniese vlagwet is op 23 Maart 2005 gepromulgeer en het op 1 Januarie 2006 in werking getree. Dit is sedertdien ’n aantal keer gewysig. Die wet spesifiseer die kleure in Pantone en CMYK-formate, asook wanneer dit gehys mag word en hoe en deur wie dit gebruik mag word. Die minimum grootte van die vlag wat op ’n muurgemonteerde vlagstok of op ’n vlagpaal op die dak van ’n gebou gehys moet word, is 105 by 165 sentimeter (41 by 65 in). Die wet spesifiseer dat die vlag “die etniese sowel as die nasionale vlag” is.
Die vlagwet spesifiseer dat die vlag daagliks met sonsopkoms op die Pikk Hermann in Tallinn gehys moet word, maar nie voor 7h00 nie en dat dit teen sonsondergang gestryk moet word. Aangesien beide 23 en 24 Junie vakansie- en vlagdae is, word in die nag tussen albei dae die Estlandse vlag nie gestryk nie. Die vlagdae volgens die wet is soos volg: