Die skepping () is 'n oratorium wat tussen 1797 en 1798 deur Joseph Haydn (Hob. XXI:2) gekomponeer is en deur baie mense as een van sy meesterwerke beskou word. Die oratorium beeld die skepping van die wêreld uit en vier dit soos wat dit in Genesis beskrywing.

Die teks (libretto) is deur baron Gottfried van Swieten saamgestel. Die werk bestaan uit drie dele en die besetting is vir sopraan-, tenoor- en bassoliste, 'n koor en 'n simfonieorkes. In deel 1 en 2, wat die skepping uitbeeld, verteenwoordig die soliste die aartsengele Raphael (bas), Uriël (tenoor) en Gabriël (sopraan). In deel 3 verteenwoordig die bas en sopraan Adam en Eva.

Die eerste openbare uitvoering het op 19 Maart 1799 in Wene in die ou Burgtheater plaasgevind. Die oratorium is in 1800 met die teks in Duits en Engels gepubliseer. duimnael| Portret van Joseph Haydn deur Johann Carl Rößler (1799) Haydn is besiel om 'n groot oratorium te komponeer ná besoeke aan Engeland in 1791–1792 en 1794–1795, waar hy die oratoriums van G.F. Händel gehoor het wat deur groot orkeste en kore uitgevoer is. Dit is waarskynlik dat Haydn 'n eie komposisie van soortgelyke grootte wou komponeer, maar in die klassieke styl. Onder die werke wat Haydn gehoor het, was Israel in Egipte, waarin Händel op verskillende wyses van toonskildering gebruik gemaak het. Dit word weerspieël in die wyse waarop Haydn met groot vrug van dié musiektegniek in Die Skepping gebruik gemaak het.

Libretto Die Skepping se libretto het 'n lang geskiedenis. Die drie bronne is Genesis, die Bybelse Psalms en Paradise Lost van John Milton. Toe Haydn Engeland in 1795 verlaat, het die impresario Johann Peter Salomon (1745–1815), wat Haydn se konserte daar gereël het, 'n nuwe gedig getiteld The Creation of the World aan hom gegee. Die gedig is oorspronklike aan Händel gegee, maar die ou meester het nie daaraan gewerk nie, omdat die lengte daarvan beteken het dat dit as getoonsette werk langer as vier uur sou duur. Dit is waarskynlik dat Thomas Linley Sr. (1733–1795) die libretto aan Salomon voorsien het. Linley (wat soms Lidley of Liddle genoem word) was hoof van oratoria aan Drury Lane. Dit is moontlik dat Linley self die oorspronklike Engelse libretto geskryf het, maar 'n studie deur Edward Olleson, A. Peter Brown (wat 'n uitstekende "outentieke" partituur daarvan voorberei het) en H.C. Robbins Landon het bevind dat die oorspronklike skrywer steeds onbekend is. duimnael| Portret van die librettis Gottfried van Swieten, Oostenrykse politikus en bibliotekaris Met sy terugkeer na Wene het Haydn die libretto aan Van Swieten gegee. Van Swieten het 'n veelsydige loopbaan gehad as diplomaat, hoof van die Keiserlike Biblioteek, amateurmusikus en beskermheer van musiek. Hy het voorheen al met Haydn saamgewerk as librettis van die toratorium-weergawe van Die sewe laaste woorde van Christus, wat in 1796 in Wene gepremière het. Van Swieten het die Engelse libretto van The Creation in 'n Duitse vertaling hersaamgestel (Die Schöpfung ), waarop Haydn sy komposisie gebaseer het. Van Swieten het ook voorstelle aan Haydn gemaak oor die toonsetting van sommige van die individuele dele. Die werk is in sowel Duits as Engels gepubliseer (1800) en word vandag nog in albei tale uitgevoer.

Vir aanhalings uit die Bybel het Van Swieten verkies om so na as moontlik aan die Engelse King James Version te bly. Volgens Temperley kom die Duitse teks met geen bekende Duitse Bybelvertaling ooreen nie. Dit is eerder só saamgestel dat die woordorde, lettergreepgebruik en aksentpatrone die Engelse teks so na as moontlik navolg. Haydn en Van Swieten moes besef het dat Engelse gehore nie veranderinge aan die heilige teks van hul Bybel geredelik sou aanvaar nie. Daar was ook die gedugte presedente van Messias en Israel in Egipte om in gedagte te hou.

In die finale vorm van die oratorium is die teks gestruktureer as resitatiewe gedeeltes van die teks van Genesis (dikwels met minimale begeleiding), afgewissel met koor- en solo-gedeeltes wat Van Swieten se oorspronklike poësie getoonset het. Van Swieten het ook uittreksels uit Psalms in die koorbewegings gebruik. duimnael| Haydn het in hierdie groot huis (tóé nog in die voorstede van Wene) gewoon terwyl hy Die Skepping gekomponeer het. Dit is vandag 'n Haydn-museum. Swieten was duidelik nie vlot Engelessprekende nie. Die metriesgebaseerde Engelse weergawe van die libretto toon dus verskeie lomp frasserings wat nie as idiomatiese Engels op Haydn se musiek toegepas word nie. 'n Voorbeeld hiervan is die gedeelte wat die nuut geskepte Adam se voorkop beskryf: een gedeelte wat die vars gesnyde Adam se voorkop beskryf: "The large and arched front sublime / of wisdom deep declares the seat". Sedert die eerste publikasie is verskeie pogings aangewend om die Engelse teks te verbeter; uitvoerings in Engelssprekende lande vermy dié probleem egter deur die oorspronklike Duitse libretto te gebruik.

Première en ontvangs duimnael| Die ou Burgteater, waar die openbare première van 1799 in Wene plaasgevind het duimnael| Die ou Covent Garden-teater, waar die Engelse première in 1800 plaasgevind het. Gravure uit 1808. Die eerste uitvoerings in 1798 is op die planke gebring deur die Gesellschaft der Associierten, 'n groep musiekliefhebbers wat deur Van Swieten gereël is om konserte van ernstige musiek te borg; die Gesellschaft het die komponis goed betaal vir die reg om die première uit te voer (Salomon het vir 'n kort ruk gedreig om te dagvaar omdat die Engelse libretto onwettig vertaal is). Die uitvoering is vertraag tot einde April – die onderskeie partye is eers op Goeie Vrydag klaargemaak – maar die voltooide werk is op 29 April voor 'n volledige gehoor gerepeteer.

Die eerste optrede die volgende dag was 'n privaat geleentheid, maar honderde mense het met groot vewagting in die straat rondom die ou Schwarzenberg-paleis saamgedrom om die werk aan te hoor. Mense is slegs op uitnodiging ingelaat. Diegene wat wel uitgenooi is, sluit in ryk kunsbeskermhere en -dames, belangrike regeringsamptenare, vooraanstaande komponiste en musici en 'n keur van die adelstand van verskeie lande. Die die gewone mense, wat tot later sou moes wag om dié nuwe werk te hoor, het só in die strate naby die paleis saamgedrom dat ongeveer 30 spesialepolisielede nodig was om orde te handhaaf. Baie van dié wat bevoorreg genoeg was om binne te wees, was vol lof vir dié nuwe werk. 'n Lid van die gehoor het in 'n brief aan die Neue teutsche Merkur geskryf: "Dit is nou al drie dae sedert daardie gelukkige aand. Dit weerklink steeds in my ore en hart, en my bors is skoon saamgetrek van emosie as ek net daaraan dink."

Die eerste openbare optrede op 19 Maart 1799 in Wene se ou Burgteater aan die Michaeler-plein was lank voor die tyd reeds uitverkoop. Die Skepping is in Haydn se leeftyd byna veertig keer in dié stad uitgevoer. Die werk het kort voor lank 'n gunsteling geword van die Tonkünstlersocietät, 'n liefdadigheidsorganisasie wat weduwees en weeskinders van musici onderhou het. Haydn het die die werk vir die res van sy lewe gereeld vir dié organisasie uitgevoer en gederigeer, dikwels met baie groot ensembles. Die Engelse weergawe The Creation het sy première in 1800 by Covent Garden in Londen gehad. duimnael| Die 1808-uitvoering van Die Skepping ter ere van Haydn; reproduksie van 'n deksel vir 'n skryfbehoeftehouer wat met waterverf deur Balthazar Wigand beskilder is. Klik om te vergroot. Die laaste uitvoering wat Haydn bygewoon het, was op 27 Maart 1808 – 'n jaar voor sy dood. Die bejaarde, siek Haydn is met groot eer op 'n leunstoel ingedra. Volgens een oorlewering het die gehoor spontaan begin juig met die koms van "lig". Haydn het in 'n tipiese gebaar swakkies na bo gewys en gesê: "Nie van my af nie – alles kom Daarvandaan!"

Die skepping is in sy leeftyd meer as veertig keer buite Wene uitgevoer: elders in Oostenryk en Duitsland, dwarsdeur Engeland en in Switserland, Italië, Swede, Spanje, Rusland en die Verenigde State. Ondanks die afname in Haydn se reputasie as komponis in die 19de en vroeë 20ste eeu het die werk nooit die repertorium verlaat nie; trouens, dit word vandag nog gereeld uitgevoer deur sowel professionele as amateurensembles. Daar is verskeie opnames beskikbaar (sien hieronder).

'n Tipiese uitvoering duur ongeveer 105 minute lank (een en 'n driekwart uur).

Musiek

Musici Die oratorium is getoonset vir drie soliste (sopraan, tenoor en bas; daar is ook 'n solo vir alt in die finale), 'n vierstemmige koor (sopraan, alt, tenoor, bas) en 'n groot klassieke orkes wat die volgende instrument insluit:

Fluit I en II ('n derde fluit in no. 29) Hobo I en II Klarinet I (in C) en II (in B-mol) Fagot I en II Basfagot Franse horing I en II (in B-mol (bas en alt), C, D, E-mol, E, F en A) Trompet I en II (in D, C en B-mol) Tromboon I, II en III Keteltrom Viool I en II Altviool Tjello Basviool Basso continuo

Daar is min twyfel dat Haydn 'n enorme klank (volgens die standaard van die tyd) vir die werk wou hê. Tussen die privaat premières vir adellikes en die openbare première in 1799 het Haydn ekstra instrumentale dele by die werk gevoeg. Die getal musici vir die openbare première was ongeveer 120 instrumentaliste en 60 sangers.

In Deel I en II van die werk verteenwoordig die drie soliste engele wat die opeenvolgende ses skeppingsdae beskryf en daarop kommentaar lewer: Gabriël (sopraan), Uriël (tenoor) en Raphael (bas). Deel III stel die eerste man en eerste vrou van die Bybel, Adam en Eva, voor as karakters in die tyd wat hulle voor die sondeval in die tuin van Eden deurgebring het. Adam (bas) word gewoonlik gesing deur dieselfde solis wat Raphael sing, en die sopraanrol van Eva word gewoonlik gesing deur dieselfde solis wat Gabriël sing. Dit was die gebruik wat Haydn gevolg het, maar sommige dirigente verkies om elkeen van die vyf rolle aan afsonderlike soliste te gee.

Koorsangers word in 'n reeks monumentale koorwerke ingespan, waarvan verskeie die einde van 'n pesifieke skeppingsdag vier.

Die orkes speel dikwels alleen, veral in toonskilderings: die verskyning van die son, die skepping van verskillende diere, en bowenal in die ouverture, die beroemde uitbeelding van die chaos voor die skepping.

Struktuur duimnael| Die skepping in L'Antiquité Judaïque (1460 of 1470) Die oratorium bestaan uit drie dele. Deel I handel oor die skepping van lig, die hemel en aarde, die son en maan, en die land, water en plante. Deel II word gewy aan die skepping van die diere en van man en vrou. Deel III beskryf Adam en Eva in die gelukkige tydperk in die Tuin van Eden, wat 'n geïdealiseerde liefde in harmonie met die "nuwe wêreld" uitbeeld.

Die oratorium word hieronder vir elke deel beskryf deur beide 'n tabel met die bewegings en 'n beskrywing van individuele bewegings. Soos in ander oratoriums word die groter musikale nommers ( arias en refreine) dikwels deur 'n kort resitatief voorafgegaan; hier gee die resitatief die werklike woorde van Genesis, terwyl die volgende getal die blote Bybelse verhaal in vers uitbrei. Koraalbewegings word in 'n ander agtergrondkleur uitgelig.

Tekste uit die Bybel volg die 1983- Afrikaanse vertaling.

Deel I