Christian Johan Barnard (bekend as Chris Barnard; 1939–2015)http://esat.sun.ac.za/index.php/Chris_Barnard was 'n Suid-Afrikaanse outeur wat groot beroemdheid verwerf het met sy talle Afrikaanse romans, novelles, kortverhale, toneelspele, hoorspele, draaiboeke en televisiedramas. Barnard was deel van die sogenaamde Sestigers-beweging en in 1975 ’n medestigter van die Afrikaanse Skrywersgilde.Hy was met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Lewe en werk Christian Johan Barnard is op 15 Julie 1939 op die sitrusplaas Mataffin in die distrik Nelspruit gebore as die oudste van twee seuns. Hy het ’n jonger broer Sam. Sy pa, Flip Barnard, is ’n sitrusboer en sy ma, Hanna Blundell, is ’n tuisteskepper. As vyfjarige kind doen hy Perthes-siekte (verbrokkeling van die heuppotjie) op en is vir byna twee jaar in gips en bedlêend, sodat daar gevrees is dat hy nooit sal kan loop nie. Hy matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Nelspruit. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria en behaal die B.A.-graad in 1960 met Afrikaans-Nederlands en Kunsgeskiedenis as hoofvakke.http://www.esaach.org.za/index.php?title=Barnard,_Chris Op universiteit is hy aktief betrokke by die publikasies van die universiteit en is onder andere redakteur van die joolblad, die literêre jaarblad en die eerstejaar gidsblad. Ook op dramagebied speel hy ’n aktiewe rol as voorsitter van die toneelvereniging en is onder andere verantwoordelik vir die onderhandelinge om die reg te verkry om die eerstes te wees wat Bartho Smit se Don Juan onder die boere opvoer, waarin hy ook ’n rol speel. So ontmoet hy vir Bartho, met wie hy lewenslange vriende is.http://www.litnet.co.za/chris-barnard-19392/
Chris aanvaar na universiteit ’n betrekking as joernalis by Die Vaderland, aanvanklik (1961) in Pretoria en vanaf 1962 in Johannesburg, waar hy ook later meewerk aan Dagbreek en Sondagnuus en Die Brandwag. In 1962 tree hy in die huwelik met Annette en drie seuns (Johan, Stephan en Tian) word uit hierdie huwelik gebore, wat later weer ontbind is. Onder aanmoediging van Bartho Smit bring hy ’n gedeelte van die jare 1964 en 1965 in Parys deur, waar hy ’n noue vriendskap met Breyten Breytenbach sluit en hom ook aanmoedig om meer ernstig te begin skryf. Deur Chris se bemiddeling word Breyten se Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes deur Afrikaanse Pers-Boekhandel gepubliseer, waar Bartho Smit destyds die uitgewer was. Chris bring in hierdie tyd ook besoeke aan Spanje, Italië en Duitsland. In Europa maak hy kennis met die moderne teater, wat hom baie beïndruk, asook baie en goeie rolprente. By sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy twee jaar onder Bartho Smit as uitgewer by die Afrikaanse Pers-Boekhandel waarna hy in 1967 tot die Transvaalse redaksie van Die Huisgenoot toetree. Sy rubriek Chriskras wat in hierdie jare in Die Huisgenoot verskyn maak van hom ’n bekende in die volksmond en ’n keur uit hierdie rubrieke word later in drie bundels versamel. Hy bly in hierdie tyd in Blackheath in Johannesburg, maar koop ook ’n plasie ’n entjie anderkant Brits, wat hy Dwaal noem.
Hy speel ’n beduidende rol in die tydperk van streng sensuur. In 1973 kry hy saam met John Miles, Ampie Coetzee en Bartho Smit beheer van die Johannesburgse tak van die Afrikaanse Skrywerskring. Met die verbod op André P. Brink se Kennis van die aand vroeg in 1974 stig hulle ’n fonds vir die verdediging van die boek en reik sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uit. Wanneer die ander lede beswaar aanteken teen hulle standpunte, bedank hulle, ’n aksie wat indirek in 1975 lei tot die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde, waarvan hy ’n stigterslid is. In 1987 word hy verkies as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar bedank hierdie amp in 1988 omdat dit te veel met sy eie skryfwerk inmeng.
Na sy egskeiding trou hy in 1978 met die aktrise en later bekende filmregisseur Katinka Heyns en die egpaar het ’n seun, wat hulle Simon noem. Katinka het ook een seun uit haar vorige huwelik met Koos Roets. Chris begin nou voltyds as vryskutskrywer werk en maak dokumentêre rolprente vir televisie. Saam met sy vrou begin hulle die filmmaatskappy Sonneblom Films. Van die begin van 1981 is hy woonagtig op sy plasie Sandowaan, wat geleë is aan die noordelike hang van die Magaliesberg, digby die Hartbeespoortdam in die distrik Brits. In 1994 moet hy ’n heupvervangingsoperasie ondergaan, ’n uitvloeisel van die Perthes-siekte (verbrokkeling van die heuppotjie) wat hy as vyfjarige kind opgedoen het.
By verskeie geleenthede lewer hy openbare toesprake, soos in 1993 die hooftoespraak by die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad in Bloemfontein onder die opskrif Opstand teen verskillende vorme van mag / gesag. Hierin vra hy of skrywers steeds kan bekostig om soveel tyd af te staan aan debatte oor verskillende groepe se literêre kwellings, in stede daarvan om te praat oor werklik aktuele kwessies soos die mag van armoede, geheime leërs, rampokkergeweld, omgekeerde rassisme en anargie. In September 1993 lewer hy ’n toespraak voor die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom, waar hy uitvaar teen die skryf van venynige resensies en resensente wat lees met ’n komplekse, diepgewortelde wrok teen die samelewing. Hy dien ook in die direksie van die Innibos-Kunstefees wat elke jaar op Mbombela gehou word.
Hy koop in 1994 vir hom die wildplasie Thulani (wat “hou jou bek” beteken) naby Nelspruit, ’n hanetree vanaf die plaas Boschrand waar hy grootgeword het. Op een deel van die plaas boer hy deeltyds met lemoene, makadamianeute, lietsjies en mango’s. Die ander deel van die plaas bewaar hy in sy natuurlike toestand en hou hier sebras, impalas, waterbokke, blouwildebeeste, rietbokke en bosbokke aan. Later vestig hy hom permanent op die plaas. Hy en Katinka het ook ’n vakansiehuis op Onrus, naby die Kaap. Hy word in September 2012 in die opstal van Thulani deur vier gemaskerde rowers aangeval en vasgebind terwyl hulle die huis leeg dra en later met sy bakkie en skootrekenaar (met baie van sy skryfwerk daarop) wegkom. Eers sowat twaalf ure later word hy so gevind. Hierna word sy plaashuis nog drie kere beroof en die laaste keer steel die boewe nie net die rekenaar nie, maar ook die geheuestokkie wat op die lessenaar gelê het. Hierop was die enigste kopie van ’n roman waaraan hy reeds vir agt jaar gewerk het. Daarna word nog drie keer by die opstal ingebreek, maar hy is gelukkig nie een keer tuis nie. Hy verkoop dan die plaas in 2014 en laat bou ’n huis in ’n veiligheidskompleks skaars vyfhonderd meter van Mataffin, net buite Nelspruit (nou Mbombela), waar hy gebore is. In November 2015 word sy regterbeen in ’n operasie by die Wilgers-Hospitaal in Pretoria onder die knie geamputeer,http://lowvelder.co.za/303381/chris-b/ nadat hy lank met die bloedsomloop in die been gesukkel het. Komplikasies tree in ná die operasie en hy word weer in die Wilgers-Hospitaal opgeneem, waar hy op Maandag, 28 Desember 2015 aan ’n hartaanval oorlede is.
Skryfwerk Op skool reeds begin hy skryf. As plaasseun ontwikkel hy ’n besondere liefde vir die natuur, wat hom inspireer om in 1953 ’n lang epiese gedig oor ’n leeufamilie te skryf wat ’n landswye wedstryd van die Afrikaanse jeugblad Patrys wen. In standerd ses skryf hy ’n handleiding oor soogdiere van Suid-Afrika en begin reeds met uitgewers onderhandel voordat die boek klaar geskryf is. Die boek is natuurlik nie gepubliseer nie. Aan die einde van sy hoërskooljare begin hy kortverhale skryf wat hy met min sukses aan tydskrifte stuur. Nietemin besluit hy op agtienjarige ouderdom dat hy graag skrywer wil word. In sy eerste jaar op universiteit stuur hy ’n kortverhaal aan die radio, waar dit voorgelees word en hom geweldig aanmoedig. ’n Aantal gedigte van hom verskyn in 1961 in Tydskrif vir Letterkunde. As student publiseer hy gedigte, kortverhale en sketse in die studenteblaaie Trek, Stiebeuel en Die Perdeby, terwyl sy kortverhaal Berdine in die môre in Oktober 1961 in Inset opgeneem word.
Novelles, kortverhale en rubrieke Dit is met sy prosa wat hy aanvanklik vir hom ’n naam maak in die Afrikaanse letterkunde. Hy begin met korter prosa, naamlik novelles en kortverhale. Sy eerste novelles, Muurspieël en Naelstring, skryf hy terwyl hy op universiteit is en dit word saamgebundel in Bekende onrus. Dit het die mens se seksuele drif as tema en fokus op karakters met obsessionele trekke. Met die voortvlugtende figuur stel hy ook ’n soort figuur bekend wat hy in sy latere werk meer genuanseerd sou uitwerk. Die titel verwys na die algemeen menslike drang na geslagsvervulling en liefde en hoe hierdie drang op unieke wyse in verskillende mense na vore tree. Naelstring het as hoofkarakter ’n gebreklike plaasmeisie, wie se stryd fisies en geestelik van aard is. Sy vlug weg van haar benouende bestaan op die plaas, knoop in die stad ’n verhouding aan en word dan swanger. Eindelik loop haar stryd uit op aksie en vermoor sy haar kind en vlug terug na haar ma, aan wie sy onlosmaakbaar gekoppel is deur die onsigbare naelstring. Muurspieël is minder heg gestruktureer, maar beïndruk tog met die karaktertekening van die onaansienlike Hanna en oom Natie en hulle pogings om ten spyte van liggaamlike gebreke tog emosionele vervulling te vind. Hierdie novelle staan meer in die sfeer van vernuwing in die prosa, veral in die manier waarop plattelandse mense voorgestel word as verwikkelde karakters met ’n demoniese onderstroming.Antonissen, Rob. Spitsberaad. Nasou Beperk Elsiesrivier Eerste uitgawe Eerste druk 1966Smuts, J.P. Inset, Oktober 1961 Bekende onrus word in 1961 bekroon met die eerste CNA-prys.
Die novelle Die houtbeeld is geskryf nog voor Bekende onrus en behandel die kleurprobleem in ’n verhaal van liefde oor die kleurgrens tussen die bruin onderwyser Andries Small en ’n blanke meisie, Mara. Ná haar dood ontstaan daar ’n drang by Andries om as kunstenaar iets tot stand te bring en uit hout ’n beeld van haar te kerf.
Ná hierdie eerste drie novelles skryf Barnard Die gekruisigdes, ’n werk wat hy nooit laat publiseer nie.
Man in die middel sit die rassetema voort, met die titel wat die posisie van die hoofkarakter tussen die blankes en bruin mense uitbeeld. Leon Hugo word in ’n wit gesin se huis groot, maar is in werklikheid ’n bruin man. Wanneer hy die waarheid uitvind, trek hy na ’n ander gebied waar niemand van sy agtergrond bewus is nie en hy as buitestaander sy lewe slyt. Hy word ’n lektor in musiek aan ’n universiteit en trou met ’n wit vrou. Die essensie van die verhaal is Leon se onvermoë om sy eie identiteit te vind, aangesien hy verskeur word tussen sy liefde vir sy vrou en gesin en dié vir sy biologiese broer, Ockert. Hy probeer die waarheid vir sy vrou verberg en hulle verhouding ly daaronder, veral omdat hy huiwerig is om kinders te hê uit vrees dat die kind bruin sal wees. Die gebrek aan kommunikasie tussen die egpaar is egter onwaarskynlik. Hierdie eerste novelles beïndruk reeds met die volwasse temas, die taalgevoeligheid en raak segging, hoewel dit oor die algemeen nog nie heg genoeg gestruktureer en afgerond is nie.Cloete, T.T. Standpunte. Nuwe reeks 50, Desember 1963