thumb|240px|Simbole van seksuele oriëntasie.

Seksuele oriëntasie is ’n blywende patroon van romantiese of seksuele aantrekking (of ’n kombinasie daarvan) tot mense van die teenoorgestelde geslag of gender, dieselfde geslag of gender of albei geslagte of genders. Hierdie aantrekking word gewoonlik homo-, hetero- of biseksualiteit genoem, terwyl aseksualiteit (die gebrek aan aantrekking tot ander) soms as die vierde kategorie geïdentifiseer word.

Dié kategorieë is aspekte van die meer genuanseerde aard van seksuele identiteit en terminologie. Mense kan ook ander terme verkies, soos "panseksueel" of "poliseksueel", of geeneen van hulle nie. Volgens die Amerikaanse Sielkundevereniging verwys seksuele oriëntasie ook "na ’n persoon se sin van identiteit wat op daardie aantrekkings gebaseer is, verwante gedrag en lidmaatskap van ’n gemeenskap van ander met dieselfde aantrekking".

"Androfilie en ginefilie" is terme wat in gedragswetenskap gebruik word om seksuele aantrekking te beskryf as ’n alternatief vir die bekender begrippe. Androfilie is ’n seksuele aantrekking tot manlikheid en ginefilie tot vroulikheid.Schmidt J (2010). Migrating Genders: Westernisation, Migration, and Samoan Fa'afafine, p. 45 Ashgate Publishing, Ltd., Die term "seksuele voorkeur" oorvleuel in ’n groot mate met "seksuele oriëntasie", maar daar word gewoonlik ’n onderskeid getref in sielkundige navorsing. Iemand wat hom as biseksueel beskou, kan byvoorbeeld een geslag bo ’n ander verkies. "Seksuele voorkeur" kan ook dui op ’n mate van keuse, terwyl daar konsensus is dat seksuele oriëntasie nie ’n keuse is nie.

Wetenskaplikes weet nie wat presies die oorsaak van seksuele oriëntasie is nie, maar volgens teorieë word dit veroorsaak deur ’n ingewikkelde wisselwerking tussen genetiese, hormonale en omgewingsfaktore. Hoewel nie ’n enkele teorie algemeen ondersteun word nie, is wetenskaplikes ten gunste van biologiesgebaseerde teorieë. Daar is aansienlik meer bewyse van niesosiale, biologiese oorsake van seksuele oriëntasie as sosiale oorsake, veral vir mans. Daar is geen voldoende bewyse dat ouers of vroeë kinderondervindings ’n rol speel nie. Die meeste mense is heteroseksueel, terwyl ’n minderheid meen hulle is homo- of biseksueel. ’n Persoon se seksualiteit kan op enige plek op ’n skaal voorkom, van net aangetrokke tot lede van die teenoorgestelde geslag tot net aangetrokke tot lede van dieselfde geslag.

Seksuele oriëntasie word hoofsaaklik bestudeer in biologie, neurowetenskap en sielkunde (insluitende seksuologie), maar is ook ’n veld in sosiologie, geskiedenis en die reg.

Definisies Onderskeid tussen terme thumb|240px|Die woorde "aseksuele" en "biseksuele" op 'n vlag tydens die Pride-optog in 2016 in Mexikostad. Seksuele oriëntasie word gewoonlik verdeel in hetero-, homo- en biseksualiteit, met aseksualiteit wat deur sommige navorsers as ’n vierde kategorie beskou word en gedefinieer word as ’n gebrek aan ’n tradisionele seksuele oriëntasie. ’n Aseksueel het min of geen seksuele belangstelling in ander nie en daar is aansienlike debatvoering oor of dit as ’n seksuele oriëntasie beskou moet word.

Die meeste definisies oor seksuele oriëntasie sluit ’n sielkundige komponent in (soos op wie ’n persoon se erotiese begeertes gemik is) asook ’n gedragskomponent (wat fokus op die geslag van die persoon se seksmaats). Sommige mense verkies om eenvoudig ’n individu se eie definisie of identiteit te volg. In die wetenskap word geglo "die kernaantrekkings wat die basis vir volwasse seksuele oriëntasie vorm, kom gewoonlik tussen die middelkinderjare en vroeë adolessensie te voorskyn".

Die Amerikaanse Sielkundevereniging verklaar seksuele oriëntasie "verwys na ’n blywende patroon van emosionele, romantiese en/of seksuele aantrekking tot mans, vroue of albei geslagte", en dat dié reeks aantrekkings en gedrag "in verskeie kulture en nasies dwarsoor die wêreld beskryf word. Baie kulture gebruik identiteitsetikette om mense te beskryf wat uiting aan hierdie aantrekkings gee. In die Verenigde State is die algemeenste etikette lesbiërs (vroue wat aangetrokke voel tot vroue), gay mans (mans wat aangetrokke voel tot mans) en biseksuele mense (mans of vroue wat tot albei geslagte aangetrokke voel). Sommige mense kan egter ander etikette gebruik, of geen." Die vereniging noem ook dat seksuele oriëntasie "verskil van ander komponente van geslag en gender, insluitende biologiese geslag (die antomiese, fisiologiese en genetiese eienskappe wat verbind word met manlik of vroulik wees), genderidentiteit (die sielkundige gevoel van manlik of vroulik wees) en sosiale genderrol (die kulturele norme wat vroulike en manlike gedrag definieer)".

Seksuele identiteit en gedrag is nou verwant aan seksuele oriëntasie, maar daar is ’n verskil: Seksuele identiteit verwys na ’n individu se begrip van die self en gedrag na die persoon se seksdade, terwyl oriëntasie verwys na fantasieë en begeertes. Individue kan in hulle gedrag uiting gee aan hulle seksuele oriëntasie, of nie. Van mense met ’n nieheteroseksuele oriëntasie wat nie ooreenstem met hulle seksuele identiteit nie, word soms gesê hulle is "in die kas". Die term weerspieël egter dalk ’n sekere kulturele verband en ’n spesifieke oorgangstadium in gemeenskappe wat seksuele minderhede geleidelik integreer. In studies oor seksuele oriëntasie gebruik wetenskaplikes gewoonlik die terme "konkordansie" (ooreenstemming) en "diskonkordansie" (nieooreenstemming) as hulle verwys na die mate waarin ’n persoon se seksuele aantrekkings, gedrag en identiteit ooreenstem. Van ’n vrou wat tot ander vroue aangetrokke is, maar haarself as heteroseksueel beskou en net seksuele verhoudings met mans het, kan dus gesê word sy ondervind diskonkordansie tussen haar seksuele oriëntasie (homoseksueel of lesbies) en haar seksuele identiteit en gedrag (heteroseksueel).

"Seksuele identiteit" kan ook gebruik word om ’n persoon se waarneming van sy eie "geslag", eerder as seksuele oriëntasie, te beskryf. Die term "seksuele voorkeur" het min of meer dieselfde betekenis as "seksuele oriëntasie" en die terme word soms afwisselend gebruik, maar die Amerikaanse Sielkundevereniging sê "seksuele voorkeur" dui op ’n mate van vrywillige keuse. Die vereniging se komitee vir gay en lesbiese sake beskou die term as ’n woord wat "heteroseksuele vooroordeel" bevorder. Die term "seksuele oriëntasie" is deur die Nieu-Seeland-Amerikaanse seksuoloog John Money uitgedink in die plek van "seksuele voorkeur" omdat aantrekking nie noodwendig ’n keuse is nie.

Androfilie, ginefilie en ander terme thumb|Androfilie en ginefilie. "Androfilie" en "ginefilie" is terme wat in gedragswetenskap gebruik word om seksuele aantrekking te beskryf as alternatief vir die begrippe hetero- en homoseksueel. Hulle word gebruik om die voorwerp van ’n persoon se aantrekking te beskryf sonder om ’n geslagsrol of genderidentiteit aan die persoon te koppel.

Verwante terme soos "panseksueel" en "poliseksueel" heg ook nie sulke rolle aan die persoon nie.

Deur androfilie en ginefilie te gebruik kan verwarring en aanstoot voorkom word wanneer gepraat word van mense in nie-Westerse kulture, sowel as in die beskrywing van interseks"Interseks" in die AWS. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 11 NNovember 2020. en transgender mense. Die Indiese psigiater Anil Aggrawal verduidelik die terme "is nodig om enorme probleme te oorkom in die bepaling van die seksuele oriëntasie van trans"Trans" in die Algemene Woordeboek van Eietydse Afrikaans (AWEA). Aanlyn by viva-afrikaans.org. Besoek op 10 November 2020. mans en vroue. Dit is byvoorbeeld moeilik om te besluit of ’n trans man wat eroties tot mans aangetrokke voel ’n heteroseksuele vrou of homoseksuele man is; en of ’n trans vrou wat tot vroue aangetrokke voel ’n heteroseksuele man of lesbiese vrou is.

Enige poging om hulle te klassifiseer kan nie net verwarring veroorsaak nie, maar aanstoot gee. In sulke gevalle is dit beter om in die definiëring van seksuele aantrekking eerder te fokus op die voorwerp van die persoon se aantrekking as op die geslag of gender van die persoon."Aggrawal, Anil (2008). Forensic and medico-legal aspects of sexual crimes and unusual sexual practices. CRC Press,

Die Amerikaanse seksuoloog Milton Diamond skryf: "Dit is beter om die terme heteroseksueel, homoseksueel en biseksueel as byvoeglike naamwoorde te gebruik, nie as selfstandige naamwoorde nie, en dit is eerder van toepassing op gedrag, nie mense nie. Dié gebruik is veral voordelig wanneer die maats van transseksuele of interseks individue bespreek word. Dié nuwer terme dra nie die sosiale gewig van die voriges nie."Diamond M (2010). Sexual orientation and gender identity. In Weiner IB, Craighead EW eds. The Corsini Encyclopedia of Psychology, Volume 4. p. 1578. John Wiley and Sons,

Same gender loving, of SGL, is ’n term wat deur sommige Afro-Amerikaners gebruik word vir ’n homoseksuele identiteit.

Gender, transgender, cisgender en konformiteit Die vroegste skrywers oor seksuele oriëtasie het gewoonlik geglo dit is wesentlik gekoppel aan ’n persoon se eie geslag. Daar is byvoorbeeld geglo ’n persoon met ’n tipiese vroulike liggaam wat tot ander persone met ’n vroulike liggaam aangetrokke is, sou manlike eienskappe hê, en omgekeer.Terry, J. (1999). An American obsession: Science, medicine, and homosexuality in modern society. Chicago: University of Chicago Press

thumb|240px|Kathoey, of Ladyboys, in Thailand. Die mening is gedeel deur die meeste belangrike teoretici oor seksuele oriëntasie van die middel 19de tot vroeë 20ste eeu, onder andere Carl Jung en Sigmund Freud, asook deur baie homoseksuele mense self. Dié begrip van homoseksualiteit as seksuele omkering is egter toe al betwis, en deur die tweede helfte van die 20ste eeu is genderidentiteit al hoe meer beskou as ’n verskynsel apart van seksuele oriëntasie. Transgender en cisgender mense kan aangetrokke voel tot mans, vroue of albei, hoewel die voorkoms van verskillende seksuele oriëntasies heeltemal verskil in dié gemeenskappe. ’n Individuele homoseksuele, heteroseksuele of biseksuele persoon kan manlik, vroulik of androgeen wees. Daarbenewens beskou baie lede en ondersteuners van lesbiese en gay gemeenskappe nou die "gender-konformerende heteroseksueel" en die "gender-niekonformerende homoseksueel" as negatiewe stereotipes. In studies deur J. Michael Bailey en Kenneth Zucker is egter bevind die meeste gay mans en lesbiërs in die studie het aangedui dat hulle in hulle kinderjare verskeie mates van gender-niekonformiteit ervaar het.

Transgender mense identifiseer vandag met die seksuele oriëntasie wat ooreenstem met hulle gender. Dit beteken ’n trans vrou wat net tot vroue aangetrokke is, sal dikwels as ’n lesbiër identifiseer en ’n trans man wat net tot vroue aangetrokke voel as ’n heteroseksuele man.

Verhoudings buite oriëntasie Gay en lesbiese mense kan om verskeie redes seksuele verhoudings met mense van die teenoorgestelde geslag hê, onder meer die begeerte om ’n tradisionele gesin te hê en vrees vir diskriminasie en godsdienstige verwerping.

Terwyl sommige LGBT-mense hulle seksuele oriëntasie vir hulle eggenote wegsteek, ontwikkel ander ’n positiewe gay of lesbiese identiteit terwyl hulle in ’n suksesvolle heteroseksuele huwelik is. Om uit die kas te klim teenoor jouself, ’n eggenoot van die teenoorgestelde geslag en kinders kan baie uitdagings inhou.

Oorsake Die presiese oorsake van ’n spesifieke seksuele oriëntasie is nog nie vasgestel nie. Baie navorsing is reeds gedoen om die invloed van genetika, hormone, ontwikkelingsdinamika en sosiale en kulturele invloede te bepaal, en dit het baie mense laat glo biologie en omgewingsfaktore speel ’n komplekse rol in die vorming daarvan. Eens is geglo homoseksualiteit is die gevolg van ’n foutiewe sielkundige ontwikkeling vanweë ondervindings as kind en probleemverhoudings, insluitende seksuele misbruik. Daar is intussen bevind dié idees berus op vooroordeel en waninligting.

Biologie