duimnael|Alain-Fournier in 1905 Alain-Fournier (3 Oktober 1886, La Chapelle-d'Angillon - 22 September 1914, Les Éparges) is die skuilnaam vir die Franse skrywer Henri-Alban Fournier.
Fournier is gebore uit 'n familie van onderwysers. Hy is deur sy vader onderrig in die dorpskool Épineuil-le-Fleuriel (Cher). As 18-jarige is hy verlief op Yvonne Quiévrecourt, maar word verwerp. Hierdie ervaring sou regdeur sy lewe 'n obsessie bly en die basis vorm vir Le Grand Meaulnes (1913), waarin hy 'n "droom- en kinderwêreld optower" wat reeds verlore is. Dit is een van die belangrikste werke in die Franse letterkunde en een van die weinig suksesvolle boeke van die simbolisme. Die boek is as 'n meesterstuk geprys en het op naelskraapse wyse die gesogte Prix Goncourt misgeloop. In 2006 is die boek verfilm deur Jean-Daniel Verhaeghe.
duimnael|Graf van Alain-Fournier in die begraafplaas van Saint-Remy-la-Calonne Afgesien van 'n aantal gedigte, essays en verhale wat gebundel is in die postuum gebundelde Miracles (1924), was dit die enigste werk wat hy sou voltooi. Hy is as luitenant opgeroep en het in die 288ste infanterieregiment gedien. Hy sterf tydens een van die eerste veldslae van die Eerste Wêreldoorlog naby Verdun. Hy is in 'n massagraf begrawe.
Na 'n 14-jarige soektog is sy liggaam uiteindelik in 1991 geïdentifiseer en in die begraafplaas van Saint-Remy-la-Calonne herbegrawe.
Biografie Alain-Fournier is gebore in La Chapelle-d'Angillon, in die Cher département in sentraal-Frankryk, as die seun van skoolonderwysers. Almal wat hom geken het, het hom "Henri" of "Fournier" genoem, aangesien "Alain-Fournier" bloot 'n nom-de-plume was. Hy het 'n jonger suster genaamd Isabelle gehad, aan wie hy baie geheg was. Sy was regdeur sy lewe een van sy eerste lesers, sy vertroueling, vriendin en ondersteuner."Vie et passion d'Alain-Fournier" deur Isabelle Rivière
Hy het aan die Lycée Lakanal in Sceaux, Hauts-de-Seine, naby Parys, gestudeer, waar hy voorberei het vir die toelatingseksamen tot die École Normale Supérieure. Hier het het sy medestudent Jacques Rivière ontmoet, en die twee het goeie vriende geword, hoewel dit 'n rukkie geneem het aangesien Henri se rebelse en speelse aard Rivière aanvanklik vervreem het. Fournier was destyds die leier van 'n groep seuns wat teen ontgroening geveg het en rewolusionêre petisies versprei het. Oor hul groeiende vriendskap het Rivière geskryf: "Onder sy ongetemde uiterlike het ek hom in die aangesig van die lewe ondervind as teer en naïef, gevul met 'n soet, dromerige aard, en selfs oneindig meer kwesbaar as ek". Die twee het uitgerekte en insiggewende gesprekke gehad en dieselfde sensitiwiteit en liefde vir woorde en poësie gedeel, veral wat die Simboliste betref.Inleiding tot Alain-Fournier se gedigte deur Jacques Rivière
Vroeg in 1905 het hy begin om gedigte neer te pen soos "L'ondée" (Die stort) en "Conte du soleil et de la route" (Verhaal van die son en die pad). Hy het hulle met sy suster Isabelle gedeel, wat hulle lieflik gevind het en vir hom geskryf het: "Alleen in jou het ek werklik 'n sterk en vurige siel aangevoel, die siel van 'n digter, iemand wat ly en voel; 'n gestroopte siel, gestroop van al hierdie dinge wat al die ander bederf en verduister, en slegs met jou het ek gevoel dat ek werklik ek was, dat ek alles kon wys, dat jy alles sou verstaan".Brief van Isabelle aan Alain-Fournier, 4 Junie 1905
Op die eerste dag van Junie 1905, terwyl hy langs die oewers van die Seine gestap het, het Henri vir Yvonne de Quièvrecourt raakgesien terwyl sy in die teenoorgestelde rigting gestap het. Hy was betower, en het haar aan boord van 'n rivierboot en in die strate gevolg, en uiteindelik na die huis waar sy gewoon het. Hy het 'n paar keer in die dae daarna daarheen teruggekeer in die hoop om haar te ontmoet. Tien dae later, op 11 Junie, het hy uiteindelik sy kans gehad toe sy op haar eie uitgegaan het. Hy het haar weer gevolg, totdat hy die moed bymekaargeskraap het om met haar te praat. Yvonne het hom eers afgewys, maar hy het uiteindelik haar vertroue gewen, en hulle het saam geloop en gesels. Hierdie oomblik is getrou gefiksionaliseer in Le Grand Meaulnes, wanneer die karakter Augustin Meaulnes vir die eerste keer vir Yvonne De Galais ontmoet. Yvonne (wat eintlik verloof was) het geheimsinnig gesê: "Ons is kinders, ons het dwaas opgetree" en Henri gevra om haar nie weer te volg nie, alhoewel sy na 'n paar treë omgedraai het en hom lank aangekyk het. voordat sy in die skare verdwyn het. 'n Paar dae later het Henri sy herinneringe aan hierdie oomblikke in detail op skrif gestel.
Gedurende dieselfde somer het Fournier 'n paar weke in Londen deurgebring, waar hy vertaalwerk in 'n muurpapierfabriek gedoen het. Hy het 'n tuinpartytjie in Chiswick bygewoon, wat later as inspirasie vir Frantz De Galais se troue in Le Grand Meaulnes gedien het. Alhoewel hy verskeie jong Engelse meisies ontmoet het wat gretig was om tyd saam met hom deur te bring, kon hy nie sy gedagtes van Yvonne afhou nie, en hy het hom onttrek. In briewe het hy Rivière in sy vertroue geneem en geskryf: "Ek wens ek kon met jou oor haar, wie se gesig ek die ander aand weer helder voor my gesien het, en wat my hart oneindig aanroer, gesels. Ek glo dit is nie net 'n klein romantiese episode nie".Brief van Alain-Fournier aan Jacques Rivière, 9 Julie 1905 Hy het ook sy nuutste gedig "A travers les étés" (Van somer tot somer), wat die verhaal van hul ontmoeting vertel, met Rivière gedeel.Briefwisseling tussen Jacques Rivière en Alain-Fournier
Fournier het hierna teruggekeer na Parys om sy studies (1905-1907) voort te sit. In sy briefwisseling het hy vertel hoe terneergedruk hy voel, dat sy studies en die idee om 'n loopbaan na te streef vir hom betekenisloos geword het, en dat hy voel dat hy sy ouers in daardie opsig nie tevrede kon stel nie. Hy het aan Rivière geskryf: "Sedert ek hier aangekom het, is daar iets wat my laat voel asof ek versmoor. Ek veg met alles binne in my om weer moed en selfvertroue bymekaar te skraap. Dis moeilik, donker en onverklaarbaar".Brief van Alain-Fournier aan Jacques Rivière, 4 Oktober 1905 Aan Isabelle het hy vertel: "Hierdie eksamen kan my nie motiveer nie. Dit is so ver van 'n ideaal af, dat ek dit nie eers kan beskou as 'n korttermyn doelwit of 'n eerste stap nie. Van nou af kan ek myself nie daartoe bring om my brein hiervoor te gebruik nie. [...] My lewe lê nie daarin om te studeer en myself uit te put nie. My enigste spyt is dat ek my ouers teleurstel. Ek het lankal opgehou om deur hulle oë te kyk. En ek sal nie hul ideaal, waaraan hulle baie geld bestee het, vervul nie".Brief van Alain-Fournier aan Isabelle, 2 Februarie 1906 Gedurende dieselfde jare het hy dikwels teruggekeer na die huis waar hy Yvonne die vorige jaar gesien het. (alhoewel sy nooit teruggekeer het nie) en in Januarie 1906 het hy sy gedig "Et maintenant que c'est la pluie" (En nou dat dit reën) oor hierdie oomblikke en sy verlange na haar geskryf. Op 1 Junie 1906 het hy teruggekeer na dieselfde plek waar hy Yvonne die eerste keer gesien het, en vir haar gewag omdat hy gehoop het dat sy ook na hom soek, maar sy het nie verskyn nie.
In 1907 het Fournier sy eksamen gedruip. Hy het in die vorige maande gely aan koorsaanvalle as gevolg van uitputting, en tydens toetse het hy aan die slaap geraak. Hy het oorweeg om 'n matroos te word omdat hy die see liefgehad het, maar dit nie verwesentlik nie, aangesien hy bedenkinge oor die tipe werk gehad het. Gedurende dieselfde somer het hy uiteindelik uitgevind dat Yvonne getroud was. Hy was hartseer daaroor, en het in briewe sy gevoel van nuutgevonde algehele eensaamheid uitgespreek. Rivière was pas terug van sy militêre diens, en kon hom daardeur help deur hom saam met sy eie familie met vakansie te neem.
Van 1907 tot 1909 het Fournier militêre diens verrig. In hierdie tyd het hy ook 'n paar essays, gedigte en verhale gepubliseer, wat later gebundel en heruitgegee is onder die naam Miracles. Hy het in briewe aan sy vriende en familie vertel hoe hy gesukkel het met depressie, hopeloosheid en angs gedurende sy diensplig, en hoe gebroke en getraumatiseerd hy gevoel het, selfs nadat hy teruggekeer het.Briefwisseling tussen Alain-Fournier en sy familie Hy het 'n literêre kritikus geword en vir die Le Journal geskryf. Daar het hy André Gide en Paul Claudel ontmoet. Hy was egter nie tevrede met sy werk nie en hy het gesukkel met die verwagtinge van die samelewing teenoor sy eie drome, en die voortdurende vrees om sy jeug te vermors.« Vie et passion d'Alain-Fournier » deur Isabelle Rivière
Sy suster Isabelle en Rivière het mekaar in 1907 ontmoet, toe Rivière 'n paar weke by hul tuis was. Hulle was spoedig verlief op mekaar en het in 1909 getrou. Henri het op hierdie stadium by hulle (en sy en Isabelle se ouers) ingewoon, wat hy sou doen tot 1910. Die drie het Parys se bruisende artistieke lewe saam geniet, hoewel Isabelle en Rivière bekommerd was oor Henri se gemoedstoestand. Hy en Rivière het hieroor geredekawel in briewe, wat 'n tydelike skeuring tussen hulle veroorsaak het. Hy het in verskeie briewe sy ervarings gedeel, wat duidelik sy emosionele nood aangetoon het, soos om byvoorbeeld verdwaal te raak terwyl hy op pad huis toe was,Brief van Alain-Fournier aan Jacques Rivière, 4 April 1910 of om heeldag in die reën rond te dwaal en nagmerries te hê waar hy sy huis nie kon herken nie en niemand kon hoor nie. Brief van Alain-Fournier aan Jeanne, 9 Desember 1910
In 1910 het hy 'n verhouding aangeknoop met Jeanne Bruneau, 'n plattelandse hoedemaker. Sy het hom geïnspireer om die karakter Valentine in "Le Grand Meaulnes" te skep. Hul verhouding het byna kort na hulle ontmoeting geëindig, toe Jeanne hom in vertroue geneem het oor vorige verhoudings. Dit sou tot verskeie argumente en rusies lei. Hy het verskeie romantiese en passievolle briewe aan haar geskryf, wat aantoon hoeveel hy sy ideaal oor liefde met haar wou deel. Hy het gehoop om haar te leer hoe om in ware liefde te glo. Alhoewel hul situasie ongewoon was, aangesien hulle nie getroud of verloof was nie (hy het dit eintlik eers heeltemal vir die ander weggesteek), het hy haar aan Isabelle (saam met sy geliefde niggie Jacqueline) en Rivière (wat later aan Isabelle onthul het dat sy nie 'n woord gesê of selfs na hom gekyk het nie) voorgestel. Hy het oorweeg om met haar te trou, maar hulle verhouding het uiteindelik misluk, veral omdat hy homself nie daartoe kon bring om iemand anders as Yvonne te vra om met hom te trou nie. Hy het ook gevoel dat Jeanne nie daarin geslaag het om die fantasiewêreld wat hy met hom saamgedra het, ten volle te verstaan en te betree nie. Hy het aan haar geskryf: "'n Deel van my lewe speel af in 'n ander wêreld, 'n wêreld gevul met verbeelding en kinderlike paradyse. Diegene wat my baie goed ken, is daarvan bewus. Van verskeie vroue het ek reeds gehoop dat hulle saam met my daarheen sou kon gaan. Niemand het ooit nie".Brief van Alain-Fournier aan Jeanne Bruneau
In 1911 het hy Franse lesse gegee aan sy mededigter T.S. Eliot, wat op daardie stadium in Parys woonagtig was. In 1912 het hy sy werk bedank om die persoonlike assistent van die politikus Casimir Perrier te word.
Hy het in 1910, terwyl hy nog by sy ouers gewoon het, aan Le Grand Meaulnes begin werk en aan Rivière en Isabelle geskryf: "Vir twee weke het ek probeer om hierdie boek kunsmatig te konstrueer soos ek begin het. Dit het nêrens heen gegaan nie. Uiteindelik het ek dit alles weggegooi en [...] eenvoudig, direk, soos in een van my briewe, begin skryf. Ek het al die abstrakte idees en filosofie waarmee ek verstrengel was, weggegooi. En die wonderlikste ding is dat alles steeds daar is, alles wat ek in my hart voel". Le Grand Meaulnes is vroeg in 1913 voltooi en aanvanklik gepubliseer in die Nouvelle Revue Française (van Julie tot Oktober 1913). Hierna is dit in boekvorm uitgegee. Die werk is benoem vir die Prix Goncourt, en is opgedra aan sy suster Isabelle.