Puck is die grootste binnemaan van Uranus. Dit is op 30 Januarie 1985 ontdek op foto's wat deur Voyager 2 geneem is en het die voorlopige naam S/1986 U 1 gekry. Dit is daarna genoem na Puck, ’n karakter in William Shakespeare se toneelstuk Midsomernagdroom. Dit het ook die naam Uranus XV.
Puck se wentelbaan lê tussen Uranus se ringe en die wentelbaan van Uranus se eerste groot maan, Miranda. Dit is min of meer rond en het ’n deursnee van 162 km. Dit het ’n donker oppervlak met baie kraters waarvan die spektrum tekens van waterys toon.
Eienskappe Puck se grootte is tussen dié van Portia (die tweede grootste binnemaan) en Miranda (die kleinste van die vyf groot klassieke mane). Puck wentel tussen Uranus se ringe en Miranda. Min is van die maan bekend buiten sy wentelbaan, radius van sowat 81 km en sy geometriese albedo in sigbare lig van sowat 0,11.
Van die mane wat deur Voyager 2 afgeneem is, is Puck vroeg genoeg ontdek dat die tuig so geprogrammeer kon word dat dit die maan in heelwat detail afneem. Op foto's is dit duidelik Puck het die vorm van ’n effens langwerpige sferoïed (die verhouding tussen asse is 0,97 ± 0,04). Sy oppervlak het talle impakkraters en is grys van kleur.Daar is drie kraters met name op Puck se oppervlak, waarvan die grootste een se deursnee sowat 45 km is. Waarnemings deur die Hubble-ruimteteleskoop en groot grondgebaseerde teleskope het bewyse van waterysabsorpsie in Puck se spektrum gevind.
Niks is van Puck se binnekant bekend nie. Dit bestaan vermoedelik uit ’n mengsel van waterys en die donker materiaal wat in die ringe aangetref word. Dié donker materiaal bestaan moontlik uit rots of stralingsgeprosesseerde organiese verbindings. Die afwesigheid van kraters met helder strale dui daarop dat Puck nie gedifferensieerd is nie, wat beteken die ys- en nieys-bestanddele het nie van mekaar geskei in ’n kern en mantel nie.
Sien ook Uranus se natuurlike satelliete Uranus se ringe
Notas
Verwysings
Bronne
Skakels
Kategorie:Mane van Uranus