Rustelosebenesindroom (RBS) is gewoonlik ’n langtermynsteuring wat meebring dat iemand ’n sterk drang kry om sy bene te beweeg. Daar is dikwels ’n onaagename gevoel in die bene wat effens verbeter as ’n mens hulle beweeg. Dié gevoel word onder meer beskryf as ’n pyn, tinteling of krieweling. Soms word die arms ook geraak.
Die gevoel kom gewoonlik voor wanneer ’n mens rus en daarom kan dit slaap bemoeilik. Weens die versteuring tydens slaap kan mense met RBS deur die dag moeg, geïrriteerd of depressief wees. Baie pasiënte se ledemate kan ook gedurende slaap ruk.
Oorsake en behandeling Risikofaktore vir RBS sluit in lae ystervlakke, nierversaking, Parkinson se siekte, diabetes, gewrigsrumatiek, swangerskap en seliaksiekte. ’n Paar medisynes kan as sneller dien, soos antidepressante, antihistamiene, antipsigotiese middels en kalsiumantangoniste.
Daar is twee hoofsoorte RBS. Een is ’n vorm wat vroeg begin, voor die ouderdom van 45, kom in families voor en word algaande erger. Die ander een begin laat in die lewe, ná 45, begin skielik en word nie erger nie.
Diagnose geskied gewoonlik na aanleiding van ’n pasiënt se simptome nadat alle ander moontlike oorsake uitgeskakel is.
Rustelosebenesindroom kan verbeter as die onderliggende probleem behandel word. Andersins kan medisyne gebruik of leefstylveranderings aangebring word. Laasgenoemde sluit in die staking van alkohol- en tabakgebruik en slaaphigiëne. Meer vroue as mans kry RBS en die voorkoms neem toe met ouderdom.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Siektes