402px|thumb|Die menslike "sirkadiese horlosie". ’n Sirkadiese horlosie of biologiese horlosie is ’n biochemiese wisselaar wat stabiele siklusse aandui en met sontyd gesinchroniseer is. Die periode van so ’n horlosie in die liggaam is noodwendig amper presies 24 uur (die Aarde se huidige son-dag). In die meeste lewende organismes maak ’n interne, gesinchroniseerde sirkadiese horlosie dit vir die organisme moontlik om daaglikse omgewingsveranderings volgens die dag-nag-siklus te voorsien en sy biologiese gedrag dienooreenkomstig aan te pas.

Die term "sirkadies" is afgelei van die Latynse circa ("omtrent") en diem ("dag"), want dit dui nie presies ’n dag aan as die organisme weggeneem word van eksterne aanwysers (soos die lig in die omgewing) nie. Die horlosies in mense in ’n laboratorium met ’n konstante dowwe lig sal byvoorbeeld sowat 24,2 uur per dag aandui, in plaas van presies 24 uur.

Werking In normale omstandighede sal die liggaam se horlosie presies 24 uur aandui omdat dit genoeg daaglikse korrektiewe seine uit die omgewing kry, hoofsaaklik daglig en donkerte. Sirkadiese horlosies is die sentrale meganismes wat sirkadiese ritmes aandryf. Hulle bestaan uit drie belangrike komponente: ’n sentrale biochemiese wisselaar met ’n periode van sowat 24 uur wat tyd hou; ’n reeks invoerbane na hierdie sentrale wisselaar om die horlosie ingestel te hou; ’n reeks uitvoerbane wat gebonde is aan spesifieke fases van die wisselaar en wat ritmes in biochemie, sielkunde, fisiologie en gedrag dwarsdeur die organisme reguleer.

Die horlosie word heringestel namate ’n organisme tydaanwysings uit die omgewing kry, waarvan lig die belangrikste een is. Sirkadiese wisselaars word oral in die liggaam se weefsel aangetref, waar hulle deur beide interne en eksterne seine gesinchroniseer word om transkripsie-aktiwiteit dwarsdeur die dag op ’n weefselspesifieke manier te reguleer. Die sirkadiese horlosie is vervleg met die meeste metaboliese prosesse en word deur ouderdom beïnvloed.

Die basiese molekulêre meganismes van die biologiese horlosie is gedefinieer in gewerwelde spesies, die vrugtevlieg, plante, swamme, bakterieë en na verwagting ook in Archaea.

In 2017 is die Nobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde aan Jeffrey C. Hall, Michael Rosbash en Michael W. Young toegeken "vir hulle ontdekking van molekulêre meganismes wat die sirkadiese ritme beheer" in vrugtevlieë.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Chronobiologie