Chhattisgarhi (छत्तीसगढ़ी, छत्तिसगढ़ी , ଛତିଶଗଡ଼ି), ook Laria of Loriya genoem, is 'n Indo-Ariese taal wat deur sowat 18 miljoen mense in die Indiese deelstaat Chhattisgarh gebesig word. Dit is nou verwant aan Awadhi, Bagheli en Oriya. Die taal word met die Devanagari-alfabet geskryf, maar soms word ook die Oriya-alfabet gebruik.

Chhattisgarhi is voorheen deur naburige bergbewoners Khaltahi en deur mense in die aangrensende gebiede van Orissa Loriya genoem. Die moedertaalsprekers bly veral in die deelstaat Chhattisgarh en aangrensende gebiede van Madhya Pradesh, Orissa en Jharkhand. Chhattisgarhi se kulturele en politieke bewegings, wat in die 1920's ontstaan het, het Chhattisgarhi se taalkundige en kulturele identiteit beweer en vir groter outonomie binne Indië gepleit. Op 1 November 2000 is uit 16 distrikte van die deelstaat Madhya Pradesh die deelstaat Chhattisgarh gestig, waar Chhattisgarhi as 'n ampstaal dien.

Verwysings

Kategorie:Indo-Ariese tale Kategorie:Tale van Indië