Die nasionale vlag van Japan is op 27 Februarie 1870 in gebruik geneem met klein wysigings wat op 13 Augustus 1999 aanvaar is. Die vlag vertoon ’n wit agtergrond met ’n groot rooi skyf in die middel. Die vlag se amptelike naam in Japannees is maar die vlag is beter bekend as .

Die Nisshōki is aangewys as die nasionale vlag in die Wet op die Nasionale Vlag en Volkslied wat gepromulgeer is en op 13 Augustus 1999 in werking getree het. Hoewel geen vroeëre wetgewing ’n nasionale vlag gespesifiseer het nie was die “sonskyf” reeds die de facto nasionale vlag van Japan. Twee proklamasies wat in 1870 deur die Daijō-kan, die regerende liggaam van die vroeë Meijiperiode, uitgevaardig is het elk voorsiening gemaak vir die ontwerp van ’n nasionale vlag. ’n Sonskyfvlag is onder proklamasie 57 van Meiji 3 (uitgevaardig op 27 Februarie 1870) aanvaar as die nasionale vlag vir handelskepe en as die nasionale vlag wat deur die vloot gebruik is onder proklamasie 651 van Meiji 3 (uitgevaardig op 27 Oktober 1870). Gebruik van die Hinomaru is ernstig beperk gedurende die vroeë jare van die besetting van Japan na die Tweede Wêreldoorlog; hierdie beperkinge is later verslap.

Die son speel ’n belangrike rol in die Japannese mitologie en geloof waar dit vertel word dat die keiser ’n direkte afstammeling van die songodin Amaterasu is en dat die legitimiteit van die Japannese keisershuis gerus het op die goddelike aanstelling en afstamming van die hoof-godheid van die oorheersende Sjintoïsme. Die naam van die land asook die ontwerp van die vlag weerspieël hierdie sentrale belangrikheid van die son. Die antieke geskiedenis (Shoku Nihongi) voer aan dat Keiser Monmu in 701 ’n vlag gebruik het wat die son voorgestel het; dit is die eerste opgetekende gebruik van ’n vlag in Japan met ’n sonmotief. Die oudste bestaande vlag word bewaar in die Unpō-ji-tempel in Kōshū, Yamanashi wat dateer uit voor die 16de eeu, en ’n antieke legende wil dit hê dat die vlag deur Keiser Go Reizei in die 11de eeu aan die tempel gegee is.

Openbare persepsie oor die nasionale vlag wissel. Vir sommige Japannese stel die vlag Japan voor en dit kan nie vervang word nie. Westerse en Japannese bronne beweer dat die vlag geskiedkundig ’n kragtige en blywende simbool van Japan was. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog (die Pasifiese Oorlog), is die gebruik van die vlag en die nasionale volkslied Kimigayo ’n omstrede onderwerp vir Japan se openbare skole. Geskille oor die gebruik daarvan het gelei tot protesoptogte en regsgedinge. Die vlag word nie gereeld in Japan vertoon nie weens die vlag se verbintenis met ultranasionalisme. Vir Okinawaers verteenwoordig die vlag die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolglike militêre teenwoordigheid van die Verenigde State. Vir sommige lande wat deur Japan beset is, is die vlag ’n simbool van aggressie en imperialisme. Die Hinomaru is gebruik as werktuig teen geokkupeerde nasies vir intimidasiedoeleindes, om Japan se oorheersing en onderwerping te handhaaf. Verskeie militêre baniere van Japan is op die Hinomaru gebaseer, insluitend die bestraalde Vlootvaandel. Die Hinomaru dien ook as sjabloon vir ander Japannese vlae in openbare en privaatgebruik.

Geskiedenis Voor 1900 duimnael|250px|Die vloot van Kuki Yoshitaka in 1594. duimnael|250px|Die oorlogskip Asahi Maru van die Tokugawa-sjogoenaat in 1856. Die presiese oorsprong van die Hinomaru is onbekend maar dit blyk dat die opkomende son reeds so vroeg as die 7de eeu simboliese betekenis gehad het (die Japannese argipel is oos van die Asiese vasteland en dus waar die son “opkom”). In 607 is ’n amptelike korrespondensie wat begin is met “van die keiser van die opkomende son” na Keiser Yang van Sui van China gestuur. Daar word dikwels na Japan as die “land van die opkomende son” verwys. In die 12de-eeuse werk Heike Monogatari is geskryf hoe verskillende samoerai sketse van die son op hul waaiers vertoon het. Een verbandhoudende legende word aan die Boeddhistiese priester Nichiren toegeskryf. Nichiren het kwansuis gedurende ’n 13de-eeuse Mongoolse inval in Japan ’n sonbanier aan die sjogoen gegee om na die slagveld te vat. Die son is ook nou verwant aan die Japannese Keiserhuis omdat die keiserlike troon neergedaal het van die songodin Amaterasu.

Een van Japan se oudste vlae word bewaar in die Unpō-ji-tempel in die Yamanashi Prefektuur. Volgens oorlewering is dit deur Keiser Go-Reizei aan Minamoto no Yoshimitsu gegee en is dit vir die afgelope 1000 jaar as familieskat deur die Takeda-familiestam hanteer en dit dateer uit ten minste voor die 16de eeu.

Die vroegste aangetekende vlae in Japan dateer uit die tydperk van unifikasie in die laat-16de-eeu. Die vlae het aan elke daimyō behoort en is hoofsaaklik op die slagveld gebruik. Die meeste vlae was lang baniere waarop die mon (familiewapen) van die Daimyō-opperheer aangebring is. Lede van dieselfde familie het verskillende oorlogsvlae gebruik. Die vlae het identifikasiedoeleindes gehad en is deur soldate op hul rûe en perde vertoon. Generaals het ook hul eie vlae gehad wat verskil het van dié van die soldate in die opsig dat hulle vierkantig was.

In 1854, gedurende die Tokugawa-sjogoenaat, is Japannese skepe beveel om die Hinomaru te vertoon om hulself te onderskei van buitelandse skepe. Voor dié tyd is verskillende tipes van die Hinomaru-vlag gebruik op skepe wat met Amerika en Rusland handel gedryf het. In 1870 is die Hinomaru as die vlag van Japan verorden en van 1870 tot 1885 was dit die wettige nasionale vlag van Japan (dit was die eerste nasionale vlag van Japan).

Hoewel die idee van nasionale simbole ’n vreemde konsep vir die Japannese was, het die Meiji-regering dit benodig om met die buitewêreld te kommunikeer. Dit het veral belangrik geword na die aanlanding van Kommodoor Matthew Perry van die Verenigde State in Yokohamabaai Die implementerings van die Meiji-regering het nog meer identifikasies aan Japan gegee, insluitend die Kimigayo en die keiserlike seël. In 1885 is alle vorige wette wat nie in die Amptelike Gaset van Japan gepubliseer is nie, afgeskaf. As gevolg van hierdie beslissing deur die nuwe Japannese kabinet, was die Hinomaru die de facto nasionale vlag aangesien geen wet in plek was na die Meiji-Herstelling nie.

Vroeë konflikte en die Stille Oseaanoorlog duimnael|links|Foto van ’n militêre inskrywing in die 1930’s. Die Hinomaru word op die huis vertoon en deur verskeie kinders vasgehou. duimnael|Propagandaplakkaat wat harmonie onder Japannese, Chinese en Mantsjoe’s bevorder. Die onderskrif in Chinees: “Met Japannese, Chinese en Mantsjoekwo-samewerking kan die wêreld in vrede wees”. Die gebruik van die nasionale vlag het toegeneem na gelang van Japan se versugting om ’n ryk te ontwikkel en die Hinomaru is gebruik tydens vieringe na Japan se oorwinnings in die Eerste Chinees-Japannese en Russies-Japannese Oorloë. Die vlag is ook deur die land in oorloë gebruik. In 1934 het ’n Japannese propagandafilm buitelandse nasionale vlae as onvolledig of gebrekkig in hul ontwerpe voorgestel terwyl die Japannese vlag perfek in alle opsigte was. In 1937 het ’n groep meisies van die Hiroshima-prefektuur solidariteit met Japannese soldate wat in China diens gedoen het gedurende die Tweede Chinees-Japannese Oorlog, getoon deur “vlagmaaltye” te eet wat bestaan het uit umeboshi en rys. Die Hinomaru bentō het tot die 1940’s die grootste simbool van Japan se oorlogsmobilisering en solidariteit met sy soldate geword.

Japan se vroeë oorwinnings in die Chinees-Japannese Oorlog het tot gevolg gehad dat die Hinomaru tydens die vieringe daarvan gebruik word. Talle Japannese het dit op parades vertoon.

Handboeke gedurende hierdie periode het ook die Hinomaru met verskeie slagspreuke op gehad wat toewyding aan die Keiser en die land verkondig het. Aan Japannese kinders is die deugde van patriotisme geleer. Uitdrukkings van patriotisme soos die vertoon van die vlag en daaglikse verering van die Keiser was deel daarvan om ’n “goeie Japannees” te wees.

Die vlag was ’n werktuig van Japannese imperialisme in die besette Suidoos-Asiese areas gedurende die Tweede Wêreldoorlog: mense moes die vlag vertoon en skoolkinders het soggens tydens vlagparades Kimigayo gesing. Gebruik van plaaslike vlae is vir sommige areas toegestaan soos in die Filippyne, Indonesië en Mantsjoekwo. In Korea, wat deel van die Japannese Keiserryk uitgemaak het, is die Hinomaru en ander simbole gebruik om te verklaar dat die Koreane onderdane van die ryk was.

Vir die Japannese was die Hinomaru die “Opkomende Son-vlag wat lig sou gee aan die ganse donker wêreld.” Vir Westerlinge was dit een van die Japannese weermag se kragtigste simbole.

Amerikaanse besetting duimnael|links|Die Hinomaru word gestryk in Seoel op 9 September 1945, die dag van oorgawe. Die Hinomaru was die de facto vlag vir die verloop van die Tweede Wêreldoorlog en die tydperk van besetting. Gedurende die besetting van Japan na die Tweede Wêreldoorlog moes toestemming van die Opperbevelhebber van die Geallieerde Magte verkry word om die Hinomaru te vertoon. Bronne verskil oor die mate waarin die gebruik van die Hinomaru beperk is; sommiges gebruik die term “verbied”; maar hoewel die oorspronklike beperkinge swaar was, is die gebruik van die vlag nooit regstreeks verbied nie.

Na die Tweede Wêreldoorlog is ’n vaandel van die Amerikaanse Vlootskeepsbeheerowerheid vir Japannese handelskepe deur burgerlike Japannese skepe gebruik. Die vaandel, ’n gewysigde weergawe van die “E”-seinvlag, is van September 1945 gebruik tot aan die einde van die Amerikaanse besetting van Japan. Amerikaanse skepe wat in Japannese waters gevaar het, het ’n gewysigde “O”-seinvlag as hul vaandel gebruik.

Op 2 Mei 1947 het generaal Douglas MacArthur die verbod op die vertoon van die Hinomaru op die terrein van die Nasionale Diet-gebou, die Keiserlike Paleis, die woning van die Eerste Minister en die Hooggeregshofgebou opgehef met die bekragtiging van die nuwe Japannese Grondwet. Die beperkinge is in 1948 verder verslap en mense is toegelaat om die vlag op nasionale vakansiedae by hul huise te vertoon. In Januarie 1949 is die beperkinge totaal afgeskaf en enigiemand kon sonder toestemming die Hinomaru enige plek vertoon. Die gevolg was dat burgers tot in die vroeë 1950’s aangemoedig is om die Hinomaru te vertoon.

Na-oorlogse tydperk tot 1999 duimnael|Die Hinomaru word voor die hoofkwartier van die Verenigde Nasies gehys in 1956 Sedert die Tweede Wêreldoorlog is Japan se vlag gekritiseer weens sy verbintenis met die land se militaristiese verlede. Soortgelyke besware is ook geopper oor die Kimigayo. Die gevoelens oor die Hinomaru en die Kimigayo het ’n algemene verskuiwing van ’n patriotiese gevoel oor “Dai Nippon” – Groot Japan – na die pasifistiese en anti-militêre “Nihon”. As gevolg van hierdie ideologiese verskuiwing is die vlag na afloop van die oorlog in ’n mindere mate gebruik selfs al is die beperkinge in 1949 opgehef.

Soos Japan homself diplomaties begin hervestig het, is die Hinomaru oorsee as politieke wapen gebruik. Tydens ’n besoek deur Keiser Hirohito en Keiserin Kōjun aan Nederland, is die Hinomaru verbrand deur Nederlandse burgers wat daarop aangedring het dat die twee na Japan teruggestuur word of dat Japan voor die hof gedaag word vir die dood van Nederlandse krygsgevangenes gedurende die Tweede Wêreldoorlog. In Japan was die Hinomaru nie eens gebruik in proteste teen die onderhandelinge vir ’n nuwe Status van Magte-akkoord tussen Amerika en Japan nie. ’n Rooi vlag is algemeen gebruik deur vakbonde en ander opstandelinge.