Sint Petersburg (Russies: Санкт-Петербург; transkripsie: Sankt-Peterburg, [ˈsankt pʲɪtʲɪrˈburk], ) is ’n federale stad van Rusland en die naasgrootse stad ná die hoofstad Moskou. Dit is geleë in die Noordwestelike Federale Distrik aan die Newarivier oos van die Golf van Finland. Die stad, wat na tsaar Pieter die Grote se beskermheilige, die apostel Simon Petrus, genoem is en die Duitse naam Sankt Petersburg dra, het met die begin van die Eerste Wêreldoorlog, toe anti-Duitse gevoelens opgewek is, die Russiese naam Petrograd (Russies: Петроград) gekry en is later tot ere van Wladimir Lenin Leningrad (Russies: Ленинград) genoem. Ná die ontbinding van die Sowjetunie is in 1991 'n referendum gehou oor die stadsnaam. Sint Petersburg, wat deur sy bewoners dikwels kortweg Piter genoem word, het sy oorspronklike naam teruggekry.

duimnael|links|Lugaansig van die Peterhof-paleis, die gunstelingpaleis en somerresidensie van tsaar Pieter die Grote waarna dikwels as die "Russiese Versailles" verwys word duimnael|links|Wit Nagte gedurende midsomer in Junie en Julie duimnael|links|Sint Petersburgse hoërskoolleerders vier hul matriekeksamen sedert die 1950's met 'n vrolike en kleurryke fees in Junie waarin die hele stad deel – Alje Paroesa of die "Fees van skarlaken seile" duimnael|links|Bolsjeochtinski-brug met Smolni-katedraal teen die agtergrond Sint Petersburg is op 27 Mei 1703 gestig deur Pieter die Grote van die Russiese Ryk en was langer as tweehonderd jaar (1712–1728, 1732–1918) die land se hoofstad. Met 'n bevolking van 5,39 miljoen (soos op 1 Januarie 2020) is dit die tweede grootste stad in Rusland na Moskou, asook die vierde grootste in Europa na Londen en Parys. Sint Petersburg is een van Europa se vernaamste wetenskap-, kultuur- en nywerheidsentrums en ’n belangrike hawe aan die Baltiese See. Daarnaas is dit die wêreld se noordelikste miljoenestad.

Die "Venesië van die Noorde", soos Sint Petersburg – 'n stad wat op 42 eilande in die Newa-delta ontstaan wat deur meer as 400 brûe en talle kanale met mekaar verbind word – dikwels genoem word, was die resultaat van 'n grootskaalse stedelike bouprojek wat in 1703 onder tsaar Pieter die Grote begin is en slegs danksy die grootskaalse gebruik van dwangarbeiders – onder wie Russiese soldate, Sweedse en Ottomaanse krygsgevangenes – en Finse en Estniese werkers verwesenlik kon word. Hierdie mense het in minder as twintig jaar 'n stad voltooi wat, volgens die ontwerp van die Franse boumeester en tuinontwerper Jean-Baptiste Alexandre Leblond (1679−1719), wat in 1716 as hoofargitek vir die Sint Petersburg-projek aangestel is, 'n onherbergsame kusgebied in 'n eersterangse Europese metropool met paleise, kerke en kloosters asook tweeverdiepingwoonhuise omgeskep het.

Tsaar Pieter die Grote se visie was om vir Rusland – destyds 'n uitgestrekte, maar agtergeblewe ryk – 'n "venster na die weste" te open om sy land toeganklik te maak vir die ontwikkelde Europa se ambagte, kuns en beskawing. As timmerman in Amsterdam het hy self onder die indruk van 'n moderne stad gestaan wat as voorbeeld vir sy nuwe regeringsetel sou dien – 'n vooruitstrewende metropool met seehawe, kanale en brûe.

Sint Petersburg se pragstraat, die Nefskij-prospekt met sy indrukwekkende Jugendstilfasades, die Russiese Museum en die Grand Hotel Europa, ding mee met Parys se Champs-Élysées en die Kurfürstendamm in Berlyn – en vir die digter Nikolai Gogol was hierdie laan die grootste aantreklikheid in Rusland se Oosseemetropool.

Sint Petersburg se argitektoniese erfenis verenig 'n verskeidenheid uiteenlopende boustyle soos barok-, rokoko- en suiwer neoklassieke boustyle met geboue soos die Admiraliteits-, Winter- en Marmerpaleis en die Hermitage. So is die historiese middestad tot Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.

Sint Petersburg was in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, 'n dinamiese periode van ontwikkeling in die Russiese Ryk, die setel van die meeste banke en sodoende die spilpunt van Russiese kapitalisme en globalisering, waar sosiale klasse gevorm en maatskaplike mobiliteit begin het (maar ook grootskaalse verstedelikings- en transformasieprosesse aan die gang was – die oorgrote meerderheid van Sint Petersburgers in die jare voor die Groot Oorlog was voormalige boere), die bakermat van nuwe strominge in literatuur, argitektuur, musiek en skilderkuns, van Russiese massakultuur en van 'n lewendige burgerlike samelewing – prosesse wat van die stad omstreeks 1900 een van die sentra van Europese modernisme gemaak het en eers deur die Russiese Oktoberrewolusie in 1917, waarin die stad 'n sleutelrol gespeel het, skielik tot stilstand gedwing is. Karl Schlögel, Frithjof Benjamin Schenk en Markus Ackeret (reds.): Sankt Petersburg. Schauplatz einer Stadtgeschichte. Frankfurt am Main: Campus 2007, bl. 29

Ter geleentheid van sy driehonderdjarige jubileum in 2003 het Sint Petersburg sy status as een van Europa se groot metropole hervat.

Stadsnaam en bynaam Pieter die Grote het die stad, wat hy laat bou het, genoem na sy beskermheilige, die apostel Petrus. Aanvanklik is – na gelang van sy verblyf in Nederland – die Nederlandse toponimie Sankt-Pieterburch gekies, maar dit is kort na die stad se stigting na die Duitse Sankt-Peterburg verander. Ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, toe anti-Duitse sentiment hoog geloop het, is die stad herdoop tot Petrograd. Ná Wladimir Lenin se afsterwe is dit ter ere van die Sowjetleier hernoem as Leningrad. Met die verbrokkeling van die Sowjetunie en die ontbinding van die kommunistiese regeringstelsel het die stad op 6 September 1991 weer sy historiese naam teruggekry. Die omliggende distrik se naam is nogtans nie aangetas nie – dit staan steeds bekend as die Leningrad-oblast.

Naas "Venesië van die Noorde" word na Sint Petersburg ook verwys as die "Palmyra van die Noorde", die "Noordelike Hoofstad van Rusland" (na gelang van sy mededinging met Moskou, Rusland se ander groot metropool en huidige hoofstad) en "Stad op 101 Eilande" ('n sinspeling op die stad se ligging in die Newarivierdelta met sy talle eilande).

Geografie duimnael|Strandlewe naby 'n hotel in die stadsdeel Zelenogorsk Sint Petersburg het in 'n voormalige moerasgebied naby die Newamonding in die Finse Golf ontstaan. Die huidige stadsgebied strek oor 1 431 km² (insluitende die voorstede Peterhof en Poesjkin wat sedert 1999 administratief onder beheer van die Sint Petersburgse stadsregering staan), waarvan sowat 'n tiende deur waterliggame beslaan word. Van die oorspronlike eilande in die stadsgebied het 42 bewaar gebly. Hul getal is merkbaar verminder nadat baie kanale opgevul is.

Omrede die Newamonding ongeveer op seevlak geleë is, en grondwater tydens die boubedrywighede reeds op 'n diepte van enkele sentimeter aangetref is, moes die beboude gebied op hoër geleë terrein ontstaan. Tans is Sint Petersburg tussen twee en vier meter bo seevlak geleë. Die oewers is met granietblokke beveilig wat die stad nie net teen vloedwater beskerm nie, maar ook bydra tot Sint Petersburg se stadskarakter. Die Russiese digter Alexander Poesjkin het die Newa in sy gedig Die Ysterruiter derhalwe as 'n rivier beskryf wat "in graniet gehul" is.

Nogtans word Sint Petersburg voortdurend deur vloedwater en oorstromings bedreig. Die stadsdeel Kronstadt, wat op 'n eiland geleë is, dien as nulpunt vir die waterstand. Die "Kronstadtse waterpeil" se nulpunt is sowat 15 sentimeter hoër as die Amsterdamse waterpeil (wat ook in Duitsland gebruiklik is). Dit is die verwysingspunt vir waterpeilmetings in groot dele van Oos-Europa. Tot en met 1993 is dit ook in die oostelike deelstate van die herenigde Duitsland vir hierdie doeleinde gebruik.

Sint Petersburg is reeds verskeie kere deur oorstromings geraak. Volgens die amptelike statistiek van 2003 is die stad vanaf sy stigting 295 keer oorstroom (waarvan 44 oorstromings vanaf 1980 voorgekom het). Verwoestende oorstromings het die stad in 1824 en 1924 getref. Tydens die vloed van 1824, wat as inspirasie vir Poesjkin se Ysterruiter-gedig gedien het, was die waterpeil 4,2 meter bo die nulpunt. Tussen 200 en 500 inwoners het hul lewens verloor, terwyl 462 geboue vernietig is.

Klimaat Sint Petersburg, die noordelikste miljoenemetropool op aarde, is op die 60ste en dus dieselfde breedtegraad geleë soos die Skandinawiese hoofstede Oslo en Stockholm, die suide van Alaska en die suidpunt van Groenland. Die wisselende weerstoestande van Sint Petersburg word deur sy ligging aan die Oossee bepaal. Die stad het 'n seeklimaat met gematigde somers en gemiddelde temperature van tussen 19 en 22 °C. Gedurendce die wintermaande daal die kwik tot gemiddeldes tussen -4 en -8 °C. Die hoogste temperatuur ooit is in 2010 met 37 °C gemeet, die laagste was -42 °C in die winter van 1941.

Die ligging op die noordelike 60ste breedtegraad beteken dat die stad in die tyd van die Somersonstilstand snags nie volledig in donkerheid gehul is nie. Die sogenaamde Wit Nagte van Sint Petersburg lok inheemses en toeriste na buite. Een van die gewildste besiensxwaardighede is die opening van Sint Petersburg se brûe vir skeepsvervoer tussen 1 uur snags en 5 uur soggens.

Geskiedenis 'n Beplande stad duimnael|links|200px|Die Bronsruiter, ’n monument ter ere van Pieter die Grote, op Sint Petersburg se Senaatsplein duimnael|Die verlate paleisruïne van groothertog Nikolai Nikolajewitsj in Znamenka (Peterhof) voer mens terug na 'n vergane tydperk duimnael|Sonstrale val helder deur die vensters van die verlate paleis. As gevolg van die rewolusie in 1917 het die meeste adellikes uit die stad gevlug. Baie verlate wonings het vervolgens begin verval. So het waterpype gedurende die winter bevries en in die lente gebars duimnael|links|200px|Die Lachta-sentrum in die gelyknamige stadsdeel, met 462 m die hoogste wolkekrabber in die Russiese Federasie, dien onder meer as hoofkwartier vir die energie-onderneming Gazprom

Pieter die Grote het Sint Petersburg op 27 Mei 1703 gestig in 'n voorheen yl bevolkte gebied wat hy – net soos die Baltiese provinsies – deur oorlogvoering van Swede verower het. Die militêre oorwinnings was eweneens aan 'n moderniseringsproses te danke – danksy Wes-Europese spesialiste is die Russiese leër in 'n strydmag met groot slaankrag omgeskep. Voordat dit aan die tsaar se verwagtinge kon voldoen, is geweldige bedrae daaraan bestee. In Sint Petersburg se stigtingsjaar is byna die hele Russiese staatsbegroting vir militêre uitgawes aangewend. Nog in 1725, die jaar van Pieter se afsterwe, het verdedigingsuitgawes sowat tagtig persent van die totale staatsbesteding verteenwoordig. Tot vandag toe speel die Russiese vloot en leër 'n belangrike rol in die stad.

Vir Pieter het hierdie beleggings uiteindelik die gewenste vrugte afgewerp. Hy – wat as tsaar meer nog as Iwan IV die weswaartse oriëntasie van Rusland op byna alle gebiede, van politiek tot modes (Russiese mans is gedwing om hul baarde af te sny en Wes-Europese klere te dra) met alle mag bevorder het – het Sint Petersburg beskou as sy "venster op die Weste" – groot genoeg om die wind van verandering oor sy uitgestrekte ryk te laat waai. Wat modernisering betref, was Pieter nie net ambisieus nie, maar het hy ook gou ongeduldig geraak met sy onderdane.

Toe hy ná sy studies in Wes-Europa, wat 'n verblyf daar van anderhalf jaar vereis het, na Moskou teruggekeer het, moes hy sy gesag eers weer verstewig en opponente in 'n bloedige stryd uitskakel. Dit was vir hom duidelik dat Moskou met sy dikwels eiesinnige bevolking – wat nie net 'n opposisionele karakter vertoon het nie, maar hardnekkig geweier het om hervormings te aanvaar en steeds vasgeklou het aan ou gelowe en tradisies – aan sy verwagtinge en aanspraak as eersterangse moderne Europese heerser nie langer sou kon voldoen nie. Die enigste opsie was om 'n nuwe moderne hoofstad te bou. Amsterdam, die stad waar Pieter 'n tyd lank gebly het, sou as voorbeeld hiervoor dien.