Michail Wiktorowitsj Popkof (Russies: Михаи́л Ви́кторович Попко́в; gebore 7 Maart 1964) is ’n Russiese reeksmoordenaar en verkragter wat tussen 1992 en 2010 minstens 78 vroue in Angarsk, Irkoetsk en Wladiwostok in Siberië seksueel aangerand en vermoor het. Hy is bekend as Die Weerwolf en die Die Angarsk-maniak as gevolg van die wrede aard van sy misdade.
Popkof was een van Rusland se ergste reeksmoordenaars en is in 2015 skuldig bevind aan 22 moorde. Hy het drie jaar later skuld aan nog 59 moorde beken. Hy is op 10 Desember 2018 skuldig bevind aan 56 van die 59 bykomende moorde. Vir drie moorde kon die polisie nie bewyse vind nie. Popkof het daarvoor ’n tweede lewenslange tronkstraf gekry. Daar was oproepe dat hy tereggestel word, maar dit is nie moontlik nie omdat die doodstraf in Rusland opgeskort is.https://www.theguardian.com/world/2018/dec/10/russias-worst-serial-killer-jailed-for-life-mikhail-popkov
Agtergrond Popkof is in Angarsk gebore. Min is bekend oor sy grootwordjare en persoonlike lewe, buiten dat hy getroud is met Jelena Popkowa en ’n dogter met die naam Jekaterina het. Hy het as ’n polisieman in die Irkoetsk-omgewing gewerk en teen die tyd dat hy in hegtenis geneem is, was hy ook al ’n sekuriteitswag by die Angarsk-oliemaatskappy sowel as by ’n privaat maatskappy.
Popkof se misdade was gemotiveer deur die vermoede dat sy vrou owerspel gepleeg het. Moorde Benewens ’n polisieman was al Popkof se slagoffers vroue tussen 16 en 40 jaar oud. Almal was prostitute of dranksugtige vroue – mense wat Popkof as immoreel beskou het. Op verskillende tye tussen 1992 en 2010 het Popkof in sy polisie-uniform slagoffers in Angarsk, Irkoetsk en Wladiwostok – ’n afstand van 3 900 km – gelok met beloftes van ’n gratis rit en hulle dan seksueel aangerand. Hy het vroue vermoor met instrumente wat messe, byle, bofbalkolwe en skroewedraaiers ingesluit het, en het hulle liggame so vermink dat Russiese media hom "Die Weerwolf" en die "Angarsk-maniak" gedoop het.
Die Russiese polisie het na een skuldige gesoek omdat die vroue wie se liggame in die middel 1990's ontdek is, op dieselfde manier vermoor is. Ondanks uitgebreide ondervragings en die getuienis van oorlewende slagoffers, het Popkof die polisie twee dekades lank ontwyk. Ondersoekers het egter ’n patroon gevind: Die spore van ’n viertrek-Lada, ’n veldvoertuig wat deur wetstoepassers gebruik is, is by talle misdaadtonele ontdek. DNS-toetse op 3 500 huidige en voormalige polisiemanne in 2012 in Irkoetsk het tot Popkof se ingetenisneming in daardie selfde jaar gelei.
In Januarie 2015 is Popkof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir 22 moorde en twee pogings tot moord.
Twee jaar later het Popkof skuld aan nog 59 moorde beken, wat neerkom op ’n getal wat dié van die Russiese reeksmoordenaars Andrei Tsjikatilo en Aleksander Pitsjoesjkin oorskry. Op 10 Desember 2018, ná ’n verhoor in die streekhof van Irkoetsk, is Popkof skuldig bevind aan nog 56 moorde; die ander drie moorde kon nie bevestig word nie weens ’n gebrek aan bewyse. ’n Tweede lewenslange tronkstraf is aan hom opgelê.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Russiese reeksmoordenaars