Bartholomew Roberts (geboortenaam: John Roberts; 17 Mei 1682 - 10 Februarie 1722) was ’n Walliese seerower wat tussen 1719 en 1722 rooftogte uitgevoer het op skepe aan die kus van die Amerikas en Wes-Afrika. Gemeet aan sy getal skepe was hy die suksesvolste seerower van die goue eeu van seerowery:Rediker, Marcus (2004) Villains of All Nations: Atlantic Pirates in the Golden Age. Beacon Press. Hy het meer as 400 skepe verower. Hy was ook bekend as Swart Bart (Wallies: Barti Ddu), blykbaar vanweë sy donker gelaatskleur, maar dié naam is nooit gedurende sy leeftyd gebruik nie.Sanders, Richard (2007), If a Pirate I Must Be ... The True Story of "Black Bart," King of the Caribbean Pirates. Aurum Press, Ltd. p. 18.

Lewe

Hy is in 1682 as John Roberts in Pembrokeshire, Wallis, gebore. Dit is onduidelik hoekom hy sy naam na Bartholomew verander het,Yount, Lisa (2002) Pirates. Lucent Books. maar seerowers het dikwels byname aangeneem. Hy kon dit gekies het na aanleiding van die bekende vrybuiter Bartholomew Sharp se naam. Hy het vermoedelik in 1695 op 13-jarige ouderdom see toe gegaan, maar daar is geen rekord van hom nie voor 1718, toe hy ’n matroos op die sloep Barbados was.Richards, Stanley (1966) Black Bart. Christopher Davies. p. 20

In 1719 was Roberts tweede stuurman op die slaweskip Princess onder kaptein Abraham Plumb. Vroeg in Junie daardie jaar is die skip deur seerowers verower terwyl dit aan die Britse Goudkus (die huidige Ghana) voor anker gelê het. Die seerowers was in twee skepe, die Royal Rover en Royal James, onder kaptein Howell Davis (ook ’n Wallisser van Pembrokeshire). Roberts en verskeie ander bemanningslede is gedwing om by die seerowers aan te sluit.

Davis het gou Roberts se vermoëns as navigator ontdek en kon ook inligting in Wallies aan hom oordra en dit so geheim hou van die ander bemanningslede.Famous Welsh ’n Paar weke nadat Roberts gevang is, is Davis in die hawe van Príncipe doodgeskiet nadat dit bekend geraak het dat hy ’n seerower is. Roberts is daarna as kaptein gekies, moontlik deels omdat hy so ’n goeie navigator was.

Nadat die bemanning Davis se dood op Príncipe gewreek het, het hulle na Brasilië vertrek. Nadat hulle talle skepe verower het, is hulle na die Karibiese See, waar hulle alle seehandel teen 1721 feitlik tot stilstand gebring het.Richards, Stanley (1966) Black Bart. Christopher Davies. p. 59 Daarna is hulle na Wes-Afrika.

Op 10 Februarie 1722 is Roberts naby Kaap Lopez vermoor in ’n skermutseling met kaptein Chaloner Ogle van die Britse vloot. Dit was ’n keerpunt in die oorlog teen seerowery en baie beskou Roberts se dood as die einde van die goue eeu van seerowery.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Seerowers Kategorie:Geboortes in 1682 Kategorie:Sterftes in 1722