180px|thumb|Die houtbeeld dateer van 11 500 jaar gelede en was moontlik aanvanklik hoër as 5 m. Die Idool van Sjigir (Russies: Шигирский идол, Sjigirski idol), of Sjigirbeeld, is sover bekend die oudste houtbeeld in die wêreld en is in die Mesolitikum gemaak, kort ná die einde van die laaste glasiale tyd. Die hout waaruit dit gekerf is, is sowat 11 500 jaar oud.
Die beeld word ten toon gestel in die Swerdlofsk-streeksheemkundemuseum in Jekaterinburg, Rusland.
Ontdekking Die beeld is op 24 Januarie 1894 sowat 4 m diep in die veengrond van Sjigir, aan die oostelike hang van die Middel-Oeral sowat 100 km van Jekaterinburg af, ontdek. Ondersoeke van dié gebied het 40 jaar vroeër begin ná die ontdekking van verskeie prehistoriese voorwerpe in ’n opelluggoudmyn.
Dit is in 10 dele uitgehaal. Professor D.I. Lobanof het die hoofdele aanmekaargesit om ’n beeld van 2,8 m te herskep.
In 1914 het die argeoloog Wladimir Tolmatsjof ’n variasie van die rekonstruksie voorgestel deur die ongebruikte dele ook by te voeg. Volgens dié rekonstruksie was die beeld oorspronklik 5,3 m hoog.http://siberiantimes.com/science/casestudy/features/is-this-the-worlds-oldest-secret-code/ Later het van die dele weggeraak, en net Tolmatsjof se tekeninge het oorgebly.
Datering Die aanvanklike radiokoolstofdatering deur G.I. Zaitsewa van die Russiese Wetenskapakademie se instituut vir die geskiedenis van materiële kulture in Sint Petersburg het op ’n ouderdom van sowat 9 500 jaar gedui, en dit is bevestig deur die akademie se geologiese instituut in Moskou. Eers is in die 1990's geglo dié datering is verkeerd omdat die jagter-versamelaars wat 9 500 jaar gelede in die gebied gewoon het, nie in staat sou wees om so ’n groot beeld te maak en versier nie.Later het ’n Duitse ontleding gedui om ’n ouderdom van 11 500 jaar. Dit is die oudste bekende houtstruktuur in sy soort in die wêreld. Gewoonlik verrot hout in die meeste omgewings, en vergaan gouer as klip en metaal.
thumb|200px|links|Van die gesigte laer af op die idool kan op dié foto gesien word. ’n Versierde horing is naby die idool ontdek en dateer van dieselfde tydperk, en dit het geloofwaardigheid aan die ouderdom van 11 500 jaar verleen.
Beskrywing Die Idool van Sjigir is uit lorkehout gekerf. Die jaarringe op die hout dui op ’n ouderdom van 159 jaar toe die beeld gemaak is. Klipwerktuie is gebruik om die merke te graveer. Die boonste deel is ’n kop met ’n gesig met oë, ’n neus en mond. Die lyf is plat en reghoekig. Geometriese motiewe versier die oppervlak, onder meer sigsaglyne en uitbeeldings van menslike gesigte en hande. Horisontale lyne op dieselfde vlak as die keel kan ribbes voorstel. Militêre soort strepe vorm wat gewoonlik die res van die lyf genoem word.
Benewens die gesig heel bo is sommige gesigte ook op verskillende plekke laer af sigbaar.https://huffingtonpost.com/entry/shigir-idol_55e3e761e4b0aec9f353b08d Die rangskikking is dieselfde as op ’n totempaal.
Geleerdes het verskeie voorstelle gehad oor die moontlike betekenisse van die graveermerke. Swetlana Saftsjenko, ’n navorser aan die Swerdlofsk-streekmuseum, het voorgestel die versiering beeld die skeppingsmite uit waarin die skeppers van die idool geglo het. Ander navorsers dink die merke het dalk as ’n soort kaart of navigasiehulp gedien. Professor Michail Zjilin, ’n argeoloog aan die Argeologie-instituut in Moskou, meen die beeld het dalk mitologiese wesens soos woudgeeste uitgebeeld.. Die argeoloog Peter Vang Peterson van die Nasionale Museum van Denemarke het gedink die idool kon gedien het as ’n waarskuwing om nie ’n gevaarlike gebied te betree nie.
Die ontdekking van die beeld het geleerdes se siening oor wanneer mense rituele kuns begin maak het, op sy kop gekeer. Hulle het vroeër geglo komplekse kuns, soos dié van die Idool van Sjigir, het sowat 8 000 jaar gelede in die landbougemeenskappe van die Midde-Ooste begin.
Verwysings
Skakels
Waar het die "Idool van Sjigir" geloop? 'n Pop met vele fassette
Kategorie:Mesolitikum Kategorie:Beeldende kuns Kategorie:Argeologiese artefakte Kategorie:Geskiedenis van Rusland Kategorie:Kuns van Rusland