Badih Chaaban (ca. 1960 - 4 September 2017) was 'n raadslid in die Kaapstadse stadsraad (subraad 17: Athlone, Crawford, Penlyn Estate, Hanover Park, en Manenberg). Hy was 'n lid van die Afrika Moslem Party (AMP) toe hy in Augustus 2006 as raadslid aangewys is, maar het later die vloer oorgesteek om die National People's Party (NPP) te stig wat hy as president gelei het. In November 2015 kondig hy aan dat hy van plan is om uit die politiek te bedank en NPP-leierskap aan sy dogter oor te gee.
Chaaban was omstrede vir sy rol in die vloeroorsteekpolitiek in Kaapstad en ook vir die huurkontrak wat hy op Groentemarkplein gehad het. Vir 15 jaar van 1992 tot 2007 het hy 'n huurkontrak op 83% van die plein gehad en die stad R3,3 miljoen geskuld. Sy huurkontrak is in 2007 gekanselleer te midde van beskuldigings van wanbestuur, rampokkery en korrupsie.
Chaaban veroorsaak amper die ineenstorting van die koalisieregering in Kaapstad met sy dreigement dat as hy nie as hoof van openbare tenders vir die Sokkerwêreldbeker 2010 aangestel word nie, hy die Afrika Moslem Party uit die koalisieregering sou onttrek en die koalisie sodoende in opposisie in die provinsiale wetgewer sou bring. Die toenmalige koalisieleier, Kaapstadse burgemeester Helen Zille, het geweier om aan sy eis te voldoen en het Chaaban afgedank. Die aansluiting van die Onafhanklike Demokrate (OD) by die koalisieregering het verhoed dat die koalisie die opposisie in die wetgewer word.
Chaaban is op 4 September 2017 oorlede.
Verwysings
Bronne
Kategorie:Sterftes in 2017 Kategorie:Geboortes in die 1960's Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Moslems