Zamani Saul (gebore 7 Maart 1972) is 'n Suid-Afrikaanse politikus. Hy is tans die premier van die Noord-Kaap en die provinsiale voorsitter van die African National Congress (ANC), asook lid van die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer. Saul was voorheen die provinsiale sekretaris en adjunk provinsiale sekretaris van die ANC.
Vroeë lewe en opvoeding Saul is op 7 Maart 1972 gebore. Hy het aan die Hoërskool Umso in Colesberg gematrikuleer. Hierna het hy by die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en 'n meestersgraad in ontwikkelingstudies behaal. Hy het 'n meestersgraad in regte en later 'n doktorsgraad in publieke reg en regsleer aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. Hy studeer tans vir 'n doktorsgraad in filosofie in multi-dissiplinêre studies aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Politieke loopbaan Saul was die munisipale bestuurder van die Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit van 2000 tot 2008. In 2004 is hy verkies as adjunk-provinsiale sekretaris van die African National Congress. Hy is in 2008 as die provinsiale sekretaris verkies en herverkies tot 'n tweede termyn in 2012. Op 12 Mei 2017 is hy eenparig verkies as die provinsiale voorsitter van die ANC nadat Sylvia Lucas haar kandidatuur onttrek het. Hy het John Block opgevolg wat in Oktober 2015 uit die pos bedank het. Saul word beskou as iemand wat deel is van die Ramaphosa-faksie van die ANC.
Na die algemene verkiesing in 2019 het die ANC Nasionale Uitvoerende Komitee Saul aangewys as sy premierskandidaat vir die provinsie. Hy is op 22 Mei 2019 as premier verkies.
Persoonlike lewe Saul is getroud met Tapsy en die egpaar het kinders. Hulle woon in Kimberley.
Verwysings
Eksterne skakels
Know your premier: Zamani Saul. SABC News. Besoek op 5 Junie 2020. Zamani Saul. People's Assembly. Dr Zamani Saul: The Northern Cape's new 'activist premier'. News24. Profile : Dr Zamani Saul. Northern Cape Government. Profile: Zamani Saul. Northern Cape Provincial Legislature. Zamani Saul, Dr. South African Government.
Kategorie:Geboortes in 1972 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Suid-Afrikaanse politici