Nine is 'n musiekblyspel wat oorspronklik deur Maury Yeston geskep en geskryf is as 'n klasprojek in Lehman Engel se BMI Music Theatre Workshop in 1973. Dit is later ontwikkel met 'n boek deur Mario Fratti, en later weer met 'n boek deur Arthur Kopit, met musiek en lirieke deur Maury Yeston. Die verhaal is ook gebaseer op Federico Fellini se semi-outobiografiese film 8½ . Dit fokus op die rolprentregisseur Guido Contini wat sy 40ste verjaardag en 'n middeljarekrisis in die gesig staar. Die gebeurtenisse blokkeer sy kreatiewe impulse en verstrengel hom in 'n web van romantiese uitdagings en verwikkelinge in die vroeë 1960's in Venesië.
Die oorspronklike Broadway- produksie is in 1982 geopen en het 729 optredes met Raul Julia gehad. Die musiekblyspel het vyf Tony-toekennings gewen, waaronder vir die beste musieblyspel, en verskeie herlewings geniet.
Agtergrond Yeston het in 1973 aan die musiekblyspel begin werk. Q&A with Yeston in Broadway.com As tiener het hy die Fellini-film gesien en was geïnspireer deur die temas. "Ek het na die skerm gekyk en gesê:'Dit is ek.' Ek het nog steeds geglo in al die drome en ideale van wat dit beteken om 'n kunstenaar te wees, en hier was 'n rolprent oor 'n kunstenaar in moeilikheid. Dit het 'n obsessie geword," het Yeston aan die The New York Times gesê.Kalfatovic, Mary. "Maury Yeston", Contemporary Musicians (red. Luann Brennan). Vol. 22, Gale Group, Inc., 1998 Hy het voorts gesê: " Nine was die projek wat ek regtig desperaat wou aanpak en skryf - ek het nooit vir 'n oomblik gedink dat dit geproduseer sou word nie. Die rolprent het 'n fenomenale invloed op my gehad toe ek dit as tiener gesien het toe dit die eerste keer vertoon is. Ek was gefassineer deur Guido, wat 'n tweede adolessensie deurgemaak het toe ek nog my eerste beleef het! Soos ek gegroei het, het ek begin besef dat daar plek was om die innerlike werking van die vroue wat deur Guido betower is te verken. Ek dink dit is wat die poorte van kreatiwiteit vir Nine geopen het - om van hierdie buitengewone vroue te hoor. Die groot geheim van Nine is dat dit die rolprent 8 1/2 geneem het, en 'n essay geword het oor die mag van vroue, deur die vraag te beantwoord: "Wat is 'n vrou vir 'n man?" En Nine gee vir jou die antwoord: hulle is ons moeders, ons susters, ons onderwysers, ons verleidsters, ons regters, ons verpleegsters, ons vrouens, ons minnaresse, ons muses." Die dramaturg Mario Fratti het in 1977 aan die skryf van die musiekblyspel begin werk, maar die vervaardiger en regisseur Tommy Tune het uiteindelik besluit dat sy draaiboek nie deug nie, en in 1981 vir Arthur Kopit ingebring om 'n heeltemal nuwe draaiboek te skryf, saam met (soos Fratti ook) Maury Yeston as komponis/liriekskrywer, maar nou met gebruikmaking van Yeston se musiek en Fellini se rolprent as bron. Kopit se nuwe draaiboek, saam met die nou-voltooide klankbaan van Yeston, het die draaiboek geword wat in 1982 op Broadway vervaardig is.
Fellini het sy rolprent 8½ genoem ter erkenning van sy vorige werke, wat ses vollengte-films, twee kortfilms en een film bevat waarvan hy mede-regisseer was. Yeston se titel vir die musikale aanpassing daarvan voeg 'n halwe krediet by tot Fellini se uitset en verwys ook na die ouderdom van Guido tydens sy eerste hallusinasietoneel. Yeston het die musiekblyspel Nine genoem en verduidelik dat as jy die musiek by die 8½ voeg, "dit is soos om 'n halwe getal by te voeg."
Storielyn Guido Contini, beroemde Italiaanse filmregisseur, is veertig jaar oud en kom voor dubbele krisisse te staan: hy moet 'n rolprent skiet waarvoor hy nie die draaiboek kan skryf nie, en sy vrou van twintig jaar, die filmster Luisa del Forno, is moontlik op die punt om hom te verlaat indien hy nie meer aandag aan die huwelik kan spandeer nie. Soos dit later sal blyk, is dit dieselfde krisis.
Luisa se pogings om met hom te praat word uitgedoof deur stemme in sy kop: stemme van vroue wat hy deur sy lewe ontmoet en mee kennis gemaak het, die stemme praat deur die mure van sy geheue, dit dring aan, dit is koketterig, uitlokkend, onweerstaanbaar, kragtig. Dit is vroue wat buite om woorde praat (Overture delle Donne). En dit is die vroue wat Guido liefgehad het, en van wie hy die hele lewenskrag van 'n kreatiewe lewe ontleen het, en wat nou net so stilstaan soos sy huwelik.
In 'n poging om rus te vind en die huwelik te red, gaan hulle na 'n spa naby Venesië (Spa Music), waar hulle onmiddellik deur die pers gejaag word, met indringende vrae oor die huwelik en— iets wat Guido nie vir Luisa van vertel het nie — die opkomende rolprentprojek (Not Since Chaplin).
Namate Guido sukkel om 'n storielyn vir sy rolprent te vind, raak hy meer geabsorbeer in sy eie wêreld - sy interne wêreld is soms nouliks onderskeibaar van die objektiewe wêreld (Guido's Song). Sy minnares Carla arriveer in Venesië en skakel hom vanuit haar eensame hotelkamer ("pensione") (A Call from the Vatican) en sy vervaardiger Liliane La Fleur, die voormalige "vedette" van die Folies Bergeres, dring daarop aan dat hy 'n musiekblyspel maak, welke idee met tyd omvorm tot 'n feministiese fantasie van buitengewone lewendigheid (The Script/Folies Bergeres). En die hele tyd kyk Luisa toe, terwyl die veerkragtigheid van haar verterende liefde deur angs opgeneem word en 'n ontstellende bewuswording van hul lewens saam bied (My Husband Makes Movies/Only With You).
Die voortvlugtige verbeelding van Guido manifesteer uiteindelik in die hede en in sy eie verlede, waar hy sy moeder ontmoet wat 'n negejarige seuntjie bad - die jong Guido self (Nine). Die visie lei tot sy herontmoeting en herbelewing van 'n fantasmagoriese oomblik op 'n strand met Saraghina, die prostituut en uitgeworpene na wie hy as 'n nuuskierige kind gegaan het wanneer hy uit sy Katolieke kosskool, St. Sebastian, gekruip het sodat sy hom oor die liefde kan vertel. Haar antwoord, wees jouself (Ti Voglio Bene/Be Italian), en die dans wat sy op die seesand uitvoer, weerklink by die veertigjarige Guido as talisman en herinnering aan die gevolge van daardie nag, naamlik — tugtiging deur die nonne en verwerping deur sy ontstelde moeder (The Bells of St. Sebastian). Die klein seuntjie is nie in staat om die onbegryplike vrees van die volwassenes te verstaan nie, en hy hardloop terug strand toe en vind niks anders as die sand en die wind nie —'n beeld van die vlugtige aard van die liefde en die oorsaak van Guido Contini se kunstenaarskap en on-geankerde bemoeienis: 'n vlugteling-hart.
In die teenswoordige tyd bevind Guido hom weer op die strand. By hom is Claudia Nardi, 'n rolprentster, en die muse van sy grootste suksesse- sy het op 'n vlug van Parys na hom vertrek het omdat hy haar nodig het, maar hierdie keer wil sy nie die rol hê nie. Hy kan nie die verwerping begryp nie. Hy is woedend. Hy kan nie verstaan dat Claudia hom liefhet en wil hê dat hy haar as 'n vrou en 'nie 'n gees' nie moet liefhê - hy besef egter te laat dat dit die werklike rede is waarom sy gekom het. Hy kan haar nie op die manier liefhê nie. Sy word op een of ander manier vrygestel om hom lief te hê vir wat hy is, en om nooit weer op sy liefde te hoop nie. Tergend noem sy hom "My sjarmante Casanova!" waardeur Guido onwillekeurig die inspirasie kry wat na smag en waarvoor hy altyd na haar toe opgekyk het. Terwyl Claudia hom met 'n "Unusual Way" laat gaan, gryp Guido die laaste strooihalm vas - 'n desperate, geïnspireerde rolprent - 'n rolprent wat afspeel op "The Grand Canal", saam met elke vrou wat 'n rol in sy lewe gespeel het.
Die geïmproviseerde rolprent is 'n skouspelagtige botsing tussen sy werklike en sy kreatiewe lewe - 'n rolprent wat net so selfveragtend as wreedaardig voorkom, en waartydens Carla op die stel hardloop om haar egskeiding en haar vreugde dat hulle nou getroud kan wees aan te kondig; slegs om op wrede wyse deur Guido verwerp te word in sy desperate fiksasie met die volgende toneel, waartydens Luisa, wat ontsteld is omdat hy hul intimiteit (en selfs haar eie woorde) as bron vir die rolprent gebruik, uiteindelik van hartseer en woede ontplof.
Guido is alleen. Hy skree "I Can't Make This Movie" wat in die leë ruimte weergalm terwyl hy selfmoord oorweeg. Maar, soos die geweer naby sy kop is, vind 'n laaste onderbreking plaas - 'n toneel van homself op negejarige ouderdom (Getting Tall) waarin die jong Guido daarop wys dat dit tyd is om aan te gaan. Om groot te word. Guido los derhalwe die geweer. Terwyl die vroue terugkeer in 'n herhaling van die Ouverture (Reprises)- maar hierdie keer om hom te laat gaan- is slegs een afwesig: Luisa. Guido voel die pynlike leemte wat gelaat word deur die enigste vrou wat hy ooit sal liefhê. Terwyl die seun sy eie toekoms ingaan na die klanke van "Be Italian", tree Luisa op die finale noot die kamer binne, en draai Guido na haar toe - gereed om die keer te luister.
Produksies
Oorspronklike Broadway-produksie Na negentien voorskoue het die Broadway-produksie, geregisseer deur Tommy Tune en gechoreografeer deur Thommie Walsh, op 9 Mei 1982 by die 46th Street Theatre geopen waar dit 729 vertonings gehad het. Die rolverdeling het Raul Julia as Guido, Karen Akers as Luisa, Liliane Montevecchi as Liliane, Anita Morris as Carla, Shelly Burch as Claudia, Camille Saviola as Mama Maddelena, Kathi Moss as Saraghina, Cameron Johann as die Jong Guido, en Taina Elg as Guido se moeder ingesluit. Die ander rolle is gespeel deur Christopher Evans Allen, Jeanie Bowers, Stephanie Cotsirilos, Kim Criswell, Kate DeZina, Colleen Dodson, Lulu Downs, Louise Edeiken, Laura Kenyon, Linda Kerns, Nancy McCall, Cynthia Meryl, Rita Rehn, Dee Etta Rowe, Jadrien Steele, Frankie Vincent, Patrick Wilcox en Alaina Warren Zachary. Raul Julia het vir 'n jaar Guido gespeel, van 9 Mei 1982 tot 8 Mei 1983. (Bert Convy het Julia vervang terwyl hy twee weke met vakansie was, vanaf 10 Januarie 1983) Sergio Franchi het die rol van Guido vir 330 optredes behartig, van 9 Mei 1983 tot 4 Februarie 1984, die datum waarop die produksie gesluit het; die komponis Maury Yeston het 'n ballade in Franchi-styl getiteld "Now Is the Moment" bygevoeg tot die lieflike Italiaanse klankbaan. Arnold, Christine. "Franchi: Italian to the 'Nine.'" (May 21, 1984). Los Angeles Times Ander plaasvervangers was Maureen McGovern en daarna Eileen Barnett as Luisa, Wanda Richert as Carla, Priscilla Lopez as Liliane, en Barbara Stock as Claudia. Nadat die oorspronklike seuns die vereiste hoogte vir hul rolle bereik het, is hulle vervang deur Derek Scott Lashine as Klein Guido, Jeffrey Vitelli (wat ook ingestaan het as vir Klein Guido), Braden Danner en Peter Brendon. Die musiekblyspel het vyf Tony-toekennings gewen, waaronder die beste musiekblyspel en drie Drama Desk-toekennings, insluitend vir beste musiek, beste lirieke en beste musiekblyspel.
Nasionale toer