Leon Amos Schreiber (gebore op 11 September 1988) is 'n Suid-Afrikaanse outeur, politikus en lid van die Demokratiese Alliansie (DA) wat sedert Julie 2024 as Minister van Binnelandse Sake dien. Hy was van 2019 tot 2024 die Skaduminister van Staatsdiens en Administrasie en is 'n lid van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika.

Vroeë lewe en opvoeding Schreiber is gebore in die Namakwaland-streek van die ou Kaapprovinsie. Hy het aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer en by die Universiteit Stellenbosch gestudeer. In 2015 het hy sy doktorsgraad in politieke wetenskap van die Freie Universität Berlin ontvang.

Loopbaan Schreiber het in 2015 by Princeton-universiteit aangesluit as 'n senior navorsingspesialis. Hy het die boek Coalition Country: South Africa After the ANC geskryf wat in 2018 gepubliseer is.

Lid van die parlement (2019–hede) Schreiber het gou lid van die Demokratiese Alliansie (DA) geword en voor die algemene verkiesing van 2019 het sy naam op die party se verkiesingslys verskyn. Hy is toe verkies en op 22 Mei 2019 is hy ingehuldig as 'n LP. Hy het later die DA se kiesafdeling-voorsitter in Stellenbosch geword.

Op 5 Junie 2019 is Schreiber as Skaduminister van Staatsdiens en Administrasie aangewys. Vanaf Junie 2019 dien hy as lid van die portefeuljekomitee vir staatsdiens en administrasie. Hy was tot Maart 2020 'n plaasvervangende lid van die Ad Hoc-komitee om Artikel 25 van die Grondwet te wysig.

In Oktober 2019 het hy met onmiddellike effek van die Universiteit Stellenbosch se Institusionele Forum bedank, weens die eensydige afskaffing van Afrikaans as onderrigmedium. Hy het gesê hy sal nie teenwoordig wees om te sien hoe moedertaalonderrig uitgefaseer word nie.

Verwysings

Eksterne skakels Dr Leon Amos Schreiber. People's Assembly. Besoek op 29 Mei 2020.

Kategorie:Geboortes in 1988 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Afrikaners Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Suid-Afrikaanse akademici