Hoërskool Monument (ook bekend as Monnas) is 'n dubbelmediumhoërskool in Krugersdorp, Gauteng. Die skool is op 1 Februarie 1921 gestig as die Afrikaanse (dit het later 'n dubbelmediumskool geword) Medium Hoërskool Krugersdorp. Van die kultuuraktiwiteite wat deur die skool aangebied word sluit in koor, debat, public speaking, junior Verenigde Nasies, mej. Monnas, redenaars en revue. Die skool bied ook sportgeriewe vir die volgende: atletiek, gholf, hokkie, jukskei, krieket, landloop, netbal, rugby, skaak, swem en tennis. Monnas het reeds agt Springbokke opgelewer. Hulle is Christo Wagenaar, Brendan Venter, Jorrie Muller, Jaque Fourie, Heinke van der Merwe, Willem Alberts, Jaco Taute en Julian Redelinghuys. Die eerste rugbyspan se bynaam is die Witbulle en die tweedespan die Kwaggas.

Missie en Visie Visie Monnas uniek gefokus

Missie Gefokus op unieke, gebalanseerde groei vir individue, gefundeer in Christelike waardes, selfdissipline, wedersydse respek en diversiteit deur uitnemende opvoeding en onderwys.

Skoolkode Ek dank God dat Hy my lewe en gesondheid gee. Ek sal die voorreg wat ek het om te leer nie verwaarloos nie. Ek sal daarna streef om gesond te wees en te bly, na liggaam en gees. Ek sal myself probeer leer ken en ek sal selfbeheersing beoefen waar en wanneer dit te pas mag kom, veral as 'n middel tot versterking van my karakter. Ek sal netjies wees ten opsigte van my persoon, my klere, my boeke, my skoolbank, my omgewing in die klaskamer, my omgewing op die skoolterrein en daar buite. Ek sal die goeie naam van die skool in ere hou. Ek sal die eiendom van 'n ander respekteer net soos ek dit van hom verwag – so ook die eiendom van die gemeenskap, soos die gebou, uitrusting en meubels van die skool, en waar ek in die koshuis is, ook dié van die koshuis. Ek sal die vereistes van beleefdheid en goeie gedrag oral en altyd nakom. Ek sal veral teenoor oueres beleefd wees.

Skoollied Die woorde van die skoollied is in 1951 deur J.C. Mentz geskryf en die musiek daarvoor in 1962 deur Pierre Malan.

Soos die dagbreek oor ons velde is die stukrag van ons jeug. In ons strewe na wat skoon is, na die kennis en die deug.

Vir wat mooi is in ons eie is ons wil en krag en werk, vir wat hoog is en verhewe vir wat edel is en sterk.

Ons durf tot daad en lewe sal geen weerstand ooit verwoes, maar gebuk by taaie arbeid sal ons liewer slyt as roes.

Laat ons saamstaan in ons keuse, laat die vaandels dan ontvou met die Monument se leuse op ons Ougoud, Bruin en Blou!

Noemenswaardige alumni Alana Bailey, skryfster T.T. Cloete, Afrikaanse digter en letterkundige Anton Hartman, musiekdirekteur van die SAUK en dirigent Ina Rousseau, 'n Suid-Afrikaanse digter en skrywer

Eksterne skakels Monnas se tuisblad

Kategorie:Skole in Gauteng