Hawaii (Engels: [həˈwaɪ.i], ; Hawais: Hawaiʻi, [həˈvɐjʔi] of [həˈwɐjʔi]), amptelik die Deelstaat Hawaii (Engels: State of Hawaii; Hawais: Mokuʻāina o Hawaiʻi), is 'n vulkaniese eilandgroep wat sewe groot bewoonde en 125 kleiner onbewoonde eilande behels, asook die 50ste en mees westelike van die Amerikaanse deelstate. Alhoewel die grootste eiland, wat met sy kenmerkende driehoeksvorm byna twee derdes van die totale oppervlak beslaan, ook die naam Hawaii dra, bly Oʻahu met die hoofstad Honolulu die belangrikste en mees digbevolkte eiland – en ook steeds die hoofbestemming vir miljoene toeriste. Ter onderskeiding van die eilandgroep word die eiland Hawaii deur die plaaslike bewoners dikwels Big Island (Groot Eiland) genoem. Hawaii se bynaam is Die Aloha-staat (Engels: The Aloha State).
duimnael|links|Die hoofstad Honolulu op die eiland Oahu Hawaii lê suid van die deelstaat Alaska, noord van die Franse eiland Tahiti in Frans-Polinesië en sowat 3 700 kilometer wes van die Amerikaanse vasteland. Alhoewel die eilandgroep polities deel uitmaak van Noord-Amerika, vanweë sy ligging noord van die ewenaar en in geografiese opsig ook nie by die Suidsee-eilande gereken word nie, behoort dit ten opsigte van sy inheemse bevolking en beskawing wél tot Polinesië en vorm dit die noordelike punt van die Polinesiese Driehoek.
Die bewoners van die huidige Amerikaanse deelstaat is 'n mengelmoes van Europese en Oosterse nasies en rasse, terwyl die oorspronklike Polinesiese bewoners vandag in die minderheid is.
Ondanks sy ligging in die Noordelike Stille Oseaan naby die Kreefskeerkring en byna 2 400 kilometer noord van die ewenaar word Hawaii in die algemeen veral deur toeriste as 'n tipiese Suidsee-eiland gereken en dikwels met 'n sorgvrye paradys geassosieer. Gevolglik het Honolulu met sy bekende Waikiki-strand al dekades gelede 'n sinoniem vir moderne Amerikaanse massatoerisme geword. Sowat 60 persent van alle besoekers kom tans uit die Verenigde State en Japan. Stahn (1995), bl. 14 Nogtans het Hawaii sy natuurskoon danksy die omgewingsbewustheid van sy inwoners bewaar.
Etimologie Die Deelstaat Hawaii het sy naam te danke aan die grootste eiland Hawaii. Volgens 'n algemene verklaring vir die naam Hawaiʻi is dit afkomstig van Hawaiʻiloa, 'n karakter in die Hawaiiaanse mondelinge oorlewering. Hy het die eilandgroep glo ontdek toe die Hawaiiaanse volk hulle op dié eilande gevestig het.
Die Hawaise woord Hawaiʻi is baie soortgelyk aan die Proto-Polinesiese woord Sawaiki met die gerekonstrueerde betekenis "tuisland." Kognate van Hawaiʻi bestaan in ander Polinesiese tale soos Maori (Hawaiki), Cookeilandse Māori (ʻAvaiki) en Samoaans (Savaiʻi). Volgens die taalkundiges Pukui en Elbert is "êrens in Polinesië Hawaiʻi of 'n kognaat die naam van die onderwêreld of van die voorvaderlike tuiste, maar in Hawaii het dié naam geen betekenis nie".
In 1978 is Hawais opgeneem in die grondwet van die deelstaat Hawaii as ampstaal saam met Engels. Die titel van die deelstaatgrondwet is The Constitution of the State of Hawaii ("Die Grondwet van die Deelstaat Hawaii"). Artikel XV, Afdeling 1 van die grondwet noem dit The State of Hawaii ("Die Deelstaat Hawaii"). Diakritiese tekens word nie gebruik nie, aangesien die dokument, wat in 1949 opgestel is, die gebruik van die ʻokina (ʻ) en die kahakō in die moderne Hawaise ortografie voorafgaan. Die presiese spelling van die deelstaatnaam in Hawais is Hawaiʻi. In die Hawaiiaanse toelatingswet, wat Hawaiiaanse burgerskap toestaan, gebruik die federale regering Hawaii vir die deelstaatnaam. Amptelike regeringspublikasies, departement- en kantoortitels, asook die Seël van Hawaii gebruik die tradisionele spelling sonder simbole vir glottale pouses of vokaallengte.
Geografie duimnael|Nasa-satellietbeeld van Hawaii, soos afgeneem in 2003 duimnael|Ligging van Hawaii duimnael|Die Hawaii-eilande duimnael|'n Kaart van Hawaii se hoofeilande Die eilandketting van Hawaii behels 132 eilande, eilandjies, riwwe en seerotse en strek soos 'n groot boog vanuit die mees suidelike eiland – Hawaii (19° Noord, 154° Wes) – oor 'n lengte van byna 2 600 kilometer in noordelike rigting tot by die Kure-atol (28° Noord, 179° Wes) digby die internasionale datumlyn. Hawaii is in die sentrum van die Stille Oseaan geleë – sowat 4 700 kilometer van die Amerikaanse weskus, 6 200 kilometer van Japan en 8 000 kilometer van die Australiese metropool Sydney af.
Aangesien die Hawaii-eilandketting deel uitmaak van die uitgestrekte Polinesiese Driehoek, wat oor Tahiti en die Paaseiland tot by Nieu-Seeland strek, word dit dikwels by die Suidsee gereken. Sy natuur, klimaat en inheemse beskawing deel inderdaad talle gemeenskaplike kenmerke met die Suidsee-eilande suid van die ewenaar.
Slegs sewe van die Hawaise eilande is bewoon en vorm saam met een onbewoonde eiland die sogenaamde agt hoofeilande aan die suidelike eindpunt van die eilandketting. Die hoofeilande beslaan die grootste deel van Hawaii se oppervlakte: Hawaii (die "Groot Eiland" en naamgewer) met 10 548, Maui met 1 888, Oahu met 1 574, Kauai met 1 432, Molokai met 673, Lanai met 362, Niihau met 180 en Kahoolawe (digby Lanai) met 117 vierkante kilometer. Met altesaam 16 697 vierkante kilometer beslaan die hoofeilande byna die hele oppervlakte van die eilandketting met 16 705 vierkante kilometer, terwyl die sowat 125 kleiner eilande, atolle en rotsbanke slegs 'n totale oppervlakte van sowat 8 vierkante kilometer het.
Die enigste noemenswaardige van die kleiner eilande is die Midway-atol. Aangesien hulle sedert 1903 regstreeks deur die Amerikaanse Vloot beheer word, word hierdie eilandgroep met sowat 2 000 inwoners – merendeels soldate met hul gesinne – in administratiewe opsig nie by die deelstaat Hawaii gereken nie.
Oahu met die hoofstad Honolulu vorm ondanks sy relatief klein oppervlakte die politieke en ekonomiese sentrum van die deelstaat Hawaii en behels vier vyfdes van die totale bevolking. Aangesien Oahu as die hoofeiland fungeer, word na die ander eilande dikwels as die "buureilande" of "buite-eilande" verwys. Nogtans dra elkeen van die eilande sy trotse bynaam: Terwyl Hawaii se bynaam – Big Island of die "Groot Eiland" – slegs na sy grootte verwys (die altrnatiewe naam "Orgideë-Eiland" het nie ingeburger geraak nie), is aan die ander eilande met min of meer fantasieryke name gegee soos "Tuin-Eiland" (Kauai), "Vriendelike Eiland" (Molokai), "Vallei-Eiland" (Maui) of "Spoke-" en "Pynappel-Eiland" (Lanai).
Vanweë die naam Hawaii se dubbelsinnigheid is daar 'n konvensie om van op Hawaii te praat as iemand op die Groot Eiland bly, en van in Hawaii indien 'n mens die deelstaat bedoel. Stahn (1995), bl. 21
Afgesien van die koraalriwwe is die Hawaise eilande uitsluitlik van vulkaniese oorsprong. Terwyl die grootste vulkane soos Mauna Kea en Mauna Loa sigbare hoogtes van meer as 4 000 meter bereik, is hierdie bergspitse net die pieke van reusagtige berge wat meer as 10 000 meter hoog vanaf die Stille Oseaan se seebodem rys en dus as die hoogste pieke ter wêreld beskou word.
Klimaat duimnael|'n Windverwaaide boom op Big Island Vanweë sy ligging in die buitenste sone van die tropegordel het Hawaii 'n stabiele oseaanklimaat met lae temperatuurskommelings: Die gemiddelde somertemperature is met 26 °C net vier graad hoër as dié van die winter. Naas die tropiese invloede speel ook die ligging in die passaatgordel van die Noordelike Halfrond 'n beduidende rol ten opsigte van die weerspatrone. Die wind waai meestal uit noordoostelike rigting sodat daar aan die eilande se loefkante jaarliks tussen 3 000 en 5 000 liter se neerslae per vierkante meter aangeteken word. Met uiterstes van 15 000 liter per vierkante meter is die Hawaii-eilande selfs die wêreld se rekordhouers ten opsigte van jaarlikse reënval.
In teenstelling met die noordoostelike kante van die eilande kry die benedewindse streke minder as 600 liter reën per vierkante meter wat in die poreuse vulkaangrond dikwels vinnig wegsypel. In die hoofstad Honolulu word minder as 600 millimeter jaarlikse reënval aangeteken, terwyl die droogste en natste plek van die eilandketting op die eiland Kauai lê: Die jaarlikse reënval varieer hier tussen 0 millimeter in die Ka'u-woestyn in die weste van die eiland en 12 000 millimeter teen die hange van Mount Wai'ale'ale. Die meeste reënval word in die wintermaande tussen laat Oktober en April aangeteken.
As gevolg van die eilande se ligging in die passaatgordel is die weer dikwels bewolk sodat Hawaii in vergelyking met ander gebiede op dieselfde breedtegraad slegs tussen 40 en 75 persent van die maksimale sonskynure per jaar kry. Behalwe vir Augustus, die enigste baie warm en bedompige maand, varieer die relatiewe humiditeit tussen 55 en 70 persent.
Temperature in die hoër geleë dele van die eilande is gewoonlik laer en kan selfs tot vriespunt daal. Vanweë die groot verskeidenheid landskapsvorme en mikroklimaatsones is die gegewens ten opsigte van gemiddelde temperature en neerslae in die algemeen slegs in 'n redelik klein gebied – meestal langs die kuslyn – van toepassing en varieer grootliks in ander dele van die eilande.
Geologie Raaiselagtige lawastrome duimnael|Die tipiese uitbarsting van 'n Hawaise skildvulkaan: 1 aswolk 2 lawafontein 3 krater 4 lawameer 5 fumarole 6 lawastroom 7 lae van lawa en as 8 stratae 9 sill (drumpel) 10 magmapyp 11 magma-kamer 12 dyk Die geologiese geskiedenis van Hawaii het in die dieptes van die Stille Oseaan begin. Die groot vulkane op die eiland Hawaii is slegs drie miljoen jaar oud, en hulle het sowat 2,5 miljoen jaar benodig voordat hulle vir die eerste keer uit 'n oorspronklike diepte van 5 000 meter bo die seespieël verrys het. Die twee aktiewe vulkane Mauna Loa en Kīlauea het daarna oor 'n tydperk van 500 000 jaar nog 4 000 meter se lawa opeengehoop om hul huidige pieke te skep.
Volgens die berekeninge van wetenskaplikes het elkeen van die vulkane jaarliks 0,1 kubieke kilometer lawa na die oppervlak vervoer. Voor die 1960's was die heersende geowetenskaplike teorieë nie in staat om die oorsprong van hierdie geweldige lawastrome te verklaar nie, net soos 'n aantal ander geologiese fenomene: Slegs die suidoostelike eilande se vulkane is nog steeds aktief, terwyl die nie-vulkaniese eilande in die noordwestelike rigting al hoe kleiner en in geologiese opsig ouer word: Hawaii is 'n relatief jong eiland wat eers sowat 500 000 jaar gelede ontstaan het, Molokai is twee, Nihoa 7,5, die French Frigate Shoals twaalf en Midway-atol selfs 28 miljoen jaar oud.
Voor die 1960's het die heersende opvatting oor die aardkors beweer dat dit orals op die planeet tektonies stabiel en onbeweeglik sou wees. Wetenskaplikes het wél besef dat daar tektoniese prosesse soos verskuiwings plaasvind wat onder meer aardbewings tot gevolg het, maar was daarvan oortuig dat die kontinentale plate hierdeur nie geraak sou word en as "vas veranker" beskou moes word.
Eers in die 1960's het navorsers die bewys vir 'n hipotese gelewer wat al in 1920 deur die Duitse geoloog Alfred Wegener (1880–1930) gestel is: Die aardkors en ook die vastelande dryf as groot plate op die taai-vloeibare magma van die aardmantel. Hierdie nuwe teorie staan nou as plaattektoniek bekend.
Volgens die plaattektoniek is gesteentes verganklik, en in die sentrale bergrûe van die oseane, waar magma deur groot splete in die aardkors opbeweeg, ontstaan steeds nuwe aardkorsgesteentes. Die splete vorm tegelykertyd die buitekante van die aardkors se groot plate wat deur onderstromings van mekaar weggedryf word. Die plate beweeg jaarliks net enkele sentimeter, en in bepaalde randgebiede gly hulle terug na die aardmantel toe om sodoende gesmelt te word en 'n nuwe kringloop te begin.
Die plaattektoniek-teorie lewer 'n eenvoudige verklaring vir geologiese fenomene soos vulkanisme, aardbewings en die vorming van bergreekse. Orals waar twee plate bymekaarkom en teen mekaar bots, is daar seismiese en vulkaniese aktiwiteite en word nuwe gebergtes gevorm.