Hierdie artikel handel oor die Duitse stad. Vir ander gebruike, sien Bremen (dubbelsinnig). Bremen 280px
280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land Deelstaat 23px Bremen Koördinate Stigting Voor 8ste eeu Stadstatus 1186 Vrye Ryksstad Oppervlakte: - Totaal 318,21 vk km Hoogte bo seevlak 11 m Bevolking: - Totaal (31 Desember 2022) 574 745 - Bevolkingsdigtheid 1 806/vk km - Metropolitaanse gebied 1 511 198 Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat - Tipe Gematigde seeklimaat - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 8,8 °C - Gem. temp. Januarie/Julie 0,8 / 16,8 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 696 mm Burgemeester Andreas Bovenschulte (SPD) Amptelike webwerf bremen.de
Bremen (Duits: [ˈbʀeːmən], ; Nederduits ook Breem of Bräm; Nedersaksies: Breemn) is die hoofstad en grootste stad van die Duitse deelstaat Vrye Hansestad Bremen, wat dikwels ook net "Bremen" genoem word. As die kleinste deelstaat van Duitsland behels die stadstaat naas Bremen slegs een ander stad, Bremerhaven, wat as Noordseehawe sowat 60 kilometer verder noord geleë is.
duimnael|links|280px|Historiese fasades op die markplein Bremen is met 'n bevolking van 574 745 die tweede grootste stad in Noord-Duitsland ná Hamburg en die tiende grootste in Duitsland. Die stad is die setel van die Breemse parlement (Duits: Bremer Bürgerschaft), die regering van die deelstaat (Senaat van Bremen, Duits: Bremer Senat) en van die meeste instellings en geregshowe van die deelstaat.
In die vroeë Middeleeue het Bremen 'n belangrike rol by die Christelike sendingwerk in Noord- en Noordoos-Europa gespeel en was ook die biskopsetel vir Noord-Europa. As een van die magtige seehandelstede van die Hansebond het Bremen in die 13de eeu tot een van die eerste republikeinse stadstate in Europa ontwikkel wat deur welvarende koopmansgesinne oorheers is. Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is Bremen deur Amerikaanse troepe beset en het later een van drie stadstate in die Duitse Bondsrepubliek geword.
Alhoewel die oop see sowat een uur per motor van Bremen af lê, is die getye op die Weserrivier twee keer per dag duidelik waarneembaar. Die promenade langs die Weser was vroeër die middelpunt van Bremen se besige seehawe, en plaaslike koopmanne het handel met alle bekende gebiede gedryf. Vandag word seevrag veral in die Neustädter Hafen en Bremen se moderne susterstad Bremerhaven met hul uitgebreide houerterminale gehanteer. Die seehawe is die tweede belangrikste invoerhawe vir motors in Europa en hanteer jaarliks sowat 1,4 miljoen voertuie. Tans is Daimler AG (vroeër DaimlerChrysler AG) die grootste privaat werkgewer, terwyl Airbus in Bremen met 3 100 werknemers oor die tweede grootste werksterrein in Duitsland na Hamburg beskik.
Bremen het na die agteruitgang van sy tradisionele skeepsbou en die verskuiwing van hawegeriewe tot 'n moderne kulturele, wetenskaplike en hoëtegnologiesentrum ontwikkel. Bremen het daarnaas ondanks die grootskaalse oorlogskade van die jare 1940 tot 1945 'n ryke argitektoniese erfenis van verskillende tydperke bewaar, waaronder 'n historiese stadskern met winkellane en 'n groot aantal museums en ander kulturele instellings wat van die stad 'n gewilde toeristebestemming maak. Die stad bestaan vandag uit 'n historiese stadskern en uitgebreide voorstede wat meestal hul eie spesifieke, soms selfs landelike karakter bewaar het.
Etimologie Die eerste bekende gebruik van die stadsnaam dateer uit die 9de-10de eeu as Brema, Bremae, Bremun; die laasgenoemde vorm was die grondslag van die huidige naam en word as die lokatiewe datief van die Oud-Saksiese/Middelnederduitse woord brem se meervoud "randing", "rand (van die grond/water/duin)" beskou (vergelyk Engels brim).
In die Middeleeue het die stad na homself verwys as civitas Bremensis, dus "Stad Bremen" en dit gebruik tot ná 1646. Wanneer Bremen se grondwetlike posisie beklemtoon moes word, het dit ná die toekenning van die rykstadoorkonde (Linzer Diplom) van 1646 af die titel "Keiserlike en Vrye Ryksstad van die Heilige Romeinse Ryk (en Hansestad) Bremen" (Kayserliche und dess heiligen Römischen Reichs Freye Stadt (und Ansestadt) Bremen) gedra. Ná die ontbinding van die Heilige Romeinse Ryk in 1806 het die amptelike taalgebruik verander na die bynaam freye Hansestadt en van 1820 af uiteindelik in die skryfwyse freie Hansestadt. Sedert die grondwet van 21 Maart 1849 word amptelik onderskei tussen die Breemse staat en die stad Bremen. Sedertdien verwys al die Breemse grondwette na die stad slegs as Stadt Bremen of Stadtgemeinde Bremen om verwarring te voorkom met die staat Freie Hansestadt Bremen wat ook die stad Bremerhaven insluit. Deesdae word hierdie onderskeiding by naam egter nóg in die amptelike nóg in die omgangstaal konsekwent gehandhaaf.
Geografie duimnael|links|Ligging van die stad Bremen in die deelstaat Vrye Hansestad Bremen duimnael|'n Nagaansig van Böttcherstraße in die historiese middestad. Baksteenboukuns is kenmerkend vir Noord-Duitsland en die hele Oosseegebied duimnael|Lugbeeld van Bremen se binnestad met die markplein, Domkerk, raadsaal en Liebfrauenkerk Bremen lê aan die oewers van die Weserrivier en sowat 126 kilometer van sy monding in die Noordsee af. Die rivier verbreed in die stadsgebied tot 'n rivierdelta, die sogenaamde Unterweser (letterlik die benedeloop van die Weser) wat ook vir seeskepe bevaarbaar is en van Bremen een van die belangrikste hawens in Duitsland gemaak het. Die vroeëre seehawe is vandag 'n promenade langs die Weser, die sogenaamde Schlachte.
Ten opsigte van sy oppervlakte behoort Bremen tot die grootste stede in Duitsland. Die stadsgebied is sowat 38 kilometer lank en 16 kilometer wyd en sluit 'n verskeidenheid stadsbuurte in wat elkeen min of meer sy eie karakter bewaar het. Naas die stadsentrum en die aangrensende woongebiede is daar selfs landelike buitewyke met plase soos Blockland in die noorde van Bremen wat oorspronklik deur Nederlandse setlaars as landbougebied ontwikkel is.
Die susterstad Bremerhaven lê naby die samevloeiing van die kleiner Geesterivier met die Weser en ook naby die Wesermonding. Die internasionale seehawe van Bremerhaven maak in politieke opsig deel uit van Bremen, maar word deur Bremerhaven se stadsregering geadministreer.
As gevolg van die Noordsee se getye styg die Weser se watervlak tydens vloed tot sowat 2,40 meter bo seevlak sodat die stadsgebied oor 'n afstand van 155 kilometer deur dyke beskerm word. Naas die Noordsee se vloedwater hou die Oberweser (boloop van die rivier) soms 'n bedreiging vir Bremen in.
Aangesien die riviere Weser, Werra, Fulda en Aller 'n gebied met 'n oppervlakte van sowat 40 000 vierkante kilometer dreineer, loop die rivierwater tydens swaar reënvalle of die dooiweer van die lente nie vinnig genoeg af nie sodat dyke ook as beskerming teen oorstromings gebou is. Liffers, Lutz: Bremen. Bremen: Edition Temmen 2007, bl. 9
Klimaat duimnael|Oggendmis in die Hollerland-streek Bremen het, soos die grootste deel van Duitsland behalwe vir die hoër geleë berg- en Alpestreke, 'n koel gematigde klimaat met sterk maritieme invloede wat deur sy geografiese ligging naby die Noordsee bepaal word. Temperatuurverskille tussen die somer- en wintermaande is kleiner as in binnelandse streke. Nogtans kan vastelandse lugmassas dwarsdeur die jaar weerstoestande in Bremen beïnvloed – met hittegolwe in die somer en langer koue periodes in die winter. Temperature van minder as -15 °C of meer as 35 °C word egter selde aangeteken.
Julie is die warmste maand met 'n gemiddeld van sowat 18 °C, Januarie die koudste maand van die jaar met 1,8 °C (soos gemeet in die periode tussen 1981 en 2010). Die hoogste temperatuur ooit is op 9 Augustus 1992 met 37,6 °C aangeteken. Die laagste temperatuur ooit was -23,6 °C op 13 Februarie 1940. Net soos elders in Duitsland het die gemiddelde temperature in die vroeë 21ste eeu gestyg. Die temperatuurverskil was 0,6 °C in die periode tussen 1981 en 2010 teenoor die tydperk tussen 1961 en 1990. 2014 was die warmste jaar sedert die begin van weerkundige metings met 'n gemiddeld van 11,1 °C.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Germaanse stamme omtrent 50 n.C. Terwyl die eerste menslike spore in die omgewing van Bremen uit die Steentydperk omtrent 150 000 v.C. dateer (soos byvoorbeeld 'n lans wat by die geraamte van 'n oer-olifant gevind is), was argeologiese opgrawings in die stadsgebied van Bremen in hierdie opsig nog nie suksesvol nie. Die vroeë geskiedenis van Bremen
Skriftelike oorlewerings uit die Romeinse tydperk verwys na die Chauci of Haukes (Duits: Chauken), 'n Germaanse stam wat die gebied langs die benedeloop van die Weser bewoon het en hulle huise op klein meensgemaakte heuwels, sogenaamde Wurten, opgerig het. Die Chauci het hulle enkele jare lank aan die Romeinse gesag onder keiser Augustus onderwerp, maar daar is min oor hul latere geskiedenis bekend, en hulle het moontlik met die Saksers vermeng wat vanaf die 3de eeu n.C. vanuit Holstein na ander Noord-Duitse gebiede uitgebrei het.
Die sandduin met 'n lengte van 26 kilometer aan die Weser se regteroewer was beskerm teen die rivier se vloedwater en sodoende geskik vir die stigting van nedersettings en die bou van paaie, en kleiner Saksiese dorpe wat uit die tydperk tussen die 1ste en 8ste eeu dateer is in voorstede soos Hemelingen, Mahndorf, Grambke en Rekum opgegrawe. Urne en vuurplekke wat in die stadsentrum ontdek is, is tans nog nie presies gedateer nie.
Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong van die naam Bremen. Die oudste bekende vorm was Bremun (Latyn: Brema), en 'n afleiding hiervan, 'n lokatiewe datief van die meervoudsvorm Brem, beteken letterlik "by die rande" en het moontlik na 'n vroeë nedersetting by die duinrand verwys.
Vroeë Middeleeue duimnael|links|Die St. Stephanikerk duimnael|Die Liebfrauenkirche (Onse-Liewe-Vroukerk) In 780 het Karel die Grote die Angel-Saksiese sendeling Willehad na Bremen ontbied – twee jaar voordat die eerste historiese dokument uitgevaardig is waarin vir die eerste keer na Bremen verwys word. Blykbaar was sukses aan Willehad se sendingwerk beskore. Reeds in 787 kon Karel die Grote 'n bisdom in Bremen stig en Willehad as biskop benoem.
Godsdienstige oorwegings was nie die enigste motiverende faktor vir Karel se handelinge nie. Bremen was van begin af 'n strategiese nedersetting aan die noordgrens van die Frankiese Ryk. Karel het veral grawe en biskoppe ingespan om die nuut verowerde Saksiese gebiede in die noorde te oorheers. Die Breemse biskop Ansgar het in die 9de eeu 'n belangrike rol by die Christelike sendingwerk in Skandinawië en die Slawiese Oosseegebiede gespeel, en Bremen is in 845 tot aartsbisdom verhef. Grabois, Aryeh: Enzyklopädie des Mittelalters. Zürich: edition Atlantis 1988, bl. 104 Eeue lank het teenstellings tussen die Frankiese veroweraars en geestelikheid en die Saksies-Friese stadsbewoners die geskiedenis van Bremen oorheers. Die eerste katedraal in Bremen is in 858 deur Deense Wikings aan die brand gesteek en later deur 'n steengebou vervang.
In 967 het keiser Otto I die Breemse aartsbiskop tot graaf van die plaaslike graafskap verklaar en sodoende 'n geestelike vorstedom in die hartland van die hertogdom Sakse geskep. Die pous het tegelykertyd Denemarke, Swede, Noorweë, Ysland en later ook Groenland onder die kerklike gesag van die Breemse aartsbiskop gestel. Bremen het in hierdie periode tot 'n beduidende handelsentrum en hawe begin ontwikkel wat op 10 Augustus 965 ook voorregte as 'n markstad gekry het. Grabois (1988), bl. 104
Die meeste bewoners moes destyds nogtans 'n lewe maak uit bestaansboedery wat veeteelt en akkerbou asook vissery ingesluit het. Ambagte en handel met landbouprodukte het net 'n ondergeskikte rol gespeel.