duimnael|Skandinawië: duimnael|'n Satellietbeeld van Skandinawië
Die term Skandinawië verwys in geografiese opsig net tot die Skandinawiese Skiereiland met Noorweë in die weste en Swede in die ooste, maar sluit in 'n breë kulturele en politieke sin die vyf lidstate van die Nordiese Raad in, naas Noorweë en Swede dus ook Denemarke, Finland en Ysland. Die terme Skandinawiese en Nordiese lande word gevolglik dikwels as sinonieme gebruik.
Met die uitsondering van Finland se Finssprekende meerderheid praat alle Skandinawiese volke verwante Noord-Germaanse tale en het 'n trotse demokraties-parlementêre tradisie wat in die geval van Ysland selfs na die 10de eeu terugdateer. Vandag is Finland en Ysland republieke, terwyl die ander Skandinawiese lande grondwetlike monargieë vorm.
Die huidige politieke bande tussen die vyf lande word versterk deur 'n gemeenskaplike geskiedenis: In die 10de eeu het die Normandiërs hulle in groot dele van Noord-Europa gevestig, asook in die Noord-Franse gewes Normandië. Maar afgesien van die Wiking-tydperk en Swede se kortstondige rol as Noord-Europese groot moondheid in die 17de eeu was Skandinawië tradisioneel op die periferie van Europa.
In die loop van hulle geskiedenis is alle Skandinawiese lande gemeenskaplik geregeer. Swede en Finland het eers in 1809 van mekaar geskei, Noorweë en Swede in 1905, en Denemarke en Ysland in 1944.
Vanweë hulle noordelike ligging, wat hulle ook aan Atlantiese weerstelsels blootstel, word die Skandinawiese lande deur 'n koel en vogtige klimaat gekenmerk wat in die algemeen nie bevorderlik vir landbou is nie. Die lang daglig van die Nordiese somer kompenseer egter vir die ongunstige klimaattoestande sodat selfs noord van die Noordpoolsirkel nog graan verbou kan word.
Tot by die 19de eeu was die Skandinawiese nasies suiwer agrariese gebiede wat tot die armste lande in Europa behoort het, en honderdduisende emigrante was gedwing om 'n nuwe heenkome in Noord-Amerika te vind. Die nywerheidsomwenteling van die 19de eeu het van Skandinawië egter een van die welvarendste wêreldstreke gemaak. Die huidige Skandinawiese ekonomieë steun op hulle natuurlike hulpbronne soos geotermiese energie (Ysland) en waterkrag (Ysland, Noorweë en Swede), ruolie (Noorweë), ystererts (Swede) en hout (Noorweë, Swede en Finland), maar is daarnaas ook hoogs ontwikkelde nywerheidslande met 'n uitgebreide dienstesektor en gevorderde welvaartstelsel.
Die Skandinawiese modelekonomie behels 'n tegnologies innovatiewe sekundêre sektor met 'n groot aandeel van dienste en 'n groot vraag na produksiegerigte dienste. Die huishoudings se moderne struktuur is gekenmerk deur 'n hoë persentasie ekonomies aktiewe vroue wat saam met die gesofistikeerde welvaartstelsel die verskaffing van uitgebreide sosiale dienste deur die staatsektor noodsaaklik en moontlik maak. Bosch, Gerhard en Alexandra Wagner: Dienstleistungsgesellschaften in Europa und Ursachen für das Wachstum der Dienstleistungsbeschäftigung. In: KZfSS Kölner Zeitschrift für Soziologie und Sozialpsychologie. Volume 55, nommer 3, September 2003, bl. 487
Die gewildheid van die Skandinawiese leefstyl en ontwerp het van ondernemings soos die Sweedse meubelvervaardiger Ikea, multinasionale maatskappye gemaak wat wêreldwyd op markte meeding, terwyl die progressiewe en egalitêre houdings en religieuse ongebondenheid van hulle bevolkings van die Skandinawiese lande ook wêreldleiers op die gebied van politieke gelykberegtiging gemaak en verseker het dat hulle tot die lande met die hoogste lewenskwaliteit behoort.
Etimologie duimnael|'n Veld met bloeiende raapsaad in Skone (Suid-Swede) In die antieke oudheid het Skandinawië as Scandza bekend gestaan. Die huidige term is in etimologiese opsig verwant aan Skone ('n landskap in Suid-Swede) en die stad Skanör. Die oudste Latynse naam vir Skone, Scadinauia, het na die gebiede noord van Germanië verwys. Sommige geleerdes beweer egter dat die term sy oorsprong by die Germaanse godin Skadi het.
Scadinauia is onder meer deur die Romeinse natuurkundige Plinius die ouere (23–79) as 'n gelatiniseerde vorm van die Oud-Nordiese term Skaðinaujó gebruik. Hierdie term bevat die wortels skaðin- "gevaar" of "skade" (Oud-Nordies skán-) en -aujó "eiland" of "skiereiland" (Oud-Nordies -ey). "Skandinawië" sou dan "gevaarlike skiereiland" beteken en moontlik na gevaarlike seestrominge rondom die Suid-Sweedse skiereiland Falsterbo verwys.
In die Middeleeue is die Latynse term Terra Scaniae of Terra Scania vir die geweste Skone, Blekinge en Halland asook die eiland Bornholm gebruik; die Sweedse en Deense volkstaal verwys na hierdie streek nog steeds as Skoneland.
Geografie Noorweë duimnael|Die Åsenfjord in Noorweë Die weskus van Noorweë word deur gebergtes oorheers en is gebroke met sowat 50 000 klein eilande. Nou fjorde strek soms oor 'n lang afstand tot by die binneland. Akkerbougrond is skaars in die gebied en lê veral aan die einde van die fjorde waar riviere hul lope deur die bergreekse gesny het. Die nedersettings en landbougebiede langs die kus is reeds in die Wikingtydperk deur 'n netwerk van beskermde seeroetes met mekaar verbind.
Ander landboustreke lê in die Jærendistrik in die suidweste, in die omgewing van die stad Trondheim (Trøndelagdistrik) en rondom die Oslofjord met die huidige hoofstad Oslo. Die streke wat minder geskik is vir landbou was net soos die mees noordelike gebiede anderkant die Poolsirkel steeds yl bevolk; in Noord-Noorweë het net enkele vissers- en jagtersdorpies langs die kus ontstaan.
Swede duimnael|Die Vänernmeer soos gesien vanuit Hjortens Udde Swede, in die oostelike helfte van die Skandinawiese Skiereiland, word deur wisselende landskappe gekenmerk. Norrland in Noord-Swede word deur digte naaldbosse en harde rotsagtige grond oorheers; die enigste landbougebiede lê in die smal kusstrook langs die Botniese Golf.
Middel-Swede behels twee vrugbare en digbevolkte en een gebied wat minder geskik is vir landbou. Die landskap Svealand was die oorspronklike tuisland van die Svear, 'n stam wat sy naam ook aan die hele land verleen het. Hier lê die provinsie Uppsala met die vroeëre hoofstad Ou-Uppsala, wat tydens die Middeleeue tot die magsbasis van die Sweedse koningshuis ontwikkel het; en die ongerepte Dalarna-streek met sy bergreekse, riviere en mere.
Die Götar-streek, wat na die gelyknamige stam vernoem is, lê suid van Svealand. Hierdie gebied, wat in die weste deur die Vänernmeer begrens word, behels die provinsies Väster- en Östergötland (Wes- en Oos-Götar).
Die suide van Swede was net soos die noordwaarts geleë Småland vroeër yl bevolk; eers in die laat Wiking-tydperk is die Suid-Sweedse hawestad Lund deur Dene gestig. Die vrugbare eilande Gotland en Öland het egter al vroeg tot digbevolkte landbou- en handelsentrums ontwikkel.
Denemarke
Denemarke bestaan uit die laagliggende skiereiland Jutland en meer as 500 eilande langs sy ooskus, asook die eiland Bornholm wat verder ooswaarts in die Oossee lê. Denemarke was vroeër met digte bosse bedek, en die kusstrook langs die Noordsee was vanweë sy sanderige grond nie geskik vir landbou nie. Die plaaslike bevolking het egter reeds in die Middeleeue op perde- en veeteelt gesteun en handelsbande met sy suidelike Duitse buurlande aangeknoop.
Klimaat duimnael|Middernagson oor Valsværet, Noorweë Die klimaat van Skandinawië word deur sy noordelike ligging en die invloed van die warm Golfstroom oorheers. In die algemeen is die gemiddelde temperature laer as in Sentraal-Europa, tog geniet die gebied danksy die Golfstroom gematigde temperature – met uitsondering van Groenland wat grotendeels noord van die Arktiese Poolsirkel geleë is en deur 'n polêre en subpolêre klimaat gekenmerk word.
Die binnelandse streke van Noorweë, Swede en Finland het 'n tipiese vastelandsklimaat met koue winters en warm somers, terwyl Denemarke, die Faroëreilande en Åland deur 'n gematigde seeklimaat gekenmerk word. Die gemiddelde temperature in Noorweë se kusgebiede, Ysland en op die Faroëreilande is ten spyte van hul geografiese breedteligging relatief hoog – sonder die matigende invloed van die Golfstroom sou die klimaat vergelykbaar wees met dié van Siberië.
Die Nordiese somers is koeler as dié van Sentraal-Europa – hulle begin daarnaas later en eindig vroeër sodat daar min tyd vir vrugte is om ryp te word. Nogtans word daar ook somertemperature met meer as 30 °C aangeteken. Die mees noordelike gebiede van Skandinawië het aansienlik koeler somers – in die Yslandse hoofstad Reykjavik is die gemiddelde temperatuur in Julie nie hoër as 11,2 °C nie. Die Noordelike somerdae is buitengewoon lank en word deur helder nagte gekenmerk. Vanaf Junie gaan die son in die gebiede noord van die Poolsirkel hoegenaamd nie meer onder – die tyd van die middernagson breek aan. Bepaalde streke soos die Noorse eilandgroep Spitsbergen kry dan tot by vier maande ononderbroke sonskyn.
Daarenteen staan die Nordiese winters vir hul lang en donker poolnagte bekend. Die son bly dan weke lank benede die horison, en baie gebiede kry net enkele ure daglig. Ysland kry tussen November en Januarie slegs tussen drie en vier ure daglig. Die wintertemperature verskil duidelik – terwyl Ysland matige winters met 'n gemiddelde van -0,4 °C het, daal die kwik in Finland soms tot sowat –20 °C.
Tale duimnael|Verspreiding van Skandinawiese tale in Noord-Europa: Die Skandinawiese of Noord-Germaanse tale, waaronder Deens, Noors (Bokmål en Nynorsk), Sweeds, Yslands en Faroëes met altesaam sowat twintig miljoen moedertaalsprekers, vorm 'n subgroep van die Germaanse tale en het hulle oorsprong in Oud-Yslands, 'n taal wat onder meer in die Edda oorgelewer is. Tans is net moderne Yslands en Faroëes (wat as Eilandskandinawiese tale in 'n mindere mate aan invloede van ander, nie-Skandinawiese tale blootgestel was) nog nou verwant met hierdie oorsprongstaal. Norn, 'n Skandinawiese taal wat tot in die 15de eeu op die Shetland- en Orkney-eilandgroepe noord van Skotland as omgangstaal gepraat is en eweneens by Eilandskandinawies gereken word, het in die 18de eeu uitgesterf. Noord-Germaans het teen die begin van ons tydrekening as 'n selfstandige Germaanse taalgroep van Wes-Germaans geskei en vanaf die 9de eeu in twee hoofgroepe, Wes-Nordies en Oos-Nordies (of Oud-Nordies), verdeel.
Daarnaas word op die Sweedse Oossee-eiland Gotland ook Gutamål gepraat, 'n taal wat uit die Oos-Germaanse Goties ontwikkel het en aan Deense, Nederduitse, Baltiese en Slawiese invloede blootgestel was. Aangesien Sweeds op hierdie eiland reeds in 1645 as onderwystaal ingevoer is, het Gutamål steeds meer Sweedse elemente begin inbed en word sodoende intussen soms as 'n Sweedse dialek geklassifiseer.
In die Wiking-tydperk (omstreeks 750 tot 1000) en die vroeë Middeleeue het mense in die Nordiese taalgebied nog eerder dialekte as selfstandige dialekte gepraat. Hierdie dialekte het eers geleidelik tot selfstandige tale begin ontwikkel in 'n taalkundige proses wat eers teen die middel van die 16de eeu afgesluit was. Fins maak deel uit van die Fins-Oegriese taalgroep en behoort dus nog by die Indo-Europese nog by die Nordiese taalfamilie.
Moedertaalsprekers van Deens, Noors en Sweeds kan mekaar maklik verstaan, selfs al praat hulle almal in hul eie taal. 'n Gevorderde kennis van ander Skandinawiese tale vereis nogtans die aanleer daarvan en woordeboeke. Die basiese woordeskat word deur alle Nordiese tale gedeel, selfs al het Sweeds soms afwykende woorde wat in die ander tale nie voorkom nie en verskil Deens vanweë sy uitspraak duidelik van Sweeds en Noors. Sprekers van Noors trek die meeste voordeel uit die hoë graad van verwantheid, terwyl Yslanders en Finne die meeste moeilikhede ondervind wanneer hulle in hul eie taal met ander Skandinawiërs wil kommunikeer. Yslandse en Finse kinders leer op skool naas Engels tenminste een van die ander Skandinawiese tale aan.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis