Joseph Robinette "Joe" Biden Jr. (/ˌrɒbɪˈnɛt ˈbaɪdən/; gebore op 20 November 1942) is 'n Amerikaanse politikus wat op 20 Januarie 2021 as die 46ste president van die Verenigde State ingehuldig is. Hy het tussen 2009 en 2017 as die 47ste adjunkpresident onder Barack Obama gedien. Hy het ook van 1973 tot 2009 die deelstaat Delaware in die Amerikaanse Senaat verteenwoordig. Biden is 'n lid van die Demokratiese Party en was die Demokratiese presidentskandidaat vir die 2020-verkiesing teen die vorige president Donald Trump, wat die onderspit gedelf het. Biden se veldtogte van 1988 en 2008 om tot presidentskandidaat benoem te word was onsuksesvol.
Biden het in Scranton, Pennsilvanië, en New Castle County, Delaware, grootgeword. Hy het aan die Universiteit van Delaware gestudeer, voordat hy 'n regsgraad aan die Universiteit van Syracuse behaal het. Hy het in 1969 'n prokureur geword en is in 1970 tot die raad van New Castle County verkies. In 1972 is hy as senator vir Delaware verkies. Daarmee het hy die sesde jongste persoon geword wat tot die Amerikaanse senaat verkies is. Biden is ses keer herkies, en was die vierde mees senior senator toe hy bedank het om in 2009 die amp van adjunkpresident oor te neem.
As senator was Biden 'n jarelange lid en uiteindelik voorsitter van die Komitee vir Buitelandse Betrekkinge. Hy het die Golfoorlog in 1991 teengestaan, maar was 'n voorstander van Amerikaanse en NAVO-ingryping in die Bosniese Oorlog in 1994 en 1995, die uitbreiding van NAVO in die negentigerjare en die bombardering van Serwië in 1999 tydens die Kosovo-oorlog. Hy het gestem vir die resolusie wat die oorlog in Irak in 2002 gemagtig het, maar die vergroting van die aantal troepe in 2007 teengestaan. Hy was ook die voorsitter van die regterlike komitee van die senaat tydens die nominasies van regters Robert Bork en Clarence Thomas.
In 2008 was Biden die Demokratiese presidensiële genomineerde Barack Obama se keuse as adjunkpresident. Hy was die eerste Rooms-Katolieke adjunkpresident van die Verenigde State. As adjunkpresident het Biden toesig gehou oor die besteding aan infrastruktuur om die Groot Resessie teen te werk. Sy onderhandelinge met die Republikeine het die Obama-administrasie telkens gehelp om wetgewing deurgevoer te kry. Obama en Biden is in 2012 herkies.
In Oktober 2015, ná maande van bespiegeling, het Biden aangekondig dat hy nie die presidentskap in die 2016-verkiesing sou najaag nie. Ná sy tweede termyn as adjunkpresident het Biden hom by die fakulteit van die Universiteit van Pennsilvanië aangesluit, waar hy benoem is tot die Benjamin Franklin-professor in presidensiële praktyk. Hy het op 25 April 2019 aangekondig dat hy aan die 2020-verkiesing sou deelneem as presidentskandidaat vir die Demokratiese Party. Met die opskorting van Bernie Sanders se veldtog op 8 April 2020 het Biden die aangewese Demokratiese genomineerde vir die presidentsverkiesing geword.
Met sy inhuldiging op 20 Januarie 2021 as 46ste Amerikaanse president was hy reeds 78 en het hy Donald Trump se rekord as oudste Amerikaanse president oortref. Tydens sy verkiesing het hy ook meer stemme op hom verenig as enige vorige presidentskandidaat – die vorige hoogste stemtal is deur Barack Obama gehou. Hy is ook die eerste Amerikaanse president met 'n vroulike adjunkpresident, naamlik Kamala Harris. Beyond the Headlines: an unprecedented presidential handover, The National News, 2021
In April 2024 het Biden sy herverkiesingsveldtog vir die presidensiële verkiesing van 2024 aangekondig en, ná die voorverkiesing, die vermoedelike Demokratiese genomineerde geword. Hy het egter sy kandidatuur in Julie 2024 teruggetrek ná 'n reeks gesondheidsbekommernisse. Biden het adjunkpresident Harris onderskryf om hom as kandidaat op te volg.
Biografie Opleiding en aanvang van loopbaan Biden, die oudste seun van 'n Ierse Katolieke sakeman, het die eerste tien jaar van sy lewe in Pennsilvanië gewoon. Sy gesin verhuis daarna na Delaware, waar sy pa 'n verkoopsman vir gebruikte motors geword het. Biden het in 1965 sy Baccalaureus Artium aan die Universiteit van Delaware en 'n regsgraad aan die Universiteit van Syracuse in New York in 1968 ontvang. As student was hy meer geïnteresseerd in sport as studies. Biden is in 1969 as advokaat ingesweer en het hom in Wilmington, Delaware, gevestig. Hy word vrygestel van militêre diens in Viëtnam weens asma; hy was nie polities aktief totdat hy in 1970 suksesvol by die New Castle County Council as kandidaat staan, waar hy tot 1972 gedien het.
Senaat In 1972 word Biden vir die eerste keer as Senator vir Delaware verkies. As dertigjarige was hy een van die jongste senatore ooit. Hy was 'n kandidaat vir die Demokratiese nominasie in die Amerikaanse presidentsverkiesing in 1988. Tydens hierdie veldtog het hy in diskrediet gekom toe dit blyk dele van 'n toespraak deur die leier van die Britse Arbeidersparty, Neil Kinnock, deur hom geplagieer is. Biden onttrek hom daarna aan die wedloop, wat deur Michael Dukakis gewen is.
In 2002 verower Biden 'n sesde termyn van die Senaat met 58% van die stemme. Biden was voorsitter van die Komitee vir Buitelandse Betrekkinge en was 'n lid (en voormalige voorsitter) van die Justisiekomitee. Biden was in die Senaat bekend vir die kritiek op die Bush-administrasie se beleid in Irak. Biden is waardeer vir sy vele wetsvoorstelle en praktiese alternatiewe. Sy voorstel om Irak in drie outonome streke te verdeel, 'n Koerdiese, Soenniete en Sjiïete, is ook in Republikeinse kringe verwelkom. Biden het in terme van die konflik tussen Israel en die Palestyne en in die konteks van die diplomatieke konflik met Iran gesê dat hy 'n oortuigende Sionis is. In 'n onderhoud in 2007 het hy gesê: "Ek is 'n Sionis. Jy hoef nie 'n Jood te wees om 'n Sionis te wees nie." Biden beskou Israel as die belangrikste Amerikaanse bondgenoot in die Midde-Ooste en is 'n sterk voorstander van die massiewe finansiële en militêre steun wat die Verenigde State jaarliks aan die Joodse staat oordra. Biden besef dat 'n militêre sterk Israel van groot belang is vir die VSA se ambisies in daardie streek is. Na die aanvalle op 11 September 2001 het Biden gesê: "Baie Amerikaners kan nou ervaar hoe Israelitiese ouers voel as hulle hul kinders skool toe of met die bus stuur."
Presidentsverkiesing 2008 Biden was een van die kandidate vir die Demokratiese nominasie in die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2008. Op 30 Januarie 2007 het hy per e-pos aan sy ondersteuners aangekondig dat hy op 1 Februarie van daardie jaar 'n amptelike kandidaat is. Hy het sy kandidatuur op 3 Januarie 2008 na minder as 1% van die stemme in die Iowa-koukus onttrek.
Op 23 Augustus 2008 het presidentskandidaat Barack Obama aangekondig dat hy Biden as sy adjunkpresidentskandidaat gekies het. Biden het baie buitelandse beleidservaring gebring, iets wat Obama sou mis. In die presidensiële verkiesing op 4 November 2008 is Biden as adjunkpresident verkies. Hy is ook herkies as Senator uit Delaware. Aangesien 'n president of adjunkpresident van die Verenigde State nie toegelaat word om ander funksies kragtens die Amerikaanse grondwet te beklee nie, sou hy hom voor die inhuldiging op 20 Januarie 2009 aan die senaat onttrek. Die Demokratiese goewerneur van Delaware, Ruth Ann Minner, het Ted Kaufman, Biden se assistent vir baie jare, in sy plek in die Senaat aangestel.
Hy het ook oorweeg om aan die presidensiële verkiesing van die Verenigde State vir 2016 deel te neem, maar het in Oktober 2015 besluit om dit nie te doen nie.
Presidentsverkiesing 2020 In April 2019 het hy sy kandidatuur vir die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2020 aangekondig. In alle soorte peilings en debatte, slaag Biden in daardie jaar om as 'n "voorloper" na vore te tree in 'n veld van (aanvanklik) meer as twintig presidentskandidate. Meer as sy program, is sy spilpunt sy geloof dat hy die persoonlikheid en ervaring het om president Donald Trump te verslaan.
Teen die middel van 2019 word dit op 'n onvoorsiene wyse duidelik dat president Trump inderdaad Joe Biden as sy belangrikste mededinger vir die presidentsverkiesing in November 2020 beskou. Dit word openbaar gemaak dat 'n fluitjieblaser in die Withuis berig het dat president Trump 'n persoonlike guns van 'n buitelandse regeringshoof aangevra het. Laasgenoemde individu blyk die nuwe president van die Oekraïne, Volodymyr Zelenskyj te wees. Die persoonlike guns wat Trump versoek, is dat die land 'n korrupsie-ondersoek moet doen oor Joe en Hunter Biden. Die Oekraïne is baie van die VSA afhanklik vir finansiële en politieke steun.
Joe Biden se tweede seun en prokureur Hunter Biden word in 2014 aangestel vir 'n reuse-salaris (ten minste VS$ 50 000 per maand) as 'n bestuurslid van die Oekraïense gasonderneming Burisma. Hierdie aanstelling is verbasend omdat Hunter Biden oor weinige kwalifikasies vir hierdie posisie in daardie land het. Verrassend ook omdat sy pa Joe destyds adjunkpresident van die VSA was, en destyds betrokke was by aksies in die Oekraïne wat die bedanking van 'n korrupte prokureurgeneraal probeer afdwing het. Hunter Biden de uitverkorene die niet uitverkoren had moeten zijn, De Volkskrant, 13 Oktober 2019.
Weens Trump se optrede wat ook deur sy persoonlike prokureur Rudy Giuliani gevoer word, vra die Demokratiese meerderheid in die Senaat dat 'n proses van beskuldiging teen Trump in die Kongres voorberei word. Met die uitsondering van 'n enkele Republikein word Trump egter deur sy partylede verdedig, dikwels met die argument wat hy gebruik het: "Waarom dit so moeilik maak? Dit was 'n uitstekende gesprek!" Geen bewys is gelewer van korrupsie en/of oortreding van die wet deur die Bidens in die Oekraïne nie. Nietemin belig Trump se verdediging in sy in-beskuldigstellingsverhoor die feite dat die seun van die adjunkpresident miljoene in salaris ontvang het vir werk by 'n verdagte onderneming in die Oekraïne, waarvoor die seun ook geen spesiale kwalifikasies gehad het nie. Tydens die verloop van die verhoor het steun vir Biden se presidensiële veldtog afgeneem.
In die eerste voorverkiesing vir die Demokrate se kandidatuur het Biden in Februarie 2020 'n teleurstellende vierde plek behaal. In 'n poging om die gety te keer, het die Biden-veldtog 'n neerhalende rolprent oor die mededinger Pete Buttigieg vrygestel. Campagneteam Biden kleineert rivaal Buttigieg in reclame, AD, 8 Februarie 2020. Hy het op 29 Februarie 2020 die voorverkiesing in die deelstaat Suid-Carolina met 'n groot meerderheid gewen. Hy het baie steun van die Afro-Amerikaanse kiesers ontvang. Na die verkiesing in Suid-Carolina het Pete Buttigieg en Amy Klobuchar hul kandidatuur onttrek en hul steun vir Biden se kandidatuur uitgespreek. Op 3 Maart 2020, Super Tuesday, het Biden 'n merkwaardige verkiesingsterugkeer gemaak deur in tien van die veertien state te wen waarin voorverkiesings vir 'n Demokratiese kandidatuur plaasgevind het, waaronder Texas en Minnesota. Hy het onmiddellik 'n 'voorloper' geword in die stryd om as die Demokrate se presidentskandidaat benoem te word. Hy het Bernie Sanders, wat in die grootste deelstaat Kalifornië gewen het, uit die eerste plek gelig. Nadat Sanders op 8 April 2020 as kandidaat onttrek het, het Biden 'n gunsteling vir die Demokratiese nominasie geword.
Tydens die veldtog is Biden deur 'n voormalige werknemer, Tara Reade, daarvan beskuldig dat hy haar in 1993 onbehoorlik aangeraak het. Biden het die bewering ten sterkste ontken. Hy het wel aangedui dat elkeen wat Reade glo, nie vir hom moet stem nie. Biden says voters who believe Tara Reade probably should not vote for me, NPR, 15 Mei 2020.