Aleksander Dmitrijewitsj Malofejef (Russies: Александр Дмитриевич Малофеев; gebore 21 Oktober 2001 in Moskou) is 'n Russiese pianis.
Biografie Vroeë lewe Aleksander Malofejef is die seun van Dmitri Aleksandrowitsj Malofejef, 'n ingenieur, en Dr. Lyudmila Borisovna Malofejef. Hy het 'n ouer suster en 'n jonger broer. Hy het op 5-jarige leeftyd die klavier begin studeer. Teen die ouderdom van sewe het hy begin belangstel in die musiek van Tsjaikofski, Sjostakowitsj, Mahler, Rachmaninoff en Prokofiëf.
In 2014 het Malofejef met lof gegradueer aan die Musiekskool vir Kinders N. P. Osipova. Hy het voortgegaan met sy studies onder Elena Beryozkina, Geëerde Kulturele Werker van die Russiese Federasie, aan die Gnessin Staats-musiekkollege in Moskou, waar hy in 2019 gegradueer het. Hy studeer tans aan die Moskou Konservatorium in die klas van Sergei Dorenski. Die Gnessin skool en Moskou Konservatorium het reeds verskeie noemenswaardige pianiste soos Jefgeni Kissin, Sviatoslav Richter, en Vladimir Ashkenazy opgelei.
Loopbaan Malofejef het internasionale erkenning ontvang tydens die 8ste Internasionale Tsjaikofski Kompetisie vir Jong Musikante wat in Moskou in 2014 gehou is en waar hy die eerste prys en goue medalje verower het.
Twee jaar later is die Grand Prix tydens die Grand Piano – Internasionale Kompetisie vir Jong Kunstenaars in Moskou aan hom toegeken.
In 2019 het Malofejef tweede prys en die silwer medalje tydens die 1ste China Internasionale Musiekkompetisie gewen.
Aleksander Malofejef is die ontvanger van verskeie internasionale pryse.
Tydens die opening van die Internasionale Klavierfees van Brescia en Bergamo in April 2017 in Italië is die "Premio Giovane Talento Musicale dell'anno 2017" aan hom toegeken (Beste Jong Musikant van 2017).
As solis het Malofejef reeds opgetree saam met Rusland se voorste orkeste: die Mariinsky Teater Orkes, the Tsjaikofski Simfonieorkes, die Nasionale Filharmoniese Orkes van Rusland, die Moskou Virtuosi en die Nuwe Rusland Staat-simfonieorkes onder die dirigeerstok van dirigente soos Waleri Gergijef, Kazuki Yamada, Yuriy Tkachenko en Vladimir Spivakov.
Diskografie Aleksander Malofejef se debuut; DVD; opgeneem deur die Master Performers etiket; Queensland Konservatorium Griffith-universiteit, Australië; Junie 2016.
Verwysings
Eksterne skakels
Malofejef by die Mariinsky Teater Aleksander Malofejef speel E. Grieg se Klavierconcerto in A mineur, Op.16. op Youtube
Kategorie:Geboortes in 2001 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Russiese pianiste