Hierdie artikel handel oor die Fidjiaanse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Fidjiaanse nasionale vrouerugbyspan.

Die Fidjiaanse nasionale rugbyspan (Engels: Fiji national rugby union team) is die nasionale rugbyspan wat Fidji in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Fidji geadministreer deur die Fidjiaanse Rugbyunie (Fiji Rugby Union, FRU) wat in 1913 gestig is. Fidji word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Fidji is tans (September 2025) negende op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Die span neem deel aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker, saam met Japan, Samoa en Tonga. Fidji is ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Tonga; Samoa was tot in 2009 ook ’n lid, maar hulle het hulself onttrek.

Fidji het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Samoa gespeel. Fidji, Samoa en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Fidji tot dusver 19 titels gewen het. Fidji se bynaam is Flying Fijians (Engels vir: “Vlieënde Fidjiane”). Die Cibi-oorlogsdans (Fidjiaans: [ˈðimbi]) word voor elke toetswedstryd deur die Fidjiaanse span uitgevoer. Die oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande en word sedert 1939 op die rugbyveld gebruik.

Fidji het tot dusver vir nege van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en slegs die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika misgeloop. In 1987, 2007 en 2023 het hulle daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Een voormalige Fidjiaanse rugbyspeler is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Fidji speel tradisioneel in wit truie met swart kleuraksente, wit broeke en swart-wit-gestreepte sokkies.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Fidji is die Fidjiaanse Rugbyunie (Engels: Fiji Rugby Union, FRU). Die Fidjiaanse Rugbyunie is in 1913 gestig en het in 1987, net voor die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Fidjiaanse Rugbyunie in 2000 ’n stigterslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby, OR).

Naas die amptelike nasionale span roep die Fidjiaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Fiji Warriors is die tweede nasionale span van Fidji en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel. Die Fiji Sevens is die Fidjiaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en die Statebondspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Fidji oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

As deel van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie het die beheerliggaam van 2004 wedstryde gereël van die Stille Oseaan-eilanders, ’n gemeensame keurspan van die drie Stille Oseaan-eilandstate Fidji, Samoa en Tonga. Aangesien die Stille Oseaan-eilanders nie die gewenste inkomste vir die beheerliggame gegenereer het nie, het die Samoaanse beheerliggaam dié samewerking in 2009 beëindig. Sedert 2022 word Fidji in die internasionale Superrugbytoernooi verteenwoordig deur die professionele span Fijian Drua, wat aan dié toernooi deelneem saam met spanne uit Australië, Nieu-Seeland en een uit die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga).

Algemene situasie duimnael|Rugbyspelende kinders in Fidji Fidji is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Nieu-Seeland, Samoa, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak. Daar is ongeveer 80 000 geregistreerde spelers uit ’n totale bevolking van sowat 950 000 wat in meer as 600 klubs aktief is. Fidji ly egter onder ’n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas in Australië, Nieu-Seeland, Europa of Japan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit slegs drie jaar). Verder speel ’n beduidende aantal spelers, wat vir Fidji verkiesbaar is, vir Australië of Nieu-Seeland; noemenswaardige voorbeelde is die Fidjiaans gebore All Blacks Joe Rokocoko en Sitiveni Sivivatu asook die Wallabies Tevita Kuridrani en Lote Tuqiri. Met ’n bevolking van ’n rapsie minder as ’n 950 000 is Fidji van die kleinste lande wat gereeld aan rugbywêreldbekertoernooie deelneem.

Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in ’n ironiese manier met die 19de eeuse Blackbirding vergelyk. Fidjiane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele span Fijian Drua, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooi Superrugby deelneem, sal as ’n oplossing dien.

Die Fidjiane is in rugbyunie steeds onder die 15 beste spanne wêreldwyd. Hulle is egter nog meer suksesvol in sewesrugby, waarvan die reëls op rugbyunie s’n geskoei is. Byvoorbeeld: het hulle twee Sewesrugbywêreldbekertoernooie en tydens die Olimpiese Somerspele in 2016 en 2020 goue medaljes gewen. Vir die sewesrugbyspan het spelers verskyn wat voorheen of later ook vir die rugbyuniespan gespeel het. Volgens Wêreldrugby se reëls is dit egter nie moontlik om terselfdertyd vir albei nasionale spanne in aanmerking te kom nie; hierdeur sal veral uitputting van spelers vermy word.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Britte, Nieu-Seelanders en inheemse polisiemagte het in 1884 vir die eerste keer rugby by Ba op die eiland Viti Levu gespeel. Gedurende die vroeë 1890’s het die plaaslike pers vir die eerste keer oor dié sport verslag gedoen, waarvolgens dit in die bevolking begin versprei het. Aanvanklik was dit in wedywering met sokker, maar rugby het spoedig die voortou gekry en is sedertdien die oorheersende balsport in Fidji. Volgens Robert F. Dewey, ’n historikus aan die DePauw-universiteit, was rugby destyds ’n belangrike manier om die plaaslike trots en strydlustige manlikheid uit te druk. Nadat baie tradisionele rituele gedurende die koloniale tydperk verdwyn het, was rugby ’n goeie plaasvervanger vir die uitvoering van ou konflikte. Buitendien was die atletiese vaardighede van die inheemse spelers glo heel geskik vir die rugbyspel. ’n Soortgelyke ontwikkeling het in twee ander Stille Oseaan-eilandstate plaasgevind: Samoa en Tonga.

Van 1904 af is aparte toernooie aangebied, waartydens Europese setlaars en inheemses net onder mekaar gespeel het; dié toernooie was egter net los gestruktureer. In 1913 het die Nieu-Seelandse loodgieter Paddy Sheehan, wat by die oprigting van die Grand Pacific Hotel in die hoofstad Suva gewerk het, met die Pacific Club die eerste formeel georganiseerde klub gestig. Onmiddellik daarna is die Fidjiaanse Rugbyvoetbalunie (Fiji Rugby Football Union, FRFU) gestig en die goewerneur Ernest Bickham Sweet-Escott het die Escott Shield as kampioenskaptrofee geskenk. Sheehan het as die eerste president van die beheerliggaam daarvoor gesorg dat die Nieu-Seelandse All Blacks tydens hul terugkeer van hul suksesvolle toer na Kalifornië ’n tussenstop in Suva maak om in ’n wedstryd te speel. Dit het op 13 Desember 1913 plaasgevind en met ’n 3–67-nederlaag vir die uitsluitlik uit Europeërs saamgestelde span geëindig. Sheehan, wat ook as kaptein en afrigter gedien het, het met sy drie die enigste punte vir Fidji aangeteken.

As gevolg van die destydse rasseskeiding was die FRFU in die eerste jare vir Europeërs voorbehou. In 1914 het Ratu Epeli Ganilau ’n toernooi vir “inheemses” (natives) met vier klubs, wat saam die Fiji Native Union gevorm het, van stapel gestuur. Dié beheerliggaam was met die FRFU geassosieerd en het ook die meeste nasionale spelers gelewer, maar die rasseskeiding het vir die volgende drie dekades bly bestaan. Eers in 1945 is die Fiji Native Union volledig in die FRFU geïntegreer. Sedert 1963 dra die beheerliggaam die naam Fidjiaanse Rugbyunie (Fiji Rugby Union, FRU). Die meeste hoofafrigters, raadslede en ander funksionarisse was steeds van ’n Europese afkoms wat eers met die onafhanklikheidwording in 1970 begin verander het. Die Fidjiaanse Indiërs, wat aan die einde van die 19de eeu deur die Britse koloniste uit Brits-Indië hier gevestig is, was egter steeds uitgesluit. Tot op hede word hierdie bevolkingsgroep nie deur die Fidjiaanse rugbykultuur betrek nie.

Die nasionale span se eerste jare duimnael|Die Fidjiaanse span in 1924 duimnael|Die Fidjiaanse span in 1932 duimnael|Die Fidjiaanse span in 1939 In 1924 het die FRFU en die geassosieerde Fiji Native Union die eerste Fidjiaanse nasionale rugbyspan saamgestel. Dit het slegs uit spelers van die vyf bestaande “inheemse” klubs bestaan en geen Europese speler ingesluit nie. Die eerste toetswedstryd is op 15 Augustus 1924 in die Samoaanse hoofstad Apia teen Wes-Samoa gespeel en met 6–0 gewen. Volgens ’n legende is die wedstryd op ’n rugbyveld met ’n groot boom op die middellyn gespeel, maar destydse koerantberigte vermeld niks daarvan nie. Die wedstryd het om 7 v.m. afgeskop om die Samoaanse teenstanders kans te gee om ná die wedstryd te gaan werk. Die Fidjiaanse spelers was volledig in swart geklee (na die Nieu-Seelandse voorbeeld) en het kaalvoet uitgedraf. Aansluitend het hulle vir nege wedstryde na Tonga getoer. Die eerste toetswedstryd in Nukuʻalofa is met 6–9 teen die Tongane verloor, die tweede met 14–3 gewen en in die derde het hulle met 0–0 gelykop gespeel. Op pad huis toe is Fidji deur Samoa met 9–3 geklop.

Met uitsondering van die jaar 1930 het Fidji en Tonga tussen 1924 en 1934 al om die twee jaar ’n toetsreeks van drie wedstryde teen mekaar gespeel. Toe die Tongane in 1926 vir die eerste keer Fidji besoek het, het die Fidjiaanse spelers in ’n wit trui met ’n geborduurde Palmembleem begin uitdraf; saam met die swart broeke vorm dit steeds die gewone speeldrag. In 1928 het die beheerliggaam vir die eerste keer ’n studentekompetisie aangebied. Op daardie stadium was die meeste rugby-aktiwiteite veral op Suva en Nausori beperk. In ’n berig deur die beheerliggaam is die rede hiervoor genoem: “Dit is moeilik om die spel buite Suva te vestig, aangesien amper elke geskikte plek reeds ’n krieketveld met ’n betonblad in die middel het.” Die Nieu-Seelandse Maori (die Maori's se keurspan) het in Augustus 1938 vir die eerste keer na Fidji getoer. Die gasheer het vir die eerste keer in stewels uitgedraf, maar hulle het die neiging gehad om dit tydens die wedstryd uit te trek en oor die kantlyn te gooi. Van die vyf wedstryde tydens die toer was drie toetswedstryde. In die eerste het hulle met 3–3 gelykop gespeel, Fidji het die tweede met 11–5 en die Maori die derde met 6–3 gewen, waarvolgens die reeks onbeslis geëindig het.